SKRIFLESING: 1 Kon 19: 1 – 18
’n Mens se lewe is nie altyd net lente of somer nie. Jou emosionele krag ry wipplank met jou.

Daar is wonderlike tye in jou lewe, wat soos ’n ewigdurende somer voel. Dit gaan met jou fantasties. Maar daar kom ook herfstye, tye van verlies en stroping. Maar daar kom ook in ons lewe tye van diep winter, wanneer dit voel jou siel is dood en donker en dat jy nie eens ’n sprankie hoop in jou lewe raaksien nie. Mense kan dan ook dikwels alle perspektief op die lewe verloor. Jou siel kan vir lank in ’n diep donker winter wees. Winternagte is mos baie lank, so kan mense vir lang tye worstel met die winter in hulle siel. Maar ons kan ons daarin troos dat God ook by ons is in die winter. In Psalm 74: 17 staan daar: “U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” Daarom, as daar winter in my siel is, sal daar beslis ook ’n lente en somer aanbreek. Hy wat Winter Skep, Vorm ook die Lente.

Daar is betekenis in die wintertye van jou lewe. Dietrich Bonhoeffer (1906 –1945) het in die winter van sy lewe geskryf: “Only the suffering God can help.” Terwyl hy in ’n Nazi-tronk sit, skryf hy oor geestelike winters – die tye waarin God se stem stil ervaar word, maar God nie afwesig is nie. Sy briewe in Letters and Papers from Prison dra die toon van ’n gelowige wat in ’n donker winterstyd sy geloof verdiep tot versterking van baie se geloof. Op 9 April 1945, net weke voor die einde van die oorlog, word hy tereggestel in Flossenbürg konsentrasiekamp – gehang, met waardigheid en in die geloof van ’n Godsman. Sy laaste woorde aan ’n medegevangene was: “This is the end – for me, the beginning of life.” Aan die einde van sy winter, toe die galgtou styf trek, het sy lewe begin in die ewige lente en somer van God se troue beloftes van ’n nuwe en ewige lewe.
Ons kry ook dikwels korter tye wat ons moedeloos is en ons noem dit sommer ons afdae in die lewe.

Dit is nou daardie dae wat ’n mens se mondhoeke twintig oor agt staan. Jy wil uitgelos wees. Alles sien jy pessimisties en donker. Ons lewe in 2025, ’n tydperk van talle oorloë, menseregteskendings, ’n mislukte staatsbestel in Suid-Afrika, verswakkende ekonomie, werksverliese, armoede en misdaad. Ons het genoeg rede om pessimisties te wees. Dalk is daar in u gemoed vandag ’n stuk bangheid en onsekerheid wat die toekoms gaan oplewer. Dan is jou persoonlike lewe dikwels ook vol onsekerhede en dan het jy nog jou daaglikse bekommernisse.
In 1 Kon 19 lees ons van ’n pessimis. Ja, Elia daar onder die besembos met sy mondhoeke wat duidelik twintig oor agt staan. Elia was in stryd teen die Baälgodsdiens. In die Baälgodsdiens het dit net om vrugbaarheid gedraai. Vir hulle was vrugbaarheid van die veekuddes, die gesaaides en die wingerde van die grootste belang. Hulle was ook bekend vir prostitusie en onsedelikheid en die Baälpriesters het selfs prostitusie in hulle tempel bedryf.

Elia het openlik die Baälpriesters in die openbaar aangevat en hulle selfs op die berg Karmel uitgedaag. Hulle het die altare vol brandoffers en hout gepak. Die Baälprofete het gedans dat die stof staan, maar hulle kon nie ’n rokie laat opgaan nie. Elia het egter geweet dat Jahweh ’n lewende God is, daarom het hy die toetsterrein moeiliker gemaak en selfs water op die hout gegooi. Elia het gebid en God het getoon dat Hy die enigste lewende God is en die brandoffers en sopnat hout het aan die brand geraak. Elia het vir hulle bewys dat Jahweh die enigste ware God is. Elia het toe opdrag gegee dat al die Baälprofete doodgemaak moet word om die prostitusie te stop. Koningin Isebel was woedend. Sy het vir hom ’n dreigbrief geskryf: “Môre is dit jou beurt.” Wie sal nie geïntimideer wees nie?
Elia het die woestyn ingevlug en onder ’n besembos weggekruip. Sy mondhoeke het op twintig oor agt gestaan. Hy voel God en die wêreld het hom verlaat. Arme hy staan alleen teenoor hierdie listige Isebel. Hy het sy lewe gewaag daar op die berg Karmel vir die Here en nou lyk dit of God hom in die steek gelaat het. Hoe meer hy homself bejammer, hoe meer krul sy mondhoeke na onder. Die lewe het vir hom sinloos geraak. Sy enigste gebedsversoek was dat hy gewens het dat die dood gou mag kom, voor die listige koningin Isebel hom in die hande kry. Met ’n swaarmoedige hart het hy aan die slaap geraak.
Maar God het vir Elia nie alleen gelaat in daardie wintertyd van hom daar onder die besembos nie. Ook as ek pessimisties en swartgallig en af voel, is God daar om my te help om weer op vaste grond te staan.

God het drie dinge gedoen om Elia op te beur. (Die drie dinge raak gelees by ’n ander prediker. Ek het dit baie aangepas.) Ons kan dit op onsself ook van toepassing maak. Heel eerste lees ons in verse 6 en 7 dat die Here vir Elia fisies versorg het. ’n Mens se siel, liggaam en verstand is ’n eenheid. As die een siek is, tas dit ook die ander aan. Die eerste ding wat die Here gedoen het, was om Sy engel te stuur om vir Elia roosterkoeke te bak en vir hom ’n kruik met water neer te sit. Eers moes Elia homself fisies versorg. Wanneer ’n mens af voel, is jy geneig om sleg te eet en jouself nie liggaamlik te versorg nie. Wanneer ’n mens jouself dwing om reg te eet, te stort, jou hare te kam en jou liggaamlik te versorg, is dit die eerste tree na oorwinning. Die Here het dus vir Elia heel eerste fisies versorg. Ek lees die volgende opsomming raak: “Die versorging van jouself is nie selfsugtig nie – dit is gehoorsaamheid. Dit is nie wêrelds nie – dit is wysheid. In Bybelse, teologiese én praktiese sin, is selfversorging nie ’n teenpool van diens nie, maar ’n voorvereiste vir volhoubare diens, liefde en dissipelskap. Jy kan nie lank water uit ’n leë kruik gooi nie.” Daarom is fisiese rus en slaap die grootste gawe om te herstel, sodat jy elke dag nuut en vars kan begin. ’n Stomp byl kan nie so vinnig werk soos ’n skerpgemaakte byl nie. Wanneer jy rus of slaap, maak jy jou byl skerp om vinnig en effektief te werk. Jesus self is ons grootste voorbeeld: “En nadat Hy die skares weggestuur het, het Hy alleen op die berg gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.”

Toe het die Here in die tweede plek met Elia se denke begin werk. Somtyds dink ons so verkeerd, want ons perspektief op dinge is verdraai. Ons dink ons is stoksielalleen en niemand verstaan ons nie. Elia was soos die ou wat blomme geruik het en gevra het waar die begrafnis is. Luister wat sê hy in vers 10: “Here, ek het alleen oorgebly en hulle soek om my ook dood te maak.” Toe sê die Here vir hom in vers 18: “Nee Elia, jy het nie alleen oorgebly nie. Daar is nog seweduisend saam met jou wat nie hul knie voor Baäl gebuig het nie.” Hierdie seweduisend is simbolies van die volgende: getal vier, die vier windrigtings van die aarde plus drie, simbolies van God en duisend, simbolies van die volheid. Elia is beslis nie alleen nie. God moes net Elia se denke ’n bietjie verander.
Dalk het u al die storie gehoor. Daar word vertel van die eiendomsagent wat by die oom gekom het wat sy plaas wou verkoop. Die oom was moeg om ver van winkels en die beskawing te wees. Hy was moeg om teen die elemente te baklei. Hy wou toe net verkoop. Die eiendomsagent skryf toe ’n advertensie en vra die oom of dit reg klink: “ Goedgeleë bosveldplasie, lopende water, vrugbare grond en ver van die stad se gejaag.” Toe sê die oom: “Is dit my plaas? Dis wat ek nog altyd wou gehad het! Toemaar, ek wil nie meer verkoop nie!”

Hoe lui daardie kinderliedjie nou weer: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een …” Sommer gou sal jou mondhoeke tien oor tien staan. Die Here het dus Elia se denke verander deur hom daarop te wys dat hy nie alleen is nie, maar dat hy nog seweduisend ander volgelinge, bates en seëninge het.
Die derde ding wat die Here vir Elia gedoen het, was om vir hom werk te gee. Elia moes homself uit sy neerslagtigheid en swartgalligheid werk. Hy moes twee nuwe konings Gasael en Jehu gaan salf. Hy moes ook vir Elisa as sy opvolger salf. Die probleem met ’n pessimis is dat hy op die kantlyn staan en kritiseer; die optimis is die doener. Toe Elia begin doen, toe wyk sy neerslagtigheid.
Gaan werk, gaan doen, gaan verander jou wêreld. Spreek die dinge aan wat jou neerslagtig maak. Raak betrokke in jou gemeenskap. Maak ’n verskil in ander mense se lewens. In my persoonlike lewe het ek al dikwels ervaar dat ek die oggend neerslagtig opstaan. Ek dwing myself dan om ’n paar mense te besoek en vir hulle iets te beteken. Teen die aand voel ek goed oor myself. Ek het ’n verskil gemaak.
Prof Henri Nouwen, wat na baie jare as akademikus aan bekende universiteite klasgegee het, besluit om met verstandelik gestremde volwassenes by L’Arche te werk en het gesê: “There is healing in peeling potatoes.” Die eenvoudige, deurlopende aksie van werk help die hart en gemoed kalmeer. Dis ’n geestelike dissipline – nie weghardloop nie, maar deelneem, opoffer, dien. Gaan op in iets groter as jyself en jy sal innerlike genesing kry, ook in die langste wintersnag van jou siel. Hou aan met jou werk, jou roeping, jou taak en jy sal die sin van die lewe ook in jou werk en arbeid vind.
(Terloops, ek praat nie hier van depressie nie. Depressie is ’n siekte en moet deur dokters en medikasie behandel word.)

Doen iets, eerder as om niks te doen nie. ’n Ou Chinese spreekwoord lui: “Dit is beter om een kersie aan te steek as om teen die donker te vloek.” ’n Anonieme spreuk lui: “ In die heelal is daar nie genoeg donkerte om een klein vlammetjie uit te doof nie.” Moenie pessimisties op ’n hopie gaan sit oor die droogte, oor jou finansiële posisie of oor die misdaad nie. Gaan doen iets daaraan. Dit is beter as om niks te doen nie.
Onthou die Here se voorskrif vir Elia was:
- Versorg jou fisies.
- Tel jou seëninge en verander jou denke.
- Spring aan die werk.
Mag die raad van God aan Elia ook vir u en my deurdra, veral wanneer dit diep winter in ons siel is.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
