Die ander vrou, wat anders is


SKRIFLESING: Gen 21: 8 – 21 

Abraham is die vader van die geloof. Die verhaal van God se bemoeienis met die mens begin by Abraham. Die Here het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs laat trek na ’n vreemde land sonder enige sekuriteite. Slegs met die belofte van ’n land en ’n baie groot nageslag. Abraham en Sara het oud geword en hulle was kinderloos.

Sara het toe maar op haar eie ’n plan gemaak. Sy het voorgestel dat haar man by haar Egiptiese slavin Hagar gaan slaap, sodat Hagar ’n kind kan verwek wat sy haar eie kind kan noem. So is Ismael gebore. Tot op die dag, toe die drie besoekers by Abraham se tent by die groot bome Mamre opdaag en voorspel dat Sara oor ’n jaar haar eie kind sal hê. Dit was dan ook so. ’n Jaar later is Isak gebore en het Sara haar eie bloedkind gehad.

Skielik was Hagar nie meer vir Sara slegs ’n slavin nie, maar “die ander vrou, wat anders is”. Daar het jaloesie begin ontwikkel tussen die twee vroue. Hulle het in mekaar ’n bedreiging begin sien.

Toe Hagar eendag vir Sara gelag het, was die vonk behoorlik in die vuur en kon Abraham nie meer vrede handhaaf tussen Sara en Hagar nie. Sara wou van hierdie “ander vrou” ontslae raak deur ’n onbillike versoek tot Abraham te rig dat Hagar en haar kind weggestuur moet word. Abraham se erfporsie moet na Isak gaan en nie na Ismael nie. Abraham was voor ’n onmoontlike keuse, maar die Here het hom verseker dat God self sal kyk na Hagar en die kind Ismael. Met ’n swaar hart het Abraham die kind Ismael, met kos en ’n velsak water, op Hagar se skouer getel en haar weggestuur na die dodelike Berseba woestyn.

Vir Sara was Hagar “die ander vrou”, die vyand, die bedreiging. Sy was immers boonop ’n Egiptiese vrou en het daarom nie ingepas by haar nuwe status as moeder van die verbondskind Isak nie. Maar God oordeel anders oor Hagar, “die ander vrou”. God sien nie haar “andersheid” raak nie.

Hy sien haar radeloosheid en nood raak. Toe Hagar se water opraak, het sy die seun Ismael onder ’n struik neergesit en so ver gaan sit soos wat ’n pyl uit ’n boog skiet. Sy wou hom nie sien sterf nie. ’n Mens kan jou indink in hierdie “ander vrou” se onbeskryflike nood en leed. Uitgeworpe om in die Berseba-woestyn te sterf, saam met haar kind. Dan lees ons hoe die Engel van God uit die hemel vir Hagar kom vertroos met die belofte dat haar seun Ismael ’n groot nasie sal word. God het haar oë oopgemaak en sy het ’n waterput gesien.

Dan lees ons in vers 20 hoe hierdie seun Ismael grootgeword het en handig met die pyl en boog geword het. In die Paranwoestyn het hy opgegroei en sy moeder het hom met ’n Egiptiese meisie laat trou. Uit Ismael se nageslag het daar ook twaalf stamme gestam. Ismael se nageslag het later die Moslems geword.

Sara was bekommerd om haar “eie” te beskerm en het daarom “die ander vrou, wat anders was” weggestuur.

Daarom kan ons aflei dat Sara deur haar optrede veroorsaak het dat die Jode en Christene afstammelinge van Isak is en dat die Arabiere, wat meestal Moslems is, afstammelinge van Ismael is.

Vandag is die spanning tussen die Christene en die Moslems die grootste brandpunt in die Midde-Ooste en in die ganse wêreld.

Deur Sara se wegstuur van Hagar en die kind Ismael het sy onvrede gebring tot vandag. Die Bybel sê tereg ook daar sal nooit vrede tussen die twee groepe kom nie.

Daarom kan die vernietiging van die Twin Tower Internasionale Handelsentrum deur die Moslems op 11 September 2001 direk toegeskryf word aan die haat tussen Christene en Moslems. Was Sara maar nie so jaloers en Hagar nie so uittartend met haar lag nie! Hoe anders sou die wêreld dalk nie vandag gelyk het nie!

Wonderbaar is dat God hom ontferm het oor Isak én Ismael. God het dit beskik dat Isak nie geoffer word in Moria nie en dat Ismael nie in die woestyn van dors omkom nie. God is nie net bekommerd oor die “eie” nie, maar ook oor die “ander”. Dit is die kernboodskap van die Bybel, dat God Homself ook ontferm oor die “ander”, die vreemdeling, die weduwee, die bywoner en die randfigure. Daarom het Christus in die eerste plek vir die “wêreld” en nie vir die “kerk” gekom nie. Johannes 3: 16 sê mos dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eie Seun gegee het.

Was Sara miskien meer gasvry teenoor Hagar, was die wêreldgeskiedenis dalk anders. Daarom roep God ons op om ’n gasvrye gemeente en gasvrye gelowiges te wees, wat die wêreld welkom laat voel. Daarom moet ons ook nie in vyandskap teenoor die Moslems optree nie, maar eerder deur ons gasvryheid en geloofsintegriteit die Moslems  bring tot geloof in Jesus Christus. Die baie Moslems wat onlangs uit Sirië gevlug het na Europa, is meestal so gasvry ontvang deur die Christene van Europese lande, dat baie van hulle tot geloof gekom het in Christus.

Pres. Donald Trump se ongasvrye manier waarop hy alle Arabiere, Mexikane en ander volkere behandel (soos Sara wat vir Hagar en Ismael wegstuur) gaan nie verhoudinge in die wêreld verbeter nie. Wanneer jy olie op ’n vuur gooi, hits jy eerder die vuur aan. Ons moet die misdaad beveg wat party ekstremistiese Moslemgroepe pleeg, maar ons moet nie die Moslems haat nie. God het gesê ons moet die wêreld liefhê, so ook ons Moslembure.

Daarom is dit die Christen se plig om nie die “ander” te verjaag nie. Deur Christelike gasvryheid moet ons die wêreld en die “andersheid van ander” omhels. Dan eers is ons ’n missionale kerk wat iets verstaan van die Missio Dei. Die Christen bou nie mure nie, maar brûe na die “ander”.

Dan kom die Koninkryk van die hemel tussen ons.                                   AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Lewer kommentaar