SKRIFLESING: Johannes 3: 1 – 21
Geestelike lewe of spirituele lewe of geestelike ontwaking kom nie uit myself nie. Geestelike lewe is soos die geboorte van ’n baba. Die baba is passief en die moeder doen al die werk.

’n Geboorte is altyd ’n pynlike proses. Die moeder is aktief betrokke in die geboorteproses en die vroedvrou of dokter staan haar by.
Die baba self is heeltemal passief. Die geboorte is ook ’n vreugdevolle gebeurtenis.

Nuwe lewe word gebring. In ons gelese gedeelte vergelyk Jesus die wedergeboorte met ’n geboorte. Nie ’n geboorte van onder (jou eerste geboorte) nie, maar as ’n geboorte van bo (onder leiding van die Heilige Gees).
Ons is die nuwe geestelike baba en ons word uit God gebore, met die Heilige Gees as die vroedvrou wat die geboorte laat plaasvind. Sonder die wedergeboorte, die tweede geboorte of die een van bo, kan geen mens God sien nie.
Dit is wat Jesus probeer verduidelik aan Nikodemus in die nag toe hy na Jesus gesluip het, dat niemand moet weet van sy gesprek met Jesus nie.

Jesus verduidelik dat die nuwe geboorte deur die Gees as vroedvrou en met water (bedoelende die totale reinigingswerk van Jesus) moet plaasvind. Daarom is jou redding altyd buite jouself. Jy sal nooit redding vind binne jou eie storie nie. Jou storie moet altyd invloei in die storie van Jesus Christus se geboorte, kruisiging en opstanding. Die verlossing lê met ander woorde buite jouself (EXTRA NOS).
Deur die inspirasie van die Gees word nuwe geestelike lewe gebore. Die Gees is altyd aktief werksaam.
Soos die wind, kan jy die Gees nie met jou eie oë sien nie, maar jy kan sien wat die Gees doen. Die Gees bring verandering, genesing en heling. Die Gees bewerk die nuwe geestelike geboorte van die mens. Juis daarom moet ons altyd onder die leiding van die Gees lewe.
Die Gees laat jou kontemplatief leef. Ek het êrens die volgende werkende definisie van kontemplasie nagelees: “Kontemplasie begin daar waar ’n mens in intense liefde jou gedagtes op God rig. Die materiële, aardse dinge word onbelangrik. Jy leef daarby verby. ’n Mens besef ook jy kan nie meer op jou eie bestaan nie. Jy verlang na die goddelike, na dit wat groter as jyself is.”

Nikodemus se vraag kom uit sy eie verwardheid hoe ’n mens gered moet word. Nikodemus was ’n vooraanstaande Joodse Fariseër met ’n Griekse naam en daarom het hy ’n bepaalde status in die gemeenskap geniet. Tog was hy verward. Kom die verlossing vanuit jouself, jou goeie lewe en die onderhouding van die Torah? Wat moet ek doen om gered te word? Nikodemus het toe nog nie gesnap dat jou verlossing van buite jouself kom nie.

Jou verlossing kan jy net anker in Jesus Christus. Daarom sal ’n skeepskaptein altyd as ’n storm woed en daar onsekerheid is oor die veiligheid van die boot en bemanning, die anker uitgooi na buite, weg van die skip in die diep blou water.
So moet ons onsself ook veranker in Jesus Christus wat altyd dieselfde is en bly. Wie sy sekerheid soek in homself, sy bekering of sy geloof sal altyd soos Nikodemus onseker wees. Geloofsekerheid is om seker te wees van die “OBJEK” van jou geloof, naamlik Jesus Christus. Jou verlossing moet jy altyd vasmaak aan Iemand buite jouself – die Christus, ons Verlosser.

Johannes gebruik die voorbeeld van die koperslang op die paal in verse 14 – 15 as voorbeeld van hoe die verlossing werk. Die verhaal in die Ou Testament gaan so: Die volk Israel was in die woestyn soos gewoonlik weer ongehoorsaam aan God. Die Here stuur toe ’n plaag slange die laer in en oral word mense dood gepik. Orals krioel slange uit.
Die volksleiers gaan na Moses toe en vra hom om vir hulle in te tree by God. Moses praat met God en die Here gee opdrag dat ’n koperslang gemaak moes word en op ’n paal gesit moes word reg in die middel van die laer. Elkeen wat gepik word, moes dan net na die koperslang op die paal kyk en dan sou jy nie sterf nie. Sommige het die storie nie geglo nie en het gesterf. Ander het gedoen soos Moses beveel het en is genees van die slangbyt.

Die slang op die paal is ’n vooruitverwysing na Christus wat verheerlik sou word op ’n paal, ’n kruishout, sodat elkeen wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (vers 16). Met ander woorde, die verlossing kom nie van onder, van jou eie menslike werk nie, maar van bo, vanuit God geïnspireer

Martin Luther het ons opnuut met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, die kerk van alle tye, daaraan herinner dat verlossing buite jouself lê. Christus se geregtigheid het ons geregtigheid geword. Hy het dit daarteen gehad dat mense met die aflaatstelsel of goeie werke probeer opklim na God se guns toe. Nee, God het in Jesus Christus afgeklim na ons en ons enkel alleen uit GENADE gered, sonder enige bydrae van ons kant af.
So bewerk God deur sy Gees die wedergeboorte in die lewens van mense wat selfs dikwels nie eers daarvoor vra nie. God se Gees kan werk deur ’n ligte briesie, deur ’n ligte wind of sterk wind of selfs deur ’n orkaan of tornado. God werk met elke mens verskillend. Daarom moet ek elke dag die werking van die Gees soek in my lewe en dit plot en dan sal ek ervaar dat God werk in goeie en slegte tye. Hy laat alles tot my beswil meewerk.
Soos wat ’n mens ’n groot wêreldkaart of streekskaart ophang en met duimspykers aandui waar jy oral was, kan ’n mens God ook “merk” in elke detail van jou lewe. Oral langs my lewensweg het die Heilige Gees vir God teenwoordig kom maak in my lewe.

Soms kan ons egter aan geestelike atrofie lei. Atrofie kan byvoorbeeld voorkom wanneer jou arm lank in gips was en die dokter die gips afhaal, jou hand baie swak is, omdat die spiere nie oefeninge gekry het nie. Mense kan die werking van die Gees teenstaan en aan geestelike atrofie lei – hulle sien met ander woorde nie meer vir God in hulle lewe raak nie. Hulle ervaar nie meer die vars bries van die Heilige Gees nie. Daarom, soos wat koringare oorgee aan die beweging van die wind, moet ons onsself ook oorgee aan die beweging van die Gees. Ons moet as’t ware saam met die Gees (wind) dans.

Johan Cilliers verwys na die bekende skilder Matthias Grünewald se aangrypende skildery op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim van Johannes die Doper. Hande speel ’n belangrike rol in die skildery. Daar is die biddende hande van Maria Magdalena en Maria, asook die hande van Johannes die Evangelis wat Maria vashou; die groteske verwronge hande van die Gekruisigde Jesus en dan sentraal die prominente wysvinger van Johannes die Doper wat na Jesus wys as die Seun van God; en met sy ander hand hou hy ’n Bybelperkament vas. Johannes die Doper se hele wese sit in die wysvinger: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. So moet ons hele wese ook daarop gerig wees dat ons verlossing buite onsself is en daarom slegs in Christus Jesus gevind kan word.

In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en ’n grondvloer. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê, in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …” Toe ek omkyk, sien ek ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis.
Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself na dié Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
