SKRIFLESING: Johannes 12: 20 – 36
Ons woordeskat en Jesus se woordeskat is nie dieselfde nie. Wanneer ons praat van verhoging en verheerliking, dink ons aan ’n Olimpiese atleet of suksesvolle student of ’n persoon wat ’n besondere prestasie vermag het. So ’n persoon word verhoog op ’n podium of word verheerlik in die koerante en tydskrifte. So ’n persoon ontvang spesiale eer en vermelding.
Wanneer die apostel Johannes van Jesus se verhoging en verheerliking skryf, bedoel hy die verhoging van Jesus aan die kruishout en die verheerliking om as Seun van God aan ’n kruis te sterf.
Aanvanklik het Jesus in Sy vroeë bediening aangekondig dat Sy tyd nog nie gekom het nie. Maar nadat Lasarus uit die dood opgewek is, het die mense daaroor gepraat en agter Hom begin aanloop. In vers 19 het selfs die Fariseërs gesê hulle rig niks uit nie, want die hele wêreld loop agter Jesus aan. In vers 20 lees ons dat ook die Grieke agter Jesus begin aanloop het.

In ons gelese gedeelte sê Jesus in vers 23: “Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word.” Wat het gebeur dat die situasie verander en die aangewese tyd nou hier is? Die koms van die Grieke maak dat Jesus sê die tyd het nou gekom. Die tyd het gekom omdat die “hele wêreld” nou na Jesus toe kom. Dit wat reeds in Joh. 1: 9 aangekondig is, naamlik dat die ware lig elke mens verlig, is met die koms van die Grieke aan die gebeur.

Daarom het die tyd gekom dat Jesus verhoog en verheerlik word. Maar hierdie “verhoog” word beteken om aan ’n kruis verhoog te word en hierdie “verheerliking” beteken om gekruisig te word. Johannes 3: 13 – 15 lees as volg: En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die Seun van die Mens. En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.

Dan gebruik Jesus die beeld in vers 24 van ’n koringkorrel wat in die grond val en ’n groot oes inbring. Een koringkorrel sterf om baie koringkorrels te lewer. Daarom is Jesus verheerlik, om die voorreg te hê om te sterf as enkeling en vir die hele wêreld verlossing te bring. Een sterf om baie te red.
Net Jesus se sterwe kan verlossing van sonde bring. Maar Jesus wil nie alleen sterf nie. Hy nooi ons in vers 25 om saam met Hom te sterf. Daarmee bedoel Jesus dat ’n mens aan jouself moet sterf. Jy moet sterf aan jou eie ego, jou eie trots, jou sonde en selfverheffing. Want deur te sterf aan jouself, sal jy die lewe behou en ook die ewige lewe ontvang. Dan sal jy ’n dienaar van die Vader wees. Dan sal jy ’n dissipel van die Here wees.

Die meeste mense se lewe is soos die seepbelle wat deur kinders geblaas word. Seepborrels wat pragtig opstyg, met verskillende kleure en groottes en vorms. Almal bewonder dit en sê dit is pragtig. Maar dit kom tot niks nie. So styg mense se lewe en ego op in seepbelle tot aanskoue van baie, maar dit bars, tot niks. Dit het geen betekenis vir iemand nie, behalwe plesier.

Maar die seepborrels van Sunlight Liquid is nie gemaak om plesier te verskaf of vir die mooi wees daarvan nie. Wie hou nou van skottelgoed was? Maar dit maak borde en koppies, en messe en vurke skoon. As jy klaar gewas het, is daar geen seepborrels oor nie, maar die vuil skottelgoed is skoon. Die borrels het gesterf en ’n groot oes nagelaat. Al die skottelgoed is skoon.
So moet ons ook soos die seepborrels van Sunlight Liquid sterf, diensbaar wees en ’n verskil maak in ander mense se lewens. Wie leef vir die prag en praal soos kinders wat seepbelle blaas, is nie diensbaar nie en hulle lewens het geen betekenis vir ander nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie. Ons moet as’t ware in Jesus se dood ingekerf word. Soos Jesus aan die kruis gesterf het, wil Hy hê ons moet aan onsself sterf.
Jy moet in jou huwelik sterf, sodat jy kan leer om onderdanig te wees aan jou lewensmaat. Jy moet in jou verhoudings met ander mense sterf, sodat jy diensbaar aan ander mense kan wees. Jy moet sterf in jou alledaagse arbeid, deur van die wêreld ’n beter plek te maak. Jy moet ook sterf aan jou sonde, sodat jy ’n nuwe mens kan word.
Waar kom al die geweld, spoggerigheid van mense, onmin, twis, hoogmoed, vyandskap, en tweedrag tussen mense vandaan? Ons wil nie aan onsself sterf nie. Ons wil nie van ons trots sterf nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie. Ons moet saam met Hom sterf. In een hoofstuk verder, in Johannes 13, lees ons hoedat Jesus sy dissipels se voete was. Hulle was vol van hulleself en het baklei oor ere-posisies, oor wie gaan aan die Here se regterkant en wie gaan aan sy linkerkant sit. Wie gaan hulle voete was? Daar was geen sprake dat hulle aan hulself gaan sterf nie. Hulle het ook nie verstaan dat Jesus vir hulle gaan sterf nie. Dan was die Here Jesus al die dissipels se voete as simbool dat Hy sy lewe gaan neerlê en gaan sterf vir hulle. Dan sê die Here Jesus in Johannes 13: 14 dat soos Jesus die dissipels se voete gewas het, behoort hulle ook aan mekaar te doen. So behoort hulle ook vir mekaar te sterf.
In Joh. 13: 38 vra die Here Jesus vir Simon Petrus: “Sal jy jou lewe vir my aflê?” Dan weet ons hoedat Simon Petrus die Here drie keer verloën het voor die haan gekraai het.
Hoe is ons nie ook dikwels onwillig om aan ons sonde te sterf nie. Die sterkste verband vind ons in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 33, vrae en antwoorde 88–90.
- Vraag 88: “Watter is die ware bekering van die mens?”
Antwoord: “Dit is die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.” - Vraag 89: “Wat is die afsterwe van die ou mens?”
Antwoord: “Dit is ’n hartseer oor die sonde dat ons dit hoe langer hoe meer haat en daarvan wegvlug.” - Vraag 90: “Wat is die opstanding van die nuwe mens?”
Antwoord: “Dit is ’n vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.”

Ons maak te min van bekering in ons geestelike lewe. Ons volg die Here dikwels net vir Sy geestelike gawes en wat ons van God kan ontvang.
Bekering (metanoia – μετάνοια) is ’n radikale omkeer van jou hele innerlike lewe – denke, gesindheid, wil en gedrag – weg van sonde en na God toe. Dit sluit in hartseer oor sonde, maar ook ’n nuwe rigting en gehoorsaamheid aan God. Jy moet in Jesus se dood ingekerf word. Jy word solidêr een met die kruisdood van Jesus – jy moet in jouself ook sterf, sodat die Gees die Geestesgawes van Gal 5 werklikheid kan maak in jou lewe.
Om Jesus Christus radikaal met jou hele hart te volg, moet jy bereid wees om aan jouself te sterf. Die Here wil nie alleen sterf nie. Jy moet ook aan jouself sterf, om heeltemal een met Jesus Christus te wees. Jy moet ingekerf wees in die soendood van Jesus Christus aan die kruis. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
