Ons lewe tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk

SKRIFLESING: Handelinge 1: 9 – 11

Toe ek ’n kind was, het ek altyd op my rug op die gras gelê en kyk na die wolke. Dan het ek gekyk watter figuur ek in die wolk kan raaksien.

Somtyds sien jy ’n perd, ’n hasie, ’n besem, ’n ou man of ’n kabouter raak. Wolke het positiewe konnotasies by my. Wolke bring reën. Wolke bring altyd die hoop dat die droogte binnekort gebreek kan word. ’n Bewolkte dag is gewoonlik koel. Wolkformasies is mooi en aanskoulik. Elke dag lyk die wolke anders. Wolke kan ook onheilspellend lyk. Somtyds maak wolke jou bang, veral as daar hael in die wolke is. Dan soek jy gou parkering om jou voertuig teen moontlike haelskade te beskerm. Die mooiste is as die sonstrale sulke strepe deur die wolke maak, dan lyk dit kompleet of God met ons praat.

In die Bybelse tyd was wolke ook simbole van die vaartuie waarop God se boodskappers vervoer is.

Maar dit is verkeerd om die wolk met Hemelvaart net as ’n negatiewe assosiasie te sien. Jesus se Hemelvaart het vir ons net voordeel en geen verlies gebring nie. Deur Jesus se Hemelvaart het die Heilige Gees gekom om in persoon by ons almal tegelyk te wees. Daarom leef ons in die kragveld van die Heilige Gees. Jesus Christus is ook in ’n regeringsposisie aan die regterhand van die Vader geplaas, waar Hy saam met die Vader oor Sy skepping en Sy kinders regeer. Christus het ook opgevaar om vir ons plek in die hemel voor te berei. Christus is ook ons Voorspraak (ons Advokaat) aan die regterhand van die Vader, waar Hy vir ons pleit en ons saak voor God stel. Christus leef ook IN ons deur Sy Gees. (Die foto is die hemelvaartskerk, dit is die plek volgens oorlewering, waar Jesus opgevaar het na die hemel.)

Daarom is ons nie as weeskinders alleen agtergelaat nie. Nee, God het vir ons Sy Gees gegee om by ons te wees. Ons leef tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk.

Hierdie tussen-tydperk is Gees-vervulde tyd. Daarom word die Hemelvaart opgevolg met die Pinkstertyd en met Pinkster Sondag. Die dissipels was tydens die tien dae van Pinkster eendragtig bymekaar in volhardende gebed. Daarom gaan die Heilige Gees en gebed altyd saam.

Wie bid, ontvang die Heilige Gees. Wie die Heilige Gees ontvang het, bid volhardend. Die gebedslewe en die werking van die Heilige Gees gaan saam. Die Heilige Gees leer ons om te bid.

In hierdie tussen-tydperk tussen die twee ankers, die Hemelvaart en die wederkoms, is die twee kenmerke van die kerk tussen die wolke:

  1. Geesvervuld
  2. Biddend

Daarom moet ons Geesvervuld en biddend die wederkomswolk afwag.

Ons moet met reikhalsende verlange op die wederkoms van die Here wag. Ons moet soos ’n bruid onsself gereed maak om die Bruidegom met die Wederkoms te verwag. Wie op die wederkomswolk wag, is soos ’n bruid wat haarself gereed maak en mooi maak om haar bruidegom by die bruilof te ontmoet. Sy klee haarself met skoonheid. Daarom is die kerk van die Here die bruid van Christus. Op die wederkomswolk kom haal Christus Sy kerk om vir altyd met Hom verenig te wees. Daarom, soos wat ’n bruid haarself mooi maak, met die oog op die bruilof, moet ons onsself versier met die wonderlike gawes van die Gees, soos dit in Gal 5 beskryf word: Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Dit is waarmee die bruid (Christus se kerk) haar moet klee as bruid van Christus.

Die teoloog Richard Bohren vertel hoe hy en sy vrou een middag gaan stap het in die woud. Terwyl hulle gestap het, was die lug oopgetrek sonder enige wolke. Hulle het ver gestap. Hulle het meer gedrentel as gestap, want niks het hulle aangejaag nie. By die omdraaipunt het die weer skielik verander. Die wolke is deur die wind aangedryf en was vol water. Hoe meer die wolke saamgepak het, hoe vinniger en haastiger het hulle gestap. Toe die eerste druppels dreigend neerplons, het hulle begin hardloop om betyds in die huis te kom. So sê hy is dit ook met die gelowige. Hoe groter jou bewustheid van die wederkomswolk wat kom, hoe haastiger lewe jy om die wil van God te doen.

Net so moet ons wat die wederkomswolk verwag, ons haas om in God se teenwoordigheid te kom. Vir die gelowige is die wederkomswolk soos reënwolke, gevul met God se seëninge en uitkoms.

Maar vir die ongelowige is die wederkomswolk egter soos haelwolke vol van Goddelike oordeel en bedreiging. Hael vernietig alles. So sal met die eindoordeel alles vernietig word waarop die mens tot dusver peil getrek het. Dit sal die skoonmaakproses wees van alles wat sleg en boos is.

Daarom leef ons in die tussen-tydperk tussen die wolke. Daarom moet ons Geesvervuld tussen die wolke leef. Biddend moet ons wag op die wederkomswolk wat ons meeneem op Christus se triomftog.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Extra Nos: Genade van elders, buite myself

SKRIFLESING: Johannes 3: 1 – 21

Geestelike lewe of spirituele lewe of geestelike ontwaking kom nie uit myself nie. Geestelike lewe is soos die geboorte van ’n baba. Die baba is passief en die moeder doen al die werk.

’n Geboorte is altyd ’n pynlike proses. Die moeder is aktief betrokke in die geboorteproses en die vroedvrou of dokter staan haar by.

Die baba self is heeltemal passief. Die geboorte is ook ’n vreugdevolle gebeurtenis.

Nuwe lewe word gebring. In ons gelese gedeelte vergelyk Jesus die wedergeboorte met ’n geboorte. Nie ’n geboorte van onder (jou eerste geboorte) nie, maar as ’n geboorte van bo (onder leiding van die Heilige Gees).

Ons is die nuwe geestelike baba en ons word uit God gebore, met die Heilige Gees as die vroedvrou wat die geboorte laat plaasvind. Sonder die wedergeboorte, die tweede geboorte of die een van bo, kan geen mens God sien nie.

Dit is wat Jesus probeer verduidelik aan Nikodemus in die nag toe hy na Jesus gesluip het, dat niemand moet weet van sy gesprek met Jesus nie.

Jesus verduidelik dat die nuwe geboorte deur die Gees as vroedvrou en met water (bedoelende die totale reinigingswerk van Jesus) moet plaasvind. Daarom is jou redding altyd buite jouself. Jy sal nooit redding vind binne jou eie storie nie. Jou storie moet altyd invloei in die storie van Jesus Christus se geboorte, kruisiging en opstanding. Die verlossing lê met ander woorde buite jouself (EXTRA NOS).

Deur die inspirasie van die Gees word nuwe geestelike lewe gebore. Die Gees is altyd aktief werksaam.

Soos die wind, kan jy die Gees nie met jou eie oë sien nie, maar jy kan sien wat die Gees doen. Die Gees bring verandering, genesing en heling. Die Gees bewerk die nuwe geestelike geboorte van die mens. Juis daarom moet ons altyd onder die leiding van die Gees lewe.

Die Gees laat jou kontemplatief leef. Ek het êrens die volgende werkende definisie van kontemplasie nagelees: “Kontemplasie begin daar waar ’n mens in intense liefde jou gedagtes op God rig. Die materiële, aardse dinge word onbelangrik. Jy leef daarby verby. ’n Mens besef ook jy kan nie meer op jou eie bestaan nie. Jy verlang na die goddelike, na dit wat groter as jyself is.”

Nikodemus se vraag kom uit sy eie verwardheid hoe ’n mens gered moet word.  Nikodemus was ’n vooraanstaande Joodse Fariseër met ’n Griekse naam en daarom het hy ’n bepaalde status in die gemeenskap geniet. Tog was hy verward. Kom die verlossing vanuit jouself, jou goeie lewe en die onderhouding van die Torah? Wat moet ek doen om gered te word? Nikodemus het toe nog nie gesnap dat jou verlossing van buite jouself kom nie.

Jou verlossing kan jy net anker in Jesus Christus. Daarom sal ’n skeepskaptein altyd as ’n storm woed en daar onsekerheid is oor die veiligheid van die boot en bemanning, die anker uitgooi na buite, weg van die skip in die diep blou water.

So moet ons onsself ook veranker in Jesus Christus wat altyd dieselfde is en bly. Wie sy sekerheid soek in homself, sy bekering of sy geloof sal altyd soos Nikodemus onseker wees. Geloofsekerheid is om seker te wees van die “OBJEK” van jou geloof, naamlik Jesus Christus. Jou verlossing moet jy altyd vasmaak aan Iemand buite jouself – die Christus, ons Verlosser.

Johannes gebruik die voorbeeld van die koperslang op die paal in verse 14 – 15 as voorbeeld van hoe die verlossing werk. Die verhaal in die Ou Testament gaan so: Die volk Israel was in die woestyn soos gewoonlik weer ongehoorsaam aan God. Die Here stuur toe ’n plaag slange die laer in en oral word mense dood gepik. Orals krioel slange uit.

Die volksleiers gaan na Moses toe en vra hom om vir hulle in te tree by God. Moses praat met God en die Here gee opdrag dat ’n koperslang gemaak moes word en op ’n paal gesit moes word reg in die middel van die laer. Elkeen wat gepik word, moes dan net na die koperslang op die paal kyk en dan sou jy nie sterf nie. Sommige het die storie nie geglo nie en het gesterf. Ander het gedoen soos Moses beveel het en is genees van die slangbyt.

Die slang op die paal is ’n vooruitverwysing na Christus wat verheerlik sou word op ’n paal, ’n kruishout, sodat elkeen wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (vers 16). Met ander woorde, die verlossing kom nie van onder, van jou eie menslike werk nie, maar van bo, vanuit God geïnspireer

Martin Luther het ons opnuut met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, die kerk van alle tye, daaraan herinner dat verlossing buite jouself lê. Christus se geregtigheid het ons geregtigheid geword. Hy het dit daarteen gehad dat mense met die aflaatstelsel of goeie werke probeer opklim na God se guns toe. Nee, God het in Jesus Christus afgeklim na ons en ons enkel alleen uit GENADE gered, sonder enige bydrae van ons kant af.

So bewerk God deur sy Gees die wedergeboorte in die lewens van mense wat selfs dikwels nie eers daarvoor vra nie. God se Gees kan werk deur ’n ligte briesie, deur ’n ligte wind of sterk wind of selfs deur ’n orkaan of tornado. God werk met elke mens verskillend. Daarom moet ek elke dag die werking van die Gees soek in my lewe en dit plot en dan sal ek ervaar dat God werk in goeie en slegte tye. Hy laat alles tot my beswil meewerk.

Soos wat ’n mens ’n groot wêreldkaart of streekskaart ophang en met duimspykers aandui waar jy oral was, kan ’n mens God ook “merk” in elke detail van jou lewe. Oral langs my lewensweg het die Heilige Gees vir God teenwoordig kom maak in my lewe.

Soms kan ons egter aan geestelike atrofie lei. Atrofie kan byvoorbeeld voorkom wanneer jou arm lank in gips was en die dokter die gips afhaal, jou hand baie swak is, omdat die spiere nie oefeninge gekry het nie. Mense kan die werking van die Gees teenstaan en aan geestelike atrofie lei – hulle sien met ander woorde nie meer vir God in hulle lewe raak nie. Hulle ervaar nie meer die vars bries van die Heilige Gees nie. Daarom, soos wat koringare oorgee aan die beweging van die wind, moet ons onsself ook oorgee aan die beweging van die Gees. Ons moet as’t ware saam met die Gees (wind) dans.

Johan Cilliers verwys na die bekende skilder Matthias Grünewald se aangrypende skildery op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim van Johannes die Doper. Hande speel ’n belangrike rol in die skildery. Daar is die biddende hande van Maria Magdalena en Maria, asook die hande van Johannes die Evangelis wat Maria vashou; die groteske verwronge hande van die Gekruisigde Jesus en dan sentraal die prominente wysvinger van Johannes die Doper wat na Jesus wys as die Seun van God; en met sy ander hand hou hy ’n Bybelperkament vas. Johannes die Doper se hele wese sit in die wysvinger: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. So moet ons hele wese ook daarop gerig wees dat ons verlossing buite onsself is en daarom slegs in Christus Jesus gevind kan word.

In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en ’n grondvloer. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê, in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …” Toe ek omkyk, sien ek ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis.

Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself na dié Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om ‘n streep te trek

SKRIFLESING: Daniël 1: 1 – 21

By wyse van beeldspraak, leef ons in die stad Babilon. Babilon in ons gelese gedeelte was ’n moderne wêreldstad, beheer deur die Galdeërs. Dit was in sy tyd ’n moderne wêreldstad wat die wêreld beheer het. Die wêreld het in ons tyd ’n global village geword, wat beheer word deur die inligtingstegnologie, geldmarkte, ekonomiese stelsels, die politiek, wêreldmagte en die moderne afgode van ons tyd. Ons leef as’t ware in ’n nuwe Babilon. Ons is as’t ware reisigers tussen “Babilon” en die “nuwe Jerusalem”, waarvan Openbaring praat.

Ons lees in die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadneser van Babilon opgetrek en Jerusalem beleër.  Jerusalem is verslaan en van die tempelgereedskap is na die heidense tempel in Sinar gevat. Baie Jode is ook gevange geneem om in diens van die Galdeërs en Nebukadneser te staan. Nebukadneser het vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte opdrag gegee om jongmanne sonder liggaamsgebrek uit te kies, uit koninklike geslag en vername families. Faktore soos aantreklikheid, kennis, verstandigheid en bekwaamheid sou ook ’n groot rol speel in die keuse. Hierdie jongmanne moes opgelei word in die Galdeërs se taal en skrif, sodat hulle na drie jaar in diens kon tree van koning Nebukadneser van Babilon.

In die moderne Babilon waarbinne ons leef tel dié faktore ook. Jou afkoms, jou vername familie, ’n mooi voorkoms, kennis, bekwaamheid en verstandigheid is jou leer om te klim in die stad Babilon.      

Onder hierdie Judeërs was onder andere vier besondere jongmanne, wat naby aan die Here gelewe het, naamlik Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofpaleisbeampte het sonder dat hulle ’n keuse gehad het, hulle name verander na dié van afgode. Die naam Daniël wat beteken “my God is Regter”, is vervang met Beltsasar, wat beteken dat die afgod Bel die koning se lewe moet beskerm. Hananja, wat beteken “die Here het gewys dat Hy genadig is”,  is verander in Sadrag, “dienaar van Mardoek”, die hoofgod van Babel. Misael, wat beteken “Wie is wat God is?”, is verander na Mesag, met die betekenis “Wie is soos die god Agu?”. Asarja, wat beteken “die Here help”, is verander na Abednego, “dienaar van Nego”. Al vier het dus die name van afgode gekry.

Tog beskryf die boek Daniël hulle nie by hulle nuwe name nie, maar hou by hulle verbondsname. Die vier jongmanne het geen keuse gehad waar hulle bly of wat hulle geleer word nie, maar hulle het ’n radikale keuse uitgeoefen oor wat hulle eet. Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag van die koning se kos moes eet. Maar hierdie koningskos en wyn was aan die afgode gewy. Hier het hulle ’n definitiewe streep getrek. Hulle sou hulself nie verontreinig met kos en wyn wat aan afgode gewy is nie. Daarom het hulle vir die hoofpaleisamptenaar gevra om vir tien dae te eksperimenteer en hulle net groente en water te gee. Dan lees ons na tien dae was hulle voorkoms beter as dié van al die ander jongmanne. Hulle is toe vir drie jaar toegelaat om net groente en water te nuttig.

Die vier jongmanne het die geweldig ingewikkelde Babiloniese spykerskrif met sy 600 tekens en die rekenkunde van die 60-tallige stelsel bemeester. Hulle het hulself onderskei in alles van die heidense wêreld, behalwe om hulle geloof prys te gee. Hulle was standvastig in hulle geloof.

Toe hulle na drie jaar voor die koning gebring is, het die koning niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hierdie vier jongmanne het in die heidense agtergrond van die wêreldstad Babilon gewoon, maar hulle het ’n streep getrek as dit kom by geloofsake en die streep nie oorskry nie. Daarom het koning Nebukadneser hulle in sy diens gestel en hulle was tien keer beter as die towenaars en voorspellers in sy koninkryk.

Daniël het deurgaans ’n streep getrek wanneer dit by geloofsake kom. In koning Darius se tyd was sy goewerneurs-generaal op Daniël se vermoëns jaloers en hulle het  die koning ’n dekreet laat uitvaardig dat niemand vir 30 dae enige god of mens mag aanbid behalwe vir koning Darius nie.  Daniël het egter getrou gebly en nog steeds drie maal per dag tot die Here gebid. Hulle het hom betrap in sy huis waar hy die Here aanbid het. Teen die koning se sin is hy in die leeukuil gegooi, vol honger leeus. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit.

Ook Sadrag, Mesag en Abednego het altyd ’n streep getrek as dit by geloofsake kom. Toe koning Nebukadneser in Daniël 3 ’n goue beeld van 30 meter hoog en 3 meter breed laat oprig het in die provinsie Babel, het hy almal beveel om voor die beeld te buig. Sadrag, Mesag en Abednego het egter geweier. Hulle het ’n streep getrek in die grond. Hulle is toe verkla en voor Nebukadneser gebring. Hulle is in ’n brandende oond gegooi. Maar toe sien Nebukadneser dat daar ’n vierde wese in die oond is, wat soos ’n hemelwese lyk. Hy het Sadrag, Mesag en Abednego uit die oond laat kom en hulle hare was nie eens geskroei nie. Hulle het nie eens na brand geruik nie. Toe was die koning al drie goedgesind en het hy die Here erken.  

In die heidense wêreld waarin ons lewe word ons ook elke dag uitgedaag om strepe te trek van tot sover sal ons gaan, maar nie verder nie. Net soos wat Josef ’n streep getrek het en geweier het om met Potifar se vrou in die bed te klim. Of soos Dawid ’n streep getrek het en nie vir Saul (die gesalfde van die Here) doodgemaak het in die grot nie.

In ons ekonomie moet ons ’n streep trek om mense nie finansieel uit te buit nie. Ons mag nie skelm en gierig wees nie. Wanneer ek met ander mense se geld werk, moet ek ’n streep trek en nie korrup te wees nie.

In ons huweliks- en verhoudingslewe moet ons ’n streep trek, deur getrou aan mekaar te bly ten spyte van versoekings.

Wanneer dit by seksuele sake kom, moet ons die streep trek en dit binne die veiligheid en geborgenheid van die huwelik geniet.

In ons beroepslewe moet ons ’n streep trek, deur nie op ander mense jaloers te wees nie.

Wanneer ek wyn gebruik, moet ek my streep trek waar ek betyds ophou.

Wanneer ek grappe maak, moet ek my streep trek deur nie vuil grappe of rassistiese of seksistiese grappe te vertel nie.

Wanneer ek my taal gebruik, moet ek altyd ’n streep te trek deur my woordeskat nie te bevlek met vloekwoorde of growwe taal nie.

Wanneer ek in ’n magsposisie is, moet ek ’n streep te trek deur nie my magte te oorskry nie.

Wanneer ek ’n voertuig bestuur, moet ek ’n streep trek deur die verkeerswet te gehoorsaam.

Wanneer ek politiek praat, moet ek ’n streep trek deur nie van ander mense of volkere karikature te maak nie.

Wanneer ek ’n film kyk, moet ek ’n streep trek deur die regte goed te kyk.

Ek moet in etiese sake altyd ’n streep te trek tussen wat reg en verkeerd is.

Wanneer jy strepe kan trek, besit jy eers ware wysheid. Wysheid is om strepe te kan trek en nie daaroor te beweeg nie. Somtyds werk jy in ’n heidense omgewing met ’n baas wat op jou vloek en skel. Dan kan jy nog steeds in ’n heidense omgewing jouself onderskei, maar jy moet altyd standvastig wees in die doen van die wil van die Here.

Die wêreld ken nie strepe en grense nie. Chaos ken nie strepe en grense nie. Maar God se kinders is veilig, want hulle trek vir hulle strepe, volgens God se wil.

Daarom word hulle uit die leeukuil en die vuuroond gered. Daarom kan hulle hulself onderskei in die heidense wêreldstad van Babilon. 

Daarom moet ons onsself ook onderskei in die moderne en sekulêre wêreld van 2025.     

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Koninkryk van God gaan nie oor die “WOW” nie

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33, 44 – 52

Ons leef in ’n “WOW”-samelewing. Alles moet groter, beter en meer aanskoulik wees, sodat mense die “WOW”-ervaring kan hê. Daarom is daar so baie kompetisie in die samelewing.

Die versoeking is groot om ook net die “WOW”-ervarings in godsdiens na te jaag. Groot indrukwekkende eredienste met charismatiese predikers in groot massa-byeenkomste word die norm van sukses.

Baie gelowiges val voor die versoeking dat God net teenwoordig is by die groot byeenkomste. Hulle sal honderde kilometers ry om dit by te woon, maar sal nie ’n paar kilometers ry na die plaaslike erediens nie. Net wat “groot” is, sal hulle najaag.

Dit bring ’n mens ook by die sogenaamde welvaartsteologie, waar mense aanbid om ryklik en groot deur God geseën te word. Hulle glo as jy sukkel in die lewe is dit omdat jou geloof nie groot genoeg is nie. As jy egter suksesvol is, is dit omdat jy reg glo. Al bogenoemde is so ver van die waarheid soos wat die Ooste van die Weste af is.

In Mat 13 kry ’n mens die sogenaamde Koninkryk gelykenisse, waar Jesus Christus deur gelykenisse verduidelik hoe Sy Koninkryk is. In ons gelese gelykenisse is daar drie pare gelykenisse wat as volg ingedeel is.

  1. Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.
  2. Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.
  3. Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Ons kom by die eerste paar gelykenisse:

1.) Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.

Soos die mosterdsaad ’n baie klein saadjie is en later ’n groot struik word, so begin God se Koninkryk nederig en beskeie. Jesus is in ’n krip gebore, het op ’n donkie gery en het soos ’n misdadiger aan ’n kruis gesterf. Daar was niks groots en opspraakwekkends in Sy lewe nie. Maar deur Sy nederige lewe en sterwe het Hy die hele wêreld gered en beïnvloed sodat Sy Koninkryk groot geword het en mense oraloor die wêreld Sy naam prys en eer. Die eens magtige Romeinse Ryk wat in Jesus se tyd bestaan het, word nog slegs beskrywe in die geskiedenis en kan net gesien word in die ruïnes. Daarteenoor is Jesus se Koninkryk dinamies groeiend. Die voëls van die hemel wat in die mosterdplant nes maak, is simbool van die nasies van die aarde wat hul rus en verlossing in Christus Jesus vind. ’n Nederige begin, maar ’n grootse groei.

Die gelykenis van die suurdeeg het dieselfde strekking. Gewoonlik is ’n stuk deeg van die vorige baksel gebruik om die nuwe baksel in te suur. Die suurdeeg werk onopsigtelik en laat die deeg rys om ’n brood te maak. Net so werk God deur Sy Gees onopsigtelik in die lewens van mense en verander hulle van binne-af. So moet die gelowiges deur hulle dade en lewe soos die werking van suurdeeg ander mense se lewens beïnvloed en verander. Suurdeeg werk net wanneer dit gemeng word met die deeg. Net so moet ons in die wêreld leef, sodat ons die wêreld kan deursuur met ons Christelike getuienis. Die mosterdsaadjie en die suurdeeg het ’n nederige begin, maar bring groot verandering. So werk God ook deur die klein en onbelangrike aktiwiteite om ander mense se lewens te verander. Wat kan minder aandag trek as ’n klein kerkie in ’n klein dorpie, of ’n tent met ’n grondvloer of ’n Sondagskoolklas, of iemand wat ’n ander mens nederig help in die geheim? God werk waar een mens met ’n ander vriendelik is of waar ’n persoon sy vyand vergewe of iemand ’n sieke se hand vashou of vir ’n sterwende ’n bietjie water aangee. God werk in die geborgenheid, waar iemand in die geheim getuig en goed doen aan ’n ander. Goed wat in die geheimenis gedoen word het dikwels meer trefkrag as ’n byeenkoms van duisende mense. God se Koninkryk kom dikwels sonder die geskal van trompette en massiewe byeenkomste. God se Koninkryk groei dikwels ónder die radar van mense.

Dan volg die tweede paar gelykenisse.

2.) Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.

Die Koninkryk van die hemel is ook soos ’n man wat ’n skat ontdek, dit toegooi en alles verkoop om daardie stuk grond te koop. Hy wil die skat nie verkoop nie, maar behou ter wille van die vreugde om dit te besit. In die antieke tyd is kosbaarhede dikwels begrawe, sodat dit nie gesteel kan word nie. So moet die Koninkryk van God ook vreugde bring, wat gebêre moet word in ons harte, sodat niemand dit kan steel nie.

Die daaropvolgende gelykenis vertel van ’n pêrel wat deur iemand gevind word. Die persoon verkoop alles om die pêrel te koop vir die vreugde om dit te besit. As jy die Koninkryk van God gesoek het of as jy dit toevallig ontdek het, is die waarde so groot dat dit vir jou vreugde bring wat jou hele lewe verander. Soos Paulus in Fil 3: 7 sê: “ … wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus”. Vreugde, en nie plig, moet ’n mens tot beweging bring in God se Koninkryk. Roep mense op tot lewensvreugde en mense sal reageer op die roepstem van die Koninkryk van God.

3.) Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Die volgende paar gelykenisse is oor ’n visnet en onkruid.

’n Visnet was ongeveer 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter breed. Die net se net-openinge was baie klein en het alle visse gevang. Daar was rein en onrein visse met elke vangslag wanneer die net ingetrek word.

Die vangs was groot, maar alles was nie eetbaar nie. Volgens Levitiese wetgewing in Lev. 11: 9 – 12 was sommige visse onrein, veral die wat geen skubbe en vinne gehad het nie. In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies wat as onrein beskou is. So sal God in Sy Koninkryk meng met slegte en goeie mense. Daarom het Jesus saam met die sondaars en tollenaars en slegte mense geëet en gekuier. Hy het sy net wyd ingegooi, sodat sondaars ook tot bekering kon kom. So het hy vir Saggéüs ook in Sy vangnet gehad en hom verander in ’n kind van God. God se Koninkryk is nou oop vir almal, maar eendag met die oordeelsdag sal die engele kom en die slegte en die goeie visse van mekaar skei. Nou is dit nog genadetyd, die net moet wyd gegooi word sodat die wêreld gered kan word. Maar met die oordeelsdag sal Christus ’n onderskeid maak tussen die ware en valse kerk. Die ware kerk het Christus as hul enigste skat, maar die valse kerk leef sonder Christus as enigste bate. Daarom het God se Koninkryk ook ’n sekere dringendheid, naamlik dat die net eendag ingetrek kan word. Net so is dit ook met die gelykenis van die onkruid. Die koring sal in God se skuur bymekaar gemaak word, maar die onkruid sal verbrand word.

Die drie pare Koninkryk gelykenisse word afgesluit met die beeld van die huiseienaar wat uit sy spens nuwe en ou dinge ter voorskyn bring. Hierdie beeld het as agtergrond die pa van die huis wat die spens en voorraadkamer beheer. Net so moet die dissipels en die kerk uit God se voorraadkamer die ou dinge (Ou Testament) en die nuwe dinge (Christus se nuwe interpretasies) leer.

God se Koninkryk is nie op “WOW”-ervaringe alleen gebou nie. God kan Sy Koninkryk ook bou met ’n erediens op die platteland, waar daar nie baie lidmate in die erediens is nie, soos in Adelaide en Fort Beaufort. God werk nie met getalle in die erediens nie, maar kan eerder gesien word waar kerkgangers hulle lewens verander, om al meer te lyk na Christus Jesus se lewe. God kan Sy Koninkryk laat kom deur die klein en onbenullige liefdesdiens wat ons verrig of deur die eenvoudigste samekoms van God se kinders, al is hulle nie baie nie. Grootheid, aansien en dinamiese vergrype van die Evangelie kan soms die Evangelie meer skade bring as die eenvoud van die opregte hart van die gelowige wat God dien en God se naam eer. God het nie in grootheid gekom nie, maar in nederigheid. Nederigheid is die “kompos” van die mosterdsaad waarbinne God se Koninkryk kom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God fluister deur die gebroke wêreld

SKRIFLESING: Luk 24:36-48

Wanneer dit té goed gaan met die mens kom daar dikwels verwydering tussen mens en God en tussen mense onder mekaar. Dit sien ons maar te gereeld in verhoudinge. Wanneer dit goed gaan op ’n plattelandse dorp kan mense dikwels naywerig en jaloers op mekaar raak. ’n Dorp kan dan “clicks” hê en mense kan onder mekaar skinder.

Maar sodra daar swaarkry en verwondheid kom in iemand se lewe op die dorp, staan die dorp soos een man saam om te help. Dit is dikwels krisisse en siekte wat mense weer bymekaar bring.  Dikwels word gesê: “ons kan lekker onder mekaar baklei, maar as daar swaarkry is, staan ons bymekaar.” Verwondheid bring mense nader aan mekaar. Verwondheid bring mense nader aan God.

Jesus het geloof geskep deur sy verwondheid. Ons lees dat toe Jesus aan die dissipels verskyn het en hulle bang was dat Hy ’n spook is, het Hy vir hulle sy wonde gewys en hulle het verwondering en blydskap beleef. In Jesus se verwondheid het hulle Hom herken as die gekruisigde. Skielik het alles vir hulle sin gemaak. Nou glo hulle in Sy opstanding.

Daar is ’n Japannese kunsvorm om gebreekte potteware nie weg te gooi nie, maar om dit te herstel deur die krake met goud te vul en so weer die pot of erdewarestuk te heel. Jy noem die kunsvorm “kintsugi”. Die pot lyk dan mooier en is sterker as voorheen.

Die volgende aanhaling vertel vir ons meer van “Kintsugi”: “Dit is Japannese kuns om gebreekte erdewerk te herstel met lak gemeng met poeiergoud, silwer of platinum. In plaas daarvan om die krake weg te steek, beklemtoon hierdie tegniek hulle en verander die gebrokenheid in iets moois en waardevol. Benewens sy fisiese toepassing dra “kintsugi” ’n diep filosofiese betekenis – dit omhels onvolmaaktheid en sien gebreektheid as deel van ’n voorwerp se geskiedenis eerder as iets om te vermom. Baie mense vind inspirasie in “kintsugi” as ’n metafoor vir veerkragtigheid, genesing en die vind van skoonheid in die lewe se letsels.”

Met Jesus se eie verwondheid het Hy ons krake kom vul om ons mooier en sterker te maak. Wie toelaat dat Jesus se teenwoordigheid in die krake van sy of haar lewe kom, sal weer heelheid en sterkte beleef.

Wanneer gelowiges hulle verwondheid met mekaar deel, skep dit gemeenskap tussen gelowiges.

In die Nagmaal openbaar Jesus Sy gebreekte liggaam en Sy gestorte bloed en Hy kom skep daardeur die gemeenskap van gelowiges. Jesus het sy gebreektheid kom wys. Hy het Sy “menslike natuur”, met al die broosheid wat daarmee saamgaan, vir ons kom wys met sy menswording. Om mekaar jou verwondheid te wys, kan maak dat mense nader aan mekaar kom. Mense identifiseer eers met jou wanneer jy jou swakhede, jou krake, jou menslikheid met hulle deel. Dan deel hulle gewoonlik ook met jou. Henri Nouwen het gesê: “The only feelings that do not heal are the ones you hide.” Maar wanneer jy jou sterkte en prestasies voorhou, skep jy afstand.   

Leonard Cohen het ’n pragtige lied gesing wat ’n wêreldtreffer was. Die refrein klink so:

 “Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack, a crack in everything

That’s how the light gets in”

So is niemand van ons se lewe perfek nie. Daar is ’n kraak in alles. Daar is krake en krakies in elke mens se lewe. Ons is nie daar om mekaar daaroor te oordeel nie. Ons elkeen het wonde en gewondheid. Die wonder daarvan is egter dat God ons gewondheid wil gebruik om ander se wonde te heel. Deur ons krake wil God Sy lig laat skyn in ons. Om God se lig en liefde te ervaar, moet ons eers die krake in ons eie lewe erken en daaroor eerlik wees.

As jy nie ’n gekraakte erdepot is nie, kan God se lig nie in jou lewe inskyn nie. Dan sal jy lewe in die donkerte van jou eie bedompige, donker siel.

Henry Nouwen, wêreldbekende Rooms- Katolieke priester en akademikus, het onder andere die bekende boek geskryf: “The wounded healer.” In die boek onderstreep Nouwen dat ons ons wonde moet gebruik om ander te help om genees te word van hulle wonde. Gedeelde verwondheid is gedeelde pyn. Wie saam pyn ervaar, ervaar saam ook verligting. Wat gedeel word, is ligter.

Hoor wat skryf Nouwen: Niemand ontsnap daaraan om gewond te word nie. Ons is almal gewonde mense, of dit nou fisies, emosioneel of geestelik  is. Die hoofvraag is nie: ‘Hoe kan ons ons wonde wegsteek?’ sodat ons nie verleë hoef te wees nie, maar: ‘Hoe kan ons ons verwonding in diens van ander stel?’ Wanneer ons wonde ophou om ’n bron van skaamte te wees, en ’n bron van genesing word, het ons gewonde genesers geword.”

Verder skryf Henri Nouwen: Medelye vra ons om te gaan waar dit seermaak, om die plekke van pyn binne te gaan, om te deel in gebrokenheid, vrees, verwarring en angs. Medelye daag ons uit om uit te roep saam met diegene in ellende, om te treur saam met diegene wat eensaam is, om te ween saam met diegene in trane. Medelye vereis dat ons swak is saam met die swakkes, kwesbaar saam met die kwesbares, en magteloos saam met die magteloses. Medelye beteken volle onderdompeling in die toestand van menswees.”

Treffend som Henri Nouwen sy boek op met die volgende opmerking: “The main question is not, how can we hide our wounds…but how can we put our woundedness in service to others.”

In Jeremia, lees ons van die pottebakker en die klei. God is die pottebakker en Israel is die klei. Ten spyte daarvan dat Israel dikwels misluk, ineenstort en krake het, gooi God nie die klei weg nie. Hy knie weer die klei en maak ’n nuwe voorwerp op die pottebakkerswiel. So gooi die Here ons nie weg, wanneer ons misluk nie. Op die pottebakkerswiel vorm hy ons weer tot voorwerpe van Sy genade.

Ons word met ons eie “wonde” die  geloofwaardige getuies van ons verlossing. Soos wat Jesus met sy wonde verlossing gebring het, is ons wonde die getuies van ons eie verlossing. Ons kan ons wonde voorhou as voorbeelde  waaruit God ons verlos en vir ons nuwe skoonheid en krag gee.

Ons wonde word Evangelieverkondiging. Want vanuit ons wonde het God ons gered deur Jesus se wonde om verlostes te wees. Skielik maak ons wonde sin teen die groter prentjie van verlossing.

Ek hoor God in die wonde van hierdie wêreld fluister.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)