Wittebroodsliefde wat afgekoel het


SKRIFLESING: Openbaring 2: 1 – 7

Die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië is ook vir ons ’n herinnering en ’n oproep om wakker te word en God met nuwe toewyding en oorgawe te dien.

Die eerste van die sewe briewe is geskryf aan die gemeente Efese. Dit was in die eerste eeu v.C. die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk en ook die tweede grootste stad in die wêreld met ’n getal van 250 000 inwoners.

Dit was ’n bekende hawestad in die westelike deel van Klein-Asië, waar die Kaisterrivier in die Egeïese See invloei. Daarom was die stad ook op drie belangrike handelsroetes van die antieke tyd.

Efese was bekend vir sy Tempel van Artemis, die Celsus-biblioteek en die amfiteater wat 44 000 mense kon huisves. Efese het nie net op ekonomiese en administratiewe gebied uitgeblink nie, maar het ook op godsdienstige gebied ’n leidende rol gespeel.

Die tempel vir die vrugbaarheidsgodin Artemis (die Romeinse Diana) het duisende priesters, priesteresse en prostitute gehuisves. Afgodery en sedeloosheid het hoogty gevier.

Ook die keiserkultus het gedurende die bewind van Domitianus gefloreer en daar is selfs ’n tempel vir Domitianus opgerig. Efese het ook ’n belangstelling in die toorkunste geopenbaar. Die Joodse bevolking was ook ’n belangrike faktor vir die Christene van Efese.

Die bekende Celsus-biblioteek het op ’n stadium 12 000 perkamentrolle gehad. Dit is in 125 n.C. gebou met leeskamers wat na die ooste kyk, sodat die kamers die beste oggendlig gekry het.

Efese was in die 50’s n.C. ’n belangrike sentrum vir die vroeë Christendom. Priscilla en Akwila het die gemeente gestig en Apollos het hulle gehelp. Vanaf 52 – 54 n.C. het Paulus in die stad gewoon en met die gemeente gewerk en sendingwerk gedoen. Aanvanklik het Paulus in die sinagoge gepreek, maar na drie maande het hy gefrustreerd geraak met die Joodse kunstenaars wat hul brood en botter verdien het deur beelde van Artemis te maak en dan in die godin se tempel verkoop het. Hy het toe na die saal van Tirannus verskuif. Tussen 53 en 57 n.C. het Paulus die brief 1 Korintiërs vanaf Efese geskryf. Dit was moontlik in die Paulus-toring, naby die hawe waar hy ’n kort rukkie gevange gehou is. Later, terwyl hy in Rome in die tronk was, het hy die brief aan die Efesiërs geskryf.

Die Evangelie van Johannes is moontlik omstreeks 90 – 100 n.C. in Efese deur Johannes geskryf. Efese was so prominent in Klein-Asië dat dit een van die stede was wat deur Johannes in Openbaring aangespreek word.

Daar word ook beweer dat Johannes in Efese begrawe is, vandaar die Johannes-basilika wat in die sesde eeu n.C. in Efese gebou is.

Met dit as agtergrond het Johannes sy eerste brief aan die gemeente in Efese geskryf. Hy begin sy brief met die volgende woorde: Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan. Die sewe sterre beteken die sewe leraars en die sewe goue lampe beteken die sewe gemeentes aan wie die briewe gerig is. Sewe is hier die volmaakte getal en beteken dat al die gemeentes en leraars in Klein Asië, in die beskermende hand van God self is. Christus self is in beheer van sy gemeentes en daarom praat ons van Christologie. Nie wette of tradisies mag die gemeentes bepaal of beheer nie, maar Christus self.

Dan verwys Johannes heel eerste na die positiewe in die gemeente van Efese. So is God altyd. Hy sien altyd heel eerste die goeie raak voor Hy die slegte raaksien. Die gemeente van Efese het hulle ingespan en volhardend die goeie gedoen en hulle nie laat mislei met die dwaalleringe wat in daardie tyd hoogty gevier het nie. Die slegte mense van wie Johannes hier praat, is die vals profete en die Nikolaïete. Hulle het die waarheid dat Jesus die Messias en Verlosser is, verdraai. Die Nikolaïete stam af van Nikolaus, een van die sewe diakens van Handelinge 6: 5. Nikolaus het gnosties geword, wat met ander woorde ontken het dat Jesus Christus mens geword het. Die Nikolaïete was soortgelyk aan die navolgers van Bileam en Isebel. Die wandade van Bileam en Isebel het gefokus op afgodery en onsedelikheid. So het hulle sinkristies aansluiting gevind by die heidense leefstyl en keiserkultus.

Ons moet ook so die dwaalleer van ons tyd beveg en volhard in die goeie leer. Vandag is daar ook mense wat die maagdelike geboorte of opstanding van Jesus bevraagteken. Ons moet dit uitwys as dwaling en daarop konsentreer om vas en volhardend die gesonde leer te bevestig met ons woorde en dade.

In vers 4 skryf Johannes dat die gemeente van Efese die Here nie meer lief gehad het soos in die begin nie. Hulle het waarskynlik hulle eerste wittebroodsliefde vir die Here verloor en hulle liefde vir hulle naaste het plek gemaak vir ’n gerigtheid na binne. Hulle was ywerig in die handhawing van die ware leer, maar die suiwer liefde vir God het ontbreek. Efese was missionaal strategies geleë op die belangrikste handelsroetes in Klein-Asië. Maar die wittebroodspassie en -liefde het ontbreek. Hulle het begin gewoond raak aan die Evangelie. Hulle het ywerig, maar passieloos, die Here aanbid.

Daarom word hulle opgeroep om hulle te bekeer en weer die dinge te doen wat hulle eerste gedoen het toe die gemeente pas gestig is. Hulle moes met oorgawe en passie vir God liefhê. Goeie gewoontes is goed, maar gewoontes kan die passie doodmaak.

Die gemeente van Efese het die Here net uit plig en goeie gewoonte gedien en nie meer met ’n vurige wittebroodsliefde nie. Wanneer ’n vrou haar man of ’n man sy vrou net uit plig ondersteun, maar daar is nie meer egte liefde nie, dan is die huwelik dood.

Die passie kan alleen terugkom as die Gees van God weer sy plek in die gemeente kry. Smeulende kole word vinnig opgevlam as die wind daaroor waai. Net so moet ons ook deur die wind van die Gees ontvlam word om weer knetterend vir die Here te brand. Dan sal ons die ander dooie kole ook kan laat brand. Dan word ons ‘n brandende gemeente vir die Here. Daarom moet ek bid dat die Here eers my hart aan die brand kan sit vir Jesus, dan sal die hitte wat ek uitstraal ook die ander kole (lidmate) brandend maak. Daarom sê vers 7 dat elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees sê. ’n Geesvervulde gemeente is ’n passievolle gemeente wat met passie die Evangelie missionaal uitdra na die wêreld.

Die gevolg van ’n passielose volg van Christus word so uitgespel: Die gemeente sal as lamp verskuif en weggevat word. Dié taal was bekend aan die inwoners van Efese, want hulle stad is drie keer verskuif, onder andere toe die hawe toegeslik en versand het.

Godsdiens uit gewoonte laat die passie verflou en laat jou godsdiens “versand”. As die passie eers verflou het, verloor ’n gemeente sy energie en kan die lamp weggevat word, sodat die gemeente nie meer die lig van God is nie. Volgens die geskrifte van die vroeë kerkvaders het die gemeente van Efese hulle egter reggeruk en weer ’n inspirerende gemeente in die vroeë kerk geword.

Dan word die brief afgesluit met die wonderlike versekering dat vir elkeen wat die oorwinning behaal, God te ete sal gee van die “boom van die lewe” in die middel van die tuin, wat in die paradys van God is. Dit verwys na die ewige en volmaakte saamwees met God. Die paradys is ’n Persiese woord wat “omheinde tuin” aandui en wat beteken om deel te wees van God se nuwe Jerusalem as die ewige bestemming.

Die sentrale boodskap van die brief aan Efese is dus dat ’n mens korrek en uit gewoonte en met leersuiwerheid die Christelike godsdiens kan lewe. Dit beteken egter nie dat ’n mens passievol is nie. Goeie gewoontes kan die passie doodmaak. Dan is godsdiens net kopkennis en nie hartservaring nie.

Alleen as ’n mens weer na die Gees van God luister, sal die passie en die hartservaring terugkeer, sodat God se gemeente oorwinnend kan lewe.  Mag dit ook waar wees van Adelaide en Fort Beaufort se gemeentes, dat ons die Here met passie en liefde sal dien, soos met wittebroodsliefde. Mag ons die Here met ’n ewige wittebroodsliefde dien.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar