SKRIFLESING: Genesis 6 – 9
Noag het geleef in ’n wêreld waar boosheid die norm geword het, waar mense hul rug op God gedraai het, en waar geweld en selfsug alledaags geword het. In daardie afvallige tyd het God egter na een regverdige man gekyk – Noag – en gesê: “Met jou wil Ek ’n verbond sluit”.

Volgens Genesis 6 – 9 het God besluit om ’n vloed oor die aarde te bring omdat die mense se boosheid te groot geword het. God wou die boosheid uitwis. Maar Noag was ’n regverdige man wat met God gewandel het. Die Here het vir Noag opdrag gegee om ’n ark te bou om vir hom en sy vrou en drie seuns Sem, Gam en Jafet en hulle vroue en ’n verskeidenheid diere, van die komende vloed te red.

Terwyl Noag oor baie jare hierdie ark gebou het, het die mense met Noag die spot gedryf, asof hy mal was. Daar was geen meer, rivier of see naby nie en dit het selde gereën. Noag was in hulle oë heeltemal kranksinnig en hulle het met hom die spot gedrywe. Vandag word daar ook met Christene, gelowiges en mense wat die regte dinge doen, die spot gedrywe, asof hulle outyds is. Morele waardes en ’n liefde vir die reguit pad van God bestaan nie meer nie. Veral ons kinders en jongmense kry vandag swaar om hulle Christelike beginsels op skool, Universiteit en in hulle werksplek uit te dra, waar daar openlik met die Here gespot word.

Dit is interessant dat die Here vir Noag en sy hele gesin asook sy familie gered het. Die Here het nie net vir Noag gered nie, maar almal in sy familie. Noag se hele familie was vir God kosbaar. Die ark was as’t ware die skuilplek vir Noag se gesin en familie teen die vloed wat gaan kom. Hulle het saam die ark binnegegaan, nie net as individue nie, maar as ’n gesinseenheid, ’n familie-eenheid – ’n oorblyfsel van die mensdom wat deur gehoorsaamheid en vertroue bewaar is.

Vandag leef ons ook in ’n wêreld van boosheid. Korrupsie, moord, geweld, onsedelikheid, drankmisbruik en dwelms is aan die orde van die dag. Die wêreld is besig om verlore te gaan in sonde. Vandag staan ons ook voor ’n wêreld vol storms – nie van water nie, maar van ’n erge verwydering tussen God en mens en tussen mense onder mekaar. Mense het geen liefde en respek meer vir God en vir mekaar nie. God se Woord en gebooie het oudmodies geword. Mense reageer deesdae spottend teenoor die Here, morele waardes en ander mense. Van liefde is daar geen sprake nie.
En tog roep God ons steeds om ’n ark van gehoorsaamheid en geloof te bou. Nie van hout nie, maar van vertroue. Nie net vir onsself nie, maar vir ons gesinne, ons gemeenskappe, ons wêreld. Noag het nie net homself nie, maar ook sy gesin gered. Ons word geroep om ’n veilige plek te wees – ’n ark – vir diegene vir wie ons lief is.

Daarom is die eenheid van die huwelik, die gesin en die familie so uiters belangrik en ononderhandelbaar. Daarom moet ons geloof ons kinders, huwelike en families beïnvloed. Die ark is ’n simbool van geloof. Hierdie ark van geloof het Noag en sy hele familie gered. Daarom moet daar altyd geloofsoordrag plaasvind in ’n verbondsgesin. Die voorbeeld van pa en ma en die grootouers moet ’n vormende invloed op ons kinders se lewens hê.

Daarom het die Here die verbondsdoop ingestel, omdat God nie net in die individu se redding belangstel nie, maar in die hele gesin van die verbondsouers. Deur die Woord, die Gees en die verbondsouer bewerk die Here die redding ook vir kinders van gelowige ouers. My ma het elke aand vir my uit die Kinderbybel gelees. Geleidelik het die geloof in my ontvlam. Toe ek in Sub B was, het ek alreeds die roeping ontvang om ’n predikant te word. Verbondsouers speel ’n geweldige rol in die geestelike en morele groei van ’n kind.
Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding, liefde en strengheid moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree.
Die ark kon nie lekker geruik het nie. Daar moes beslis ook baie lawaai gewees het. Dit het ook heen en weer geskommel op die water. So is die gesinslewe as ’n ark nie altyd ideaal nie. Maar ons hou uit met mekaar, want die gesin is die enigste tuiste waarin ons werklik veilig is. Dit is die veilige tuiste wat God vir ons gegee het. Dit is nie gebou op ons gevoelens nie, maar op besluite om bymekaar te staan deur dik en dun.

’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is dit baie belangrik om jou kind te tug, volgens die Bybel, veral in die Spreukeboek. Die gesin en familie is die plek waar kinders gevorm word. Dit is die heerlike voorreg van die ouers om hulle kinders (hulle kwekelinge) te kweek om egte kinders van die Here te wees. Ja, om hulle kinders ook goeie morele waardes te help aanleer.
Wat opvallend is, is hoe gesinseenheid beklemtoon word te midde van die wêreld wat al meer van God wegbeweeg. Dit is ’n herinnering dat selfs wanneer dit voel of die wêreld en moraliteit uitmekaar val, die bande van familie – en geloof – ons daardeur kan dra.

Toe Noag en sy familie in die ark was met die sondvloed, het Noag ook ’n duif uitgestuur. Die duif het laatmiddag teruggekom. Met die geklap van vlerke het die duif ’n olyfblaar in sy bek gehad, wat die teken was van redding en ’n nuwe begin. So is die geklap van ’n duif se vlerke telkens in die Bybel ’n teken van redding en God se teenwoordigheid.
Met die doop van die Here Jesus het die Heilige Gees in die gedaante van ’n duif op hom neergedaal. So het die Here Jesus se bediening begin. Dit het begin met die geklap van ’n duif se vlerke. Christus het ’n nuwe begin aangekondig. Die Gees was op Hom om Sy werk op aarde te doen.
God wil altyd nuut maak. Hy het die hemel en aarde geskep uit die oerchaos. Hy het in Noag en sy familie ’n nuwe begin gemaak. Hy het Sy volk Israel verlos uit Egipte, uit die huis van slawerny. Hy het Sy volk tekens uit ballingskap gered. Die Here doen altyd nuwe dinge.
So het die Noagitiese verbond tot stand gekom. Die verbond vind jy in Genesis 9: 8 – 17, waar God aan Noag en sy nageslag belowe: Hy sal nooit weer die aarde met ’n vloed vernietig nie. Die reënboog sal die teken van hierdie verbond wees – ’n simbool van vrede tussen God en die aarde. Dit wys op God se trou, selfs wanneer mense faal.

Die Hebreeuse woord qeset vir reënboog het ook ’n oorlogskonnotasie en verwys na die kryger se boog. Dieselfde Hebreeuse woord qeset kom ook voor in Ps 7: 13, Klaag 2: 4 en Hab 3: 9 – 11, waar dit verwys na die boog van die kryger wat gespan word. Daarom is die reënboog in die antieke Hebreeuse tekste ook ’n simbool van God se toorn en oordeel. God span as’t ware Sy boog om met jou in oorlog in te gaan. Met die sondvloed het God Sy qeset (Sy reënboog) gespan en met die mensdom in oorlog gegaan. Verwoestend het dit 40 dae en 40 nagte gereën en alles vernietig behalwe almal wat in die ark was. God is ook ’n toornige God, wat kwaad word oor sonde en Sy oordeel kan uitspreek oor sondaars. Ons misgis ons as ons dink God is net ’n God van liefde. God is liefde én regverdigheid. Waar God se regverdigheid vertrap word, stort God sy toorn uit oor die mens. Daarom moet ons nie van God ons speelmaatjie maak en sonde nie ernstig opneem nie. Baie mense dink God is net liefde, geen oordeel nie. Dikwels glo ons dit is God se werk om te vergewe. Maar dan dink ons naïef oor God. God straf ook sonde. God straf die sonde van die enkeling en ook die sonde van ’n volk of van die mensdom. Daarom moet ons versigtig voor God lewe.

Maar God kan ook afstand doen van Sy toorn. God kan Sy toorn verruil vir vrede. So het God ook na die sondvloed vrede verklaar. Daar staan in Gen 9: 13 “My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.” Wanneer God dus as’t ware die reënboog neersit op die aarde, sit Hy Sy oorlogsboog neer om vrede te maak met die mense en ’n vredesverdrag of -verbond met die mens te sluit. Daarom is die reënboog God se vredesteken en vredesverbond dat Hy nie weer die wêreld sal uitwis deur ’n sondvloed nie. Die Here het sy boog (reënboog) neergesit tussen die wolke as teken dat Hy sy wapen neergesit het en met die mense ’n vredesverbond gesluit het. So word die teken van die reënboog wat neergesit is, teken van God se trou. Die reënboog word gesien as ’n boog van vrede, nie meer ’n oorlogsinstrument nie.
Daar is iets soos post-traumatiese stres. Noag en sy nageslag kon maklik elke keer as die wolke saampak, die trauma herbeleef dat daar weer ’n sondvloed op pad is.

Daarom is die reënboog wat neergesit is, ’n teken dat God nie meer met hulle in ’n oorlog is nie. Dat God nie weer die aarde sal uitdelg met ’n sondvloed nie. Dit sou vir hulle berusting gee. Dit is nogal wonderlik om te weet dat die reënboog wat neergesit is, slegs sigbaar is wanneer daar ’n storm op hande is. God se trou is die duidelikste in die storms van die lewe.
Die reënboog wat neergesit is, is ’n eensydige verbond waar die inisiatief en verantwoordelikheid net van God kom, om die aarde nie weer uit te delg met ’n sondvloed nie.
So is die kruis ook ’n teken dat God afstand gedoen het van Sy toorn en dat Sy kruis die weerligafleier was van die hemelse donderweer. Daarom is die kruis in die aarde geaard. Daarom hoef ons ook nie aan post-traumatiese stres te ly en God se straf in alles wat in my lewe gebeur, te soek nie. Ook in die storms van my lewe kan ek weet dat God se kruis die simbool van vrede en berusting is.
God het Sy wapen, die reënboog, neergesit tussen die wolke en storms van my lewe, as teken dat God van sy toorn afstand gedoen het. God het sy wapens neergelê om in genade in ’n vredesverbond met ons en ons kinders te lewe.
’n Reënboog kom ná ’n storm, dus simboliseer dit hoop ná lyding en swaarkry. Sy veelkleurigheid weerspieël die diversiteit van die skepping, en moontlik selfs die veelkantigheid van God se genade, amper soos die verskillende vlakke van ’n diamant. As ’n boog wat hemel en aarde verbind, kan dit beskou word as ’n brug van versoening.
Sommige teoloë, soos Dorothee Sölle, sien dit as ’n ommekeer in God se verhouding met die skepping, ’n uitnodiging aan die mens om mede-skeppers van vrede te wees. Daarom word ons en ons kinders agente van vrede in hierdie bose wêreld met sy storms.

Die Noagitiese verbond het oorgegaan in die Abrahamitiese verbond. Die besnydenis is deel van die Abrahamitiese verbond, dat God Homself aan ons en ons kinders verbind, as ’n God van ewige liefde. Dit het die nuwe verbond van die doop geword, waar ons as kinders van Abraham die teken van doop (sonder bloed) ontvang, omdat Jesus se bloed klaar gevloei het. Daarom plaas hy ons kinders en kleinkinders in die hande van verbondsouers, sodat ons vir hulle ’n ark van bewaring kan wees. Nico en Estie, mag ook julle huis ’n ark wees vir julle gesin. ’n Ark van bewaring, veiligheid en verbondsopvoeding. Dan sal julle kinders geseënd wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
