SKRIFLESING: Handelinge 10: 1 – 33
Een van die teoloë het gesê al was Jesus Christus ’n duisend keer in Betlehem gebore en al het hy ook ’n honderd keer op Golgota gesterf, maar Hy het nie een keer opgestaan uit die dood nie, was ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag die waarmerk van ons geloof. Paassondag was ook die gebeurtenis waar Jesus sekere lyne en grense uitgevee het en ’n nuwe bedeling aangekondig het.

Die Ou Testament het baie lyne as grense gehad. Daar was die lyn van Israel as die uitverkore volk teenoor die ander volke. Daar was die lyn tussen man en vrou. Die man het die vrou besit en die vrou het na die man gehunker. Daar was die lyn van reinigingswette. Die vraag is: wanneer is ek rein en wanneer is ek onrein?
As ’n vrou haar maandstonde gehad het, was sy vir die tydperk onrein. As jy aan ’n lyk gevat het, was jy onrein vir ’n tydperk. Daar was die lyn tussen watter kossoorte jy mag eet en watter jy nie mag eet nie.

So byvoorbeeld was varkvleis een van die vleissoorte waarvan jy nie mag geëet het nie. So ook as jy aan God geoffer het, was daar ’n klomp lyne van wat jy mag offer en wat jy nie mag offer nie. Die hele Ou Testament is vol honderde lyne van wat mag en wat nie mag nie.
Ons sukkel om hierdie lyne wat dien as grense af te skud. Vandag nog wil ons ou grense in stand hou en nuwe grense en lyne trek. Ons sukkel nog om die lyne tussen man en vrou af te breek. Nog enkele dekades gelede het mans en vrouens apart in die kerk gesit. In baie wêrelddele en kulture word vrouens nog as tweedeklasmense gesien. Dit lei natuurlik tot geslagsgeweld. Patriargisme en matriargisme maak verhoudinge ongesond. Ons trek lyne tussen volke en bou grense.
Na die Tweede Wêreldoorlog is die muur tussen Oos-Berlyn en Wes-Berlyn gebou. Daar is sosiale en ekonomiese grense. Wie ryker is, word ryker en wie arm is, word armer. As iemand jou nie êrens ’n skop in die lewe gee nie, gaan jy nêrens uitkom nie. Op politieke toneel word nie net lyne getrek nie, daar word sommer strepe tussen volksgroepe getrek en hulle betoog en skree mekaar dood. Met slagspreuke word die ander kultuurgroep geteister. Rassehaat het ongekende hoogtes bereik. Nog nooit was die politieke spanning en lyne so duidelik sedert President Nelson Mandela regeer het nie. Mandela het lyne probeer uitvee (vergelyk sy optrede met die oorwinning van Suid-Afrika in die Rugby Wêreldbekereindstryd in 1995, toe hy en die Springbokkaptein saam die wêreldbeker omhoog gehou het en versoening gebring het wat ook die Afrikaners ingesluit het) en hoe hy ’n lewe van versoening gepropageer het in Suid-Afrika. Hy wou vir almal plek maak. Maar die lyne tussen mensegroepe word elke dag al hoe duideliker getrek.
Dan moet ons vanoggend die Paasevangelie hoor. Op Paassondag het Jesus Christus opgestaan uit die dood. Hy het toe begin om grense uit te vee. Met Paassondag het Jesus die lyn tussen lewe en dood uitgevee. Daarom, as ons in Christus sterf, het ons die ewige lewe en hoef ons nie die ewige dood te vrees nie.
Op Paassondag het Jesus ook bewys dat Hy die sonde oorwin het. Die sonde was ’n lyn of grens tussen ons en God. Hierdie lyn het Jesus met Sy opstanding finaal uitgevee, soos ons geregverdigdes kan wees.
Met die viering van Paassondag elke jaar, het baie VG Kerkgemeentes, soos ook die VG Kerk Strydenburg (waar ek eers predikant was) die gebruik om die Paasdiens by die begraafplaas te hou met die eerste sonsopkoms. Daar is al singende (van Paasliedere) van die kerk na die begraafplaas beweeg, elkeen met ’n bossie blomme. Na die Paasdiens, tussen die grafte by die begraafplaas, het elkeen blomme gaan neerlê by hulle geliefdes se grafte om te simboliseer dat Jesus ook die dood oorwin het toe Hy op Paassondag uit die dood opgestaan het. Die grens tussen dood en lewe is uitgevee met Jesus se opstanding.

Die VG Kerk Adelaide het ook die gebruik om met die viering van Paassondag, baie vroeg, terwyl dit nog donker is, bymekaar te kom op die heuwel buite Bezuidenhoutville, waar die kruis is en dan te wag vir die eerste sonlig. Dan is daar ’n Paasdiens gehou, die Nagmaal bedien en saam Paasliedere gesing. (Foto is geneem op Paassondag, 20 April 2025.) Vanaf die heuwel, met sonsopkoms, kon jy oral in die gemeenskap hoor hoe die verskillende geloofsgemeenskappe Paasliedere sing.
Die eerste waarnemers van Sy opstanding was die vroue. So word vroue die eerste verkondigers van die blye Evangelie dat Jesus opgestaan het. Daardeur het Jesus die vrou ’n selfstandige plek gegee in die samelewing en haar gelyk met die man gemaak. Die grenslyn tussen man en vrou is uitgevee.

’n Bewys daarvan dat Jesus op Paassondag grense uitgevee is, staan in Hand 10:9-17. Ons lees dat Petrus honger geword het op die dakstoep waarheen hy gegaan het om te bid. Daar staan hy, het in geestesvervoering geraak en ’n groot doek is in vier punte neergelaat. In die doek was al die kruipende diere en die voëls. Die Here het vir Petrus opdrag gegee om te slag en te eet. Hy het geweier en gesê dat hy nog nooit iets geëet het wat onheilig of onrein is nie. Dan kom daar weer ’n stem uit die hemel en sê vir Petrus, dat wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie. Drie keer het die boodskap tot Petrus gekom en daarna is die doek opgetrek na die hemel.
Dan staan daar toe Petrus gewonder het wat dit tog kon beteken, kom die drie mans van Cornelius, ’n kaptein van ’n Italiaanse regiment, by Petrus aan. Hulle versoek hom om Cornelius, wat ’n nie-Jood is, te besoek in Sesarea. Daar aangekom en Cornelius kniel voor Petrus. En luister wat sê Petrus in Handelinge 10:28: ‘Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir ’n Joodse man verbode is om met iemand van ’n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie.”
Jesus het vroeër in die Evangelies verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom uit ’n bose en onbarmhartige hart. En daarmee het Hy alle kos rein verklaar (Mark 7:19; vgl ook Matt 15:10-20).
So het die Paasevangelie die lyn tussen rein en onrein uitgevee. Dit het die lyn tussen Jood en nie-Jood uitgevee.

Na sy opstanding en met sy hemelvaart het hy sy uitnodiging wyd gemaak na alle mense en volkere. In Handelinge 1:8 staan daar: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet My getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Nou is die lyn nie net rondom Israel getrek nie, maar die lyn is uitgevee sodat alle volkere en nasies deel kan hê aan die verlossing wat Jesus Christus gebring het. Op Pinkstersondag het ’n menigte mense van verskillende volkere die boodskap in hulle eie taal gehoor.

In Jesus se lewe het Hy alreeds lyne uitgevee tussen die godsdienstige elite en die sondaars van sy tyd. Hy het gemeng met die tollenaars, die vrate, die wynsuipers, die prostitute, die owerspelige vrou, Saggéüs (die tollenaar). Hy het ook gemeng met die mense wat in die oë van die Fariseërs onrein was, soos die blindes, lammes, melaatses, kreupeles, duiwelbesetenes en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
Daarom is geen mens, van watter ras, klas of agtergrond, onrein nie. Ook die sondigste mens, verklaar die Here rein op grond van Sy soendood en opstanding.
In die plek van die Joodse godsdienstige begrip van “volk” het Jesus Christus met sy opstanding die “kerk” gestig, wat nie verband hou met volk, etnisiteit, taal of kultuur nie. Die “kerk” moet daarom lyne kom uitvee. Daarom bely ons in “een, heilige, algemene, Christelike kerk.” Ons is wel nie Rooms Katoliek nie, maar ons is Katoliek, wat behoort aan die Here se algemene kerk wat oor die wêreld strek.
Christene trek nie lyne nie. Christene stel nie grense op nie. Christene vee lyne uit en bou brûe oor grense.
Daarom verstaan ons nou wat Petrus in Handelinge 10:34-36 bedoel het: Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.”
Daarom mag ons nie lyne trek of grense stel nie.

Paaseiers is nie heeltemal so kommersieël soos wat ons dink nie. Met die koms van Paasfees, wat die einde van vas aandui, het eiers ’n simbool van viering geword in die vroeë kerk. Mense het dikwels eiers versier en uitgedeel as ’n teken van vreugde en hernuwing. Gedurende die vastyd voor Paasfees het hulle nie eiers geëet nie, maar eers weer eiers geëet vanaf Paasfees. Hierdie tradisie het later ontwikkel tot die gebruik van sjokolade-eiers en ander kreatiewe weergawes. Interessant genoeg, eiers het ook ’n simboliese betekenis in die Christelike geloof, wat nuwe lewe en die opstanding van Jesus Christus versinnebeeld, soos die kuiken gebore word uit die eiers, as simbool van nuwe lewe.
Prof Johan Cilliers, emeritus-professor aan die kweekskool op Stellenbosch, vertel die verhaal van die Down-sindroom kind met die naam Philip. Sy ouers het hom gereeld Sondagskool toe geneem.
Eers wou die kinders hom nie heeltemal aanvaar nie. Een Sondag, dit was Paas-sondag, het die Sondagskooljuffrou plastiese paaseiers aan die kinders uitgedeel met die opdrag om op die kerk se erf iets te soek wat die simbool van nuwe lewe is en dit in die paaseier te sit. Die kinders het met groot opgewondenheid hul paaseiers gevul met simbole van nuwe lewe. Toe is die kinders weer binnetoe, en die juffrou het die een na die ander paaseier oopgemaak, met die gepaardgaande verwondering van die kinders. In elkeen was ’n simbool van nuwe lewe. In die een ’n nuwe blaar, in die ander ’n blom, in die ander ’n groen grasspriet. Toe kom hulle by die laaste paaseier. Die laaste eier was leeg — dolleeg. Die juffrou vra wie se eier dit is, en hoekom daar niks in geplaas is nie. Toe sê Philip, die Down-sindroomkind, baie skaam: “Juffrou, dit is myne.” Die kinders vra dadelik: “Maar Philip, hoekom moet jy altyd anders as ons wees? Hoekom het jy niks in jou paaseier gesit nie?” Op sy kenmerkende Down-sindroom manier het hy gesê: “My paaseier is leeg, want die graf van die Here Jesus is leeg, heeltemal leeg.”
Daar was ’n paar oomblikke stilte. Almal het geweet Philip was reg. Toe het hulle hom begin aanvaar en maats gemaak met hom. ’n Paar maande later het Philip ’n infeksie opgedoen en hy het onverwags gesterf. Al sy Sondagskoolmaats was by die begrafnis. Op sy kis het sy maats een na die ander hul paaseiers gesit, leë, dolleë paaseiers.
Christus het Hoop gebring ook in die ruïnes en murasies van die begraafplaas. My graf is slegs ’n leë dop! Ek is saam met Christus ’n oorwinnaar oor die dood. Of ek lewe en of ek sterwe, ek is getroos, want ek behoort aan Jesus Christus.
Die paaseier is leeg. Die Here Jesus se graf is leeg. Die lyne en die skeidsmure tussen ons en die sonde en die Dood het Jesus kom afbreek met Sy opstanding.
Jesus se opstanding is God se “Amen” en die mens se “Halleluja.” Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
