SKRIFLESING: Eseg 34: 11 – 16, 20 – 24
Die afgelope dekades het ons weer geleer wat weerloosheid beteken. Politieke onsekerheid, misdaad, plaasmoorde, die rommelstatus van die Rand, regstellende aksie, politieke staatskaping, werkloosheid ensovoorts het ons weer weerloos gemaak. In die sewentigs en die tagtigs het die Afrikaner op die kruin van selfverwesenliking en mag gery. Nou het alles verander; ons besef deesdae ons eie weerloosheid. Ons wat eers sterk was, het nou swak, regtig swak geword. Ons het weerloos geword.
Ons was nog nooit so naby aan die Derde Wêreldoorlog as nou nie, beweer politieke en militêre kenners. Die hele wêreld is vol oorloë en dit eskaleer net. Rusland is al meer as drie jaar met Ukraïne in ’n oorlog gewikkel. Daar is die Midde-Oosterse oorlog wat daagliks eskaleer. Hamas het op 7 Oktober 2023 een van die mees verwoestende terreuraanvalle teen Israel geloods. Hierdie dag word algemeen beskou as die begin van die grootskaalse konflik tussen Israel en Hamas in die Gaza-strook. Daarna het Israel vir Hamas vergeld vir terreurdade en in die proses het baie Palestyne wat onskuldig was ook gesterf in die vernietigende oorlog, waar alles nou in Gaza platgeskiet is. Nou het daar ook oorlog uitgebreek tussen Iran en Israel.

Op 14 Junie 2025 het Iran vir Tel Aviv in Israel aangeval met dodelike missiel-aanvalle. (Sien foto). Israel veg nou hewig terug teen Iran en dit word ’n volskaalse oorlog, waarin Amerika al sy eerste vliegdekskip nader gebring het aan die Midde-Ooste. Gister, 21 Junie 2025, tydens die voorbereiding van die preek het Amerika strategiese kernaanlegte in Iran vernietig met hewige lugaanvalle, wat al Iran se kernaanlegte vernietig het. Gaan Amerika nou toetree tot die oorlog in die Midde-Ooste? Gaan Iran wraak neem? Die Midde-Oosterse oorlog eskaleer op ’n daaglikse basis. Die wêreldstate wil nou met hulle “horings” teen mekaar baklei. En hierdie “horings” word al langer en die aggressie al meer. Dit is mense, politieke leiers en wêreldstate wat met hulle “horings” hulle politieke doelwitte wil bereik, maak nie saak hoeveel mense onskuldig sterf nie. Die wêreld en die wêreldmarkte leef in vrees vir die geklap van die “horings” van politici en ideologiese magte teen mekaar.
In Esegiël 34 lees ons ook van die volk Israel wat weerloos geword het, toe hulle verstrooid in ballingskap beland het. Al hulle ou sekerhede was weg. Hulle was uitgelewer aan die politieke leiers en korrupte godsdienstige leiers wat hulle uitgebuit het. Hulle vyand het dit ook vir hulle swaarder gemaak. Die ergste was egter dat hulle eie leiers en die invloedryke mense – hulle eie volksgenote – hulle uitgebuit het.

Weerloosheid laat mense verskillend optree. Sommiges kry horings. Hulle baklei vir hulself. Ander bly weerloos, sonder horings en word slagoffers van die mense met horings. Ons lees van die vet en sterk skape wat die maeres en die sieklikes verstoot om eerste by die gras en water uit te kom. Hulle trap as’t ware die gras plat en vertroebel die water.
Ja, in tye van weerloosheid gebeur dit so maklik dat elkeen net vir homself leef en die ander, die swakkes, met hulle lywe en skouers wegstoot.
Ekonomiese uitbuiting en ekonomiese globalisering laat die rykes nog ryker word en die armes nog armer. Die Arabiere kan maklik hulle olie terughou, sodat die olieprys per vat styg en ons ten duurste vir brandstof moet betaal; en dit vergroot net die armoede van die derde wêreld.

In tye van swaarte en skaarste kry mense horings en ons word aggressief met mekaar. Ons bestuur aggressief, ons rand mekaar verbaal aan, ons beskinder mekaar, ons word suinig, ons buit mekaar uit en so meer. Ons gun mekaar nie ’n plekkie in die son nie. Ons beveg mekaar.
Ons kry horings en die wet van die oerwoud geld: die sterkes sal wen. Ons werk nie meer koöperatief saam nie. Nee, elkeen doen sy eie ding. (In die outyd het mense saamgewerk en hulle goed met mekaar gedeel. Hulle was nie in kompetisie met mekaar nie.)

Vandag is almal met almal in kompetisie. Die sterkes, die mense met horings, seëvier oor die swakkes. Ons sê die swakkes het dit nie gemaak in die lewe nie. Wie sal tog vir die swakkes, die siekes en die moedverlorenes omgee? Wie sal tog die lammes en die kreupel skape optel? Wie sal na dié omsien wat geen horings het om hulleself mee te verdedig nie?
Somtyds verlang ons ook om horings te hê, om net ontslae te raak van hierdie gevoel van weerloosheid.
Maar dan lees ons in Esegiël 34 van ’n Herder wat juis gekom het vir die weerloses, die swakkes, die kreupeles, hulle wat geen horings het om hulle te verdedig nie.
Ons lees die volgende:
“Ek sal self my kleinvee soek …” (vers 11)
“ … so sal Ek omsien na my kleinvee …” (vers 12)
“ Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring … Ek sal hulle versorg op die berge …” (vers 13)
“ Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding …” (vers 14)
“Ek sal self my kleinvee se Herder wees …” (vers 15)
“Ek sal die soek wat weggeraak het …” (vers 16)

Dit klink so al na Psalm 23, na die goeie Herder wat vir Sy skape omgee.
Duidelik hoor ’n mens in Esegiël 34 van die toewyding waarmee die Herder na Sy skape omsien en hoe Hy self vir Sy kudde sorg. Hy red Sy kudde nie net van uitbuiting nie, maar ook van tuisteloosheid en ongeborgenheid.

Hy is die Herder wat saam met Sy skape loop in die nag en in die dag, in die koue en in die reën. Hy tel die swak en sieklike lammetjies op Sy skouers en dra hulle na veiligheid. In Sy hand het Hy ’n staf om die wilde diere weg te keer en die wat afgedwaal het terug te bring. In die nag slaap Hy voor die hek van die klipkraal om Sy skape op te pas. Die Here sê mos dat Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe is.

Wat so wonderlik is, is dat die Herder die skape soek en nie omgekeerd nie. Ons is te verdwaal om die Here te soek. Ons is te swak om agter die Here aan te loop. Nee, dit is die goeie Herder wat ons soek en wat agter ons aan loop.
Daarom het Hy met Advent agter ons aangeloop, afgekom na die aarde en onder ons kom woon. Hy het ons kom soek en agter ons aan geloop.

Toe hulle hom op die Heilige Donderdagaand gearresteer het, het Hy nie horings gekry nie. Hy het Petrus opdrag gegee om sy swaard in sy skede te bêre. Toe Hy weerloos voor Pilatus en Herodus gestaan het, het Hy nie horings gekry nie. Toe Hy weerloos aan die kruis gehang het, het Hy nie horings gekry nie. Nee, Hy het gesmeek: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hy was weerloos aan die kruis. Die Herder het soos een van Sy skape geword. Hy het die Lam van God geword wat die sonde van die wêreld weggeneem het. Sy kruis het die herderstaf geword waarmee Hy ons as Sy skape in genade nadergetrek het.

Die duiwel word in sketse voorgestel as die een met horings, want hy is die bakleier, die veglustige, wat vir homself baklei. Hy verlei ons om ook horings te kry, te baklei, aggressief te bestuur, op ander te trap, mekaar te beskinder en af te breek, sonder enige respek.

Ons tonge word die horings waarmee ons ander mense vertrap in die grond en ander mense se integriteit bevraagteken. Om jou tong te gebruik om ander mense in die openbaar of voor ander mense te verneder, vertel baie van hoe jou hart in die binnekant lyk. Om met jou tong openlik veglustig rassisties te wees, is soos ’n bul wat ander kulture wil vertrap. Spotprente of spotvideos van ander mense, soos onder andere van jou vyand of teenstaander, verwys neerhalend en minagtend na ander. Jou tong stig vuur en verdeeldheid. “Speel die bal, nie die man nie” moet jou motto in die lewe wees. Jakobus praat nie verniet van die tong nie wat die hele wêreld aan die brand kan steek. Mense wat met hulle tonge ander mense vertrap voor jou, sal jou ook vertrap voor mense. Om spottend met mense om te gaan, is om hulle te vertrap.
Maar kyk na die goeie Herder wat geword het soos ’n lam sonder horings. Hy het Sy liggaam gebreek en Sy bloed laat vloei, sodat ons kan leef.

Sonder horings en ’n swaard het Hy oorwin en ons na veiligheid gelei. Julle moet as gelowiges ook sonder horings onder mekaar lewe. Julle moet mekaar nie wegstoot met julle lywe of elkeen vir homself die beste gras afvreet en die water vertroebel nie. Nee, leef in vrede met mekaar saam en gee vir ander ook ruimte in jou lewe.
Ons het nie horings nodig nie. Nee, ons het ’n Herder wat vir ons sorg, bewaar en beskerm. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
