Kerk en wêreld kan nie in dieselfde bed wees nie


SKRIFLESING: Openbaring 2: 12 – 17

Die derde brief wat Johannes van Patmos geskryf het aan die sewe gemeentes in Klein-Asië was dié aan Pergamum. Dit was ’n Romeinse hoofstad.

Die bekendste argitektuur in die stad was die Akropolis wat in die tweede eeu voor Christus gebou is saam met ’n tempel ter ere vir Atena, ’n reuse-altaar vir Zeus en ’n biblioteek van 200 000 boekrolle.

Dit was dan ook ’n sentrum van geleerdheid. Die stad Pergamum kry sy naam van die perkamentrolle wat in die stad vervaardig is en die destydse wêreld van skryfmateriaal voorsien het.

Sou ’n slang aan jou raak, was dit ’n teken dat Asklepius jou gaan gesond maak. Die volgende oggend het jy jou behandeling gekry en dan moes jy die deel van jou liggaam wat siek was, namaak met klei en die kleifiguur aan Asklepius offer.

Vandaar die slang wat vandag nog gebruik word op mediese embleme. Hipokrates, die vader van die moderne geneeskunde, het ook met sy opleiding begin by die geneeskundige sentrum van Asklepion in  Pergamum.

Teenoor die bygelowige genesende krag van Asklepius, staan Christus as die ware groot Geneesheer.

Op ’n hoë terras het die pragtige altaar van Zeus as baken van die stad gestaan. Daar is ook ’n tempel gebou ter ere van keiser Augustus en daarom was die stad ook die hoofsentrum van die keiserkultus. Christene is deur die Romeine “Christiani” genoem, wat ’n spotnaam was. Die Jode het weer van die Christene gepraat as “Nasareners”.

Die Christene is mateloos vervolg. Om te weier om aan die keiserkultus toe te gee, was ’n teken van burgerlike ongehoorsaamheid. In die brief word melding gemaak van Antipas wat die hoogste prys betaal het deur op die altaar van Zeus te sterf.

Daar word geglo dat Antipas, ’n Christelike biskop van Pergamum, aan die einde van die eerste eeu n.C. gemartel is. Dit was omtrent die tyd, so glo baie Bybelgeleerdes, dat die boek Openbaring geskryf is. As jy die “goddelikheid van die keiser” verwerp het, dan was dit gelykstaande aan die verwerping van die stad Rome, en gelowiges is hiervoor doodgemaak.

Antipas is ter dood veroordeel op die altaar van Zeus. Bo-op die altaar was ’n hol bronsbul, ontwerp vir menslike offerandes.

Dit was ’n reuse-bronshouer met ’n bulkop. Die persoon wat tereggestel word, is in die pot vasgemaak, met sy kop by die kop van die bul. ’n Groot vuur is onder die pot aan die brand gesteek. Wanneer die slagoffer dan van pyn skree, het daardie onderaardse geluide deur die pype van die pot gegalm.

Dit het kompleet geklink of die beeld lewendig geword het en self die onderaardse geluide maak. Die Griekse geskiedskrywer Eusebius noem ook onder andere die volgende bekende getuies wat op dié wyse doodgemaak is naamlik Karpus, Papulus en Agatonike.

Tereg skryf Johannes dat Christus met die tweesnydende swaard van sy mond hulle veroordeel. God se woord sny twee kante toe. Christus oordeel positief oor hulle wat ten spyte van vervolging getrou bly aan die Here, maar Hy spreek ook negatief teenoor hulle wat afvallig geword het en die leer van Bileam en die Nikolaïete aanhang.

Daarom word daar in vers 16 gesê dat die afvalliges hulle moet bekeer. Hulle moet luister na die Gees en weer terugkeer na die suiwere aanbidding van Jesus, sonder enige kompromieë. Kerk en wêreld kan nie dieselfde bed deel nie.

As beloning vir hulle wat volhard, word aan die oorwinnaars die volgende twee beloftes gemaak. Eerstens sal hulle van die verborge manna eet. Hulle sal met ander woorde deel hê aan die groot Messiaanse maaltyd wanneer Christus kom. Hierdie geestelike manna is weggesteek vir die ongelowige, maar vir die gelowige is dit die brood wat lewe gee. God sorg dus vir hulle wat nou swaarkry en ly vir die Evangelie.

Tweedens sal die volhardende gelowiges ’n wit steentjie ontvang, met ’n nuwe naam daarop gegraveer. Daar is verskeie interpretasies van hierdie wit steen:

Regterlike gebruik: In die Romeinse regstelsel is ’n wit steen soms gegee aan iemand wat onskuldig bevind is, terwyl ’n swart steen ontvang is as ’n teken van ’n persoon se skuld. Dit kan dus dui op die regverdiging van die gelowiges deur Christus. In Christus kry ons die vryspraak en ontvang ons die wit klippie as teken  dat ons vrygespreek is deur Christus.

Toegangsteken: In die antieke wêreld is wit klippe soms gebruik as toegangsbewyse tot feesmaaltye en spesiale geleenthede, asook toegang vir ’n vriend tot jou huis as jy nie tuis was nie. Jou vriend het vir jou ’n wit klippie gegee, met sy naam daarop. As jy by sy huis kom, het jy net vir die slawe die wit steentjie gewys en hulle het jou toegelaat om in jou vriend se huis te oornag en te eet, terwyl die eienaar van die huis nie tuis was nie.   Dit kan simboliseer dat die oorwinnaars toegang tot die hemelse feesmaal van Christus sal hê.

Persoonlike identiteit: Die nuwe naam op die steen dui op ’n unieke en persoonlike verhouding met Christus, wat ’n nuwe identiteit en bestemming vir die gelowige bevestig.

Daar was destyds ’n gewoonte om ’n hangertjie van klip, hout of ivoor om die nek te dra. Op so ’n hangertjie is dan ’n geheime naam (dikwels van ander gode) gegraveer wat die draer daarvan moes beskerm. Dié heidense gebruik is met nuwe betekenis gevul deurdat daar nou ’n nuwe naam (natuurlik dié van Christus) daarop gegraveer is. Christus word dus ons beskermer in ’n wêreld van vervolging en martelaarskap. Die wit steentjie verwys na Christus se vryspraak oor ons. In Openbaring 2:17 word die wit steentjie genoem as ’n simbool van oorwinning en ’n nuwe identiteit vir die gelowige.

Interessant is dat die tempel van Zeus in 1913 van Pergamum verskuif is en gerestoureer is in Berlyn se Pergamum-museum. Hitler was een van die eerste bewonderaars van die tempel van Zeus in Berlyn. Omdat hy baie belanggestel het in argitektuur was die tempel van Zeus waarskynlik die inspirasie vir sy eie verhoog wat hy gebruik het as Duitse Kanselier. Natuurlik weet ons dat Hitler een van die wreedste diktators was in die moderne geskiedenis. Is dit blote toeval? 

Daarom is die sentrale boodskap van die brief aan Pergamum dat die kerk nie mag toelaat dat die wêreldse gees die kerk moet invloei nie. Die wêreld moet nie in die kerk inspoel nie. Eerder moet die kerk die wêreld inspoel. Die kerk moet Geesvervuld lewe. Die begin van die dwaling is om klein jakkalsies in die kerk groot te maak. Later verslind dit die gelowiges en lei tot die verwatering van die Christelike geloof en getuienis.

Daarom moet ons die Here nie dien met ’n verdeelde hart nie. Een deel van ons hart behoort aan die Here en die ander deel aan die wêreld. Ons moet die Here liefhê met ons HELE HART, siel en verstand.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar