Vyf tale van die liefde wat ‘n gemeente missionaal laat groei


SKRIFLESING: Joh 13 en Hebreërs 10:24-25

Dr. Gary Chapman se topverkoper, “The Five Love Languages”,  is oorspronklik geskryf om getroude paartjies te help om mekaar se liefdestale te praat.

In die preek wil ek probeer aantoon dat ons die vyf liefdestale ook  elke dag kan toepas in ons gemeente en in ons Christenwees. Wanneer die gemeentelede die liefdestale onder mekaar  praat, sal dit wees soos kunsmis wat die gemeente ook missionaal laat groei.

Gary Chapman onderskei die volgende 5 liefdestale:

  • Opbouende woorde as eerste taal van liefde vir gemeentegroei.

Ons lewe in ’n wêreld waar mense gebombardeer word met kritiek, afbrekende woorde, skinder en liefdelose taal. (Jakobus 3:5-12 sê dat ’n mens se woorde die wêreld aan die brand kan steek.) Verdelende woorde kan ook skade aan ’n gemeente doen.

Tog blom elke mens as hy/sy van tyd tot tyd opbouende en waarderende woorde ontvang. Daarom moet ons probeer om ten minste een keer elke dag, teenoor ten minste een mens, ’n opbouende of ’n waarderende woord te bevestig.  Mense voel ongeliefd en eensaam as hulle voel hulle word nie waardeer nie.

’n Mens se geheue is veral geneig om slegte ervarings en slegte opmerkings van ander mense lewenslank te onthou en self te glo  jy IS dit. Ek het nou ’n pastorale geval van ’n man wat in sy hoërskooljare aanhoudend deur ‘n familielid toegesnou is hoe “useless” hy is.  Nou glo hy dit, met erg vernietigende gevolge vir sy lewe.

Veral ouers en onderwysers wat kinders vorm, moet spesiaal daarop bedag wees watter gevolge negatiewe en krenkende opmerkings inhou en op die selfbeeld  van ’n kind laat.   

Daar is die  treffende verhaal van “You Are Special” deur Max Lucado. In hierdie verhaal is daar ’n groep houtpoppe genaamd Wemmicks, wat mekaar beoordeel deur sterre vir goeie eienskappe te gee en kolle vir minder goeie eienskappe. Die meeste Wemmicks het baie sterre ontvang. Punchinello, een van die Wemmicks, voel deurmekaar en minderwaardig omdat hy baie kolle ontvang. Sy houtlyfie is vol kolle, soos die mense hom al beoordeel en gekritiseer het. Later glo hy hy is net sleg en voel erg minderwaardig teenoor die ander Wemmicks.

Die kern van die verhaal kom wanneer Punchinello vir Eli ontmoet, die houtsnymaker wat hom gemaak het, soos wat die hemelse Vader ons ook gemaak het . Eli herinner Punchinello daaraan dat sy selfwaarde nie lê in  hoeveel sterre of die hoeveelheid kolle wat ander mense aan hom toeken of toedig nie, maar in die feit dat hy deur die maker geskep is en geliefd is. Skielik verloor die kolle hulle gom en val sommer af. Hy steur hom nie meer aan die kolle wat mense op hom wil plak nie. Hy waardeer eerder die enkele sterre wat op sy houtlyfie geplak word. Sy selfwaarde lê nou daarin wat God van hom dink en nie wat mense van hom dink nie. (Die ouers wat klein kinders of groter kinders het, koop asseblief bogenoemde boek vir u kinders. Dit sal hulle so baie help in die lewe.)

Wetenskaplikes beweer, dat vir elke enkele slegte of negatiewe ding wat mense van jou sê, dit twintig positiewe opmerkings verg om die een negatiewe opmerking uit te wis.

Die Bybel is vol van die Here se waarderende woorde waarmee Hy telkens mense optel uit hulle ellende en swak selfbeeld. Die Here se woorde is altyd opbouend en versterkend. Daarom stuur ons so graag teksverse vir mekaar om mekaar op te beur. Die Here Jesus het dikwels randfigure, mense sonder aansien, opgetel met Sy opbouende woorde en vir hulle plek in die samelewing gemaak.

Ons moet dit toepas in ons huwelike, teenoor ons kinders, ons ouers, ons mede gelowiges en selfs ook teenoor vreemdelinge. Die Here Jesus het, sover Hy gegaan het, altyd mense opgebou en geliefd laat voel deur Sy woorde. Ons woorde kan soos genesende salf vir ander mense weer nuwe hoop en selfwaarde gee. So moet ons ook gemeentelede bemoedig met opbouende en waarderende woorde.

Natuurlik moet ons dit opreg bedoel wanneer ons ’n waarderende woord uitspreek.

  • Geskenke as tweede taal van liefde vir gemeentegroei.

Almal van ons wil somtyds bederf word. Ek onthou toe ek in my vorige gemeente op Strydenburg was, het ’n bruinman van die plaaslike VG Kerk een Sondagmiddag by die pastorie opgedaag met mooi klippe wat hy in die veld opgetel het. Toe hy dit opgetel het, het hy aan my gedink en wou hy graag sy waardering teenoor my uitspreek met die geskenk. Die klippe het geen geldelike waarde vir my nie, maar dit het sentimentele waarde. Vandag nog bêre ek dié klippe by my in die Kerkkantoor.

So het die Here Jesus ook vir ons die grootste moontlike geskenk gegee naamlik Sy lewe aan die kruis. Hy bederf ons elke dag om ons te voorsien van brood en alles wat ons nodig het.  In Matteus 6:25-34, sê  Jesus  dat ons onsself  nie moet bekommer oor wat ons sal eet of dra nie, omdat God vir die voëls en die lelies sorg en hoeveel meer  vir  ons wat vir Hom meer werd is.

Die gebruik wanneer  daar ’n sterfgeval in die gemeente is, is om gereeld in die tyd van rou,  kos vir die familie te neem. Dikwels is iemand siek of gaan deur ’n moeilike tyd in sy of haar lewe. Dan is ons “omgee” die geskenk  wat hulle nodig het. So kan ons mekaar ook bederf in die gemeente met klein sigbare geskenke of ’n SMS, ’n kaartjie, ’n blom of ’n WhatsApp-boodskap. Geskenke hoef nie duur te wees nie. Om vir armer mense toiletware aan te koop, is ’n geskenk. ’n Besoek aan ’n bejaarde is vir daardie bejaarde soos ’n groot geskenk. Dit gaan eerder oor die gedagte agter die geskenk as die geskenk self. Om jou medegelowige te bederf met liefdesgeskenke wys jy gee werklik om.

  • Diensbaarheid as derde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense mekaar help, ontstaan daar ’n wonderlike band van liefde. Dink aan die kere toe jy met ’n stukkende voertuig of ’n pap band langs die pad gestaan het. Dan kom iemand en help jou met die pap band of die stukkende voertuig. In ’n huishouding waardeer jou lewensmaat dit wanneer jy hom of haar help met huishoudelike take.

Diensbaarheid is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom stel het in Johannes 13 toe Hy die voete van Sy dissipels gewas het.

Een van die unieke eienskappe van gemeentes wat groei, is dat die gelowiges diensbaar is in die gemeente, maar ook teenoor die gemeenskap waarbinne hulle bly. Daarom moet elkeen van ons ’n skerp onderskeidingsvermoë hê om diensbaar te wees in ons gemeente en ook gemeenskap. Deur ons gemeente moet ons missionaal betrokke wees tot voordeel van die gemeenskap waarbinne ons geplaas is om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Die lewe moet nie daaroor gaan, dat ek net eie voordeel soek nie. ’n Gemeente moet ook nie net na binne gerig wees en haarself warm broei nie. Nee, ons moet as gemeente ’n verskil in die gemeenskap maak.  Ek moet myself kan offer vir die gemeenskap waarbinne ek leef. Die Here het mos gesê om te gee, maak jou baie meer gelukkig as om net te wil ontvang. Ongelukkig is min mense vandag bereid om betrokke te wees in gemeenskapsorganisasies, soos die kerk, die ACVV, die Ouetehuise, Boereverenigings, Skoolbeheerrade en so meer. Ons verleer om te dien in ons gemeenskap.

  • Kwaliteit-tyd as vierde taal van liefde vir gemeentegroei.

Mense wil  God deesdae aanbid op die rusbank voor die TV-eredienste. Om fisies kerk toe te gaan, het te veel moeite geword. As ons die Here wil dien, moet ons ons beste kwaliteit-tyd vir Hom gee deur Hom in Sy woning te aanbid, saam met ander gelowiges. Dan kan ons saam aanbid, saam sing en mekaar se teenwoordigheid saam waardeer. Wyksbyeenkomste is ook kwaliteit-tyd, waar ek saam met my medebroers en -susters in die geloof tyd saam deurbring in gemeenskap met God en medegelowiges.

Ons kan nie maar tevrede wees om ons afskeeptyd vir God te gee nie. In die geloof moet ons moeite maak om God REG te aanbid, soos wat Hy wil hê Hy aanbid moet word. Daarom is godsdiens nooit ’n privaat aangeleentheid nie. Nee, ek moet God in die OPENBAAR aanbid, sodat almal kan sien aan wie ek behoort. Dit is ’n PUBLIEKE getuienis aan wie ek behoort.

Die duiwel se aanslag is altyd om die gelowige lui te maak om kerk toe te gaan. In God se Koninkryk is daar nie plek vir lui gelowiges wat God op hul eie voorwaardes en gerief wil dien nie. Aanbidding vra opoffering deur kwaliteit-tyd deur te bring by God in Sy woning en saam met ander gelowiges.

  • Fisieke aanraking as vyfde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense saam bid aan tafel vir ’n ete hou hulle gewoonlik hande vas. Dit skep ’n ervaring van samesyn en liefde. Om vir iemand in die gemeente wat swaarkry ’n drukkie te gee, beteken meer as ’n duisend woorde. Wanneer ons tydens die Nagmaal die brood en wyn fisies vir mekaar met die hande aangee, vind ook ’n geestelike fisiese ervaring plaas, van ons-hoort-bymekaar, saamgesnoer in die Here se brood en wyn.

Ons moenie skaam wees om mekaar   in die gemeente deur fisiese kontak te bemoedig nie. Dikwels is daar baie velhongermense (soos bejaardes of mense wat baie swaar kry en alleen is), wat dit so waardeer as jy vir hulle ’n drukkie gee of hulle hande vashou as jy vir hulle bid.

Om iemand in ’n hospitaalbed te bemoedig deur hul hand vas te hou, beteken dat jy empatie het met hulle swaarkrytyd van siekte. Wanneer ’n geliefde van iemand afsterf, kan ’n drukkie ’n mooi manier wees om jou simpatie en deernis met die bedroefde mens te deel. Moeder Theresa het dikwels sterwendes se hande vasgehou totdat hulle sterwe. Sodoende was die sterwende nooit alleen. Die Here Jesus het die kinders op sy skoot getel om vir hulle te wys dat Hy hulle aanvaar en vir hulle tyd maak.

Elkeen van bogenoemde vyf tale van die liefde kan ook in die gemeente ingeoefen word om die gemeente te laat groei. Kom ons beywer ons as gemeente wat missionaal wil ontwikkel om  hierdie liefdestale te oefen in die gemeente en in ons gemeenskap. Dan sal ons weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Bogenoemde vyf tale is so eenvoudig dat enigiemand dit kan beoefen. Die diepste behoefte van elke mens is om geliefd te voel. Kom ons laat mekaar geliefd voel deur die vyf tale van die liefde te bemeester, ook in ons gemeente en gemeenskap.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar