Die uitdaging van Laodisea: Herstel jou geestelike rykdom


SKRIFLESING: Openbaring 3: 14 – 22

Die brief aan Laodisea is die sewende en laaste brief aan die sewe gemeentes in Klein-Asië.

Die drie sustergemeentes in Frigië was Kolosse, Laodisea en Hiërapolis. Hulle is waarskynlik gestig deur Epafras. Laodisea was ’n bekende handelstad in die hoogbloei van die Romeinse Ryk. Laodisea het die banksentrum van Klein-Asië geword. Die Jode en Christene het voordeel getrek uit die voorspoed van die stad.

Die voorspoed het gelei tot ’n misplaaste selfvertroue en die stad het ’n meerderwaardigheidsgevoel gehad. Die inwoners het in materiële voorspoed, met uiterlike swier en in goeie fisiese gesondheid geleef.

Die stad Laodisea was skatryk. Na die geweldige aardbewing in 60 n.C. het Laodisea sonder die hulp van Rome self hulle stad heropgebou. Die stad was selfs mooier na die aardbewing. As handelstad en banksentrum het Laodisea gefloreer.

Laodisea het ook in swier geleef. Die stad was wêreldbekend vir die kosbare materiale en klere wat daar gemaak is. Veral die donkerkleurige wolprodukte wat daar vervaardig is, het van Laodisea  elke seisoen ’n modesentrum met die nuutste modes gemaak.

Behalwe vir Laodisea se tekstielbedryf en bankwese, was die stad ook bekend vir die mediese skool wat daar gevestig was. Dié skool het veral uitgeblink in oogsalf en oogpoeier.

Die brief begin deur te verklaar dat Christus die AMEN is en die geloofwaardige getuie, wat alles sien. Daarom gee die inleiding gesag aan die brief, deurdat die brief inderdaad van God en Christus kom.

Dan skryf Johannes dat die gemeente van Laodisea gedink het dat hulle ryk is en niks nodig het nie, maar hulle is eintlik arm, blind en kaal. Die ryk bankwese, oogsalf en die duur wolprodukte kon nie opmaak vir hulle geestelike armoede, blindheid en naaktheid nie.

Die gemeente van Laodisea het egter twee tekortkominge gehad, naamlik die aardbewings, asook die voortdurende tekort aan water. Laodisea het ’n erge watertekort gehad. Hiërapolis het vuurwarm water gehad, as gevolg van die warmwaterbronne wat daar was.

Kolosse, weer, het heerlike koel water gehad.

Om Laodisea se waterprobleme op te los, is pypleidings gelê van Hiërapolis na Laodisea. Die water het oor ’n kalkkrans gestort en die louwarmwater het in Laodisea aangekom. Dit was egter amper ondrinkbaar weens die louwarm temperatuur en die hoë kalkinhoud in die water. Dit was net goed gewees om uitgespoeg te word.

Daarom dreig Christus om Laodisea uit te spoeg, want hulle was louwarm in hulle geloof. Was hulle maar soos die warm water van Hiërapolis of die koel water van Kolosse, maar nou was hulle lou.

Hulle word as’t ware aangemoedig om weer te “kook” vir die Here en hulle louheid in hulle godsdiens te laat staan.

As jy die Here wil dien, moet jy dit voluit doen en nie halfpad nie. Daardie gemeente is geknou deur ’n self-tevrede en selfgenoegsame ingesteldheid.

Die gemeente was soos ’n groen boom met blare, maar het glad nie meer geestelike vrug gedra nie. Die ergste was dat hulle nie eens besef het hoe ellendig en beklaenswaardig hulle was nie. Hulle was geestelik heeltemal veragter.

Dan word Laodisea opgeroep om drie dinge te doen om hulle te verlos van hulle armoede, blindheid en naaktheid.

Eerstens, hulle moes goud koop wat deur vuur gelouter is. Nie materiële rykdom nie, maar geestelike rykdom moes bekom word, selfs al moes hulle gelouter word deur die vuur van martelaarskap.

Tweedens moes hulle wit klere koop om hulle naaktheid te bedek. Nie die swart wolklere van Laodisea of die purperrooi wolklere van Kolosse of die pragtige gekleurde wolmateriaal van Hiërapolis moes hulle kleding wees nie.

Nee, hulle moes die wit klere wat Christus voorsien, aantrek om hulle naaktheid te bedek. In die Joodse kultuur was om naak te wees ’n skande. Christus wou hulle egter weer met waardigheid klee.

Derdens is die blindes aangemoedig om oogsalf aan hulle oë te smeer om geestelik te kan sien wat regtig in die lewe belangrik is. Hulle moes nie staatmaak op die oogsalf wat van verpoeierde Frigiese sandsteen gemaak is nie. Dit het die gemeente van Laodisea “blind” gemaak van selfvoldaanheid, sodat hulle nie hulle geestelike agteruitgang gesien het nie. Die Christene moes weer geestelike “wysheid” by Christus gaan koop om weer te kon sien wat regtig in die lewe belangrik is.

In vers 19 word daar gesê Christus bestraf en tug elkeen wat Hy liefhet. Die Here het die gemeente in Laodisea nog liefgehad. Daarom keer Hy nie Sy rug op die gemeente nie. Nee, Hy roep hulle op om hulle te bekeer.

Christus is voorgestel as dié Een wat klop, en die gelowige en die gemeente moes oopmaak. Dit beteken dat Christus buite die gemeente staan en verlang het om in te kom.

So kan ’n gemeente baie agendas hê wat Christus eintlik uitsluit uit sy eie eiendom, naamlik die gemeente wat Hy tot Sy dood liefgehad het. Christus wil inkom en saam met Sy gemeente feesmaal hou. Om saam te eet, beteken innige verbondenheid met mekaar en met Christus. Wie oorwin, sal saam met Christus op die troon sit. Dit beteken hulle sal saam met Christus oorwin en regeer.

Weereens kom die refrein, dat ook Laodisea moet luister na wat die Gees sê. Die Gees kan die bekering in die gemeente bewerk.                             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar