Geseënd is hulle wat uit die hand van God leef


SKRIFLESING: Mat 5: 3 en Luk 12: 13 – 21

Geluk begin by afhanklikheid. My gelukkigste tye was toe ek ’n kind en student was. Ek het in ’n gewone middelklas ouerhuis grootgeword. My ouers het vir alles gesorg. Ek was nie besorgd oor rekeninge of om kos of klere te koop nie. Omdat ’n kind ten volle afhanklik is, hoef jy jou oor niks te bekommer nie. In my sewe studente-jare het die kerk vir my verskillende beurse gegee en vir die res het my ouers gesorg. Toe ek negentien maande diensplig doen as kapelaan het die Weermag vir my vir alles gesorg. Ek het vir 27 jaar sorgvry geleef. Ek het uit die hand van my ouers en uit die kerk se beurse geleef. 

Maar in daardie 27 sorgvrye jare begeer jy om onafhanklik te word, om volwasse te wees en vir jouself te sorg en jou eie besluite te neem. Almal soek geluk.

Die meeste mense dink ’n mens is gelukkig as jy selfstandig en onafhanklik is. Daarom begeer mense om op hul eie bene te staan, ’n eie huis te besit, om ’n eie motor te hê en om niemand in die oë hoef te kyk nie. Mense wil in beheer van hulle lewe wees en self kan beplan wat hulle van die lewe wil hê. Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanklik te maak. Van banke tot motors, geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, grootmense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle afhanklikheid gaan verloor.

Maar dan tree jy in die huwelik en begin werk.  Dan kry jy kinders. Skielik is daar bekommernisse. Daar is skielik rekeninge en goed wat betaal moet word; goed breek en jy moet dit herstel. Om kinders groot te maak is ’n groot verantwoordelikheid en gaan met groot koste gepaard. Kinders word siek en jy bekommer jou elke dag oor die welstand van jou kinders. Kinders moet skoolgaan. Om ’n kind op skool te hê, kos baie geld. Jou kinders moet universiteit toe gaan. Waar gaan jy die geld kry vir hulle duur en lang studies? Selfs as jou kinders groot en volwasse is, bekommer jy jou nog steeds oor jou kinders se welstand.

Dan is dit nie meer so lekker om onafhanklik te wees nie. Dan verlang jy terug na die jare toe jy afhanklik van jou ouers was. Om volwasse en onafhanklik te wees, bring sorge.

Is u gelukkig? Ken u geluk? Waar sal u vir uself op ’n skaal van 1 tot 10 plaas? Ons glo vas dat hoe beter ’n mens in staat is om self die gang van jou lewe te beheer, hoe beter is jou kanse op geluk. Mense wil selfs onafhanklik van God en Sy Woord lewe. Daarom is die geestelike lewe van baie lidmate ook so swak. Hulle het God nie nodig nie. Dan word God maar net ’n nood-valskerm wat jy gebruik as jy Hom nodig het. God word ’n spaarwiel, as iets verkeerd loop in jou lewe. Daarom is daar mos die spreuk: Nood leer bid.

Daarom is dit harde woorde van Jesus, wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien, suksesvol beteken vir ons om van niemand afhanklik te hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ’n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ’n sandkasteel wegspoel met hooggety.

Dan lees ons hierdie vreemde woorde in Mat 5: 3, wat lui: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.” Vreemde woorde! Maar agter die woorde moet ons die Here Jesus Christus sien staan. ’n Geseënde lewe begin die dag as ’n mens besef dat jy God nodig het en nie sonder Hom kan leef nie. Hierdie behoefte of afhanklikheid is nie iets wat na ’n tyd oorgaan nie, maar met die verloop van tyd eerder sterker word.

’n Geseënde lewe begin met ’n diep afhanklikheid van die Here. ’n Geseënde dag begin met ’n diep afhanklikheid van die Here. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede.

Die Ou Vertaling het gepraat van dié wat arm van gees is. Dit is mense wat desperaat, moedeloos, radeloos en nie meer in beheer van hulle lewe is nie.  Die slegte nuus is dus dat radeloosheid allesbehalwe lekker mag wees, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak vir die vreemde geluk. Geloof is dus nie iets triomfantlik of bewonderenswaardig of rustig of vredevol nie. Dit is noodsaaklik! Dit gaan oor mense wat sukkel om reg te kom in die lewe.

Ons voel dikwels ons wil die Here onder meer positiewe omstandighede kies, sodat dit voorbeeldig en bewonderenswaardig mag wees. Maar die Here maak dit vir ons onmoontlik om te kies vir Hom. Ons hopeloosheid en radeloosheid dring ons na Hom toe.

God werk met bedelaars! God werk met nulpunt-mense, wat op die einde van hulle krag gekom het!

Die Here maak dit baie moeilik vir ons as Hy die saligheid by afhanklikheid laat begin, want dit druis in teen ons grein. Tieners droom van selfstandigheid. Jongmense soek selfstandigheid. Grootmense koop selfstandigheid. Ou mense is bevrees dat hulle hulle selfstandigheid kan verloor.

Die eerste saligspreking begin met “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is”. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede, naamlik “die wat arm van gees is.” (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders. Dit is mense wat weet hulle moet uit die hand van God lewe.

Dirkie Smit skryf dat dit nie gaan oor ’n triomfantlike geloof, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevol of rustig aan hierdie geloof nie.

Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees” vertaal met “the desperate”. Eugene Peterson gebruik dit as mense wat “at the end of the rope” gekom het. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ’n soort verleentheid, verslaendheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak van ’n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ’n vreemde hemelse seën en geluk.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ’n stadspoort wat laag gebou is, sodat ’n kameel nie die stadspoort kan binne hardloop in ’n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë deur die stadspoort kruip, nadat sy vrag afgelaai is. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: “You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke soos: “How to Be Nothing? of “How to Be a Nobody?” verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive,” na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe die heuning gekom. Uit dit wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou – ’n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy: “As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Daarom is die woorde van Jesus hard. Die ryk dwaas van Luk 12 wou ook selfstandig wees. Sy droom was op ’n illusie gebou.

Afhanklikheid van God beteken dat  ek afhanklik van God is dat my huwelik sal werk, dat my kinders die jaar sal deurkom, dat daar brood op my tafel sal wees, dat ek ’n werksgeleentheid het, dat my gesondheid sal hou en dat ek God kan vertrou vir my saligheid.

Paternoster is ’n klein vissersdorpie langs die Weskus. Vandag is dit ’n moderne dorp, met vele luukse huise.

Destyds, baie jare gelede, was dit die tuiste van ’n arm vissersgemeenskap, met armoedige huisies van vissers wat baie eenvoudig gelewe het. Die ou vissermanne van Paternoster het letterlik van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie Vader wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar genoeg vis is. Daar was storms; partykeer het ’n skuit nie teruggekeer nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Sommige dae het die vis goed verkoop, ander dae het dit weer swak verkoop. Hulle was daagliks afhanklik van die Here en daarom het hulle hul dorpie die naam “Paternoster” gegee, wat in Latyn beteken “Onse Vader”.

Ons wil bogenoemde dinge so graag verdien, daarvoor werk, op ons eie voete staan. Kom ons vertrou eerder die Here met ons lewe. Kom ons lewe elke dag in totale afhanklikheid aan die Here.

Dit bly vir ons as mens ’n moeilike saak om regtig totaal en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ’n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink hy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid aan God.

Daarom sê die Here ook julle moet soos kindertjies word, om in die Koninkryk van God in te gaan. Kindertjies leef uit die hande van hulle ouers. So moet ons ook uit die hande van onse hemelse Vader lewe.   AMEN

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Lewer kommentaar