‘n Wonderverhaal se vreugde word gesteel


SKRIFLESING: Joh 9: 1 – 41

Blydskap en vreugde is kenmerke, merktekens van ware Christenwees.

Die befaamde Engelse professor en skrywer van London, C S Lewis was voorheen ’n selferkende ateïs.

Met sy talle doktorsgrade en as man van uitmuntendheid het hy drasties tot bekering gekom. Sy eerste bekende werk na sy bekering was “Surprised by Joy”. Die trant van sy skryfwerk het verander van sinies, somber en kwetsend na hoopvol, liefdevol, vreugdevol en vredevol. Die bekende Narnia-werke het onder andere ook uit sy pen gevloei. Vir die eerste keer het Lewis vreugde geken en hy het miljoene grootmense en kinders se lewe aangeraak met sy nuwe styl.

Die bekendste teoloog van ons tyd, en wat nog lewe, N T Wright het ook ’n boek geskryf “ Surprised by Hope”. Weer eens ’n geleerde man wat in sy skryfwerk getuig van die blydskap wat Jesus Christus in mense se lewens bring.

Daar is ’n verskil tussen vreugde en plesier. Vreugde is nooit binne ons eie gesag nie, plesier is wel. Vreugde is ’n spirituele ervaring, maar plesier is ’n liggaamlike ding. Vreugde is ’n sielsding, wat niemand of selfs ook geen omstandighede van jou kan wegneem nie.

Plesier is iets van die liggaam. Kortstondig en gou verby. Plesier gaan oor eet, drink, koop, seks en dinge doen wat ’n sensasie gee. Dit kom gou en dan is die gevoel van plesier weg. Ons wêreld is volop plesier, maar arm aan vreugde.

Wat steel jou geluk en vreugde in die lewe? Miskien het dit tyd geword om jouself spiritueel te ondersoek?

Die verhaal ontvou as volg. Jesus het terwyl hy gestap het, verby ’n man gestap wat van sy geboorte af blind was. Onmiddellik vra die dissipels vir Jesus wie se skuld dit is dat die man blind gebore is. Is dit sy skuld of sy ours se skuld?

Dit plaas natuurlik die hele teodisee-vraagstuk van menslike lyding op die tafel. Jesus antwoord dadelik deur te sê dat dit nie die man of sy ouers se skuld is nie. Nee, dit is eerder dat God Sy werke kan openbaar deur die man. Daarom mag ons nooit sommer skuld gaan soek as iemand ly nie. Natuurlik is sekere vorms van menslike lyding mensgemaak, soos die lyding van oorlog of as iemand in ’n motorongeluk sterf as gevolg van dronkbestuur of hoë spoed. Dit is mensgemaakte lyding. Maar daar is ook ’n groot dosis lyding in die wêreld wat nie verklaar kan word nie. Dink maar aan mense wat onskuldig ly of sterf aan kanker of as gevolg van ’n ongeluk. Jesus gee die antwoord hierop: Sodat God se grootheid en genade in hulle lewe sigbaar kan word. Ons moet onthou dat die positiewe vermoë van mense om lyding te hanteer en te verwerk, ’n preek opsigself is. Menslike lyding skryf preke en inspireer ander mense. Swaarkry kweek karakter.

Dan verklaar Jesus dat Hy die lig van die wêreld is. Daarom besluit Hy om hierdie man gesond te maak.

Jesus spoeg op die grond en smeer klei aan die man se oë en beveel hom om homself in die Siloambad te gaan bad. (Sien foto langsaan van die bad van Siloam) Die water kom vanaf die Gihonspruit, deur die tempelheuwel en verteenwoordig dus wat van God af kom. Daar staan dat die man presies gedoen het wat Jesus vir hom gesê het.

Vir die eerste keer in sy lewe kon die man sien. Wat ’n vreugdevolle gebeurtenis!

Tog is die verhaal arm aan vreugde? Die toeskouers wonder of dit die regte man was wat blind gebore is. Maak iemand dalk nie êrens ’n fout nie? Die dissipels worstel met die vraagstuk oor lyding, die Farisieërs is kwaad en soek fout omdat die man op ’n Sabbatdag genees is. Die man se ouers ontwyk die vrae van die Fariseërs, omdat hulle vervolging vrees. Uiteindelik word die blindgebore man wat nou kan sien uit die sinagoge geban omdat hy die gesag van Jesus Christus erken het.

Die wonderverhaal se vreugde is gesteel. Gesteel deur die wettiese regulasies van die Fariseërs, wat wette belangriker ag as mense.

Vir die Fariseërs is wette belangrik. Vir Jesus is mense belangrik. Die Here beskou die Fariseërs as geestelik blind.

Hulle spirituele blindheid staan lynreg teenoor die fisiese blindheid wat die man in die verhaal gehad het. Die Fariseërs het dit nodig om genees te word van hul geestelike blindheid om te onderskei wat werklik in die lewe belangrik is.

Dit is van belang dat Johannes 9 opgevolg word deur Johannes 10, wat handel oor die goeie Herder se vreugde oor sy skape. Nog voorbeelde van vreugde in die Bybel is talryk. Daar is ’n deurlopende goue draad van vreugde wat deur die hele Bybel loop.

Dink aan die vreugde van die vrou wat haar muntstuk verloor het. Die muntstuk het deel uitgemaak van haar halssnoer wat haar man vir haar as bruidskat gegee het. Wanneer een van die talle muntstukke in die halssnoer ontbreek, is die bruidskat onvolledig. Wanneer die vrou die verlore muntstuk vind, is haar bruidskat weer volledig. Dink aan die Herder se vreugde oor die enkele verlore skaap wat gevind is. Die Vader wat bly is oor sy verlore seun, asook die skat in die saailand, is almal gelykenisse wat handel oor God se vreugde as daar genesing en redding kom vir ’n mensehart.

Die Fariseërs gooi uit. Maar Jesus vind!

Ons kry Fariseërs binne en buite die kerk. Dit is mense wat loop en veroordeel, skinder, fout vind en hulself beter ag as ander. Hulle wil mense uitsluit uit die lewe.

Die volgende moderne gelykenis deur ’n anonieme bron het ek iewers gelees. Die leermeester vra vir sy leerders: “Wanneer weet jy dit is dag en die nag is verby?” Die een leerder antwoord, dat wanneer jy ’n skaaphond kan uitken van die skape is dit dag. Die leermeester sê dat hy mooi probeer het, maar hulle moet dieper soek vir die antwoord. Die tweede leerder antwoord dat as jy ’n palmboom en sipresboom van mekaar kan uitken, is dit dag. Die leermeester sê hulle moet nog dieper soek vir die antwoord.

Hulle moet dit op spirituele vlak soek. Al die leerders het vorendag gekom met baie bespiegelinge. Uiteindelik antwoord die leermeester: “Wanneer ek in die oë van my medemens kyk en daarin my broer en suster as my naaste herken, het dit dag geword in my lewe!”

Vreugde wil altyd insluit en byvoeg. Jaloesie wil altyd uitsluit. Jaloesie is naywerig en gun nie die son oor ’n ander se kop nie. Daarom praat ons van die Evangelie as die Blye Tyding wat mense red, genees en insluit in God se genadeplan. Die duiwel is jaloers op God se goedheid en daarom is hy altyd besig om mense uit te sluit.

 Die verhaal van die blindgebore man is sonder vreugde, omdat mense nie die hart van God verstaan nie. Mag jy ’n mens wees wat kan bly wees oor ’n ander se sukses, voorspoed en geluk. Mag jy ’n slag jouself miskyk en sommer net bly wees wanneer iemand uitstyg in die lewe. Wanneer jy oor ander mense begin bly word en hulle vreugdes  jou vreugdes maak, ontvang jy ’n vreemde geluk. Geluk wat uit die hemel aangesteek word.

AMEN

(Ds. Paul is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar