Jesus Christus Teenoor Apollo: Die Stryd in Tiatira


SKRIFLESING: Openbaring 2: 18 – 29

 Tiatira was veral bekend as ’n nywerheidstad, waarin vele ambagte bedryf is. Daar was tekstielwerkers, skoenmakers, werkers met gekleurde materiaal en bronssmede.

Die vakbonde was die spil van die sosiale, politieke en godsdienstige lewe van Tiatira. Die bekende Lidia, die purperverkoopster van Hand 16: 12 – 15, was van Tiatira afkomstig en het handel gedrywe in pers wolmateriaal.

Elke vakbond of gilde het ’n eie god of godin as beskermer gehad aan wie groot feeste gewy is. Wanneer Christene geweier het om aan die feeste deel te neem, is hulle toegang tot die gildes geweier. Hulle het dus twee keuses gehad. Of hulle het aan die gilde behoort en kompromieë met die heidense gode aangegaan of hulle het nie aan die gildes behoort nie, getrou gebly aan Christus, maar was arm en werkloos. Daarom was dit moeilik in ’n nywerheidstad soos Tiatira om ’n deurleefde Christen te wees.

Die songod Apollo, seun van Zeus (die hoofgod) is in Tiatira aanbid. Daar was egter nie ’n groot mate van keiserverering of aanbidding in Tiatira nie. Die grootste godsdienstige groep was die wat aanbidders van Apollo was.

Daar was ook ’n redelike sterk groep Jode in die stad.

In die inleiding van die brief staan Apollo as die seun van Zeus teenoor Jesus Christus as die Seun van God. Nie Apollo regeer nie, maar Jesus Christus. Die beskrywing van Jesus as Seun van God was ook gerig aan die Jode, wat nie Christus erken het as Seun van God nie. Die seun van God wie se oë vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is, herinner dat niks God se aandag ontsnap nie. Geelkopervoete simboliseer standvastigheid en duursaamheid. Veral die kopersmede van Tiatira sou die beeld duidelik verstaan het.

God se vlymskerp oë wat soos vuur vlam, het die gemeente van Tiatira se liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding raakgesien. Dit is ’n positiewe getuienis van die kwaliteit van hulle geloofslewe. Die gemeente van Tiatira het geweet van die liefde as vertikale verhouding met God, maar ook horisontaal met die medegelowige en die wêreld. Die grootste kompliment wat die gelowiges in Tiatira ontvang het, is dat hulle geestelike grafiek ’n opwaartse lyn gehad het. Dus het hulle ten spyte van ’n heidense omgewing geestelik gegroei en nie uitgesak nie. Teenoor Efese het Tiatira gevorder en gegroei; en nie uitgesak in die geloof nie. (vers 19b)

Maar Tiatira het ook ’n donker kant gehad. Daar was ’n geraamte in die kas van Tiatira. Daar was sommiges wat waarskynlik ’n vroulike leiersfiguur in die gemeente aangehang het en op ’n sinkretistiese manier die gemeente van Tiatira ondergrawe het.

Die vals leer en heidense dwaling word verbind aan die vrou Isebel, wat ons ook leer ken het uit die Ou Testamentiese boeke 1 en 2 Konings.

Sy was die Fenisiese vrou van koning Agab, wat die Noordryk tot afgodery en die Kanaänitiese god Baäl verlei het. Afgodery en onsedelikheid het hoogty gevier in dié heidense praktyk. Hierdie heidense praktyk het ook die gemeente van Tiatira en die sakelui van die gildes infiltreer. By die gildes se feeste is afgodsvleis geëet en onsedelikheid bedryf. Daar het Isebel met haar listigheid die sakelui verlei. Isebel het as’t ware ontug gepleeg teenoor God, deur God se kinders te verlei.

In vers 22 – 23 word geskryf dat aanhangers van die dwaling swaar gestraf sal word. Vir Isebel wag daar ’n fatale siekbed. Op die bed waarop sy haar onsedelikheid pleeg, sal sy ook sterf. Haar meelopers sal deur dodelike lyding en pessiektes getref word.

In vers 23 word die stelling gemaak dat God die gedagtes (letterlik die niere) en die begeertes (letterlik die hart) deurgrond. Die nier is die setel van emosie en gevoel; en die hart is die setel van die intellek en denke. So “oudit” Christus as’t ware die diepste wese van die mens.

Vir hulle wat in Tiatira hulself nie skuldig maak aan die dwaling van Isebel nie, word geskryf dat hulle met volharding moet vashou aan die goeie leer. Hulle wat die oorwinning behaal, sal saam met Christus regeer.

Hulle sal ’n ystersepter kry wat eerder ’n herderstaf was, wat met yster beslaan is en waarmee die herder die skape teen die wilde diere en bedreigings beskerm het. Saam met Christus sal hulle regeer en alle teenstand en weerstand sal soos kleipotte uitmekaar geslaan word. Die Christene sal saam met die oorwinnende Christus, alle vyande vermorsel.

In vers 28 word belowe dat elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester sal ontvang. Na die donker nag van vervolging en swaarkry, sal God se kinders saam met Christus deel aan die Môrester, die aankondiging van ’n nuwe dag en ’n nuwe era. Die môrester simboliseer oorwinning en gemeenskap met Christus, wat uiteindelik die ware lig en heerskappy bring.

Die brief word afgesluit met die bekende woorde wat in elke brief voorkom, naamlik dat die gemeente moet luister na die Gees. Die sewe gemeentes van klein Asië, maar daarmee saam alle kerke oor die wêreld, moet leef vanuit die kragveld van die Pinkster Gees. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar