SKRIFLESING: Jeremia 2: 1 – 37
Slawerny is een van die donkerste dele van die menslike geskiedenis. Dit is om mense hulle vryheid te ontneem en hulle in te perk vir jou eie voordeel. Dit kom van die Bybelse tyd en is vandag nog steeds net so aktueel. Met die afskaffing van wetgewing wat slawerny gereël het, het die verskynsel nie opgehou bestaan nie. Dit het oorgegaan in die onderwêreld. Wêreldwyd word beweer dat slawerny nou erger is as ooit tevore.

Die bekendste vorm van slawerny is om mense te besit om vir jou gratis werk te doen. ’n Mens kry seksuele slawerny waar vroue, mans en kinders verkoop word vir die ondergrondse sekshandel. Jy kry vandag ook nog vele kinderslawe wat in fabrieke werk. Goedkoop arbeid, handel in menslike organe, en mense wat finansieel uitgelewer is aan te hoë rentekoerse is vandag moderne vorme van slawerny.

Die dwelmhandel is ook ’n vorm van slawerny, waar mense afhanklik gemaak word van dwelms om hulle vir altyd as kliënte te hê. Die bendegeweld in Mannenberg, die Kaapse vlakte en ander gebiede in die land, is ’n vorm van slawerny. Wanneer mensegroepe deur wetgewing van hul vryheid beroof word is dit ook slawerny.

Daarom dan Martin Luther King se beroemde toespraak “I have a dream …”
Oor slawerny kan mense baie ontkennend skynheilig wees. Van die vroomste mense kan slawerny goedpraat of selfs beoefen en dink dit is hulle reg om ander hul vryheid te ontneem. Christenlande doen dit in die hoogty van slawehandel. Christenvolke met die Bybel onder hulle arm doen dit.
In die Middeleeue, met die bloei van die slawehandel, was daar ’n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes-Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het.

Hy was ’n godvresende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog het hy ’n ernstige godsdiens-probleem gehad. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ’n godsdiens van “bo” gehad, maar nie ’n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle boonop sleg behandel. Hy het ryk geword uit ander mense.
Die duiwel is die een wat mense se vryheid wegneem en inperk. Hy het dit in Genesis met Adam en Eva gedoen, en met Kain gedoen. Deur die eeue doen hy dit. Slawerny in al sy verskillende vorms – daarin het die duiwel ’n aandeel.

God maak mense vry. Daarom het Hy ons in Jesus Christus vry gemaak. Martin Luther skryf vurig Die Vryheid van een Christenmens.
Die hele Bybelse boodskap is ’n verhaal van slawerny en vryheid. Jy vind dit letterlik op elke bladsy in die Bybel. In die Bybelse tyd het mense slawe geword as jy nie jou skuld kan betaal nie. As jy nie jou skuld kan betaal nie, is alles van jou verkoop. As daar nog skuld is, is jou kinders as slawe verkoop. As daar nog skuld is, is jou vrou as slaaf verkoop en laastens as daar nog skuld is, is jy as slaaf verkoop.
Word ’n mens ’n slaaf deur ander of deur jouself ? Al twee moontlikhede bestaan. Ander kan jou verslaaf, maar jy kan jouself ook verslaaf …
Israel het homself verslaaf, daarom vra Jeremia die vraag in vers 14: “Het Israel ’n slaaf geword of is hy ’n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak?”

Die volk Israel is gebore as volk onder die slawerny van Egipte. Hulle was steenmakers vir die Farao’s oor geslagte heen. Hulle het ’n groot volk geword, maar ’n volk sonder enige vryheid. Slawerny gee vir jou ’n slegte selfbeeld. Later dink jy jy verdien om so behandel te word. (Amper soos mishandelde vroue en kinders wat dink hulle verdien dit.) Die slawevolk Israel het ook ’n vooraf-verhaal gehad. Jakob se broers het mos vir Josef verkoop as ’n slaaf aan die slawehandelaars en toe beland hy as slaaf by Potifar. By Potifar maak Potifar se vrou hom ’n nog erger slaaf, naamlik om ’n tronkvoël te word.
So is Israel in sy bestaan en voorafgeskiedenis ’n slawevolk. Maar dan stuur God vir Moses om sy volk uit slawerny te lei na die vryheid van die beloofde land. Vryheid kos iets. Dit het vir Israel gekos om 40 jaar deur die woestyn te trek. Maar in die beloofde land het hul gekom en ’n nuwe vrye volk geword, met hul eie eerste, nuwe koning Saul. Om nie te praat van Koning Dawid en Salomo nie. Die volk het hul eie konings, priesters en profete gehad. Hulle het hul eie hoofstad gehad, naamlik Jerusalem. Hulle het hul eie paleise en tempel en sinagoges gehad. Hulle was vry om wingerde te plant, veetroppe aan te hou en handel te dryf.
God se droom “I have a dream …” het waar geword!
Maar dan verloor die volk sy vryheid om slawe van die Babiloniërs te word. Babilon, die wêreldstad, verower Jerusalem, die Godstad. Israel verloor alles: sy stad, sy tempel, sy wingerde, sy handel en sy vryheid. Israel het homself verslaaf, daarom vra Jeremia die vraag in Vers 14: Het Israel ’n slaaf geword of is hy ’n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? ’n Mens kan net buitgemaak word as jy voorheen vry was.
Israel was voorheen vry, maar het deur hulle afvalligheid en sonde weer slawe van die sonde en van die wêreld geword. Nie net die volk nie, maar alle gesagsinstansies het korrup geword. Die priesterlike, profetiese en koninklike huise het almal van God vergeet (vers 8): Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie.
Israel het die geregtigheid, die barmhartigheid en die betroubaarheid van God vergeet. Dit weeg volgens God die swaarste in Mat 23: 23. Israel het ontrou geword. Israel het egbreuk gepleeg met God. God het as die minnaar na Israel uitgereik toe hulle nog maar ’n slawevolkie was in Egipte. God het ’n verhouding begin met Israel en vir Israel, sy minnares, ’n huis opgesit in die beloofde land. Hulle het saam baie sakke sout opgeëet in die woestyn. Maar toe die beter dae kom, het Israel sy God vergeet. Kyk na Verse 6 – 7: Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur ’n droë wêreld vol slote, deur ’n dor land vol doodsgevaar, deur ’n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.
Ek het julle in ’n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.
Amper iets soos die man wat met ’n jongmeisie trou in sy studentejare. Hy het nie gewerk nie, maar voltyds gestudeer. Sy het die pot aan die kook gehou en baie opgeoffer. Toe kwalifiseer hy na lang jare van studie. Hy kry toe ’n goeie werk en baie geld. Hy begin toe flankeer met al wat meisie is en laat sy eggenote wat hom gehelp het in die steek. So voel God oor Israel. God het Israel bevry, maar Israel het haarself weer verslaaf. Israel het hoereer agter ander gode aan. Daarom wil God begin met ’n aanklag, ’n skeisaak teen sy volk Israel in vers 9: Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan.
Dit het telkens in die geskiedenis gebeur met volke wat God verlaat. Dit is baie gevaarlik om enige volk enigsins te vergelyk met Israel. Die Afrikanervolk is geen spesiale of uitverkore volk nie. Tog is die patroon opvallend, wanneer enige volk God se trou verlaat.

Daar was ’n tyd toe ons Afrikanervolk ons volksgenote opgehef het in die tyd van die Arm blanke-vraagstuk met die spoorweë, landbouprojekte soos by Kakamas, studiefondse soos die Helpmekaarfonds en skole soos die Tegniese- en Huishoudskole op Adelaide en honderde ander plekke.
Dit was die volk van sendingbussies en sendingskole en sendinghospitale en ons het ’n hart vir die sending onder alle mense gehad. Ons was ’n volk bekend vir geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. In die 1940’s het ons God se trou begin vergeet. Die Afrikaner het geld gesien, mag gesien en elkeen het vir homself geleef. Ons het Apartheid uitgedink en vergeet van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Die volk met die Bybel (Afrikaners), het hoereer agter ander afgode aan. Die kerk, die staat, die volk en die leiers het verblind geword. Ons het die Jeremias van die daaropvolgende tye vergruis soos die Jonkers en Johan Heynse. Heyns is voor sy kleinkinders doodgeskiet en Beyers Naudé se foto is afgehaal van Loxton se konsistorie-muur. Ons het heeltemal vergeet van die woestyntye soos die van Bloedrivier, die groot oorlog van 1899 – 1902 en die 1913- en 1933-depressie.

So het dit ook met volke soos Duitsland gebeur in die Tweede Wêreld-Oorlog. Duitsland se konings, priesters en profete het God heeltemal verlaat en hulle Jeremia, Dietrich Bonhoëffer is tereggestel. Baie ander volkere het dieselfde pad gestap. Dit gebeur tans ook met die ANC-regering. Die foute word oor en oor in die geskiedenis gemaak.
Waar is God? Ons het God dan uitgeskryf uit ons geskiedenis. Ons hoereer deur die dag met slegte prostitute, maar wil in die aand in die bed klim met ons vrou. Wanneer dit “dag” is, vergeet ons van God. Wanneer dit “nag” word in ons lewe, wil ons God opsoek. God is geen tweedeklas minnaar nie. God is ’n jaloerse God wat sy eggenote net vir homself wil hê.

Daarom sê Jeremia, maak ons die fatale fout: Dat ’n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (vers 13)
So kom die skande in vers 26: Soos ’n dief in die skande kom wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom: hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete. Hoe het ons as Afrikanervolk nie ook in die skande gekom nie.

Daar is net een antwoord: BEKEER julle! Hoofstukke 3 en 4 en die res van Jeremia is ’n wekroep om terug te keer na God. Die boodskap van die hele Bybel is dat God vir ons ons vryheid wil teruggee. Hy doen dit vir ons deur Jesus Christus. Daarom het Jesus homself gevange laat neem deur die menslike natuur aan te neem, sodat Hy ons kan verlos van die slawerny waarin ons onsself gedwing het.
Ons moet ophou verslaaf wees en vry word. Ons moet die vryheid wat Christus gee, aangryp met ons hele lewe. I have a dream … I have a vision … I have a reality …
Dikwels beperk ons ons eie vryheid en groei soos bonsai-boompies. Ons beperk ons vryheid, soos wat ’n bonsai-boompie net groei volgens die grootte van die bak waarin dit staan. Ons aanvaar die vryheid wat Christus vir ons gebring het net in sekere dele van ons lewe. Dit verhoed ons om “de vrijheid van een Christenmens”, soos wat Luther so vurig beskryf het in dié klassieke dokument, deel van ons ganse bestaan te maak. Ons bly klein in die geloof, want ons gryp nie die vryheid in Christus aan nie. Die Here het vir ons meer in gedagte as wat ons ooit kan dink of besef.
I have a dream … I have a vision … I have a reality … !
Amen.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
































