Die Veredeling van Geloof deur Lyding in Smirna


Die hawestad Smirna (die huidige Ismir) was 56 kilometer van Efese geleë. Die bynaam van die stad was “Die eerste in Asië” en het 100 000 inwoners gehad. Tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keiser Augustus, en die keiser Tiberias, en Zeus het die stad versier. Dit was die hoofsentrum van die keiserkultus, waar die keisers as gode verklaar en vereer is.

Tydens die Romeinse tydvak was Smirna ’n sentrum van goeie wyn, wetenskapsbeoefening en die mediese wetenskap.

Smirna het ’n groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie en het gereeld die Christene by die Romeinse owerheid verkla. Dit het daartoe gely dat die Christene gereeld vir hulle geloof vervolg is. Die Christene is ook deur die Jode as ketters gebrandmerk en uit die Sinagoges verban.

Die Christene van Smirna moes oorleef in tye van swaar vervolging. Die gemeente in Smirna is gestig deur Joodse pinkstergangers wat teruggekeer het van Jerusalem en was bekeerlinge tydens Paulus se derde sendingreis.

Die brief begin in vers 8 met Christus wat voorgestel word as die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Teenoor Smirna wat bekend was as “Die eerste in Asië”, word Christus bekend gestel as die EERSTE. Slegs Christus kan die Eerste wees.

Die Christene van Smirna het geweet wat dit beteken om te sterf en weer lewendig gemaak te word, want die stad is drie keer herbou, nadat dit elke keer totaal vernietig is. Net so het Christus letterlik gesterf en het Hy letterlik uit die dood opgestaan. Hy was die tempel wat in een dag afgebreek is en in drie dae weer opgebou is.

Die sogenaamde Romeinse vrede of “pax romana” het die inwoners van Smirna skatryk laat word. Die Jode het in hierdie weelde gedeel en het belangrike posisies in die samelewing beklee. In Smirna was daar vir die verskillende ambagte gildes. Jy moes tot die gilde behoort om jou ambag te kon bedryf. Daarteenoor het die Christene verarm, want hulle is nie toegelaat om deel van die gildes (vakbonde) te word nie. Die Christene was die randfigure van Smirna en het baie swaar gekry. Smirna se Christene was gekenmerk deur drie eienskappe, naamlik verdrukking, armoede en kwaadstokery.

Tog het die lyding van die Christene en hulle armoede veroorsaak dat hulle in solidariteit met Christus geleef het. Daarom staan daar dat hoewel die Christene ekonomies en fisies arm was, hulle tog geestelik ryk was. Dit staan teenoor die brief aan Laodisea, waar die Christene ekonomies ryk en geestelik arm was.

God was aan die kant van die vervolgde Christene en het die Joodse sinagoges ontbloot as die sinagoges van die Satan. Hulle is Satanskinders genoem omdat die Jode teenstaanders van Christus was. Eintlik was die Jode net so erg as die Romeine met hul keiserverering. Beide die Jode en die Romeine het die Christene van Smirna vervolg.

Die Christene van Smirna word daarop voorberei dat die vervolging nog erger sal raak en dat hulle in tronk gegooi sal word en vir tien dae baie sal ly. Die tien dae was ’n afgemete tyd, bedoelende die lyding sal ook verbygaan. Inderdaad het die lyding van Smirna se Christene toegeneem. Die bekendste verhaal was Polikarpus, wat as biskop van Smirna vir sy geloof vervolg is en in die tronk gegooi is. In 155 n.C. is hy doodgemaak deur hom lewend te verbrand op ’n brandstapel. Hy het geweier om vir Jesus te verloën. Die Jode het op die Sabbat gehelp om vuurmaakhout bymekaar te maak om die Romeinse owerheid te help om Polikarpus te verbrand.

Daarom roep die brief die Christene van Smirna op om getrou te bly tot die dood toe. As beloning sal die Christene nie die tweede dood sterf nie, maar vir altyd saam met Christus lewe.

Die naam van die stad Smirna is afgelei van die woord “mirre”, wat in Arabies “bitter” beteken.

Dit het ’n bitter smaak, en kom van die gomhars van die struik Commiphora myrrha. Dit was een van die drie geskenke wat die Jesus-kind sou kry. Dit proe bitter, maar as jy dit kneus of brand, gee dit ’n lieflike geur af. So sou Jesus ook die bittere pad van die kruis loop. Omdat Hy soos mirre aan die kruis gekneus is, het Hy ’n lieflike geur versprei vir die hele wêreld. Die Christene van die stad Smirna het ook hewige vervolging van die Jode en die Romeine ervaar. Hulle is met bitterheid vervolg. Hulle het dit bitter onder die Jode en Romeine gehad.  Hulle is as’t ware gekneus. Maar omdat hulle gekneus is, het hulle ’n lieflike geur in die gemeenskap versprei. Dit is ook die enigste van die sewe gemeentes wat nie negatiewe opmerkings van Johannes ontvang nie. Hulle lyding en gekneusdheid het hulle getuienis gesuiwer om ’n suiwer getuigskrif te lewer van Christelike toewyding wat soos ’n lieflike geur versprei het in Klein-Asië .      

Lyding kom nie uit die hand van God nie, maar God kan lyding gebruik tot ons voordeel. So het die lyding van Smirna die gelowiges se geloof veredel. Soos wat goud uit ystererts ontgin word deur dit aan buitengewone hoë temperature bloot te stel, so is die geloof van Smirna se gelowiges veredel. Hulle geloof was so suiwer, dat niks negatiefs gesê kan word van die gemeente in Smirna nie.

Daarom kan die skopus van die brief aan Smirna as volg saamgevat word: Veredelde geloof uit lyding.

Wanneer ’n vrugteboom of ’n wingerd aan stres blootgestel word deur dit byvoorbeeld te snoei, dra dit meer vrug. Daarom het Jesus ook die beeld van die wingerd wat gesnoei word gebruik, om aan ons te toon dat lyding en stres die beste in ons kan voortbring.

Christene wat lyding verduur se geloof word getoets. Soos Eugene Peterson dit stel, “to come at the end of your rope”, beteken dat niks anders oorbly as om in AFHANKLIKHEID van God te leef nie.

Die Christelike kerk het in die eerste eeue dramaties gegroei. Vervolging het die kerk net sterker gemaak. Daar word tereg verwys na die bloed van die martelare as die saad van die Evangelie. Toe Konstantyn die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, het die Christene se geloof begin verflou. ’n Wêreldse gees het begin insluip in die Christendom, wat baie meer skade aangerig het aan die kerk as toe die kerk in martelaarskap was.

Jesus Christus is ook verneder en verag toe Hy na hierdie wêreld gekom het. God het in Jesus Christus die wêreld liefgehad tot die uiterste aan die kruis, maar die mensdom het Hom verwerp. Tot vandag toe is daar nog baie mense wat spot met godsdiens en met die Here Jesus. Jesus se naam word ook elke dag as ’n skelwoord en vloekwoord gebruik. Tot vandag toe nog verag die meeste mense Jesus Christus en spot met Hom.

Omdat ons navolgers van Jesus Christus is, moet ons ook bereid wees om deel te hê aan Jesus se lyding. As Christene moet ons ook dikwels lyding verduur, omdat ons anders leef, praat en doen. Wie Christus leef en verkondig, sal deur baie mense verag en bespot word. Daarom moet ons bereid wees as Christene om baie dikwels uitgestoot te word, omdat ons Jesus Christus bely as Seun van God.

Daar word baie gesê oor die Christelike geloof wat uit skole gehaal word. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Die Christelike geloof het dit nie nodig om deur wetgewing beskerm te word nie. Die Christelike geloof word juis verdiep wanneer dit nie in watte toegedraai word nie. Voorspoed was nog nooit goed vir die kerk nie. Voorspoed bring verwatering van geloof mee. Voorspoed kweek naam-Christene en nie ware dissipels nie.

Veredeling deur lyding is ’n suiwerende proses, wat mense tot geestelike groei en dieper insig lei. Dit is ’n tema wat dikwels in die Bybel voorkom, waar beproewings en swaarkry as ’n manier gesien word om geloof te versterk en karakter te vorm.  Lees byvoorbeeld in Jak 1: 2 – 4: Beskou dit as ’n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.  Dink byvoorbeeld aan Moses, Josef, Job, Paulus en nog vele ander Bybelfigure, wat deur hulle lyding gevorm is om besondere volgelinge van die Here te wees.

Smirna was as gemeente vlekkeloos voor God. Hulle geloof was veredel deur hul lyding. Dit bring vir ons troos as ons ook soms moet ly vir Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar