God se Woord vir jou siel se winter

SKRIFLESING: 1 Kon 19: 1 – 18

’n Mens se lewe is nie altyd net lente of somer nie. Jou emosionele krag ry wipplank met jou.

Daar is wonderlike tye in jou lewe, wat soos ’n ewigdurende somer voel. Dit gaan met jou fantasties. Maar daar kom ook herfstye, tye van verlies en stroping. Maar daar kom ook in ons lewe tye van diep winter, wanneer dit voel jou siel is dood en donker en dat jy nie eens ’n sprankie hoop in jou lewe raaksien nie. Mense kan dan ook dikwels alle perspektief op die lewe verloor. Jou siel kan vir lank in ’n diep donker winter wees. Winternagte is mos baie lank, so kan mense vir lang tye worstel met die winter in hulle siel.  Maar ons kan ons daarin troos dat God ook by ons is in die winter. In Psalm 74: 17 staan daar:  “U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” Daarom, as daar winter in my siel is, sal daar beslis ook ’n lente en somer aanbreek. Hy wat Winter Skep, Vorm ook die Lente.

Daar is betekenis in die wintertye van jou lewe. Dietrich Bonhoeffer (1906 –1945) het in die winter van sy lewe geskryf:Only the suffering God can help.” Terwyl hy in ’n Nazi-tronk sit, skryf hy oor geestelike winters – die tye waarin God se stem stil ervaar word, maar God nie afwesig is nie. Sy briewe in Letters and Papers from Prison dra die toon van ’n gelowige wat in ’n donker winterstyd sy geloof verdiep tot versterking van baie se geloof. Op 9 April 1945, net weke voor die einde van die oorlog, word hy tereggestel in Flossenbürg konsentrasiekamp – gehang, met waardigheid en in die geloof van ’n Godsman. Sy laaste woorde aan ’n medegevangene was: This is the end – for me, the beginning of life.” Aan die einde van sy winter, toe die galgtou styf trek, het sy lewe begin in die ewige lente en somer van God se troue beloftes van ’n nuwe en ewige lewe.

Ons kry ook dikwels korter tye wat ons moedeloos is en ons noem dit sommer ons afdae in die lewe.

Dit is nou daardie dae wat ’n mens se mondhoeke twintig oor agt staan. Jy wil uitgelos wees. Alles sien jy pessimisties en donker. Ons lewe in 2025, ’n tydperk van talle oorloë, menseregteskendings, ’n mislukte staatsbestel in Suid-Afrika, verswakkende ekonomie, werksverliese, armoede en misdaad.  Ons het genoeg rede om pessimisties te wees. Dalk is daar in u gemoed vandag ’n stuk bangheid en onsekerheid wat die toekoms gaan oplewer. Dan is jou persoonlike lewe dikwels ook vol onsekerhede en dan het jy nog jou daaglikse bekommernisse.

In 1 Kon 19 lees ons van ’n pessimis. Ja, Elia daar onder die besembos met sy mondhoeke wat duidelik twintig oor agt staan. Elia was in stryd teen die Baälgodsdiens. In die Baälgodsdiens het dit net om vrugbaarheid gedraai. Vir hulle was vrugbaarheid van die veekuddes,  die gesaaides en die wingerde van die grootste belang. Hulle was ook bekend vir prostitusie en onsedelikheid en die Baälpriesters het selfs prostitusie in hulle tempel bedryf.

Elia het openlik die Baälpriesters in die openbaar aangevat en hulle selfs op die berg Karmel uitgedaag. Hulle het die altare vol brandoffers en hout gepak. Die Baälprofete het gedans dat die stof staan, maar hulle kon nie ’n rokie laat opgaan nie. Elia het egter geweet dat Jahweh ’n lewende God is, daarom het hy die toetsterrein moeiliker gemaak en selfs water op die hout gegooi. Elia het gebid en God het getoon dat Hy die enigste lewende God is en die brandoffers en sopnat hout het aan die brand geraak. Elia het vir hulle bewys dat Jahweh die enigste ware God is. Elia het toe opdrag gegee dat al die Baälprofete doodgemaak moet word om die prostitusie te stop. Koningin Isebel was woedend. Sy het vir hom ’n dreigbrief geskryf: “Môre is dit jou beurt.” Wie sal nie geïntimideer wees nie?

Elia het die woestyn ingevlug en onder ’n besembos weggekruip. Sy mondhoeke het op twintig oor agt gestaan. Hy voel God en die wêreld het hom verlaat. Arme hy staan alleen teenoor hierdie listige Isebel. Hy het sy lewe gewaag daar op die berg Karmel vir die Here en nou lyk dit of God hom in die steek gelaat het. Hoe meer hy homself bejammer, hoe meer krul sy mondhoeke na onder. Die lewe het vir hom sinloos geraak. Sy enigste gebedsversoek was dat hy gewens het dat die dood gou mag kom, voor die listige koningin Isebel hom in die hande kry. Met ’n swaarmoedige hart het hy aan die slaap geraak.

Maar God het vir Elia nie alleen gelaat in daardie wintertyd van hom daar onder die besembos nie. Ook as ek pessimisties en swartgallig en af voel, is God daar om my te help om weer op vaste grond te staan.

God het drie dinge gedoen om Elia op te beur. (Die drie dinge raak gelees by ’n ander prediker. Ek het dit baie aangepas.) Ons kan dit op onsself ook van toepassing maak. Heel eerste lees ons in verse 6 en 7 dat die Here vir Elia fisies versorg het. ’n Mens se siel, liggaam en verstand is ’n eenheid. As die een siek is, tas dit ook die ander aan. Die eerste ding wat die Here gedoen het, was om Sy engel te stuur om vir Elia roosterkoeke te bak en vir hom ’n kruik met water neer te sit. Eers moes Elia homself fisies versorg. Wanneer ’n mens af voel, is jy geneig om sleg te eet en jouself nie liggaamlik te versorg nie. Wanneer ’n mens jouself dwing om reg te eet, te stort, jou hare te kam en jou liggaamlik te versorg, is dit die eerste tree na oorwinning. Die Here het dus vir Elia heel eerste fisies versorg. Ek lees die volgende opsomming raak: “Die versorging van jouself is nie selfsugtig nie – dit is gehoorsaamheid. Dit is nie wêrelds nie – dit is wysheid. In Bybelse, teologiese én praktiese sin, is selfversorging nie ’n teenpool van diens nie, maar ’n voorvereiste vir volhoubare diens, liefde en dissipelskap. Jy kan nie lank water uit ’n leë kruik gooi nie.” Daarom is fisiese rus en slaap die grootste gawe om te herstel, sodat jy elke dag nuut en vars kan begin. ’n Stomp byl kan nie so vinnig werk soos ’n skerpgemaakte byl nie. Wanneer jy rus of slaap, maak jy jou byl skerp om vinnig en effektief te werk. Jesus self is ons grootste voorbeeld: “En nadat Hy die skares weggestuur het, het Hy alleen op die berg gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.”

Toe het die Here in die tweede plek met Elia se denke begin werk. Somtyds dink ons so verkeerd, want ons perspektief op dinge is verdraai. Ons dink ons is stoksielalleen en niemand verstaan ons nie. Elia was soos die ou wat blomme geruik het en gevra het waar die begrafnis is. Luister wat sê hy in vers 10: “Here, ek het alleen oorgebly en hulle soek om my ook dood te maak.” Toe sê die Here vir hom in vers 18: “Nee Elia, jy het nie alleen oorgebly nie. Daar is nog seweduisend saam met jou wat nie hul knie voor Baäl gebuig het nie.” Hierdie seweduisend is simbolies van die volgende: getal vier, die vier windrigtings van die aarde plus drie, simbolies van God en duisend, simbolies van die volheid. Elia is beslis nie alleen nie. God moes net Elia se denke ’n bietjie verander.

Dalk het u al die storie gehoor. Daar word vertel van die eiendomsagent wat by die oom gekom het wat sy plaas wou verkoop. Die oom was moeg om ver van winkels en die beskawing te wees. Hy was moeg om teen die elemente te baklei. Hy wou toe net verkoop. Die eiendomsagent skryf toe ’n advertensie en vra die oom of dit reg klink: “ Goedgeleë bosveldplasie, lopende water, vrugbare grond en ver van die stad se gejaag.” Toe sê die oom: “Is dit my plaas? Dis wat ek nog altyd wou gehad het! Toemaar, ek wil nie meer verkoop nie!”

Hoe lui daardie kinderliedjie nou weer: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een …” Sommer gou sal jou mondhoeke tien oor tien staan. Die Here het dus Elia se denke verander deur hom daarop te wys dat hy nie alleen is nie, maar dat hy nog seweduisend ander volgelinge, bates en seëninge het.

Die derde ding wat die Here vir Elia gedoen het, was om vir hom werk te gee. Elia moes homself uit sy neerslagtigheid en swartgalligheid werk. Hy moes twee nuwe konings Gasael en Jehu gaan salf. Hy moes ook vir Elisa as sy opvolger salf. Die probleem met ’n pessimis is dat hy op die kantlyn staan en kritiseer; die optimis is die doener. Toe Elia begin doen, toe wyk sy neerslagtigheid.

Gaan werk, gaan doen, gaan verander jou wêreld. Spreek die dinge aan wat jou neerslagtig maak. Raak betrokke in jou gemeenskap. Maak ’n verskil in ander mense se lewens. In my persoonlike lewe het ek al dikwels ervaar dat ek die oggend neerslagtig opstaan. Ek dwing myself dan om ’n paar mense te besoek en vir hulle iets te beteken. Teen die aand voel ek goed oor myself. Ek het ’n verskil gemaak.

Prof Henri Nouwen, wat na baie jare as akademikus aan bekende universiteite klasgegee het, besluit om met verstandelik gestremde volwassenes by L’Arche te werk en het gesê: There is healing in peeling potatoes.” Die eenvoudige, deurlopende aksie van werk help die hart en gemoed kalmeer. Dis ’n geestelike dissipline – nie weghardloop nie, maar deelneem, opoffer, dien. Gaan op in iets groter as jyself en jy sal innerlike genesing kry, ook in die langste wintersnag van jou siel. Hou aan met jou werk, jou roeping, jou taak en jy sal die sin van die lewe ook in jou werk en arbeid vind.

 (Terloops, ek praat nie hier van depressie nie. Depressie is ’n siekte en moet deur dokters en medikasie behandel word.)

Doen iets, eerder as om niks te doen nie. ’n Ou Chinese spreekwoord lui: “Dit is beter om een kersie aan te steek as om teen die donker te vloek.” ’n Anonieme spreuk lui: “ In die heelal is daar nie genoeg donkerte om een klein vlammetjie uit te doof nie.” Moenie pessimisties op ’n hopie gaan sit oor die droogte, oor jou finansiële posisie of oor die misdaad nie. Gaan doen iets daaraan. Dit is beter as om niks te doen nie.

Onthou die Here se voorskrif vir Elia was:

  1. Versorg jou fisies.
  2. Tel jou seëninge en verander jou denke.
  3. Spring aan die werk.

Mag die raad van God aan Elia ook vir u en my deurdra, veral wanneer dit diep winter in ons siel is.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Die Gewete: ‘n Kompas wat gekalibreer moet word

SKRIFLESING: 1 Tim 1: 5 en 1 Tim 4:1 – 2

Om na die beeld van God geskape te wees, beteken om ook ’n gewete te hê.

Dit onderskei die mens van die dier omdat die mens beelddraer van God is. Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle dadelik skuldig gevoel en in die aandwind vir God gaan wegkruip. Hulle gewete het hulle gepla. Aan die ander kant, toe Kain vir Abel doodgeslaan het, het hy geen gewete gehad nie. Hy het nie skuldig gevoel nie en eerder gesê dat hy nie sy broer se oppasser is nie. Daarom vind ons ook dat die sondeval vir jou ’n afgestompte gewete kan gee.

Die groot denker Immanuel Kant het dit ook uitgespel in ’n indrukwekkende besinning, dat alle mense gebore word met ’n gewete. Dit is integraal deel van menswees. Die vraag is egter: hoekom is alle mense se gewetens nie ewe veel ontwikkel of het hulle nie dieselfde onderskeid tussen goed en kwaad nie? Die gewete kan nie net as ’n sielkundige verskynsel verklaar word nie, maar ook as die geestelike werking van die Heilige Gees. Andrew Murray het gesê: Faithfulness to conscience is the first step in the path of restoration to the Holiness of God.”

Paulus het verklaar dat hy met ’n “skoon gewete” voor God gewandel het, selfs toe hy nog die kerk vervolg het – ’n teken van hoe verdraaid ’n gewete kan wees deur die tydsgees, sonder die werking van die Heilige Gees.

Dit blyk dat gewete ook gevoed kan word deur kultuur, opvoeding, die tradisie en die gemeenskap. Vir een mensegroep sal om vrouens te onderdruk, spontaan en reg wees en vir ’n ander mensegroep totaal en al ontoelaatbaar. Slawerny, byvoorbeeld, is vir honderde jare deur die Christendom goedgekeur.

John Newton (1725–1807) het tot bekering gekom as kaptein van  ’n slaweskip, maar sy gewete het hom eers gepla dertig jaar na sy bekering. Hy was die skrywer van “Amazing Grace.” Eers na dertig jaar het hy opgetree teen slawerny. Brittanje en ander Europese volkere het vir hulle ’n magdom kolonies verower sodat hulle uit die kolonies superryk kon word. Die Britte het die Boere-Republieke binnegeval in die Anglo-Boereoorlog op soek na dié republieke se diamante en goud en met hulle verskroeide aarde beleid tienduisende vroue en kinders in ellende gedompel.  Emily Hobhouse as Engelse vrou se gewete het haar daaroor gepla en sy het reuse-verligting gebring in konsentrasiekampe en armoedesorg.

Die Naziïsme se gewete het hulle glad nie gepla om die Duitse volk superior bo ander volkere te sien nie. Om Jode uit te wis was nie ’n kwessie vir die gewete nie. Baie blanke Suid-Afrikaners (Engelse en Afrikaners) het geen gewetensbeswaar gehad teen die stelsel van apartheid nie en het geen fout daarin gesien nie.  

Vandag het baie ANC-leiers bykans geen gewetensbeswaar teen korrupsie nie en steel hulle die land bankrot. Om ’n swak werksetiek te hê, pla nie hulle gewete nie. Om te sien hoe die land uitmekaar val, pla nie die regerende party nie, solank hulle net hulself kan verryk. 

Ook gewoontemisdadigers het gewoonlik ’n swak gewete en voel nie skuldig oor hulle misdade nie.

Daarom kry ’n mens ook ’n swak ontwikkelde gewete. Die swak gewete kan disintegreer op grond van opvoeding, kultuur, breinspoeling, omgewingsfaktore, die gangbare aanvaarbare norme en beïnvloeding deur vriende en ander mense. Politiek kan ook ’n mens se gewete laat disintegreer.

Daarom kry ’n mens iets soos ’n indiwiduele gewete en dan ook ’n kollektiewe gewete. ’n Swak kollektiewe gewete kan ’n gemeenskap gesamentlik laat deelneem aan ongeregtigheid. Die geskiedenis is vol van menseregteskendings deur owerhede en mensegroepe wie se sosiale gewete afgestomp geraak het. Die tydsgees kan mense blind maak om onreg raak te sien.

So byvoorbeeld, tydens die verhoor van die oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann (wat een van die meesterbreine was om miljoene Jode dood te maak), het hy homself verdedig dat dit sy plig was om die Jode uit te wis. Sy gewete sou hom aangekla het as hy nie sy plig gedoen het om die Jode uit te wis nie. 

So kan ’n mens se gewete ook verwronge wees. Jou gewete kan afgestomp wees. Jou gewete kan jou bedrieg en die waarheid versluier.

Gewete is soms ’n fluistering, soms ’n roepstem, soms ’n storm van skuld – maar altyd ’n gids, of ’n aanklaer, op ons innerlike geestelike reis. Die Heilige Gees maak die gewete wakker in ’n mens om jou op ’n nuwe reis met God te plaas.

Die frase “Hoe heiliger, hoe sondiger” word dikwels aan Martin Luther toegeskryf. Dit beteken: “Hoe nader ’n mens aan God kom, hoe meer bewus raak jy van jou eie sondigheid.”

Paulus skryf in 1 Tim 1:5 : “Die doel van die opdrag is liefde uit ’n rein hart, ’n skoon  gewete en ’n ongeveinsde geloof.” Daarom moet ons die Heilige Gees vra om vir ons ’n sensitiewe gees te gee, sodat ons deur die Heilige Gees ’n fyn besnaarde gewete sal ontwikkel, wat die verskil tussen reg en verkeerd sal ken.

Gewete is dus ’n geestelike kompas wat nie uitgewis kan word nie. Dit herinner ons aan Goddelike standaarde.

Hoe nader ek aan God en Sy wil beweeg, hoe duideliker en sterker sal my gewete ontwikkel. Ons noem dit heiligmaking. Ons moet deur die Gees ’n Minora-skerp gewete ontwikkel om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hoe nader twee mense aan ’n kers sit, hoe duideliker gaan hulle mekaar sien. Hoe verder hulle van die kers sit, hoe moeiliker gaan hulle mekaar sien. Hoe nader jy aan jou gewete leef, hoe meer sensitief gaan jy wees om ander mense raak te sien en aan hulle goed te doen. Jou gewete sal jou pla as jy nie aan hulle goed doen nie, want jou gewete laat jou ander mense síén.

Koning Dawid in Psalm 51 openbaar ’n baie sensitiewe gewete na sy owerspel met Batseba en sy moord op haar man Uriah. Hy het letterlik sy klere geskeur, as op sy kop gegooi en die pragtige Psalm 51 gedig van sy intieme berou oor wat hy aangevang het. Hy vra die Here om ook weer vir hom sy reinheid en opregtheid terug te gee. Hy verlang meer daarna as na goud en die koningskap. Hierdie opregte en vlymskerp gewete asook berou, het hom die man gemaak naby aan die hart van God.

Die gewete kan die pad na die Here open. ’n Slegte gewete kan jou laat roep na die Verlosser, onse Here Jesus Christus. ’n Kollektiewe gewete wat onrein is, is soos ’n rivier wat ’n dorp besoedel – want die bron is besoedel.  Almal word daardeur  besmet. “Ons gewete moet gesuiwer word” , dan sal dit ’n bron van  suiwer water wees … en ons sal lewe en vrugte dra en ons sal kollektief as samelewing ook rein voor die Here leef.

Sonder ‘n goeie gewete lei ’n mens se geloof skade. Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 1: 19: “met geloof en ’n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het.”

Om in die geloof te groei, moet jou gewete ontwikkel word. ’n Vlymskerp geloof dien tot voordeel van jou geloofslewe en Christelike lewe voor God. Jou gewete hou jou op die regte pad en navigeer jou terug na waar jy die pad verlaat het. Moenie alles aanvaar wat jou kultuur of omgewing vir jou leer nie. Wees krities teenoor die aanvaarbare gedrag van jou omgewing. Wees indiwidualisties, en onderskei met die Gees van God self wat reg en verkeerd is.

Maar jy hoef nie met die pyn van jou gewete saam te leef nie. Gee dit vir Christus! Hy was jou silwerskoon. Jy kan jou gewete tot rus bring in Christus Jesus se verlossingswerk. Laat jou deur die Gees en die gewete lei. Dan gaan u en ek op ’n ongelooflike geestelike reis van verwondering oor die grootheid en genade van God vir skuldbesmette sondaars. ’n Skep gewete laat ons God duideliker sien.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die vishoek van die duiwel en die vishoek van Jesus

SKRIFLESING: Mat 4: 1 – 11

Ons lewe in ’n harde wêreld waar mense daagliks vishoeke uitgooi om hulle medemens te vang.

In die korporatiewe wêreld wil mense die leer van sukses klim. Om bo uit te kom, stel hulle dikwels vishoeke met aas om hulle mededingers te uitoorlê en in ’n slegte lig te stel. In die politieke arena, gooi politici hulle aas met vishoeke uit om hulle opponent in die slegste moontlike lig te stel. In die ekonomiese wêreld skep handelaars dikwels vishoeke met aas om kliënte aan te moedig om dinge te koop wat hulle eintlik nie kan bekostig nie. Mense skinder om mense uit hulle goeie naam te “trek” en hulle in ’n swak lig te stel. Mense gooi vishoeke uit en stel slagysters om ander in ’n slegte lig te plaas. In die Bybel lees ons dikwels van Fariseërs wat vishoek-vrae vir die Here gevra het om hom uit te lok om verkeerde antwoorde te gee, sodat hulle rede het om hom te vervolg. Hulle vrae was daarop gemik om hom uit te vang. Dikwels kan mense met die mooiste aanbiedinge en beloftes kom, net om van jou ’n slagoffer te maak.

Natuurlik is die duiwel die bobaas-visvanger. Hy het ’n vishoek en verskillende soorte aas waarmee hy elke soort mens sal uitvang. Vir elke mens het die duiwel sy eie aas. Dit kan aas wees van skinder, kwaadpraat, seksuele sondes, gierigheid, trots, hoogmoed, onvergewensgesindheid of enigiets anders. Hy wil ons uittrek om buite “God se wil vir ons lewe” te leef. Tereg word gepraat van die bose drie-eenheid, naamlik die duiwel, die sondige wêreld en ekself. In hierdie viswater is daar baie vishoeke wat ons elke dag verlei om die aas van versoeking te vat.

Daar is die bekende satiriese teologiese roman van C.S. Lewis, met die titel  The Screwtape Letters. Die verhaal gaan oor die senior duiwel Screwtape, wat raad gee aan sy neef Wormwood, wat ’n jong, junior en onervare duiwel is, oor hoe om die menslike siel te verlei. Dit kom daarop neer dat Screwtape leer dat die mens nie verlei kan word deur erge groot sondes nie, maar eerder deur klein sondetjies, wat die mens sag maak om later groter sondes te doen.  

Jesus word onder die Gees die woestyn ingelei, die plek waar die geeste is om in stryd met die bose geeste te gaan. Woestyne is gesien as gevaarlike plekke waar die geeste bly. Gewoonlik het die mense blou klere en geklee met amulette en simbole die woestyn ingegaan om hulleself te beskerm. Waarskynlik het Jesus daarsonder die woestyn ingegaan, want ons teks meld niks daarvan nie. Die getal 40 speel ’n belangrike rol in die Bybel. Direk na die deurtog van die Rooi See is die volk 40 jaar versoek in die woestyn. Moses het 40 dae gevas op Sinai-berg voor hy die wet teruggebring het. Elia het 40 dae gevas op Berg Horeb.

Daar is ’n verskil tussen beproewings en versoekings. Beproewings word deur  die Here gebruik om die beste in jou na vore te bring. Versoeking word deur die duiwel gebruik om die slegste in jou na vore te bring. Die duiwel wil Jesus laat misluk. God is in Jesus, Jesus is in die kerk en die kerk is in die wêreld. Die duiwel wil soos ’n skerpskutter vir Jesus uithaal uit die heilsplan van God met die wêreld.

In die tropiese woude vind ’n mens die bekende Venus Fly Trap. Dit is ‘n soort plant wat ’n karnivoor is. Natuurlik kry ’n mens baie ander soorte karnivoriese plante. Dit is plante wat op vleis lewe.

Die Venus Fly Trap lok insekte deur middel van kleur en reuk nader. Die insekte sit dan vas in die klewerige slymlaag van die plant en word ingesuig en die plant se kake gaan toe om sy slagoffer. Die plant stel ’n strik vir insekte. So het die duiwel ook vir Jesus in die woestyn drie verskillende slagysters gestel. Elkeen van die drie versoekings was op verskillende vlakke. Ons kan dus as’t ware sê dat Jesus aan ’n totale aanslag van versoekings blootgestel was.

Woestyne is eensame plekke. Daar is min versterkinge. Woestyne is plekke waar die geeste praat, en hét die bose geeste nie probeer om van Jesus besit te neem nie! Die duiwel gebruik die oomblik van Jesus se broosheid. As iemand lê, trap op hom. Wanneer Jesus op Sy kwesbaarste is, kom die duiwel met ’n totale aanslag.

Ten diepste is ’n versoeking dit wat die duiwel doen om jou te laat probeer “iets” wees. Eva wou soos God wees, daarom het sy van die verbode vrug geëet. Feitlik elke sonde en versoeking kan teruggelei word na die mens wat iets anders wil wees as waartoe God hom of haar geskep het. Wat wil die duiwel hê moet jy wees? Ryk, vooraanstaande, gewild, populêr, almal moet van my hou, suksesvol en so kan die lysie aanhou.

Jesus word versoek om “iemand” anders te wees as dit waarvoor die Vader hom gestuur het. Die duiwel wil van Jesus (a) ’n Brood-Messias, (b) ’n Sensasie-Messias en (c) ’n politieke Messias maak. (Andrie du Toit se onderskeiding.) Interessant dat die versoekings opwaarts loop van die vlaktes waar die klippe lê, na die tempel se hoogste punt en uiteindelik by die hoogste punt van die berg.

Die heel eerste versoeking gaan daaroor dat die duiwel vir Jesus versoek om in sy hongerte van klippe brode te maak. Hy wil as’t ware van Jesus ’n Brood-Messias maak wat net gekom het vir die liggaamlike nood van mense. Mense kan dikwels net ingestel wees op hulle liggaamlike behoeftes, sodat hulle slegs vleeslike mense is, sonder om hulle eie spiritualiteit te herken en te verstaan. Duidelik weerstaan die Here die duiwel met die volgende woorde in vers 4: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” In geen onduidelike taal nie onderstreep die Here dat die mens ten diepste ’n spirituele mens is.

Die tweede versoeking is daarop gemik om van Jesus ’n Sensasie-Messias te maak. Deur die eeue was die mensdom nog altyd ingestel op sensasie. Sensasie verkoop. Mense dagdroom oor sensasie. Die versoeking was dat Jesus van die heilige stad se tempel moes afspring en sy engele moes opdrag gee om hom te dra. Weereens weerlê Jesus die versoeking met die woorde in vers 7: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” Jesus weier om ’n Sensasie-Messias te wees. Hy sou eerder die lydende Messias word wat sy dissipels se voete sou was.

Die derde versoeking is daarop gemik om van Jesus ’n Politieke Messias te maak. Die versoeking gaan daaroor dat die duiwel die Here na ’n baie hoë berg geneem het en al die Koninkryke in al hul prag en praal vir Jesus gewys het en hom versoek het om neer te val en hom (die duiwel) te aanbid, dan sou die duiwel dit alles vir die Here gee. Weereens weerstaan Jesus die versoeking om ’n Politieke Messias te wees en die gewildheid van die massas na te jaag. In vers 10 staan daar geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” In sy drie jaar se openbare optrede was daar telkens die politieke versoeking om die Jode van die Romeinse juk te bevry. Dit het Jesus nie gedoen nie. Sy taak was nie politieke bevryding nie, maar geestelike bevryding.

Telkens kom die versoeking na ons om iemand anders te wees as dit wat God ons bedoel het om te wees. John Ortberg sê ons moet onderskei waarom ons ’n ANDER MENS wil word. Dikwels is dit juis die versoeking in ons lewe.

Hoewel Jesus na 40 dae fisies op sy swakste is, is Hy spiritueel op sy sterkste en kan hy die totale aanslag van die duiwel weerstaan. Daarom moet ons hieruit leer dat ’n mens spiritueel in jou binneste moet groei om die aanslae van buite te weerstaan. Kontemplatiewe spiritualiteit is ’n beweging na binne en nie na buite nie. Eers wanneer jy innerlike vrede en rus het, kan jy na buite sterk, dapper en onverskrokke optree. Hy weerstaan die duiwel, elke keer met die Woord van God, vanuit sy innerlike sterkte.

Die moderne mens is geneig om baie liggaamlik ingestel te wees op aardse behoeftes van liggaam, mag, aansien, rykdom en besittings. Die uiterlike liggaam en voorkoms is jou image, die persoonlike ikoon. Om versoekinge te weerstaan is om nie jou aptyt te bevredig met verskillende liggaamlike dinge nie. Dit is om spiritueel ingestel te wees op die influistering van die Gees. Ons enigste ware vryheid is om nie slawe van ons aptyt te wees nie. Om te kan NEE sê, maak ons ons vry van ons liggaamlike verslawings.

Die woestyn-ervarings was ’n voorbereiding vir Jesus wat nog vir Hom voorlê.

Wonde wat opgedoen word deur die stryd teen die Bose kan altyd geheel word – God het sy engele gestuur om Jesus te versorg. Wonde, egter, wat ek self opdoen deur aan versoekings te voldoen, loop dikwels lewenslank saam met my. (Uit die mond van ’n ou kerkvader)

Luther haal ook Taulerus aan : “In goeie tye gebruik seevaarders roeispane, maar in tye van versoeking soek hulle hul troos in die anker.”

 Ons enigste anker en troos is Jesus Christus.

Mat 4: 19 volg direk op die versoekings wat die duiwel in die woestyn probeer het om Jesus in sonde te laat val. Die Here het die vishoeke met die aas van die duiwel weerstaan. Hy sê egter vir sy dissipels: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” Die vishoeke van die duiwel word in vers 19 vervang met die vishoeke van die Here wat mense wil nader trek in Sy liefde en genade. Daarom moet die dissipels vissers van mense wees, wat met die kruishoek mense intrek in die Koninkryk van God.

Mag ons vishoeke vir die Here wees, waarmee ons vissers van mense kan wees. Mag die vrugte van die Gees in Gal 5: 22 – 23 die aas wees waarmee ons mense nadertrek na die ewige Lig. Die aas is: “liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing …”

Die duiwel se vishoeke is om ons te verlei in sonde. Die kruis van Jesus is die vishoek wat ons wil nadertrek in die liefde van die Here.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Meet jou jare in kwaliteit eerder as kwantiteit

SKRIFLESING: Hand 20: 35, Psalm 90: 12 en 1 Kor 13: 12

Die dood van ’n jongmens is altyd ’n groot skok vir ’n gemeenskap. Jongmense dink hulle is onsterflik en dat net ouer mense sterf. Daar is eenkeer aan die Bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag gevra hoekom hulle jongmanne tussen 18 en 25 in die 1970’s en 1980’s  opgeroep het vir Nasionale Diensplig om die land se grense te beskerm in die gevaarlike Caprivi-strook wat grens aan Angola. Die generaal se antwoord was dat jongmanne tussen 16 – 25 dink dat hulle nie kan sterf nie en daarom kan hulle baie dapperder in oorlogvoering wees en is daarom beter soldate. Ouer soldate is versigtig, omdat hulle hul eie sterflikheid besef.

Die dood van ’n pragtige jongman soos Ben (jr.) ruk ’n gemeenskap weer tot die realiteit dat ons eie sterflikheid ons soos ’n skaduwee volg. Kan ’n mens vir jou skaduwee weghardloop? Nee! Dit volg jou altyd en so volg ons sterflikheid  ons elkeen. Ons weet net nie wanneer ons gaan sterf nie.

Ons moet erken dat sommige vrae oor ’n jongmens se dood onbeantwoord sal bly. Maar dit is ook reg om vrae te hê. Wees net versigtig om nie goedkoop antwoorde te gee soos “Dit was sy tyd” of “Die Here pluk die mooiste blom” of “Die Here het hom nodig” nie.

So het Totius gewroeg met die dood van vier van sy kinders, waarvan twee veral ’n groot invloed op sy poësie gehad het. Sy seun Ben  is op 18-jarige ouderdom deur weerlig doodgeslaan terwyl hy onder ’n boom gesit het. Sy dogter Wilhelmine is tydens ’n operasie oorlede. Een van sy ander kinders is aan breinvliesontsteking dood.

Luister hoe skryf  ’n onbekende skrywer ’n inspirasie uit Totius se styl oor  pyn en verwerking:

Soos ’n Doringbos

(Inspirasie uit Totius se styl)

My gedagtes,
soos vat aan ’n doringbos
elkeen haak vas
aan iets seer,
iets onopgelos.

Ek wil vorentoe dink,
maar trek terug.
Ek wil vergeet,
maar bly vas
aan die takkies van “hoekom”
en “as net”.

Ek het nie gevra vir die doringbos nie,
maar hier staan ek,
vasgehaak in stilte.

En dan –
fluister U.
Nie uit die storm nie,
maar tussen die dorings
waar U hand
myne liggies vashou.

Ons rus eerder in God se misterie en genade. Ons rus in die wete dat ons nooit al die antwoorde sal kry nie. Maar ons kan net rus in God se goedheid.

Moenie vir Ben (sr.), Mari en Hanneke in hierdie tyd probeer antwoorde of raad gee nie. Elkeen hanteer ook die dood van ’n geliefde anders as ander. Daar is nie iets soos ’n regte antwoord wat vir almal werk nie. Geen mens ervaar die dood van ’n geliefde op dieselfde manier as ’n ander mens nie. Almal het ook hulle eie tyd om die dood van ’n geliefde te verwerk. In tye van donkerte gaan Ernest Hemingway se raad nie oor die vind van oplossings nie, maar oor die soeke na menslike verbintenis en teenwoordigheid. Hy stel voor dat wat mense die nodigste het in hul donkerste oomblikke, nie raad of pogings is om hulle beter te laat voel nie, maar eerder stilte en ’n sagte aanraking (soos ’n drukkie of fisiese aanraking) om hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie. Hierdie ondersteuning, selfs sonder woorde, kan die kragtigste geskenk wees en individue help om hul eie krag en waarde tydens moeilike tye te onthou.

Toe my pa in 2017 oorlede is, het wyle Stefan Erwee my net ’n lang ruk vasgedruk, sonder om een woord te sê. Dit het vir my meer beteken as ’n 1000 woorde.

Daarom leer liefdadigheidsorganisasies soos die ACVV, die Round Table, kerke en ander instansies vir mense om hulleself te gee vir ander mense en vir die gemeenskap.

Die “Round Table” is die metafoor van die legendariese tafel in die stories van Koning Arthur en sy ridders. Die tafel was rond sodat niemand aan die kop sit nie, wat gelykheid en kameraadskap simboliseer. Dit is ’n simbool van eer, lojaliteit, en samewerking.

Round Table International is ’n internasionale mansorganisasie vir jong leiers (gewoonlik tussen 18 en 40). Die fokus is op Leierskap, Vriendskap en Diens aan die gemeenskap.  In Suid-Afrika is Round Table SA ’n bekende tak, wat baie liefdadigheidsprojekte aanpak. Die leuse is Adopt, Adapt, Improve.

Ben was deel van die Round Table Adelaide. Na sy bitter ernstige siekte in 2022 en nadat hy ook vir maande in die Millpark Hospitaal in Johannesburg was, was hy gretig om sy dankbaarheid vir sy wonderbaarlike herstel in die Round Table van Adelaide uit te leef. Daar het hy ook wonderlike mense leer ken en nuwe vriende gemaak, wat vir hom baie beteken het.

Tydens sy baie lang siekte in 2022 het Ben (sr.), Mari en Hanneke ook deur ’n persoonlike hel gegaan, toe Ben (jr.) vir maande in die Millpark Hospitaal was. Maar God het vir hulle krag gegee. Toe hy terug was op Adelaide het sy ouers vir hom die pragtige skaaphond (Malcolm) gegee, wat ’n groot troos vir hom was. Vandag is Malcolm saam met ons hier in die kerk.

’n Ouer is nie gemaak om ’n kind te begrawe nie. Lollie du Randt het vir my gesê as iemand sy vrou of haar man verloor, praat ons van ’n wewenaar of ’n weduwee. Maar hy sê daar bestaan nie ’n woord vir ’n ouer wat sy kind verloor nie. Dit is omdat daar nie woorde is om die pyn en verlies te beskryf nie. Desnieteenstaande moet ons nie vir God kwalik neem nie. Ons moet geloof en dankbaarheid behou.

Ds. Hennie le Grange van die Hervormde Kerk het ’n baie raak opmerking gemaak in een van sy preke. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.”  Waarom is u almal vandag hier? Omdat Ben du Preez (jr.) se lewe êrens aan u geraak het. Met sy betekenisvolle lewe het hy baie mense aangeraak. Zelda van Smhart Sekuriteit het gesê dat die hele gemeenskap vir Ben lief was.

Dit is tog die sin van die lewe. Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het. Die sin van die lewe is nie om bymekaar te maak nie, maar eerder met betekenis jou lewe te gee in iets wat groter as jyself is. Dit is tog wat Jesus bedoel in Hand 20: 35. Dit roep ons op om ’n kwaliteitlewe te leef. Dit gaan nie om kwantiteit bymekaar te maak nie, maar ’n kwaliteitlewe te leef.

Hierdie is nie ’n troosdiens nie. Dit is onmoontlik om in ’n erediens van 60 minute vir Ben (Sr), Mari, Hanneke, sy vriende en gemeenskap te troos. Dit is eerder ’n gedenkdiens vir sy lewe, waar ons vir die Here dankie sê vir sy lewe van 23 jaar. Die Here sal op Sy tyd vir elkeen van ons vertroos soos Dawid in Ps 23: 1 – 3 skryf:  Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde  laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag … Troos kom met tyd. Dit is nie ’n skakelaar nie. Troos is ’n proses en elke mens treur anders, soos wat elke mens se lyding uniek is. Maar God belowe dat hy in die volmaakte tyd vir ons sal vertroos. 

Maar ons as Christene het ’n ewige hoop. Daarom staan daar in 1 Tessalonisense 4:13 – 14 die volgende: … sodat julle nie treur soos die res wat geen hoop het nie… Daarom het ons die ewige troos dat ons aan die Here behoort in lewe en in dood.

Ben (jr.) het miskien ’n kort lewe gehad, maar met kwaliteit het hy ’n blywende indruk op ons elkeen gemaak.

Ons dank die Here dat Ben (jr.) deel van ons lewe was. In ons herinneringe sal hy bly voortleef. Eendag sal ons hom weer in aangesig ewig ontmoet.

Dankie ons Here Jesus dat Ben du Preez (jr.) nou in sy ewige woning is en dat sy beker oorloop soos wat U vir ons in Ps 23: 5 – 6 belowe. Ben (jr.) kort nou niks meer nie. Hy is gesond in ’n nuwe geestelike liggaam. Dit is ons vaste sekerheid en troos.     Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie ander mense oordeel nie

SKRIFLESING: Matteus 13: 24 30 en Matteus 7:1 – 5 

Dieter is ’n middelklas besigheidsman wat gereeld per trein reis vir besigheid tussen Rotterdam en Amsterdam in Nederland. So was dit weer die Maandagoggend sy weeklikse treinrit. Dié week was dit egter anders. Op een van die stasies nog voor hulle uit Rotterdam weg is, klim ’n weird persoon op die trein en sit op die bank regoor Dieter.

Daar is nie ’n ander woord om die man te beskryf nie. Dit lyk en ruik of hy dae laas gebad, geskeer en skoon aangetrek het. Hy het ’n oorring aan, sowel as ’n ring deur sy neus en tong. Hy is vol tatoeëermerke. Verseker gebruik die man dwelms, dink Dieter. Dat hy nou oorkant een van die rotte van Rotterdam moes beland! Rotterdam is juis so vol  junkies. Hy soek ’n ander plek op die oorvol trein, want die trein het sekuriteitskameras en hy wil tog nie op ’n foto regoor die man afgeneem word nie. Maar daar is nie oop plekke op die trein nie. Hy bly maar sit, maar wroeg elke oomblik dat die man so voorbarig kon wees om naby hom te kom sit. Kon hy nie maar van ander vervoer gebruik gemaak het nie! Een vir een kom en gaan die stasies verby. Elke keer as die trein stop, wens Dieter die man wil liewer nou afklim, sodat hy salig verder kan ry. Maar nee, die man bly sit. “Ek hoop nie hy ry tot in Amsterdam saam met my nie,” dink hy. Later vra die eienaardige man vir Dieter wat die volgende stasie se naam is. Dieter antwoord hom nie eers terug nie. Hy wil nie met die vreemdeling ’n gesprek begin nie, want hulle is nie van dieselfde klas nie. Plaas hy het liewers besigheidsklas gereis, dan was hy nie nou in die nare posisie om regoor die man te sit nie. Dit sal hom leer om nie so suinig te wees nie.

Dan kom Amsterdam nader. Stadig beweeg die trein die besige Amsterdam-stasie binne. Die trein stop en die deure suis oop. Dieter gee die vreemde man eerste kans om te loop, want hy is te bang die man vat of skuur per ongeluk teen hom. Uiteindelik is die nare reis op ’n einde. Of so het hy gedink!

Toe gebeur ’n volgende nare ondervinding. Op die perron reg voor hom sak ’n meisie flou neer op die grond. Dadelik loop daar bloed by haar mondhoeke en neus uit. Dieter se gedagtes loop wye draaie. Het sy nie miskien “Kongo-koors” of een of ander tropiese siekte nie? Sê nou maar sy het Vigs. Onmiddellik loop hy ’n wye draai om haar en staan op ’n veilige afstand, nuuskierig, en kyk wat met haar gebeur.

Toe gebeur iets wat hy in sy wildste drome nie kon voorsien het nie. Die vreemdeling wat saam met hom gereis het, wat hy as ’n rot beskou het, snel sonder om te aarsel die meisie te hulp en vou haar met liefde in sy arms. Hy dink nie eers twee keer aan die bloedspatsels op sy klere en gesig nie. Hy praat rustig en vertroostend met haar en haal ’n half bottel warm Coke uit sy verslete sak en laat haar daarvan drink om haar bloedsuiker op te jaag. Hy kalmeer haar deur haar voorkop met liefde te streel. Toe sy klaar gedrink het, tel hy haar op en dra haar na die noodhulpkamer van die ondergrondse molstasie. So iets het Dieter nog nooit beleef nie. Die rot was beter as wat hy is. Die rot was eintlik ’n verskuilde engel. Hy kry skaam oor sy afkeurende houding teenoor die man. En dan was hy gister nog in die kerk! Toe skielik onthou hy gister se preek van die dominee. Daar is gepreek oor die onkruid en die koring. Hy wou nou die onkruid uittrek en het hom lelik misgis. Die rot was nie onkruid nie, maar lewende koring wat voluit soos Christus gegroei het.

In Mat 13: 24 – 30, 36 – 43 vind ons een van die agt Koninkryksgelykenisse van Mat 13. In die gelykenis van die onkruid en die koring word gepraat van “die koninkryk van die hemel”, in plaas van die Koninkryk van God. Mattheus het verkies om te praat van die “Koninkryk van die hemel”, om die onnodige gebruik van die woord “God” uit te skakel. Dit is gedoen uit die nodige respek vir die derde gebod en dit is so verstaan. As jy die totale gebruik van die naam van God kan beperk, is die kanse op misbruik baie minder.

Die gelykenis gaan oor ’n man wat koring gesaai het op die land en toe kom ’n vyand in die nag en saai onkruid (Grieks: zizania) tussen die koring. Dié tipe onkruid kom nie in Suid-Afrika voor nie, maar is algemeen bekend in die Midde-Ooste as “drabok” of die Engelse naam “darnell grass”. Die biologiese naam is Lolium temulentum.

In die vroeë stadium van ontwikkeling lyk drabok net soos koring. Drabok se saad is matig giftig. In die antieke tyd het dit dikwels gebeur dat vyande mekaar beveg het deur drabok in mekaar se koringlande te saai.  Daar was selfs ’n Romeinse wet wat die saai van onkruid in jou vyand se land as ’n misdaad geklassifiseer het en daarom ook strafbaar deur die Romeinse reg.

Die punt van die gelykenis is dat die Seun goeie saad saai, mense van die Koninkryk. Die Bose kom egter en saai onkruid, die aanhangers van die Bose. In die begin is dit baie verwarrend. Wie is goeie en wie is slegte mense? Wat is goed en wat is boos? Dikwels raak ons ongeduldig en wil sommer dadelik dat God die onkruid moet uitskoffel. Die slawe in die gelykenis wou ook sommer dadelik die skoffel inlê.

Waarom kan God nie sommer dadelik van al die slegte en bose mense en sommer van al die boosheid van die wêreld ontslae raak nie? Ons wens dikwels God wil die slegte mense uitroei. Waarom talm God so lank om te kom? Waarom is God so geduldig met die bose? Skoffel uit! Natuurlik is die ander altyd die “bose” en ek altyd die een wat veilig “bewaar en vergewe moet word”.

Daarom staan God se geduld hier regoor die mens se ongeduld.

Die Here kan die drabok nog verander in koring. Die Here is ’n genadige God wat genadetyd gee vir mense om tot bekering te kom van die bose. In 2 Petrus 3: 9 staan daar: “Die Here stel nie die vervulling van Sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.” Die Here wil die drabok verander in koring. Ons vergeet dikwels dat ons ook drabok was wat deur die Here in koring verander is.

Ons kan ons ook so maklik vergis met mense. Mense skinder van ander, sonder enige begrip en empatie. Volgens ons waardeoordeel en subjektiewe maatstawwe kan ons mense verkeerd opsom. Hoe dikwels maak ons nie foute met mense nie. Ons beoordeel mense op grond van die uiterlike en nie die innerlike nie. Somtyds verras mense ons deur hulle christelike optrede wat baie meer eg is as ons eie optredes. Dit is nie vir ons om die skoffel in te lê nie.

Ons ken nie ander mense se agtergrond, probleme en aanvegtinge nie. Ons het nie in hulle skoene geloop nie. Hoe kan ons hulle dan sonder meer oordeel?

Jesus het in Sy eie lewe baie geduld en empatie gehad met die drabokmense van Sy tyd. Hy het gemeng met sondaars, tollenaars, prostitute en randfigure. Eerder as om hulle uit te ruk het Hy hulle opgeroep om deel van Sy Koninkryk te word. Jesus het hoop gehad vir die mense vir wie ons geen hoop het nie.

Die fout wat ons ook dikwels maak, is dat ons vergeet dat die skeiding tussen koring en drabok dikwels deur ons eie hart loop. Die Russiese Nobelpryswenner Aleksander Solzhenitsyn skryf aangrypend hieroor. Hy skryf in sy boek The Gulag Archipelago die volgende woorde: “If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”

Die diepste moeilikheid is nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. En as ek dit gesnap het, kry ek meer begrip vir God se eindelose geduld met die drabok in hierdie wêreld.

Maar in die gelykenis is ook duidelik dat genadetyd nie vir altyd is nie. Daar kom ’n stadium in die groeiproses wanneer die drabok begin verskillend lyk van die koring. Jy sien dit veral in die saadontwikkeling. Die goeie en die bose dra immers nie dieselfde saad nie. Die werke van die goeie en die bose verskil hemelsbreed.

Dan sê Jesus sal die engele kom en kom oordeel tussen die goeie en die bose. Daarom eindig die gelykenis met die duidelike oproep: “Wie ore het, moet luister.” Daar kom wel ’n oordeel, en dit sal ons loon om nie God se goeie geduld, Sy duur genade en Sy vriendelike liefde te minag en onverstoord op ons onkruidpaaie aan te karring nie.

Juis daarom moet ons nie goedkoop omgaan met ons eie harte nie, maar dit gedurig ondersoek vir drabok. Ek moet meer begaan wees oor die drabok in my eie lewe as die drabokmense wat my grensloos frustreer en van wie ek ontslae wil raak.

In Matteus 7:1 – 2 staan: Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel, sal oor julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
Daar bestaan verskeie ander verwysings in die Bybel wat vir ons sê dat ons nie oor ander mag oordeel nie. So byvoorbeeld lees ons in Luk. 6:37: Moenie oordeel nie en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry en julle sal vrygespreek word.

Ook in Rom 2:1 sê Paulus: Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.

Daarom sê Mat 7: 1 – 5 die volgende: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.  “Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ maar wat van die balk in jou eie oog? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.

Ons is altyd besig om ander mense se stories, splinters, foute en sonde uit te wys. Ons moet eerder die drabok in ons eie lewe ondersoek en uittrek.

Wyse mense is mense wat ander aanvaar net soos hulle is, sonder enige veroordeling. Hulle aanvaar ander met LIEFDE. Die apostel Paulus sê mos ook dat liefde die grootste van alle geestelike gawes is.

Net dwase mense sonder empatie veroordeel ander mense. Hulle is soos mense sonder begrip. Wyse mense kyk met begrip en empatie na ander mense, sonder enige veroordeling. Hulle is nie mense wat skinder of ander mense in die openbaar verneder nie. Hulle lewe met deernis, empatie en liefde. Hulle lewe soos die Here Jesus gelewe het, toe Hy nog vleeslik by ons was.   

Die oordeel kom ons nie toe nie. Die Here sal eendag oordeel. Dit is nog genadetyd, daarom moet ons alle mense met liefde, respek en deernis behandel, sonder enige veroordeling. Mense wat voel hulle word nie veroordeel nie, ervaar iets van die genade en liefde van onse Here Jesus Christus.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Noag se Ark: Simbool van Geloof en Gesinsveiligheid

 SKRIFLESING:  Genesis 6 – 9

Noag het geleef in ’n wêreld waar boosheid die norm geword het, waar mense hul rug op God gedraai het, en waar geweld en selfsug alledaags geword het. In daardie afvallige tyd het God egter na een regverdige man gekyk – Noag – en gesê: “Met jou wil Ek ’n verbond sluit”.

Volgens Genesis 6 – 9 het God besluit om ’n vloed oor die aarde te bring omdat die mense se boosheid te groot geword het. God wou die boosheid uitwis. Maar Noag was ’n regverdige man wat met God gewandel het. Die Here het vir Noag opdrag gegee om ’n ark te bou om vir hom en sy vrou en drie seuns  Sem, Gam en Jafet en hulle vroue en ’n verskeidenheid diere, van die komende vloed te red.

Terwyl Noag oor baie jare hierdie ark gebou het, het die mense met Noag die spot gedryf, asof hy mal was. Daar was geen meer, rivier of see naby nie en dit het selde gereën. Noag was in hulle oë heeltemal kranksinnig en hulle het met hom die spot gedrywe. Vandag word daar ook met Christene, gelowiges en mense wat die regte dinge doen, die spot gedrywe, asof hulle outyds is. Morele waardes en ’n liefde vir die reguit pad van God bestaan nie meer nie. Veral ons kinders en jongmense kry vandag swaar om hulle Christelike beginsels op skool, Universiteit en in hulle werksplek uit te dra, waar daar openlik met die Here gespot word.   

Dit is interessant dat die Here vir Noag en sy hele gesin asook sy familie gered het. Die Here het nie net vir Noag gered nie, maar almal in sy familie. Noag se hele familie was vir God kosbaar. Die ark was as’t ware die skuilplek vir Noag se gesin en familie teen die vloed wat gaan kom. Hulle het saam die ark binnegegaan, nie net as individue nie, maar as ’n gesinseenheid, ’n familie-eenheid – ’n oorblyfsel van die mensdom wat deur gehoorsaamheid en vertroue bewaar is.

Vandag leef ons ook in ’n wêreld van boosheid. Korrupsie, moord, geweld, onsedelikheid, drankmisbruik en dwelms is aan die orde van die dag. Die wêreld is besig om verlore te gaan in sonde. Vandag staan ons ook voor ’n wêreld vol storms – nie van water nie, maar van ’n erge verwydering tussen God en mens en tussen mense onder mekaar. Mense het geen liefde en respek meer vir God en vir mekaar nie. God se Woord en gebooie het oudmodies geword. Mense reageer deesdae spottend teenoor die Here, morele waardes en ander mense. Van liefde is daar geen sprake nie.

 En tog roep God ons steeds om ’n ark van gehoorsaamheid en geloof te bou. Nie van hout nie, maar van vertroue. Nie net vir onsself nie, maar vir ons gesinne, ons gemeenskappe, ons wêreld. Noag het nie net homself nie, maar ook sy gesin gered. Ons word geroep om ’n veilige plek te wees – ’n ark – vir diegene vir wie ons lief is.

Daarom is die eenheid van die huwelik, die gesin en die familie so uiters belangrik en ononderhandelbaar. Daarom moet ons geloof ons kinders, huwelike en families beïnvloed. Die ark is ’n simbool van geloof. Hierdie ark van geloof het Noag en sy hele familie gered.  Daarom moet daar altyd geloofsoordrag plaasvind in ’n verbondsgesin. Die voorbeeld van pa en ma en die grootouers moet ’n vormende invloed op ons kinders se lewens hê.

Daarom het die Here die verbondsdoop ingestel, omdat God nie net in die individu se redding belangstel nie, maar in die hele gesin van die verbondsouers. Deur die Woord, die Gees en die verbondsouer bewerk die Here die redding ook vir kinders van gelowige ouers. My ma het elke aand vir my uit die Kinderbybel gelees. Geleidelik het die geloof in my ontvlam.   Toe ek in Sub B was, het ek alreeds die roeping ontvang om ’n predikant te word. Verbondsouers speel ’n geweldige rol in die geestelike en morele groei van ’n kind.

 Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding, liefde en strengheid moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree.

Die ark kon nie lekker geruik het nie. Daar moes beslis ook baie lawaai gewees het. Dit het ook heen en weer geskommel op die water. So is die gesinslewe as ’n ark nie altyd ideaal nie. Maar ons hou uit met mekaar, want die gesin is die enigste tuiste waarin ons werklik veilig is. Dit is die veilige tuiste wat God vir ons gegee het. Dit is nie gebou op ons gevoelens nie, maar op besluite om bymekaar te staan deur dik en dun.

’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is dit baie belangrik om jou kind te tug, volgens die Bybel, veral in die Spreukeboek. Die gesin en familie is die plek waar kinders gevorm word. Dit is die heerlike voorreg van die ouers om hulle kinders (hulle kwekelinge) te kweek om egte kinders van die Here te wees. Ja, om hulle kinders ook goeie morele waardes te help aanleer.

Wat opvallend is, is hoe gesinseenheid beklemtoon word te midde van die wêreld wat al meer van God wegbeweeg. Dit is ’n herinnering dat selfs wanneer dit voel of die wêreld en moraliteit uitmekaar val, die bande van familie – en geloof – ons daardeur kan dra.

Toe Noag en sy familie in die ark was met die sondvloed, het Noag ook ’n duif uitgestuur. Die duif het laatmiddag teruggekom. Met die geklap van vlerke het die duif ’n olyfblaar in sy bek gehad, wat die teken was van redding en ’n nuwe begin. So is die geklap van ’n duif se vlerke telkens in die Bybel ’n teken van redding en God se teenwoordigheid.

Met die doop van die Here Jesus het die Heilige Gees in die gedaante van ’n duif op hom neergedaal. So het die Here Jesus se bediening begin. Dit het begin met die geklap van ’n duif se vlerke. Christus het ’n nuwe begin aangekondig. Die Gees was op Hom om Sy werk op aarde te doen.

God wil altyd nuut maak. Hy het die hemel en aarde geskep uit die oerchaos. Hy het in Noag en sy familie ’n nuwe begin gemaak.   Hy het Sy volk Israel verlos uit Egipte, uit die huis van slawerny. Hy het Sy volk tekens uit ballingskap gered. Die Here doen altyd nuwe dinge.

So het die Noagitiese verbond tot stand gekom. Die verbond vind jy in Genesis 9: 8 – 17, waar God aan Noag en sy nageslag belowe: Hy sal nooit weer die aarde met ’n vloed vernietig nie. Die reënboog sal die teken van hierdie verbond wees – ’n simbool van vrede tussen God en die aarde. Dit wys op God se trou, selfs wanneer mense faal.

Maar God kan ook afstand doen van Sy toorn. God kan Sy toorn verruil vir vrede. So het God ook na die sondvloed vrede verklaar. Daar staan in Gen 9: 13 “My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.” Wanneer God dus as’t ware die reënboog neersit op die aarde, sit Hy Sy oorlogsboog neer om vrede te maak met die mense en ’n vredesverdrag of -verbond met die mens te sluit. Daarom is die reënboog God se vredesteken en vredesverbond dat Hy nie weer die wêreld sal uitwis deur ’n sondvloed nie. Die Here het sy boog (reënboog) neergesit tussen die wolke as teken dat Hy sy wapen neergesit het en met die mense ’n vredesverbond gesluit het. So word die teken van die reënboog wat neergesit is, teken van God se trou. Die reënboog word gesien as ’n boog van vrede, nie meer ’n oorlogsinstrument nie.

Daar is iets soos post-traumatiese stres. Noag en sy nageslag kon maklik elke keer as die wolke saampak, die trauma herbeleef dat daar weer ’n sondvloed op pad is.

Daarom is die reënboog wat neergesit is, ’n teken dat God nie meer met hulle in ’n oorlog is nie. Dat God nie weer die aarde sal uitdelg met ’n sondvloed nie. Dit sou vir hulle berusting gee. Dit is nogal wonderlik om te weet dat die reënboog wat neergesit is, slegs sigbaar is wanneer daar ’n storm op hande is. God se trou is die duidelikste in die storms van die lewe.

Die reënboog wat neergesit is, is ’n eensydige verbond waar die inisiatief en verantwoordelikheid net van God kom, om die aarde nie weer uit te delg met ’n sondvloed nie.

So is die kruis ook ’n teken dat God afstand gedoen het van Sy toorn en dat Sy kruis die weerligafleier was van die hemelse donderweer. Daarom is die kruis in die aarde geaard. Daarom hoef ons ook nie aan post-traumatiese stres te ly en God se straf in alles wat in my lewe gebeur, te soek nie. Ook in die storms van my lewe kan ek weet dat God se kruis die simbool van vrede en berusting is.

God het Sy wapen, die reënboog, neergesit tussen die wolke en storms van my lewe, as teken dat God van sy toorn afstand gedoen het. God het sy wapens neergelê om in genade in ’n vredesverbond  met ons en ons kinders te lewe. 

’n Reënboog kom ná ’n storm, dus simboliseer dit hoop ná lyding en swaarkry. Sy veelkleurigheid weerspieël die diversiteit van die skepping, en moontlik selfs die veelkantigheid van God se genade, amper soos die verskillende vlakke van ’n diamant. As ’n boog wat hemel en aarde verbind, kan dit beskou word as ’n brug van versoening.

Sommige teoloë, soos Dorothee Sölle, sien dit as ’n ommekeer in God se verhouding met die skepping, ’n uitnodiging aan die mens om mede-skeppers van vrede te wees. Daarom word ons en ons kinders agente van vrede in hierdie bose wêreld met sy storms.

Die Noagitiese verbond het oorgegaan in die Abrahamitiese verbond. Die besnydenis is deel van die Abrahamitiese verbond, dat God Homself aan ons en ons kinders verbind, as ’n God van ewige liefde.  Dit het die nuwe verbond van die doop geword, waar ons as kinders van Abraham die teken van doop (sonder bloed) ontvang, omdat Jesus se bloed klaar gevloei het. Daarom plaas hy ons kinders en kleinkinders in die hande van verbondsouers, sodat ons vir hulle ’n ark van bewaring kan wees. Nico en Estie, mag ook julle huis ’n ark wees vir julle gesin. ’n Ark van bewaring, veiligheid en verbondsopvoeding.  Dan sal julle kinders geseënd wees.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)