SKRIFLESING: Openbaring: 3: 7 – 13
Die sesde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Filadelfia gerig.

Die argitekte van Klein-Asië het ’n moeilike taak gehad. Hulle moes in al hul berekeninge voorsiening maak vir die moontlikheid van aardbewings. Dit het algemeen in Klein-Asië voorgekom. In die jaar 17 n.C. is elf stede van Klein-Asië, ingeslote Filadelfia, deur ’n aardbewing vernietig. Filadelfia is deur Keiser Tiberius vir vyf jaar van enige belasting vrygestel. Daarom het die inwoners die naam Neocaesarea tydelik as naam vir Filadelfia gegee. Die naamsverandering van Philadelphia na Neocaesarea ná die aardbewing van 17 n.C. was ’n teken van dankbaarheid teenoor die keiser en die naam Neocaesarea beteken die “Nuwe stad van Caesar”. Hierdie verandering weerspieël die Romeinse invloed, maar ook ’n groter geestelike simboliek, omdat die gelowiges later in die ewige stad Jerusalem sal woon (vers 12).
In Openbaring 3:7 – 12 word Filadelfia geprys vir sy getrouheid ten spyte van uitdagings. Die tydelike hernoeming van die stad na Neocaesarea kan gesien word as ’n weerspieëling van aardse herstel, in teenstelling met die ewige stabiliteit wat aan gelowiges belowe is in Openbaring 3: 12. Daar word van die ewige Jerusalem gepraat wat nie vernietig kan word nie.

Daarom spreek vers 12 so bemoedigend: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly …”. Geen aardbewing kan die geestelike pilare in God se tempel beskadig nie.
God borg stabiliteit vir elkeen wat in Hom volhard. As jy ’n geestelike pilaar is in die tempel en teenwoordigheid van God, sal God se naam op jou geskryf staan. Dit verwys na die heidense gebruik waar uitsonderlike mense wat ’n groot bydrae gelewer het aan die Griekse samelewing se name gegraveer is op die pilare wat spesifiek vir hulle gebou is in die Griekse tempel. So sal elke Christen ’n ewige pilaar wees in die tempel van God. Daar sal met ander woorde ’n naamsverandering kom. Die naam van Christus sal nou op die gelowiges as pilare van God se tempel geskryf staan.
Die stad Filadelfia wat “liefde vir die broer” beteken, was op die hoofroete tussen Europa en die Ooste. Filadelfia het duisende besoekers gelok na sy warmwaterbronne en mediese klinieke omdat die stad op die rand van ’n vulkaniese formasie geleë was. Daar was altyd spanning in Filadelfia: Wanneer kom die volgende aardbewing?

Die Griekse wyngod Dionusios is dan ook in die stad vereer. In 92 n.C. onder bewind van keiser Domitianus is ’n wet uitgevaardig dat die wingerde van Filadelfia vervang moes word met graanlande om kos vir die weermag te voorsien. Dit was egter eerder om Italië se wynbedryf te bevorder, ten koste van Klein-Asië. Dit was ’n ernstige ekonomiese terugslag vir die brose Filadelfia.

Filadelfia se Christelike gemeente was klein, swak en het nie groot aansien geniet nie. Diep onder die besef van hulle kwesbaarheid, was hulle egter onberispelik in hulle Christelike lewenswandel. Saam met Smirna, was dit die enigste twee gemeentes wat nie gewaarsku of tereggewys is nie. Hoe sê Paulus?: “As jy swak is, is jy sterk.” Daarom het hierdie gemeente geestelik uitgeblink as ’n getroue gemeente wat volhard het in die Christelike geloof en hoop. Waarskynlik was die medewerkers van Paulus verantwoordelik vir die stigting van die gemeente. Hierdie gemeente het hulle nie van stryk laat bring deur die Jode, Romeine of oorheersende heidense kultuur nie. Heelwat later toe die Islam in Klein-Asië begin floreer, het hierdie gemeente nog kragtig voortbestaan.
Tog het hierdie gemeente dit nie maklik gehad nie. Probleme met die Jode was ’n daaglikse probleem. Veral die Joodse gemeenskap het die Christene uit die sinagoges verdryf en hulle as ketters gebrandmerk omdat hulle in Christus geglo het. Dit het daartoe gelei dat die Jode die Christene beskinder en beswadder het by die Romeinse owerhede, wat op hulle beurt weer saam met die Jode die Christene mateloos vervolg het.

Daarom het die apostel Johannes, onder leiding van die Gees, geskryf dat God vir die Christene ’n ewige deur na Sy Koninkryk oopsluit. God self het die sleutel en is daarom die Sleuteldraer.
Die deure wat deur die Jode toegesluit word, sal vervang word met ’n oop deur na Christus se Koninkryk. Christus, wat die Seun van Dawid is, sal self hierdie deur vir die Christene oopsluit en niemand sal dit kan toesluit nie.

Nog ’n belofte wat aan die gemeente gemaak is, is dat God aan hulle die oorwinnaarskroon sal gee as hulle aanhou om te volhard op die goeie pad wat hulle reeds is. Hierdie beeld kom uit die atletiekwêreld, waar die wenner ’n oorwinnaarskroon ontvang het.

In Openbaring 3: 8 staan: “Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou ’n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie”.
Hierdie brief aan die gemeente Filadelfia het vir elke gemeente wat nie groot of sterk is nie, die wonderlike vertroosting dat God nie oordeel op grond van die lidmaatgetalle of finansiële state nie.

God kyk na die geestelike rypheid en volharding van ’n gemeente. Daarom kan God ’n klein gemeente net so kragtig gebruik as wat Hy ’n makro-gemeente gebruik. Die gemeentes in die NG Kerk-familie hier in die Smaldeel is almal klein gemeentes. Daarom werk die Fort Beaufort- en Adelaide-gemeentes heerlik saam. In Bedford werk die NG Kerk Glen Lynden en die Presbiteriaanse kerk al 22 jaar saam. Al die VG Kerke in ons streek in Adelaide, Newtown (Fort Beaufort), Bedford en Hertzog het ook minder as 100 lidmate per gemeente. Somtyds voel ’n gemeente kragteloos, soos daar in Openbaring 3: 8 staan. Maar dan sê Johannes “Jy het vasgehou aan my Woord, en jy [het] my Naam nie verloën nie.”

Vir Johannes in Openbaring is dit nie belangrik hoe groot die gemeente se getalle is nie. Dit gaan nie oor die kwantiteit nie, maar oor die kwaliteit van ’n gemeente se geloofslewe. Die gemeente moet vashou aan die Woord en nie die Here se naam verloën nie. Om aan te sluit by die “Missio Dei”, as God se gestuurde gemeente na die wêreld, is belangriker as lidmaatgetalle en erediensbywoning. Die Kerk se missie is nie die eie gemeente nie, maar ’n gerigtheid op die wêreld.
Ons tel die mense wat die erediens bywoon, terwyl God kyk na die kwaliteit van die gelowiges wat die erediens bywoon. Ons moenie siele tel nie, maar ons moet getoets word aan ons gehoorsaamheid aan die Woord.

Daarom moet ons ons nie vergelyk met groot en sterker gemeentes nie. Dikwels voel klein gemeentes minderwaardig. Maar ook gebruik die Here elke klein gemeente op ’n unieke wyse om ’n verskil in die wêreld te maak. Sodra ons getalle en groot bankrekeninge nastreef, dan kry ons ’n wêreldse gees van hoogmoed en “big is better”. Ons moet juis nie soos die wêreld wees nie.
Dikwels vind ’n mens in ’n klein gemeente ’n groter betrokkenheid as in ’n groot gemeente. In ’n kleiner gemeente gee gelowiges meer vir mekaar om. ’n Gemeente of lidmaat wat swak voel, is eintlik sterk, as daar na die Gees geluister word.

Daarom vier ons vandag Pinkster Sondag. Ons moet aan die Gees gehoorsaam wees. Die Gees gebruik ook die klein gemeentes met min krag, om verkondigers van Sy wonderbare Woord te wees.
Hierdie brief sluit ook af met die woorde in vers 13: “Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.” Kom ons wees gehoorsaam aan die Pinkstergees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
