God gee vir ons vriende

SKRIFLESING: Spreuke 6: 16 – 19, Spreuke 13: 20,  Spreuke 16: 28, Spreuke 17: 17 en Prediker 4: 9 – 12

Ons ken almal die portret of die skildery van die biddende hande. Dit hang in ons huise, dit is op boekmerke en kom selfs dikwels op begrafnisbriewe voor. Maar ken u die geskiedenis van die agtergrond van die biddende hande? Die oorsprong van die biddende hande lê opgesluit in die verhaal van ’n aangrypende vriendskap tussen twee vriende.

Aan die einde van die vyftiende eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht, in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing. Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander een van die inkomste kan studeer.

Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander om te studeer.

Die vraag was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle ’n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ’n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ’n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieel te help met sy studie.

Die twee het ’n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon hy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp. Die baie jare van brute hande-arbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat dit nooit weer die fyn kwas van ’n skilder sou kon hanteer nie.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery van die “biddende hande” oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as ’n simbool van gebed nie.     

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om ’n groot skilder te word, het Albrecht Dürer ‘n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande – die hande wat so hard en so getrou gewerk het sodat Albrecht sy talent kon ontwikkel.

Henry Wadsworth Longfellow sê: “Hoe onvergelyklik goed voel dit om die bekende hand van ’n getroue vriend in jou eie te neem!”

Vriende speel ’n geweldige belangrike rol in ’n mens se lewe. Sonder vriende is ’n mens inderdaad arm. Natuurlik kan vriende jou bou of vriende kan jou afbreek. Juis daarom waarsku Salomo in die boek Spreuke vir ons om die onderskeid te ken tussen goeie en slegte vriende. Goeie vriende bou jou en slegte vriende breek jou af. Een slegte tamatie steek die hele kissie aan en al die tamaties word vrot. ’n Slegte vriend kan jou afbreek, maar ’n goeie vriend kan die beste in jou na vore laat kom.

Salomo waarsku in Spreuke 6: 16 – 19 veral vir ons van sewe eienskappe in vriende wat God haat en waarvoor ons moet oppas:

  • Oë wat straal van hoogmoed. (Ek is beter as jy.)
  • ’n Tong wat lieg. (Vriendskap ken net die waarheid, nie leuens nie.)
  • Hande wat met bloed bevlek is. (Om iemand te oorheers, te manipuleer.)
  • Gedagtes wat met komplotte besig is. (Dinge agter jou vriend se rug te doen.)
  • Voete wat net een koers ken, die van die kwaad. (Met verkeerde goed besig is wat teen die gewete indruis.)
  • ’n Getuie wat lieg. (Skindertong … ken geen vertroue nie.)
  • Iemand wat rusie stook tussen broers. (Humeurige mens wat gou kwaad word.)

Die vriend wat by jou skinder, sal van jou ook skinder. Die vriend wat nie skinderstories by jou aandra nie, sal ook nie van jou skinder nie.

Al my woorde moet van liefde getuig. Daarom moet ek ook kan stilbly oor die kwaad in my vriend se lewe. 1 Korintiërs 13 sê mos die liefde bedek alles, ook my vriend se foute.

My vriend moet op my vertroue kan reken. Daar is niks wat so seer maak soos as ’n mens se vertroue geskaad word nie. My vriend se geheime moet by my veiliger wees as die goud in die Reserwebank.

Ons almal het vriende nodig. Die moderne samelewing maak dat ons dikwels so gejaagd is dat ons verleer om vriende te wees vir mekaar. Ons jaag so na wind, dat ons verleer het om te kuier. Daarom lewe ons in die era waarin die mens nog nooit so alleen gevoel het as juis in hierdie tyd nie. Die moderne tegnologie maak ons net nog eensamer.

Hoe stadiger die vervoermiddels was, hoe meer het mense in die verlede by mekaar uitgekom. In die outyd het die mense al langs die pad van die plaas tot in die dorp gekuier. Op pad terug plaas toe het hulle ook weer al langs die pad terug gekuier. So ’n tog kon maklik oor drie dae strek.

Die vriendskap tussen Dawid en Saul se seun, Jonathan, is een van die mees roerende stories van vriendskap in die Bybel. Ondanks die feit dat Saul Dawid as ’n bedreiging gesien het, het Jonathan Dawid ondersteun en beskerm. Hulle het mekaar met onselfsugtige liefde en lojaliteit bygestaan. Dikwels het Jonathan ook Dawid se lewe gered, op grond van die verbond tussen die twee jongmanne. Selfs ná Jonathan se dood het Dawid sy belofte nagekom deur goed te wees vir Jonathan se nageslag, deurdat hy gesorg het vir Jonathan se seun, Mefiboset.   (1 Samuel 18:1– 4; 1 Samuel 20)

Dit is wonderlik as jou beste vriend nog boonop ’n familielid is. Ek onthou vir Oom Jan van Wyk van Strydenburg. Ek het hom leer ken as ’n jong predikant en toe was hy alreeds in sy negentigerjare. Hy was ’n man van vlekkelose karakter. Rondom 1913 was hy en sy broer baie arm, as gevolg van die “verskroeide aarde” beleid van die Engelse in die Anglo-Boereoorlog. Daar was baie arm blankes. Een uit elke vier Afrikaners was in daardie tyd arm blankes.  Oom Jan van Wyk en sy broer was brandarm. Hulle het ’n paar skape gehad wat hulle laat wei het op huurgrond. Toe kom die groot droogte van 1913 en die weiding raak op en hulle moes met hulle skape trek na Kenhardt se wêreld. Hulle het die skape laat wei al langs die pad en die heinings. Hulle het nie eers geld gehad om iewers te oornag nie. Hulle het in die nag saam met hulle skape in die veld geslaap. Maar hulle karakter is gevorm deur die swaarkry. Later het dit beter gegaan, hulle het grond gekoop en uitgebrei en mettertyd selfs ook welgesteld geword. Die twee broers het alles saam gekoop, die eerste motorkar, die eerste trekker, hulle grond en landbou-implemente. Hulle het nooit vasgesit nie. Hulle het letterlik alles gedeel, behalwe hulle vrouens. Op 65-jarige ouderdom het die prokureur hulle raad gegee om hulle goed te verdeel, ter wille van die boedel eendag. Hulle het ook toe nooit gestry oor aardse goed nie. Oom Jan was later burgemeester van Hopetown. Almal het hom gerespekteer. Hy het soveel respek en karakter uitgestraal dat hy ’n hele gemeenskap se standpunt oor moeilike kwessies kon draai. Die twee broers se vriendskap is deur swaarkry en deur voorspoedige tye getoets en hulle vriendskap het die toets van die tyd deurstaan.   

Natuurlik moet ’n mens nooit kla en sê ek is alleen nie. Die vraag is of ek ’n vriend vir ’n ander een is? Ralph Waldo Emerson sê: “Die enigste manier om ’n vriend te hê, is om ’n vriend te wees.” In ons gemeente het ons juis ’n besondere geleentheid om na mekaar uit te reik.

Natuurlik moet ’n mens op ’n vriend kan reken soos die volgende verhaal aantoon: “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegstoneel teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal”. “Versoek geweier, manskap. Ek wil nie hê een van my manne moet hulle lewe onnodig in gevaar stel nie. Die kanse dat jou vriend nog lewe, is byna nul.” Maar die soldaat het die bevel verontagsaam en tog sy vriend op die slagveld gaan haal. Op pad terug, met sy kameraad se dooie liggaam in sy arms, word hy self ernstig gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het  jou mos gesê jou vriend is dood. Nou het ek julle al twee verloor! Maar sê vir my (gaan hy met ’n bietjie deernis voort), was dit die moeite werd om jou lewe te waag, net om ’n lyk uit te bring?” Die sterwende soldaat se antwoord was: “O, ja Luitenant! U sien, toe ek by hom kom, het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: ‘Ek was seker jy sou kom’.”

Epicurus skryf: “Dit is nie werklik ons vriende se hulp wat ons help nie, maar die rustige wete dat hulle ons sal help …”

Daar is natuurlik altyd die mooiweersvriende, maar daar is ook vriende wat tot in die uiterste by jou sal staan. Soos Cicero gesê het: “In goeie tye ken ons vriende ons; in slegte tye ken ons ons vriende.”

Die Prediker sê: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.”

Jesus Christus is natuurlik ons grootste Vriend. Soos die ou Gesangevers lei: “Wat ’n vriend het ons in Jesus.”

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Heiligmaking as gawe van die Heilige Gees

SKRIFLESING: 1 Petrus 1: 13 – 21 en 1 Pet 2: 9 – 10

Hoe sal u voel om twintig jaar op ’n platform op ’n paal deur te bring? Dit het inderdaad gebeur met ’n groep mense wat heilig wou lewe.

Hulle wou hulle nie besmet met die sondige aarde nie en het toe op platforms op pale gebly. Die ander mense moes vir hulle kos bring deur ’n klein deurtjie in die platform. Hulle het geglo dit is baie moeilik om op ’n paal te sondig. So het baie mense deur die loop van eeue probeer om ’n heilige staat te verwerf sodat hulle heilig kon word.

Eers het hulle ongetroud in kloosters saamgekom en hulle net met die godsdiens besig gehou. Hier en daar het hulle liefdesdiens toegepas. Partykeer was hulle heel goed georganiseerd soos byvoorbeeld die klooster-orde van Clugny wat letterlik duisende mense gehelp het. Maar meestal het hulle die kloosters op afgesonderde plekke gebou, soos onder andere in woestyne. Want so het hulle geredeneer: In die woestyn is daar net sand, geen versoekings nie.

Maar wat kan ’n donker afgesonderde klooster vir ’n stad soos Johannesburg met sy wolkekrabbers en fabrieke beteken of vir ’n plattelandse gemeenskap soos Adelaide of Fort Beaufort? Wat kan ’n paalchristen vir ’n verlore gaande sondaarmens sê? Want die paalchristen sit op ’n paal en die sondaar in ’n sonde moeras op die aarde.

Dan die boodskap vanoggend: Om heilig te word – om soos Jesus te word, beteken nie ek moet ’n paalchristen word nie – maar ’n “op die aarde, elke dag Christen”.

Maar wat beteken die woord “heilig” of “heiligmaking”?

Die Hebreeuse woord wil sê om “af te sonder”, soos wat die stam van Levi afgesonder was. Daar is twee Griekse woorde. Die een beteken: “Om apart te sit vir ’n heilige doel” en die ander beteken “om tot voltooiing of om tot volmaaktheid te bring.”

Die woord heiliging wil dus eintlik sê: Om myself af te sonder van die sonde, sodat ek algaande tot die volmaakte beeld van Christus groei. Maar hoe word ek heilig? Die Rooms Katolieke Kerk leer dat jy heilig word deur goeie werke, die mis gereeld te beoefen en om ’n ekstra myl te stap soos om byvoorbeeld ongetroud te bly, en ’n monnik of ’n non te word.

As Protestante glo ons egter vanuit die Skrif dat heiligmaking eintlik ’n geskenk is. Dit is ’n geskenk van God. Dit word aan my gegee met my wedergeboorte. As ek wedergebore is, dan weet ek, ek is heilig – ek is ’n nuwe mens.

Want luister wat staan in verse 18 en 19: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is in julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” Met die implikasie daarvan in Hoofstuk 2: 9: “ Julle daarenteen is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …”

Kortom gestel, Adelaide en Fort Beaufort is heilige gemeentes. Jy is heilig, jy is wat Christus van jou gemaak het: ’n Heilige. Jy hoef dit nie nog te word nie. JY IS HEILIG! LEEF DAN HEILIG!” Moenie op ’n paal gaan bly nie, maar leef heilig “op die aarde, elke dag”.

Maar hoe leef ek elke dag heilig? Lees wat staan in vers 13: “Wees verstandelik wakker.” Die ou vertaling lees: “Omgord julle lendene.” Wat beteken dit? Petrus gebruik ’n beeld uit sy tyd. In die destydse Romeinse Joodse wêreld het mans almal lang rokke gedra. Wanneer hulle egter begin werk het, het hulle hul rokke opgetrek en met ’n gordel vasgebind. Dan was hulle gereed vir inspanning. Maar Petrus sê ons moet ook ons verstand inspan. Want die Christelike godsdiens is meer as net emosies, gevoel en belewenis. Dit is ook ’n redelike godsdiens. Dit moet nie net my hart en my siel aanspreek nie, maar ook my verstand. Dit beteken “bedink” en “oordink” die tien gebooie. Bedink wat jy was en wat jy nou is in Christus Jesus.

Maar Petrus sê ook in dieselfde vers: “Wees nugter.” Moenie dat julle verdoof en bedwelm word deur hierdie wêreld nie. Want ’n wêreldgees verdoof en bedwelm baie mense. Eintlik sê Petrus: Julle asems moet nie ruik na materialisme, na uitspattigheid en onkuisheid nie. Vers 14 sê ons moet nie ons lewens inrig volgens ons sondige begeertes nie. Ons moet anderste mense word, met anderste begeertes. Ons andersheid beteken ons is vreemdelinge en reisigers op hierdie aarde. Christene is tentbewoners. Alhoewel ons in hierdie wêreld is, is ons nie van hierdie wêreld nie. Ons het ’n aardse paspoort en ’n hemelse identiteitsdokument. ’n Aardse paspoort met ’n werkspermit om in hierdie wêreld te leef en te werk. En ons het ’n hemelse identiteitsdokument van die Koninkryk van God. Ons behoort in die hemel, maar ons werk op die aarde. Ons het dus ’n tydelike paspoort om God se opdrag uit te voer, naamlik die uitbreiding van God se Koninkryk. God wil ons nie opsluit in ’n donker muwwerige ou klooster nie. Die klooster wat God ons gee, staan in vers 15. U hele lewenswandel, u hele lewe, die hele wêreld is u klooster. Leef heilig en afgesonderd van die sonde – binne-in die wêreld.

My werksplek, my huisgesin, my ontspanning, my sosiale lewe, my vriendekring is een stuk kloosterlewe.

My lewe en my werk moet afgesonderd wees vir Christus. Maak nie saak hoe sekulêr u werk is nie. Want Anglo-American die multi-miljoen maatskappy; Shell die oliereus; De Beers-myne; Iskor wat in die nag soos ‘n melkweg lyk; die fabrieksreuse met hulle fabrieksrook, derduidende werksmense en digitale klokmasjiene; die groot winkelsentrums met hul reklame, promosies en uitverkopings; die magtige staatsdiens met sy vorms en nogmaals vorms, wat jou van amptenaar tot amptenaar stuur, is alles Koninkryk van God.

Die skool, die winkel, die slaghuis, die bank en besighede en elke plaas, is alles Koninkryk van God. Die manier waarop jy werk, die manier waarop jy optree en praat, moet soos ’n kerkklok die liefde van God uitbeier.

Christus is Koning op my plaas, in my besigheid, in die skool, in my beroep en in die staatsdiens. Jy is God se verteenwoordiger. Daardie roetine-werk moet soos die gebeier van ’n kerkklok al harder en harder lui – Aan God al die eer, aan God al die eer!

In die klassieke Rooms-Katolisisme het Rome geglo dat winkeliers en bankiers reguit hel toe gaan, want hulle vra wins en rente. Toe kom Calvyn op die toneel en hy sê: Bankiers en winkeliers is met ’n hoog-heilige taak besig. Billike rente en billike wins het ’n hoër doel, dit moet ingespan word om my medemens te dien.

Of jy ’n dokter, onderwyser, klerk, boer, predikant, sekretaresse, verpleegster, prokureur, winkelier, bankier, of kassier is of sitrus of avokado’s toedraai – jy het ’n heilige beroep. Want God verwag dat jy jou werk op ’n anderste wyse sal doen.

Ook jou huislike lewe moet staan in die teken van “Ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Ook jongmense moet afgesonderd vir die Here leef – jy moet anders as die ander jongmense leef.

Sommige terreine is nie meer heilig as ander nie. Die kerk is net so heilig soos die skaapkraal en die winkelvloer. Die mens voor die kasregister se werk is net so heilig soos die man wat op die kansel staan.

Die Rooms Katolieke denke, maar ook die meeste van ons se denke is vasgevang in ’n twee-terreine leer. Daar is ’n heilige kant en ’n onheilige kant. Mense praat van geestelik en beestelik. Maar dit is ’n verkeerde manier van dink. Christus het die hele kosmos gered. Alles op hierdie aarde is aan Christus onderwerp.

Baie klassieke skilders het vir Jesus en Maria geskilder in ’n ligkol. Vir Josef en die skaapherders skilder hulle in die skaduwee. Jesus en Maria is heilig, daarom word hulle in die ligkol geskets. Josef en die herders is onheilig, daarom word hulle in die skaduwee geskets.

Dit is egter verkeerde teologie. Christus het nie halwe werk gedoen nie; Christus het alles in beginsel heilig gewas in Sy bloed. Op alles moet Christus se lig val.

U sien, kortom is my hele lewenswandel, elke dag, elke minuut, elke jaar, elke plek, elke geleentheid heilig met ’n heilige opdrag. Koop dit uit! U sien dus, die leraar is eintlik maar net die toeruster van die gemeente. U is die eintlike prediker! U preek wel nie in die kerk nie, maar wel by die werk. Nie soseer met woorde nie, maar met die manier waarop u werk en getuig. U moet so werk, so praat, so dink en so getuig dat u hele lewe een stuk preek word. Ja, een groot stuk verkondiging van God se liefde en genade in u lewe.

“The man must be the best sermon his friends and enemies ever see or hear.”

U hele lewe, van Sondagoggend in die kerk tot Saterdagaand by die partytjie moet nuut wees, moet ’n nuwe heiligheid weerkaats. Om elke dag heilig te leef op die aarde is een van die moeilikste toetse vir ware Christenskap.

Maar heiliging is ’n voortgesette proses. Die Griekse werkwoord wat hier in vers 16 gebruik word vir “wees heilig” is in die toekomende tyd in ’n bevelsin geskryf. Dit wil soveel sê as dat heiliging nie ’n bushalte is nie, maar ’n pad is waarop ek stap. Want hoe heiliger ek word, hoe meer ontdek ek hoe onheilig ek is.

  • Hoe meer ek vrede maak met my medemens, hoe meer ontdek ek hoe ek in onvrede met my medemens lewe.
  • Hoe meer ek bid, hoe meer ontdek ek dat ek nie kan bid nie.
  • Hoe meer sedelik ek leef, hoe meer ontdek ek hoe onsedelik ek leef.
  • Hoe meer ek liefde aanleer, hoe meer ontdek ek hoe liefdeloos ek is.

U sien dus ek moet groei in heiligheid. Ek moet wees wat ek reeds in Christus is. (Ek kan dit nie word nie, want ek is dit alreeds in Christus Jesus.)

Die rede waarom ek heilig moet wees, lees ek in vers 16: “Want Ek, die Here jou God, is ’n heilige God.” Daarom begin ons elke erediens met ’n aanbiddingsgesang, want God is heilig. Brakwater pas nie by ’n vars fontein nie. Net so pas onheilige skepsels nie by ’n heilige God nie. Jy is heilig gemaak. Wees dan heilig, nie op ’n paal nie – maar op die aarde, elke dag.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die ander vrou, wat anders is

SKRIFLESING: Gen 21: 8 – 21 

Abraham is die vader van die geloof. Die verhaal van God se bemoeienis met die mens begin by Abraham. Die Here het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs laat trek na ’n vreemde land sonder enige sekuriteite. Slegs met die belofte van ’n land en ’n baie groot nageslag. Abraham en Sara het oud geword en hulle was kinderloos.

Sara het toe maar op haar eie ’n plan gemaak. Sy het voorgestel dat haar man by haar Egiptiese slavin Hagar gaan slaap, sodat Hagar ’n kind kan verwek wat sy haar eie kind kan noem. So is Ismael gebore. Tot op die dag, toe die drie besoekers by Abraham se tent by die groot bome Mamre opdaag en voorspel dat Sara oor ’n jaar haar eie kind sal hê. Dit was dan ook so. ’n Jaar later is Isak gebore en het Sara haar eie bloedkind gehad.

Skielik was Hagar nie meer vir Sara slegs ’n slavin nie, maar “die ander vrou, wat anders is”. Daar het jaloesie begin ontwikkel tussen die twee vroue. Hulle het in mekaar ’n bedreiging begin sien.

Toe Hagar eendag vir Sara gelag het, was die vonk behoorlik in die vuur en kon Abraham nie meer vrede handhaaf tussen Sara en Hagar nie. Sara wou van hierdie “ander vrou” ontslae raak deur ’n onbillike versoek tot Abraham te rig dat Hagar en haar kind weggestuur moet word. Abraham se erfporsie moet na Isak gaan en nie na Ismael nie. Abraham was voor ’n onmoontlike keuse, maar die Here het hom verseker dat God self sal kyk na Hagar en die kind Ismael. Met ’n swaar hart het Abraham die kind Ismael, met kos en ’n velsak water, op Hagar se skouer getel en haar weggestuur na die dodelike Berseba woestyn.

Vir Sara was Hagar “die ander vrou”, die vyand, die bedreiging. Sy was immers boonop ’n Egiptiese vrou en het daarom nie ingepas by haar nuwe status as moeder van die verbondskind Isak nie. Maar God oordeel anders oor Hagar, “die ander vrou”. God sien nie haar “andersheid” raak nie.

Hy sien haar radeloosheid en nood raak. Toe Hagar se water opraak, het sy die seun Ismael onder ’n struik neergesit en so ver gaan sit soos wat ’n pyl uit ’n boog skiet. Sy wou hom nie sien sterf nie. ’n Mens kan jou indink in hierdie “ander vrou” se onbeskryflike nood en leed. Uitgeworpe om in die Berseba-woestyn te sterf, saam met haar kind. Dan lees ons hoe die Engel van God uit die hemel vir Hagar kom vertroos met die belofte dat haar seun Ismael ’n groot nasie sal word. God het haar oë oopgemaak en sy het ’n waterput gesien.

Dan lees ons in vers 20 hoe hierdie seun Ismael grootgeword het en handig met die pyl en boog geword het. In die Paranwoestyn het hy opgegroei en sy moeder het hom met ’n Egiptiese meisie laat trou. Uit Ismael se nageslag het daar ook twaalf stamme gestam. Ismael se nageslag het later die Moslems geword.

Sara was bekommerd om haar “eie” te beskerm en het daarom “die ander vrou, wat anders was” weggestuur.

Daarom kan ons aflei dat Sara deur haar optrede veroorsaak het dat die Jode en Christene afstammelinge van Isak is en dat die Arabiere, wat meestal Moslems is, afstammelinge van Ismael is.

Vandag is die spanning tussen die Christene en die Moslems die grootste brandpunt in die Midde-Ooste en in die ganse wêreld.

Deur Sara se wegstuur van Hagar en die kind Ismael het sy onvrede gebring tot vandag. Die Bybel sê tereg ook daar sal nooit vrede tussen die twee groepe kom nie.

Daarom kan die vernietiging van die Twin Tower Internasionale Handelsentrum deur die Moslems op 11 September 2001 direk toegeskryf word aan die haat tussen Christene en Moslems. Was Sara maar nie so jaloers en Hagar nie so uittartend met haar lag nie! Hoe anders sou die wêreld dalk nie vandag gelyk het nie!

Wonderbaar is dat God hom ontferm het oor Isak én Ismael. God het dit beskik dat Isak nie geoffer word in Moria nie en dat Ismael nie in die woestyn van dors omkom nie. God is nie net bekommerd oor die “eie” nie, maar ook oor die “ander”. Dit is die kernboodskap van die Bybel, dat God Homself ook ontferm oor die “ander”, die vreemdeling, die weduwee, die bywoner en die randfigure. Daarom het Christus in die eerste plek vir die “wêreld” en nie vir die “kerk” gekom nie. Johannes 3: 16 sê mos dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eie Seun gegee het.

Was Sara miskien meer gasvry teenoor Hagar, was die wêreldgeskiedenis dalk anders. Daarom roep God ons op om ’n gasvrye gemeente en gasvrye gelowiges te wees, wat die wêreld welkom laat voel. Daarom moet ons ook nie in vyandskap teenoor die Moslems optree nie, maar eerder deur ons gasvryheid en geloofsintegriteit die Moslems  bring tot geloof in Jesus Christus. Die baie Moslems wat onlangs uit Sirië gevlug het na Europa, is meestal so gasvry ontvang deur die Christene van Europese lande, dat baie van hulle tot geloof gekom het in Christus.

Pres. Donald Trump se ongasvrye manier waarop hy alle Arabiere, Mexikane en ander volkere behandel (soos Sara wat vir Hagar en Ismael wegstuur) gaan nie verhoudinge in die wêreld verbeter nie. Wanneer jy olie op ’n vuur gooi, hits jy eerder die vuur aan. Ons moet die misdaad beveg wat party ekstremistiese Moslemgroepe pleeg, maar ons moet nie die Moslems haat nie. God het gesê ons moet die wêreld liefhê, so ook ons Moslembure.

Daarom is dit die Christen se plig om nie die “ander” te verjaag nie. Deur Christelike gasvryheid moet ons die wêreld en die “andersheid van ander” omhels. Dan eers is ons ’n missionale kerk wat iets verstaan van die Missio Dei. Die Christen bou nie mure nie, maar brûe na die “ander”.

Dan kom die Koninkryk van die hemel tussen ons.                                   AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Die mens deel en God vermenigvuldig

SKRIFLESING: Mark 6: 30 – 44 en Mark 8: 1 – 7

Ons almal ken van skaars tye. Dit is tye wanneer jou inkomste beperk is, wanneer dit droog is, wanneer jou gesondheid sukkel, wanneer jou lewenskrag wil ingee of wanneer hoop skaars is. Ons almal het al gehoor van 1913 en 1933 se depressie en van die skaarste in die Anglo-Boereoorlog. Ons voorgeslagte was meestal arm  en niks is weggegooi nie. Die Spoorweë was destyds vir baie arm gesinne die oop deur na ’n nuwe toekoms. Daar is met groot spaarsamigheid gewerk met alles. Niks is weggegooi nie. Sedert die 1960’s het dit begin beter gaan met die Afrikaners. Tans leef ons in ’n era waar mense nog finansiële bekommernisse het, maar ons leef nie meer in skaarste nie. Van alles het ons oorvloed. Dit veroorsaak dat ons op ’n eiland lewe en nie werklik tred hou met die armoede in ons land en wêreld nie. Armoede in die derde wêreld en ontwikkelende wêreld neem skrikwekkende afmetings aan. Armoede het vele oorsake.

Sommige armoede bring mense oor hulself, maar dikwels is armoede die vergrype van een mens of volk oor ’n ander mens of volk. Mense kan hulle so vergryp aan rykdom, dat hulle baie min vir die ander oorlaat om van te leef. Die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Nepotisme, vermorsing en korrupsie veroorsaak ook dat ons land nie vooruit kan gaan nie. Politieke vergrype was nog altyd ’n sekere oorsaak van armoede.

Behalwe finansiële armoede en broodsgebrek, is daar ook emosionele armoede. ’n Voorbeeld is wanneer jy velhonger is dat iemand jou moet aanraak of vir jou ’n omhelsing moet gee. Armoede kan dus verskeie gesigte hê.

In ons gelese gedeelte lees ons van die eerste vermeerdering van die brood. Die eerste vermeerdering van die brood het onder die Jode plaasgevind; ons lees dat hulle op groen gras gesit het en dat daar twaalf mandjies kos opgetel is, wat ’n simbool is van die twaalf stamme van Israel. Die tweede vermeerdering van die brood was in ’n woestyngebied en daar is sewe mandjies kos opgetel, wat ’n simbool is van die wêreld. Jesus het dus met die twee verhale van die vermeerdering van die brood en vis, beide die Jode en die heidense wêreld in die oog gehad.

In beide wonderverhale was daar ’n tydelike skaarste aan kos. Jesus was nie net begaan oor hulle geestelike armoede nie, maar ook oor hulle fisiese behoeftes. Daarom gee Hy die opdrag aan die dissipels (die kerk) om die groot skares mense te voed. Dit lyk na ’n onbegonne taak. Hoe kan ’n paar brode en ’n paar vissies vir duisende mense kos gee? Tog gee die Here vir die dissipels (die kerk) die opdrag om in geloof die taak aan te pak. Daarom as ons oor die missionale taak van die kerk praat, bedoel ons dat die kerk geroep word om alle soorte armoede aan te spreek.

Dit kan fisiese armoede, geestelike armoede, emosionele armoede of selfs net mense wees was velhonger is. Die kerk is geroep om in alle soorte armoede ’n verskil te maak. Dit help nie jy bring vir iemand die liefde van Jesus, maar jy laat hom of haar honger gaan slaap nie.

Die ontsettende omvang van armoede veroorsaak dat ’n mens somtyds apaties word en verlammend niks doen om ander te help nie. Natuurlik kan ons nie al die armoede en ellende in die wêreld aanspreek nie. Maar ons kan vir indiwidue hoop bring. Hulle vertel van die man wat elke oggend langs die seestrand gestap het en seesterre wat uitgespoel het deur die nag, teruggegooi het agter die branders. Maar daar het honderde seesterre op die strand gelê. ’n Verbyganger spot met die weldoener en sê vir hom of hy nou dink dat hy enige verskil kan maak. Die weldoener gooi weer ’n seester agter die branders en sê: “Vir die een het dit ’n verskil gemaak!”

So kan ’n mens iemand in jou lewe aanneem en in  daardie betrokke persoon of dier se lewe ’n verskil maak. Jy kan vir iemand wat swaar kry, help. Jy kan vir ’n eensame bejaarde versorg met jou kuiers en omgee. Jy kan jou oor die straathonde wat verhongerd rondloop, ontferm. ’n Mens word eers ’n mens as jy kan versorg.

Daarom moet ons nooit dink dat ons beskeie bydrae van geen waarde is nie. Die Here het met die eerste vermeerdering van die vyf brode en twee vissies vir duisende kos gegee. Met die tweede vermeerdering van sewe brode en ’n paar vissies is ook vir duisende kos gegee. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Ons moet God egter vertrou dat Hy die bietjie wat ons offer ryklik sal seën om ’n daadwerklike verskil te maak.

Dit is vir ons ook ’n troos in ons lewe om te weet as ons tye van skaarste beleef, dat God by magte is om in die skaarste ryklik in al ons behoeftes te voorsien. Ek hoor dikwels hoe boere sê: “Ek weet nie hoe ek deur hierdie droogte gekom het nie. God het net voorsien.” ’n Boer van Strydenburg het eendag aan my bely dat hy in die groot droogte van 1983 drie kinders op Universiteit gehad het. As hy vandag sy sommetjies maak, het hy geen idee hoe hy deur daardie tyd van skaarste gekom het nie. Dit kan net God wees.

Daarom het mense in tye van skaarste altyd ’n ervaring van God se onvoorwaardelike sorg en getrouheid. Dit is ons troos as kinders van God dat die hemelse Vader elke dag vir ons sal voorsien in alles wat ons nodig het.

In die gelese gedeelte sien ons dat die Here ’n jammerte en ’n deernis vir die mense gehad het. Ons kan dikwels so afgestomp word deur die ellende van die wêreld, dat ons ons hartseer vir mense verloor. Dan word ons apaties en veroordelend.

Ons lees in die Markus 6-weergawe met die eerste vermeerdering van brood, dat die Here die mense in groepe van 50 en 100 laat sit het. So moet armoede-sorg deur die kerk altyd goed georganiseer word, sodat die hulp by die regte mense kan uitkom. God is ’n God van orde. Leeglêers en luiaards kan nie ontvang van die liefdesgawes van die gelowiges nie.

Daarom is barmhartigheid nooit ’n blanko tjek aan mense wat te lui is om te werk nie. Die Bybel skryf ’n hoë werksetiek baie hoog aan. Ons moet nie lui mense in hulle laksheid aanmoedig nie. Daarom het ons ’n fyn onderskeidingsvermoë nodig, om te help daar waar dit regtig saak maak.

Ons lees ook dat Jesus die kos geseën het. So moet ons ook vra dat God vir ons sal seën by die gebruik van Sy gawes. Die gebruiklike tafelgebed is een van ons mooiste gebruike in ons geestelike lewe. So moet ons Hom ook dank vir reën en elke goeie gawe wat Hy vir ons in die lewe skenk.

Daarom moet ons nooit moedeloos raak oor ons eie lewensnood of oor die wêreld se lewensnood nie. Wat ons het, kan deur God vermeerder word.Daarom kan ons getroos lewe en werk. God kan van min, baie maak. Onthou die wonderverhaal van die arm weduwee wie se olie nie opgeraak het nie. Sy kon al haar skuld betaal en weer die vryheid van die lewe geniet.

Daarom moet ons dit met God waag in ons lewensnood! Daarom moet ons dit met God waag as ons ander wil help. God ken van vermenigvuldig.

Die mens deel en God vermenigvuldig !           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geloof is om die onsienlike te sien

SKRIFLESING: Heb 3: 12 – 14 en Heb: 6: 1 – 12 en  Heb 10: 23 – 25 en Heb 11: 1 – 40 en Heb 12: 1 – 3

Die boek Hebreërs handel oor geloof. Die skrywer se bedoeling is nie om mense te laat glo nie, maar om mense wat reeds in die geloof is, te help om in die geloof te bly. Want sien, geloof kan maklik verweer word – soos skokbrekers van ’n voertuig wat verweer op grondpaaie. Geloof is iets lewendigs; daarom kan dit groei of sterf. (Dit is soos ’n verhouding.) ’n Mens kan so gewoond raak aan die Christelike geloof, dat jy later begin neutraal staan. Dan is dit nodig om weer jou geloof te versterk. Tereg moedig Paulus in 2 Tim 1: 6 vir Timotheüs aan om “die geloof weer soos ’n vuur aan te blaas.

Wanneer die Hebreërs-skrywer sy brief skrywe, rig  hy dit aan gelowiges wat nie net traag (6:12) geword nie, maar ook later afvallig (6:6) geword het en ook nie meer kerk toe kom nie (10:25). Die vroeë Christene het vervolging beleef en baie skokke ervaar, wat hulle geloof begin deurstamp het. Hulle geloof het as’t ware begin gly en hulle het apaties geraak. Dikwels gebeur dit dat gelowiges in hulle vroeë tienerjare geestelik baie aktief was en besondere geloofservarings op geestelike kampe gehad het. Dit kan gebeur dat in latere volwassenheid jy in jou geloof lou raak, as gevolg van al die eise van volwassenheid.

Daarom beskryf die Hebreërs-skrywer die geestelike lewe soos ’n marathon wedloop of ’n pelgrimstog. Dit is veeleisend en vermoeiend. Jy moet VASBYT en altyd jou einddoel voor oë hou.

Jy moet jou aandag gedurig op Jesus Christus hou: die Begin en Voleinder van jou geloof. Dikwels kan ons ons geloofsfokus verloor. Coenie Burger vertel toe hy in Amerika op reis was, tydens ’n sneeustorm, hy so op die sneeu gekonsentreer het, dat hy al stadiger begin ry het. Die ander voertuie het verby hom geflits. Eers toe hy geleer het om eerder op die pad as die sneeu te konsentreer, kon hy weer vinniger ry. Aanvanklik het die sneeu hom paniekbevange gemaak. Hy het nodig gehad om sy fokus te herwin op die pad. So moet ons ook gedurig ons geloofsfokus op Jesus Christus herwin. Dit is soos ’n akrobaat wat oor ’n staaldraad loop. Hy konsentreer op die einde van die kabel. Hy kyk nie agtertoe of ondertoe nie. Nee, hy hou die oog op die eindpunt, daar waar die rooi lint vas is. Sy fokuspunt gee vir hom balans.

Wat is geloof ? Vers 1 begin so: “Εστι δὲ πίστις” Geloof is dan …

So begin ’n definisie. Geloof is dan om seker te wees wat ons hoop, om oortuig te wees van wat ons nie sien nie … Geloof is die viering van die objektiewe werklikheid. Nie jou subjektiewe geloof nie, maar die objek van jou geloof staan vas. Jy kan maar twyfel aan jou geloof se sterkte, moet net nie aan Christus twyfel nie. Dit gaan met ander woorde nie oor die subjek van jou geloof (ekself) nie, ook nie oor die werkwoord “geloof” nie, maar oor die objek, dié EEN in wie jy jou geloof stel.

Modernisme meet en evalueer alles in terme van wat gesien kan word. Maar ons moet onthou die sienlike is slegs ’n enkele dimensie. Agter die sienlike is daar ook die onsienlike as nog ’n ander dimensie. Baie dinge kan ons nie met die blote oog sien nie, maar dit is beslis daar. Niemand sal ontken dat daar radiogolwe, televisiegolwe en selfoonseine is nie. Tog kan ’n mens dit nie met die blote oog sien nie.

’n Foto kan maklik bedrieg in een dimensie. Somtyds moet ’n mens dieper en langer kyk.

Bestudeer byvoorbeeld die meegaande foto. As ’n mens kyk, sien jy die man se linkersykant. As jy ’n bietjie langer kyk, dan kry jy ’n vooraansig van die man. Dit hang af hoe diep jy kyk. Agter die sienlike is die onsienlike.

Is jou huis nog daar waar jy dit vanoggend gelos het ? Jy kan dit mos nie nou sien nie – maar jy vertrou jou vorige ervarings.

Sienlike dinge is een-dimensionele geloof. Ons sig is beperk. Ons kan nie eers baie ver voor ons uit sien nie. Onsienlike dinge is driedimensionele geloof. In die 3D-films het jy ’n spesiale bril nodig om die film te sien. So is geloof ’n “bril” wat jou in staat stel om die onsienlike te sien.

Die Hebreërs-skrywer sit as’t ware vir ons 3D-geloofsbrille op. Vanuit die getuienis van Abel, Henog, Noag en Abraham sien ons die onsienlike God besig om te werk in die geskiedenis. Die geloofshelde stel as’t ware ons geloofsoë in soos wat ’n mens ’n verkyker instel.

Ons is kinders van Abraham. Hy is die vader van geloof. Ons moet self ook soos ons geloofsvader Abraham geloofsmense word. Abraham het uit Ur van die Chaldeërs getrek en nie geweet waar hy sal uitkom nie. Hy was sy lewe lank ’n tentbewoner op reis na die onsienlike. Hy het ook gesterf sonder om die sienlike te bereik in sy aardse lewe. Hy kon enige dag kies om terug te keer na die sienlike land van Ur van die Chaldeërs, maar hy het verkies om op reis te wees na die onsienlike belofte. Hy het nie geweet waar hy sou uitkom nie, maar hy het uitgesien na die stad van vaste fondamente. Daarom beskryf hy homself as ’n vreemdeling en bywoner, op pad na ’n beter vaderland.

As ek moet kies tussen die sienlike en onsienlike, kies ek verreweg die onsienlike!

Wie die sienlike verkies, moet kies om soos ’n dier sonder hoop te sterf. Wie die onsienlike verkies, kies om te leef en te sterwe soos ’n gelowige. Beslis kies ek laasgenoemde. Maar dit vra volharding. 

Karl Bath sê HOOP is om môre se musiek reeds vandag te hoor. GELOOF is om op die maat van daardie musiek te dans.

Wanneer Martin Luther oor geloof skryf, sê hy daar is twee soorte geloof:

Geloof omtrent  God  … sekere kennis van God.

Geloof in God … dat ek my volle vertroue in Hom plaas.

Om te glo is, om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. ’n Swart koei eet groen gras, en gee wit melk, waarvan ons geel botter maak. Ek verstaan nie die chemiese werking nie, maar ek geniet die botter op my brood. Ek sien oor die TV die rugbywedstryd, maar kan nie sien hoe die sein of satelliet werk nie – maar ek gooi nie die TV by die venster uit nie. Neil Armstrong het op die maan geland. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit vul my met verwondering. Ek was ’n klein seuntjie toe die eerste mens op die maan geland het. Toe ek dit gehoor het oor die radio, het ek buitentoe gegaan en probeer om die man op die maan te sien. Nodeloos. Ek het hom nie gesien nie. Tog neem dit niks weg van die wetenskaplike feit dat daar ’n man op die maan geland het nie.

Die wetenskap-fakulteite aan Universiteite is altyd besig om die onsienlike sigbaar te maak. Wat onbekend is, bekend te maak. Dit is ’n nimmereindigende soektog, wat fassinerend is, want ons ken en sien nog so min.

Om gelowig te wees, beteken om die onsigbare te leef, met ’n lewende hoop!

Geloof het ’n besliste fondament, skryf Martin Luther: Ek het by die venster uitgekyk en die sterrekoepel gesien, tog het ek nie ’n sigbare pilaar gesien wat die uitspansel ondersteun nie. Vervolgens het ek ’n groot wolk gesien wat met ’n groot gewig in die lug gehang het, tog het ek geen fondament gesien waarop dit rus nie; dit het vlugtig gegroet en verby gevaar. So kry jy altyd mense wat na pilare en fondamente soek om  hul vrees en bewing te stil, asof hulle hemel in duie gaan stort. Hulle besef nie daar is ’n ondersteunende fondament nie – hulle geloof!

Ons kan nie eers na die son kyk met ons blote oë nie. Hoe kan ons dan nog na die Skepper van die vuurrooi son kyk? Daarom het niemand God nog gesien nie. Selfs aan sy dienaar Moses het Hy verskyn in die woestyn in ’n brandende braambos wat nie uitgebrand het nie. Moses kon maar net sy skoene uittrek vir Jahweh. God het ook nie Moses se vraag “Wie is u ?” beantwoord nie. Al wat God gesê het, is dat HY IS WAT HY IS. God laat Hom nie verstaanbaar, kenbaar of sigbaar maak deur die definisies en proefbuise en mikroskopiese lense van mense nie.

Die Skepper kan tog nie objek word van sy subjek nie. Paulus is met blindheid geslaan toe die Here aan hom verskyn het op die pad na Damaskus. Daar in sy blindheid het hy eers vir God gesien. Slegs in die menswording van Jesus Christus het ons ’n blik gekry op die Seun van God. In Sy Godheid het ons Jesus ook nog nie gesien nie. Die Vader werk agter die skerms, die Seun verskyn gedeeltelik in sy mensheid en die Gees werk soos die wind. Jy hoor die wind en sien wat die wind doen, maar jy kan self nie die wind sien nie. Daarom is die vleesgeworde Seun van God in sy mensheid vir ons herkenbaar in ons eie taal en kultuur, maar in sy Godheid vir ons versluier, sodat ons nooit ’n te vaste greep op God kan kry nie.

Seker een van die mooiste beelde om geloof te verduidelik is die van die blinde seun wat dit geniet om met sy maats vlieër te speel. ’n Verbyganger wou met hom gekskeer: “Waar is jou vlieër? Jy weet nie of dit in die lug is en of dit op die grond is nie.” Hy antwoord: “O ja, dit is ’n hele ent die lug in op.” “Hoe weet jy dit, jy kan dan nie sien nie?” Die blinde seun antwoord: “ Nee, dit is waar, ek kan dit nie sien nie, maar ek kan dit voel aan die trek van die lyne …”

So kan ons die onsienlike God ook nie sien met ons blote oë nie. Tog ervaar en beleef ons God in ons persoonlike lewens en in die getuienisse van ander mense. Ons voel hoe Hy aan ons lewenslyne trek. Dit is ’n baie persoonlike en intieme ervaring. Ons hoor ook van hoe ander mense getuig van hoe God aan hulle lewenslyne trek. Die boek Hebreërs gee vir ons ’n lang lys van mense, geloofshelde se getuienisse van hoe hul God beleef.

Geloof is nie iets doods, wat in ’n museum tuishoort nie. Nee, dit is ’n lewende, persoonlike verhouding met die lewende God. Dit is om God te sien in die onsienlike en sienlike dinge. Dit is om God te beleef in persoonlike ervarings en in gedeelde ervarings van geloofshelde in die kanon van die Bybel, asook in die moderne tyd. Geloof is om dieper te kyk, met ’n beter perspektief. Ja, om God te sien in die onsienlike.

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy foto’s ontwikkel, sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy foto’s. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe.

Daarom is die Hebreërs-skrywer se doel om mense te help om hulle geloof te behou en terug te kyk hoe die Here in die verlede die geloofshelde van die Bybel gehelp het. Die geloofshelde wat beskryf word in Hebreërs word voorgehou as gelowiges wat volhard het in hulle geloof tot die einde.

In my persoonlike lewe kan ek ook getuig hoe God deur my ervaring van Sy teenwoordigheid in my lewe, my geloof versterk het. Ek ervaar God op soveel talryke maniere in my geloof, dat dit my geloof bou. Ek sien as’t ware hoe God my help. Daarom is die ervaring wat jy van God beleef, ook ’n bewys van Sy bestaan en lewende teenwoordigheid in my lewe.

Moenie dink dat jy altyd reg sien nie! Geloof is om te leer om “te sien.” AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort .)