Die Koninkryk van God gaan nie oor die “WOW” nie


SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33, 44 – 52

Ons leef in ’n “WOW”-samelewing. Alles moet groter, beter en meer aanskoulik wees, sodat mense die “WOW”-ervaring kan hê. Daarom is daar so baie kompetisie in die samelewing.

Die versoeking is groot om ook net die “WOW”-ervarings in godsdiens na te jaag. Groot indrukwekkende eredienste met charismatiese predikers in groot massa-byeenkomste word die norm van sukses.

Baie gelowiges val voor die versoeking dat God net teenwoordig is by die groot byeenkomste. Hulle sal honderde kilometers ry om dit by te woon, maar sal nie ’n paar kilometers ry na die plaaslike erediens nie. Net wat “groot” is, sal hulle najaag.

Dit bring ’n mens ook by die sogenaamde welvaartsteologie, waar mense aanbid om ryklik en groot deur God geseën te word. Hulle glo as jy sukkel in die lewe is dit omdat jou geloof nie groot genoeg is nie. As jy egter suksesvol is, is dit omdat jy reg glo. Al bogenoemde is so ver van die waarheid soos wat die Ooste van die Weste af is.

In Mat 13 kry ’n mens die sogenaamde Koninkryk gelykenisse, waar Jesus Christus deur gelykenisse verduidelik hoe Sy Koninkryk is. In ons gelese gelykenisse is daar drie pare gelykenisse wat as volg ingedeel is.

  1. Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.
  2. Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.
  3. Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Ons kom by die eerste paar gelykenisse:

1.) Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.

Soos die mosterdsaad ’n baie klein saadjie is en later ’n groot struik word, so begin God se Koninkryk nederig en beskeie. Jesus is in ’n krip gebore, het op ’n donkie gery en het soos ’n misdadiger aan ’n kruis gesterf. Daar was niks groots en opspraakwekkends in Sy lewe nie. Maar deur Sy nederige lewe en sterwe het Hy die hele wêreld gered en beïnvloed sodat Sy Koninkryk groot geword het en mense oraloor die wêreld Sy naam prys en eer. Die eens magtige Romeinse Ryk wat in Jesus se tyd bestaan het, word nog slegs beskrywe in die geskiedenis en kan net gesien word in die ruïnes. Daarteenoor is Jesus se Koninkryk dinamies groeiend. Die voëls van die hemel wat in die mosterdplant nes maak, is simbool van die nasies van die aarde wat hul rus en verlossing in Christus Jesus vind. ’n Nederige begin, maar ’n grootse groei.

Die gelykenis van die suurdeeg het dieselfde strekking. Gewoonlik is ’n stuk deeg van die vorige baksel gebruik om die nuwe baksel in te suur. Die suurdeeg werk onopsigtelik en laat die deeg rys om ’n brood te maak. Net so werk God deur Sy Gees onopsigtelik in die lewens van mense en verander hulle van binne-af. So moet die gelowiges deur hulle dade en lewe soos die werking van suurdeeg ander mense se lewens beïnvloed en verander. Suurdeeg werk net wanneer dit gemeng word met die deeg. Net so moet ons in die wêreld leef, sodat ons die wêreld kan deursuur met ons Christelike getuienis. Die mosterdsaadjie en die suurdeeg het ’n nederige begin, maar bring groot verandering. So werk God ook deur die klein en onbelangrike aktiwiteite om ander mense se lewens te verander. Wat kan minder aandag trek as ’n klein kerkie in ’n klein dorpie, of ’n tent met ’n grondvloer of ’n Sondagskoolklas, of iemand wat ’n ander mens nederig help in die geheim? God werk waar een mens met ’n ander vriendelik is of waar ’n persoon sy vyand vergewe of iemand ’n sieke se hand vashou of vir ’n sterwende ’n bietjie water aangee. God werk in die geborgenheid, waar iemand in die geheim getuig en goed doen aan ’n ander. Goed wat in die geheimenis gedoen word het dikwels meer trefkrag as ’n byeenkoms van duisende mense. God se Koninkryk kom dikwels sonder die geskal van trompette en massiewe byeenkomste. God se Koninkryk groei dikwels ónder die radar van mense.

Dan volg die tweede paar gelykenisse.

2.) Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.

Die Koninkryk van die hemel is ook soos ’n man wat ’n skat ontdek, dit toegooi en alles verkoop om daardie stuk grond te koop. Hy wil die skat nie verkoop nie, maar behou ter wille van die vreugde om dit te besit. In die antieke tyd is kosbaarhede dikwels begrawe, sodat dit nie gesteel kan word nie. So moet die Koninkryk van God ook vreugde bring, wat gebêre moet word in ons harte, sodat niemand dit kan steel nie.

Die daaropvolgende gelykenis vertel van ’n pêrel wat deur iemand gevind word. Die persoon verkoop alles om die pêrel te koop vir die vreugde om dit te besit. As jy die Koninkryk van God gesoek het of as jy dit toevallig ontdek het, is die waarde so groot dat dit vir jou vreugde bring wat jou hele lewe verander. Soos Paulus in Fil 3: 7 sê: “ … wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus”. Vreugde, en nie plig, moet ’n mens tot beweging bring in God se Koninkryk. Roep mense op tot lewensvreugde en mense sal reageer op die roepstem van die Koninkryk van God.

3.) Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Die volgende paar gelykenisse is oor ’n visnet en onkruid.

’n Visnet was ongeveer 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter breed. Die net se net-openinge was baie klein en het alle visse gevang. Daar was rein en onrein visse met elke vangslag wanneer die net ingetrek word.

Die vangs was groot, maar alles was nie eetbaar nie. Volgens Levitiese wetgewing in Lev. 11: 9 – 12 was sommige visse onrein, veral die wat geen skubbe en vinne gehad het nie. In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies wat as onrein beskou is. So sal God in Sy Koninkryk meng met slegte en goeie mense. Daarom het Jesus saam met die sondaars en tollenaars en slegte mense geëet en gekuier. Hy het sy net wyd ingegooi, sodat sondaars ook tot bekering kon kom. So het hy vir Saggéüs ook in Sy vangnet gehad en hom verander in ’n kind van God. God se Koninkryk is nou oop vir almal, maar eendag met die oordeelsdag sal die engele kom en die slegte en die goeie visse van mekaar skei. Nou is dit nog genadetyd, die net moet wyd gegooi word sodat die wêreld gered kan word. Maar met die oordeelsdag sal Christus ’n onderskeid maak tussen die ware en valse kerk. Die ware kerk het Christus as hul enigste skat, maar die valse kerk leef sonder Christus as enigste bate. Daarom het God se Koninkryk ook ’n sekere dringendheid, naamlik dat die net eendag ingetrek kan word. Net so is dit ook met die gelykenis van die onkruid. Die koring sal in God se skuur bymekaar gemaak word, maar die onkruid sal verbrand word.

Die drie pare Koninkryk gelykenisse word afgesluit met die beeld van die huiseienaar wat uit sy spens nuwe en ou dinge ter voorskyn bring. Hierdie beeld het as agtergrond die pa van die huis wat die spens en voorraadkamer beheer. Net so moet die dissipels en die kerk uit God se voorraadkamer die ou dinge (Ou Testament) en die nuwe dinge (Christus se nuwe interpretasies) leer.

God se Koninkryk is nie op “WOW”-ervaringe alleen gebou nie. God kan Sy Koninkryk ook bou met ’n erediens op die platteland, waar daar nie baie lidmate in die erediens is nie, soos in Adelaide en Fort Beaufort. God werk nie met getalle in die erediens nie, maar kan eerder gesien word waar kerkgangers hulle lewens verander, om al meer te lyk na Christus Jesus se lewe. God kan Sy Koninkryk laat kom deur die klein en onbenullige liefdesdiens wat ons verrig of deur die eenvoudigste samekoms van God se kinders, al is hulle nie baie nie. Grootheid, aansien en dinamiese vergrype van die Evangelie kan soms die Evangelie meer skade bring as die eenvoud van die opregte hart van die gelowige wat God dien en God se naam eer. God het nie in grootheid gekom nie, maar in nederigheid. Nederigheid is die “kompos” van die mosterdsaad waarbinne God se Koninkryk kom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar