SKRIFLESING: Hand 20: 35, Psalm 90: 12 en 1 Kor 13: 12
Die dood van ’n jongmens is altyd ’n groot skok vir ’n gemeenskap. Jongmense dink hulle is onsterflik en dat net ouer mense sterf. Daar is eenkeer aan die Bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag gevra hoekom hulle jongmanne tussen 18 en 25 in die 1970’s en 1980’s opgeroep het vir Nasionale Diensplig om die land se grense te beskerm in die gevaarlike Caprivi-strook wat grens aan Angola. Die generaal se antwoord was dat jongmanne tussen 16 – 25 dink dat hulle nie kan sterf nie en daarom kan hulle baie dapperder in oorlogvoering wees en is daarom beter soldate. Ouer soldate is versigtig, omdat hulle hul eie sterflikheid besef.
Die dood van ’n pragtige jongman soos Ben (jr.) ruk ’n gemeenskap weer tot die realiteit dat ons eie sterflikheid ons soos ’n skaduwee volg. Kan ’n mens vir jou skaduwee weghardloop? Nee! Dit volg jou altyd en so volg ons sterflikheid ons elkeen. Ons weet net nie wanneer ons gaan sterf nie.
Ons moet erken dat sommige vrae oor ’n jongmens se dood onbeantwoord sal bly. Maar dit is ook reg om vrae te hê. Wees net versigtig om nie goedkoop antwoorde te gee soos “Dit was sy tyd” of “Die Here pluk die mooiste blom” of “Die Here het hom nodig” nie.
So het Totius gewroeg met die dood van vier van sy kinders, waarvan twee veral ’n groot invloed op sy poësie gehad het. Sy seun Ben is op 18-jarige ouderdom deur weerlig doodgeslaan terwyl hy onder ’n boom gesit het. Sy dogter Wilhelmine is tydens ’n operasie oorlede. Een van sy ander kinders is aan breinvliesontsteking dood.
Luister hoe skryf ’n onbekende skrywer ’n inspirasie uit Totius se styl oor pyn en verwerking:
Soos ’n Doringbos
(Inspirasie uit Totius se styl)
My gedagtes,
soos vat aan ’n doringbos –
elkeen haak vas
aan iets seer,
iets onopgelos.
Ek wil vorentoe dink,
maar trek terug.
Ek wil vergeet,
maar bly vas
aan die takkies van “hoekom”
en “as net”.
Ek het nie gevra vir die doringbos nie,
maar hier staan ek,
vasgehaak in stilte.
En dan –
fluister U.
Nie uit die storm nie,
maar tussen die dorings
waar U hand
myne liggies vashou.
Ons rus eerder in God se misterie en genade. Ons rus in die wete dat ons nooit al die antwoorde sal kry nie. Maar ons kan net rus in God se goedheid.

Moenie vir Ben (sr.), Mari en Hanneke in hierdie tyd probeer antwoorde of raad gee nie. Elkeen hanteer ook die dood van ’n geliefde anders as ander. Daar is nie iets soos ’n regte antwoord wat vir almal werk nie. Geen mens ervaar die dood van ’n geliefde op dieselfde manier as ’n ander mens nie. Almal het ook hulle eie tyd om die dood van ’n geliefde te verwerk. In tye van donkerte gaan Ernest Hemingway se raad nie oor die vind van oplossings nie, maar oor die soeke na menslike verbintenis en teenwoordigheid. Hy stel voor dat wat mense die nodigste het in hul donkerste oomblikke, nie raad of pogings is om hulle beter te laat voel nie, maar eerder stilte en ’n sagte aanraking (soos ’n drukkie of fisiese aanraking) om hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie. Hierdie ondersteuning, selfs sonder woorde, kan die kragtigste geskenk wees en individue help om hul eie krag en waarde tydens moeilike tye te onthou.
Toe my pa in 2017 oorlede is, het wyle Stefan Erwee my net ’n lang ruk vasgedruk, sonder om een woord te sê. Dit het vir my meer beteken as ’n 1000 woorde.
Ons moet elke dag met die wete leef dat ons lewensdae kort is. Maar hoe bring jy dan jou lewensdae deur as dit so kort is? As jou lewensdae soos gras vergaan, hoe leef jy dan sinvol? Dit is die gevolgtrekking waartoe Moses kom in Psalm 90: 12, naamlik: Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ’n hart vol wysheid kan verwerf. “Na waarde te skat” kan ook vertaal word met “reg te verdeel” of “reg te tel”. Die vertalings impliseer ons moet nie ons kortstondige lewe vermors met onsinnighede nie.
Wyle Ben du Preez het as ’n jongman by die Round Table Adelaide aangesluit. Daar het hy geleer om betrokke te wees in die gemeenskap en ’n verskil te maak. Daar het Ben geleer om te GEE. Daarom sê die Here Jesus dan ook in Hand 20: 35 die volgende: “In alles het ek vir julle gewys dat ’n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het: ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ”
Daarom leer liefdadigheidsorganisasies soos die ACVV, die Round Table, kerke en ander instansies vir mense om hulleself te gee vir ander mense en vir die gemeenskap.
Die “Round Table” is die metafoor van die legendariese tafel in die stories van Koning Arthur en sy ridders. Die tafel was rond sodat niemand aan die kop sit nie, wat gelykheid en kameraadskap simboliseer. Dit is ’n simbool van eer, lojaliteit, en samewerking.
Round Table International is ’n internasionale mansorganisasie vir jong leiers (gewoonlik tussen 18 en 40). Die fokus is op Leierskap, Vriendskap en Diens aan die gemeenskap. In Suid-Afrika is Round Table SA ’n bekende tak, wat baie liefdadigheidsprojekte aanpak. Die leuse is Adopt, Adapt, Improve.
Ben was deel van die Round Table Adelaide. Na sy bitter ernstige siekte in 2022 en nadat hy ook vir maande in die Millpark Hospitaal in Johannesburg was, was hy gretig om sy dankbaarheid vir sy wonderbaarlike herstel in die Round Table van Adelaide uit te leef. Daar het hy ook wonderlike mense leer ken en nuwe vriende gemaak, wat vir hom baie beteken het.

Tydens sy baie lang siekte in 2022 het Ben (sr.), Mari en Hanneke ook deur ’n persoonlike hel gegaan, toe Ben (jr.) vir maande in die Millpark Hospitaal was. Maar God het vir hulle krag gegee. Toe hy terug was op Adelaide het sy ouers vir hom die pragtige skaaphond (Malcolm) gegee, wat ’n groot troos vir hom was. Vandag is Malcolm saam met ons hier in die kerk.
’n Ouer is nie gemaak om ’n kind te begrawe nie. Lollie du Randt het vir my gesê as iemand sy vrou of haar man verloor, praat ons van ’n wewenaar of ’n weduwee. Maar hy sê daar bestaan nie ’n woord vir ’n ouer wat sy kind verloor nie. Dit is omdat daar nie woorde is om die pyn en verlies te beskryf nie. Desnieteenstaande moet ons nie vir God kwalik neem nie. Ons moet geloof en dankbaarheid behou.
Ds. Hennie le Grange van die Hervormde Kerk het ’n baie raak opmerking gemaak in een van sy preke. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.” Waarom is u almal vandag hier? Omdat Ben du Preez (jr.) se lewe êrens aan u geraak het. Met sy betekenisvolle lewe het hy baie mense aangeraak. Zelda van Smhart Sekuriteit het gesê dat die hele gemeenskap vir Ben lief was.
Dit is tog die sin van die lewe. Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het. Die sin van die lewe is nie om bymekaar te maak nie, maar eerder met betekenis jou lewe te gee in iets wat groter as jyself is. Dit is tog wat Jesus bedoel in Hand 20: 35. Dit roep ons op om ’n kwaliteitlewe te leef. Dit gaan nie om kwantiteit bymekaar te maak nie, maar ’n kwaliteitlewe te leef.
Hierdie is nie ’n troosdiens nie. Dit is onmoontlik om in ’n erediens van 60 minute vir Ben (Sr), Mari, Hanneke, sy vriende en gemeenskap te troos. Dit is eerder ’n gedenkdiens vir sy lewe, waar ons vir die Here dankie sê vir sy lewe van 23 jaar. Die Here sal op Sy tyd vir elkeen van ons vertroos soos Dawid in Ps 23: 1 – 3 skryf: Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag … Troos kom met tyd. Dit is nie ’n skakelaar nie. Troos is ’n proses en elke mens treur anders, soos wat elke mens se lyding uniek is. Maar God belowe dat hy in die volmaakte tyd vir ons sal vertroos.
Ons as gemeenskap moet vir Ben (sr.), Mari en Hanneke koester met liefde, begrip, omgee, teenwoordigheid, maar NIE met antwoorde nie. Dit is deel van die misterie van die lewe. Soos Paulus in 1 Kor 13: 12 skryf: Nou sien ons wel ’n geheimenisvolle beeld, soos in ’n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is. Die spieëls in die tyd van Paulus was primitief, amper net ’n weerkaatsing, met ’n swak en raaiselagtige beeld. Daarom is God se werk ’n geheimenisvolle beeld. Eendag sal ons verstaan. Nou het ons nie die antwoorde nie. Daarin moet ons berus.
Maar ons as Christene het ’n ewige hoop. Daarom staan daar in 1 Tessalonisense 4:13 – 14 die volgende: … sodat julle nie treur soos die res wat geen hoop het nie… Daarom het ons die ewige troos dat ons aan die Here behoort in lewe en in dood.
Ben (jr.) het miskien ’n kort lewe gehad, maar met kwaliteit het hy ’n blywende indruk op ons elkeen gemaak.
Ons dank die Here dat Ben (jr.) deel van ons lewe was. In ons herinneringe sal hy bly voortleef. Eendag sal ons hom weer in aangesig ewig ontmoet.
Dankie ons Here Jesus dat Ben du Preez (jr.) nou in sy ewige woning is en dat sy beker oorloop soos wat U vir ons in Ps 23: 5 – 6 belowe. Ben (jr.) kort nou niks meer nie. Hy is gesond in ’n nuwe geestelike liggaam. Dit is ons vaste sekerheid en troos. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide en Fort Beaufort.)
