SKRIFLESING: Mat 4: 1 – 11
Ons lewe in ’n harde wêreld waar mense daagliks vishoeke uitgooi om hulle medemens te vang.
In die korporatiewe wêreld wil mense die leer van sukses klim. Om bo uit te kom, stel hulle dikwels vishoeke met aas om hulle mededingers te uitoorlê en in ’n slegte lig te stel. In die politieke arena, gooi politici hulle aas met vishoeke uit om hulle opponent in die slegste moontlike lig te stel. In die ekonomiese wêreld skep handelaars dikwels vishoeke met aas om kliënte aan te moedig om dinge te koop wat hulle eintlik nie kan bekostig nie. Mense skinder om mense uit hulle goeie naam te “trek” en hulle in ’n swak lig te stel. Mense gooi vishoeke uit en stel slagysters om ander in ’n slegte lig te plaas. In die Bybel lees ons dikwels van Fariseërs wat vishoek-vrae vir die Here gevra het om hom uit te lok om verkeerde antwoorde te gee, sodat hulle rede het om hom te vervolg. Hulle vrae was daarop gemik om hom uit te vang. Dikwels kan mense met die mooiste aanbiedinge en beloftes kom, net om van jou ’n slagoffer te maak.

Natuurlik is die duiwel die bobaas-visvanger. Hy het ’n vishoek en verskillende soorte aas waarmee hy elke soort mens sal uitvang. Vir elke mens het die duiwel sy eie aas. Dit kan aas wees van skinder, kwaadpraat, seksuele sondes, gierigheid, trots, hoogmoed, onvergewensgesindheid of enigiets anders. Hy wil ons uittrek om buite “God se wil vir ons lewe” te leef. Tereg word gepraat van die bose drie-eenheid, naamlik die duiwel, die sondige wêreld en ekself. In hierdie viswater is daar baie vishoeke wat ons elke dag verlei om die aas van versoeking te vat.
Daar is die bekende satiriese teologiese roman van C.S. Lewis, met die titel The Screwtape Letters. Die verhaal gaan oor die senior duiwel Screwtape, wat raad gee aan sy neef Wormwood, wat ’n jong, junior en onervare duiwel is, oor hoe om die menslike siel te verlei. Dit kom daarop neer dat Screwtape leer dat die mens nie verlei kan word deur erge groot sondes nie, maar eerder deur klein sondetjies, wat die mens sag maak om later groter sondes te doen.
In Mat 4: 1 – 11 lees ons ook hoedat die duiwel vir Jesus probeer versoek en vir hom vishoeke uitgooi met drie verskillende vorme van aas. Die aas lyk aantreklik, want sien, die duiwel stap nie met horings by jou in nie, maar as ’n vriendelike heer. Die duiwel versoek Jesus in die woestyn, direk na sy doop met water deur Johannes. As’t ware toets die duiwel vir Jesus of die Vader se kompliment dat Jesus die Seun van God is, waar is.
Jesus word onder die Gees die woestyn ingelei, die plek waar die geeste is om in stryd met die bose geeste te gaan. Woestyne is gesien as gevaarlike plekke waar die geeste bly. Gewoonlik het die mense blou klere en geklee met amulette en simbole die woestyn ingegaan om hulleself te beskerm. Waarskynlik het Jesus daarsonder die woestyn ingegaan, want ons teks meld niks daarvan nie. Die getal 40 speel ’n belangrike rol in die Bybel. Direk na die deurtog van die Rooi See is die volk 40 jaar versoek in die woestyn. Moses het 40 dae gevas op Sinai-berg voor hy die wet teruggebring het. Elia het 40 dae gevas op Berg Horeb.
Daar is ’n verskil tussen beproewings en versoekings. Beproewings word deur die Here gebruik om die beste in jou na vore te bring. Versoeking word deur die duiwel gebruik om die slegste in jou na vore te bring. Die duiwel wil Jesus laat misluk. God is in Jesus, Jesus is in die kerk en die kerk is in die wêreld. Die duiwel wil soos ’n skerpskutter vir Jesus uithaal uit die heilsplan van God met die wêreld.

In die tropiese woude vind ’n mens die bekende Venus Fly Trap. Dit is ‘n soort plant wat ’n karnivoor is. Natuurlik kry ’n mens baie ander soorte karnivoriese plante. Dit is plante wat op vleis lewe.
Die Venus Fly Trap lok insekte deur middel van kleur en reuk nader. Die insekte sit dan vas in die klewerige slymlaag van die plant en word ingesuig en die plant se kake gaan toe om sy slagoffer. Die plant stel ’n strik vir insekte. So het die duiwel ook vir Jesus in die woestyn drie verskillende slagysters gestel. Elkeen van die drie versoekings was op verskillende vlakke. Ons kan dus as’t ware sê dat Jesus aan ’n totale aanslag van versoekings blootgestel was.

Woestyne is eensame plekke. Daar is min versterkinge. Woestyne is plekke waar die geeste praat, en hét die bose geeste nie probeer om van Jesus besit te neem nie! Die duiwel gebruik die oomblik van Jesus se broosheid. As iemand lê, trap op hom. Wanneer Jesus op Sy kwesbaarste is, kom die duiwel met ’n totale aanslag.
Ten diepste is ’n versoeking dit wat die duiwel doen om jou te laat probeer “iets” wees. Eva wou soos God wees, daarom het sy van die verbode vrug geëet. Feitlik elke sonde en versoeking kan teruggelei word na die mens wat iets anders wil wees as waartoe God hom of haar geskep het. Wat wil die duiwel hê moet jy wees? Ryk, vooraanstaande, gewild, populêr, almal moet van my hou, suksesvol en so kan die lysie aanhou.
Jesus word versoek om “iemand” anders te wees as dit waarvoor die Vader hom gestuur het. Die duiwel wil van Jesus (a) ’n Brood-Messias, (b) ’n Sensasie-Messias en (c) ’n politieke Messias maak. (Andrie du Toit se onderskeiding.) Interessant dat die versoekings opwaarts loop van die vlaktes waar die klippe lê, na die tempel se hoogste punt en uiteindelik by die hoogste punt van die berg.
Die heel eerste versoeking gaan daaroor dat die duiwel vir Jesus versoek om in sy hongerte van klippe brode te maak. Hy wil as’t ware van Jesus ’n Brood-Messias maak wat net gekom het vir die liggaamlike nood van mense. Mense kan dikwels net ingestel wees op hulle liggaamlike behoeftes, sodat hulle slegs vleeslike mense is, sonder om hulle eie spiritualiteit te herken en te verstaan. Duidelik weerstaan die Here die duiwel met die volgende woorde in vers 4: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” In geen onduidelike taal nie onderstreep die Here dat die mens ten diepste ’n spirituele mens is.
Die tweede versoeking is daarop gemik om van Jesus ’n Sensasie-Messias te maak. Deur die eeue was die mensdom nog altyd ingestel op sensasie. Sensasie verkoop. Mense dagdroom oor sensasie. Die versoeking was dat Jesus van die heilige stad se tempel moes afspring en sy engele moes opdrag gee om hom te dra. Weereens weerlê Jesus die versoeking met die woorde in vers 7: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” Jesus weier om ’n Sensasie-Messias te wees. Hy sou eerder die lydende Messias word wat sy dissipels se voete sou was.
Die derde versoeking is daarop gemik om van Jesus ’n Politieke Messias te maak. Die versoeking gaan daaroor dat die duiwel die Here na ’n baie hoë berg geneem het en al die Koninkryke in al hul prag en praal vir Jesus gewys het en hom versoek het om neer te val en hom (die duiwel) te aanbid, dan sou die duiwel dit alles vir die Here gee. Weereens weerstaan Jesus die versoeking om ’n Politieke Messias te wees en die gewildheid van die massas na te jaag. In vers 10 staan daar geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” In sy drie jaar se openbare optrede was daar telkens die politieke versoeking om die Jode van die Romeinse juk te bevry. Dit het Jesus nie gedoen nie. Sy taak was nie politieke bevryding nie, maar geestelike bevryding.
Telkens kom die versoeking na ons om iemand anders te wees as dit wat God ons bedoel het om te wees. John Ortberg sê ons moet onderskei waarom ons ’n ANDER MENS wil word. Dikwels is dit juis die versoeking in ons lewe.
Hoewel Jesus na 40 dae fisies op sy swakste is, is Hy spiritueel op sy sterkste en kan hy die totale aanslag van die duiwel weerstaan. Daarom moet ons hieruit leer dat ’n mens spiritueel in jou binneste moet groei om die aanslae van buite te weerstaan. Kontemplatiewe spiritualiteit is ’n beweging na binne en nie na buite nie. Eers wanneer jy innerlike vrede en rus het, kan jy na buite sterk, dapper en onverskrokke optree. Hy weerstaan die duiwel, elke keer met die Woord van God, vanuit sy innerlike sterkte.
Die moderne mens is geneig om baie liggaamlik ingestel te wees op aardse behoeftes van liggaam, mag, aansien, rykdom en besittings. Die uiterlike liggaam en voorkoms is jou image, die persoonlike ikoon. Om versoekinge te weerstaan is om nie jou aptyt te bevredig met verskillende liggaamlike dinge nie. Dit is om spiritueel ingestel te wees op die influistering van die Gees. Ons enigste ware vryheid is om nie slawe van ons aptyt te wees nie. Om te kan NEE sê, maak ons ons vry van ons liggaamlike verslawings.
Die woestyn-ervarings was ’n voorbereiding vir Jesus wat nog vir Hom voorlê.
Wonde wat opgedoen word deur die stryd teen die Bose kan altyd geheel word – God het sy engele gestuur om Jesus te versorg. Wonde, egter, wat ek self opdoen deur aan versoekings te voldoen, loop dikwels lewenslank saam met my. (Uit die mond van ’n ou kerkvader)
Luther haal ook Taulerus aan : “In goeie tye gebruik seevaarders roeispane, maar in tye van versoeking soek hulle hul troos in die anker.”
Ons enigste anker en troos is Jesus Christus.
Die duiwel se vishoeke is om ons te verlei in sonde. Die kruis van Jesus is ook ’n vishoek. ’n Kruis lyk amper soos ’n vishoek. Die kruis as vishoek simboliseer dat God ons deur die sterwe van Jesus Christus wil nadertrek in God se liefde.

Mat 4: 19 volg direk op die versoekings wat die duiwel in die woestyn probeer het om Jesus in sonde te laat val. Die Here het die vishoeke met die aas van die duiwel weerstaan. Hy sê egter vir sy dissipels: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” Die vishoeke van die duiwel word in vers 19 vervang met die vishoeke van die Here wat mense wil nader trek in Sy liefde en genade. Daarom moet die dissipels vissers van mense wees, wat met die kruishoek mense intrek in die Koninkryk van God.

Mag ons vishoeke vir die Here wees, waarmee ons vissers van mense kan wees. Mag die vrugte van die Gees in Gal 5: 22 – 23 die aas wees waarmee ons mense nadertrek na die ewige Lig. Die aas is: “liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing …”
Die duiwel se vishoeke is om ons te verlei in sonde. Die kruis van Jesus is die vishoek wat ons wil nadertrek in die liefde van die Here. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
