Selfbeheersing is die beste wapen


SKRIFLESING: Spreuke 16: 32; 22: 24 en 29: 11

Prof. Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers het (1162 – 1227).

Die koning was lief vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hulle uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ’n haas het hulle geweet waar om vir die prooi te jag.

Aan die einde van een van sy middag-jagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur om nog ’n bietjie alleen in die woud te vertoef. Ook sy mak valk het hy huis toe gestuur, want dié valk het geweet waar die paleis is.

Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en kon nêrens ’n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ’n krans en hy hou sy perd in.

Hy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy hand.

Die valk gaan sit toe op ’n hoë rots en kyk na die koning. Die koning is vies, maar dink dit was ’n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water wat teen die krans afloop. Na ’n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer oor sy kop en stamp die beker ’n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as hy dit weer doen. Na ’n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit die hand van die koning. Dit rol tussen ’n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend dat hy sy swaard swaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ’n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy ontsteltenis  ’n erg ontbinde dooie slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water drink, sou hy sterf. Skielik besef hy dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, omdat dié hom wou red van ’n gewisse dood. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

Hoe dikwels verloor ons nie ons humeur en tree uit suiwer woede op nie. Byvoorbeeld: Ons is op die pad humeurig teenoor mekaar. Wanneer die staal en die glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons geduld met ander mense op die pad. Padwoede is ’n algemene probleem op Suid-Afrikaanse paaie. Ook in die huwelik en gesin verloor mense hulle humeur met diegene wat die naaste aan hulle staan.

Ons is veral ook ongeduldig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op ons voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Ons kan ook so maklik vir God kwaad raak of dink God kom ons te na.

Mense is ook ongeduldig met hulself. Soms kan mense  hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en selfs hul besittings. En humeurig teenoor hulself. Humeurige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ’n simptoom dat ons van die Heilige Gees vervreemd is.

In Spreuke 22: 24 – 25 staan daar: “Moenie maats maak met ’n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.”

Teenoor humeur staan geduld. Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde”.

In Spreuke 16: 32 staan daar: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Duidelik kan ’n mens aflei dat Koning Salomo ’n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met dié twee deugde kan jy ’n stad inneem.

Daarmee ontken ons nie dat daar so iets is soos woede nie. Inteendeel, dit is ’n menslike emosie. Ons kan dit nie ignoreer nie. Koning Dawid sê in Ps 30: 6 dat selfs “God se toorn net ’n oomblik duur, maar sy goedheid lewenslank.”

Wanneer ’n mens woede onderdruk of ontken, is dit net so goed as wat jy ’n klomp giftige afvalstowwe begrawe. Later skep dit oneindige probleme. Wanneer dit begin lek, vergiftig dit stadig maar seker ons liggaam, ons gedagtes en ons verhoudinge. Wie woede opkrop, skep in homself ’n oorlog. Passiewe aggressie ontplof later in ’n onbeheerste woede-uitbarsting.

’n Mens moet kan erken dat jy woedend is. Maar om daaroor uit te bars is nie konstruktief nie. ’n Mens moet eerder gaan soek na die oorsaak van jou woede en dit beheersd aanspreek, soos om stoom geleidelik los te laat. Die Here sê mos dat as jy kwaad is, jy nie moet sondig nie.

Wanneer iemand jou kwaad maak, moenie dadelik reageer nie, want dan gaan jy dinge sê waaroor jy later spyt is. Tel liewers baie stadig tot tien en reageer dan, deur ’n verstandige en beheerste optrede.

Ons probleem is dat ons oor die verkeerde goed woedend word. Ons word woedend oor wat mense en omstandighede aan ons doen, in plaas daarvan om woedend te word oor die regte goed soos ongeregtigheid in die samelewing,  wanneer mense verontreg word of as God bespot word. Daarom moet ons leer om oor die regte dinge woedend te word, soos wat Jesus woedend was omdat die tempel in Jerusalem verontreinig is deur handelaars.

God se geduld staan voorop in die Bybel. Een van God se eienskappe is juis dat Hy lankmoedig en vol geduld is. Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy sy enigste Seun Jesus Christus stuur, toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed word deur ons weggegooi. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ’n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ’n nuwe voorwerp te maak.

God “herwin” ons. Dit is die wonder van God se genade.    God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is. Daarom moet ons met ander mense se foute geduld hê, want ons almal is “onder konstruksie”. God is nog nie klaar met ons lewe nie. As God soveel geduld met ons het, behoort ons ook geduld vir mekaar te hê. Ja, ons moet geduld vir mekaar se foute hê en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my lewe elke dag verander om al meer na sy beeld te lyk, moet ek God toelaat om ook ander mense se lewens te verander om al meer God se beeld te wees.

Daarom, onthou: ons almal is ONDER KONSTRUKSIE.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en die straatboemelaar. Wanneer ons ongeduldig en humeurig raak met mekaar, kwets ons ander mense met ons woorde en ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ’n ander mens kan aandoen.

Ons sal ook as samelewing moet leer om meer geduld te hê met bejaardes, kinders, gestremdes en armes. Toe my vader reeds diep in sy 70’s was, het hy baie stadig beweeg. ’n Ander man in die parkeerarea het op hom geskree en gesê dat hy in die ouetehuis hoort. Die arrogante man  was duidelik ongeduldig met ’n bejaarde, min wetende dat hy ook gaan oud word.

Ons moet geduld hê met God as ons bid. God spring nie rond om elke dag onmiddellik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. Op die regte tyd beantwoord God alle gebede. Geduld is om elke dag ten spyte van die swaarkry nog die baie goeie en mooi dinge raak te sien. Geduld is om God te loof vir sy goedheid wat Hy elke dag aan ons betoon.

Ten slotte: Die deug van geduld word nie slegs deur inoefening of slegs deur selfbeheersing verwerf nie. Dit is ’n gawe van die Gees. Daarom, wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug as ’n gawe ontvang uit die hand van God.

Iemand wat woedend raak, iemand wat sy humeur verloor, het klaar verloor; hy is soos die koning wat sy eie valk uit woede doodgemaak het. Jy bring net skade en skande oor jouself.

Soek eerder die oorsaak van jou woede en spreek dit aan. ’n Kalm gees is soos genesende salf.

In Spreuke 29: 11 staan daar: “’n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ’n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.” Wil jy wys of dwaas wees?                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar