SKRIFLESING: Openbaring 3: 1 – 6
Die vyfde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Sardis in Klein-Asië, wat vandag as Turkye bekend staan. Die vernaamste handelsroetes het deur Sardis gegaan en daarom was dit ’n skatryk handelstad. Sardis het veral twee kenmerke gehad.

Eerstens was die stad baie ryk. Die legendariese Koning Kroesus, koning van Lidia (560 – 546 v.C.) was deel van Sardis se geskiedenis. Volgens ’n legende het alles waaraan hy geraak het in goud verander.
Die eerste muntstukke van Klein-Asië is ook in die tyd van Koning Kroesus gedruk. Sommige beskou Sardis as die oorsprong van die moderne geldstelsel van munte. Behalwe dat Sardis ’n vooruitstrewende landboustad was, het die stad ook ’n uitgebreide tekstielbedryf gehad. Wol is na Sardis gebring en verwerk in gesogte gekleurde wol. Dit was ’n kosmopolitiese bevolking met baie vreemde invloede.

Die tweede eienskap van Sardis was dat dit militêr strategies baie goed geleë was. Die Akropolis is gebou op ’n vertikale rotsgleuf, wat dit slegs van die suide toeganklik gemaak het vir die vyand. Later is die stad uitgebrei na die vrugbare vallei in die suide.

Desnieteenstaande die feitlik onmoontlikheid om die stad te verower, is dit twee keer in die geskiedenis verower, as gevolg van wagte wat geslaap het. Dit is in 546 v.C. deur die Perse en in 214 v.C. deur die Seleukiede Ryk verower.
Die Siriese koning het toe 2000 Joodse gesinne van Mesopotamië in Klein-Asië gevestig en daarom was daar ook heelwat skatryk Jode in Sardis. Volgens Josefus se geskrifte het die Joodse sinagoge jaarliks groot bedrae oorbetaal aan die tempel in Jerusalem.
Ook toe die stad in 17 n.C. deur ’n aardbewing vernietig is, is dit spoedig herstel, as gevolg van die rykdom van die stad.
Die feit dat Sardis baie ryk was en militêr feitlik onoorwinlik was, het dit die inwoners en ook die Christene van Sardis ’n valse gevoel van veiligheid gebied. Hulle het selfgenoegsaam en selfsugtig geword en het niemand nodig gehad nie.
Dit het veroorsaak dat die Christelike gemeente in Sardis skatryk was in materiële sin, maar geestelik dood was. Dit was en is ’n verskriklike ding om te sê ’n gemeente is dood. Maar Sardis was geestelik dood, morsdood.

Die beskermgodin van Sardis was Artemis. Sy was die Griekse godin van die maan, jag, wildernis, diere en kuisheid. Sy het beloof om altyd ’n maagd te bly. Sy was die tweelingsuster van Apollo, die songod en die dogter van Zeus en Leto. Artemis was bekend vir haar boog en pyle, en sy was jong meisies en ongetroude vroue se beskermer.
Artemis se meer herkenbare simbole is die pyl en boog, die sekelmaan en die hert. Sy was ’n uitstekende jagter en kon enige dier jag. Haar boog sou altyd die teiken tref.

Daar is begin bou aan die tempel vir Artemis, maar dit is nooit voltooi nie. Daar is wel vir haar ’n tempel gebou in Efese, waarvan die murasies nog staan.
Johannes begin met die brief deur in vers 1 te sê: “So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.”

Die sewe beteken die volheid van die Gees. Dit herinner ook aan Sagaria 4: 2 en 10 waar die kandelaar sewe tuite en sewe lamppitte het. Die 49 ligpunte (7 x7) is onuitblusbaar en gee ’n helder lig af, wat die teenwoordigheid van die Here simboliseer. Dit is in hierdie lig wat die Here vir Serubbabel gemotiveer het om die tempel te voltooi. Net so kan net die Heilige Gees in Sy volheid die sluimerende en dooie Sardis weer opwek. Christus en die Gees hou die sleutel vir die opwekking van Sardis.

In vers 2 spreek die Gees dan ook: “Word wakker …” Die gemeente van Sardis is soos die stad Sardis wat twee keer verower is deur die Perse en Seleukiede Ryk, toe die wagte geslaap het. Die stad moenie staatmaak op sy goeie strategiese ligging of sy rykdom nie. Sardis het sluimerend geestelik doodgegaan. Selfgenoegsaamheid maak dat jy nie meer waaksaam is nie.

Te veel voorspoed en rykdom kan jou stadig maar seker geestelik doodmaak. Dit is soos ’n padda wat in ’n kastrol koue water gegooi word en die water baie stadig verhit word. Die padda kom nie eers agter die water verhit nie. Lewend word hy dan stadig doodgebrand in die water wat verhit word. ’n Tydsgees kan jou ook stadig maar seker geestelik doodmaak. Juis daarom moet ons ekstra versigtig wees vir die tydsgees van die dag.
Die oplossing word in vyf bevelsinne uiteengesit:
- Word wakker. (Vers 3: 2a)
- Versterk wat nog by julle oorgebly het. (Vers 3: 2b)
- Onthou hoe julle die Evangelie ontvang en daarna geluister het. (Vers 3: 3)
- Hou daarmee vol. (Vers 3: 3b)
- Bekeer julle. (Vers 3: 3c)
Maar alles in Sardis is darem nie net sleg nie. Deur elke gemeente loop daar ’n breë én ’n smal pad.
Ook in Sardis was daar Christengelowiges wat nie afgodsvleis geëet het nie en nie onsedelikheid bedryf het nie; en nie gemeng het met die wat die leer van Isebel en die Nikolaïete aangehang het nie.

Hulle reinheid het hulle nog nie verloor nie. Hulle was soos die wit wol wat in Sardis aangekom het en nog nie verkleur is in gekleurde wol nie. Sardis het hulle nog nie besoedel en gekleur in die tydsgees van die dag nie. Hulle sou spierwit klere dra.

Die brief word afgesluit met die belofte dat hulle wat rein gebly het en nog geestelik lewe die wit kleed van oorwinning sal dra. Dit is die klere wat Christus deur Sy dood en opstanding verdien het. Hulle wat oorwin se name sal ook nie uit die boek van die lewe gehaal word nie. In die hellenistiese tydperk het elke stad ’n stads- of staatsregister gehad. Jou naam het dan in hierdie stadsregister verskyn as inwoner. As jou naam in die stadsregister was, het jy ook bepaalde burgerregte geniet. Mense wat gruwelike misdade begaan se name sou dan uit die stadsregister verwyder word.

Johannes gebruik die beeld om aan ons te toon dat elkeen wat die oorwinning behaal se naam in God se boek van die lewe opgeteken sal staan en sy of haar naam sal nooit uit God se naamsregister verwyder word nie. God sal self getuienis gee dat so ‘n gelowige aan Hom behoort.

Dan word die brief weer afgesluit met die bekende refrein, dat elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê. Alleen die Gees kan heelmaak en nuutmaak. Daarom moet ons na die Gees luister. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
