SKRIFLESING: Hebreërs 12: 18 – 29
Volharding is ’n geestelike deug. Dit is nie maar net ’n saak van begin en los nie. Dit vra moed en deursettingsvermoë om aan te hou. Daarom gebruik die Hebreërskrywer die beeld van die marathon, want dit vra uithouvermoë.

As ’n mens die stad Rome wil sien vanuit die koepel van die St. Peters, moet jy al die trappe na die koepel klim. As jy net halfpad geklim het, is dit so goed jy het niks geklim nie. Die laaste trappie is net so belangrik soos die eerste. Eers as jy die volle stel trappe geklim het, ook die laastes, kom jy by die koepel uit en dan kan jy die hele stad Rome voor jou sien, met ’n asemrowende uitsig.

Die doel van die Hebreërskrywer is om gelowiges wat reeds glo, te help om hul geloof te behou en dit inderdaad te versterk. Baie dinge kan maak dat ’n mens moeg en afgemat raak in jou geloofslewe. Dan kan ’n mens maklik terug verlang na die eerste dinge. Die volk Israel het op hul geloofsreis van 40 jaar deur die woestyn dikwels terug verlang na die vleispotte en sekerhede van Egipte. Hulle het terug verlang na die sekerhede van slawerny. Hulle sou eerder slawe wou wees as om vry te wees in ’n woestyn vol onsekerhede, agter geloofsgoedere aan wat nie met die oog gesien kan word nie. Hulle het as’t ware verlang na die eerste dinge.
Dikwels verlang mense ook terug na die verlede, die ou Suid-Afrika met al sy sekerhede en sekuriteite. Maar in die proses vergeet ons van al die onreg waarop die ou stelsel gebou was. Ons wil as’t ware terugkeer na die slawerny van apartheid, omdat ons die beter en meer regverdige tye miskyk.
Hebreër 12: 18 – 29 gaan oor twee tye: Die Sinaï-tye en Sionstye. Die berg Sinaï staan vir die vorige bedeling en Sionsberg staan vir ’n nuwe bedeling. Daarom staan die twee berge as metafore teenoor mekaar. Elke berg verteenwoordig ’n tydperk en ’n bepaalde teologie. Die een staan vir die oue en die ander vir die nuwe.

Die berg Sinaï staan vir skeiding. God en sy volk Israel was geskei. Slegs Moses kon die berg bestyg om die Wet te ontvang. Verder was die berg heeltemal verbode vir enige mens of dier. Niks mag aan die berg raak nie. Daarom word sewe beelde gebruik om die ontoeganklikheid van die berg te beskryf, naamlik vuur, swart wolke, duisternis, stormwind, harde geluide en geklank van woorde.
Moses self het gesidder van vrees. God was vêr. God was verhewe op die Sinaï-berg, geskei van sy volk. Daarom staan die Sinaï-berg vir die Wet. Die Sinaï-berg is in Egipte (om op pad te wees) en die Sionsberg staan in Jerusalem, die heilige land (om te arriveer in God se beloftes).

Die Sionsberg daarom, beteken die berg waar God naby aan mense gekom het. Dit was die berg waar Abraham sy seun Isak moes offer.
Die Here het toe betyds voorsien deur ‘n skaapram wat vasgemaak was aan ’n bos. Daarom is die Sionsberg tradisioneel die berg waar die Messias Hom sou openbaar volgens tradisie in Psalm 2:6. Dit lees: “Ek self het my koning gesalf op Sion, my heilige berg.”
Sionsberg beteken God bly tussen Sy mense en dit wys heen na die menswording van Jesus Christus. God het in Christus Jesus baie naby aan die mens gekom.
Daarom beteken Sion – vir die genade.
Weereens word sewe beelde gebruik in die teks om die heerlikheid van die Sionsberg te besing.

Vanaf die Sionsberg kan jy die Sionstad, Jerusalem duidelik sien. Sionstad is die stad waar God bly en dit versinnebeeld die nuwe Jerusalem wat kom. Jerusalem skyn inderdaad werklik goudkleurig in die laatmiddagson.
Sinaï-berg beteken God is vêr, terwyl Sionsberg beteken die Here het naby gekom. Ons mag die Sionstad – die nuwe Jerusalem – nader sonder om te vrees, want Jesus het die pad oopgemaak vir my. Wanneer ek sterf, is ek in die stad.

Ons kan maklik laks word in die geloof, ons geloofsvisie verloor en ons geloofswaardes prysgee. Daarom word van ons wat op die Sionsberg woon, baie meer gevra as hulle wat op Sinaï-berg leef. Ons het die verlossing gesien. Juis daarom moet ons tot die einde volhard. Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan om nie langs die pad die pad byster te raak nie. Die meeste ongelukke gebeur tien kilometer van jou bestemming af. Mense raak ontspanne en hulle begin aan die tuiskoms dink en verslap hul inspanning. Net so moet ons nie op die geloofspad in ons geloofsinspanning verslap nie.
So baie gelowiges verloor hulle geloof of word slap in hulle geloof. Hulle sak uit op die geloofspad. Die doel van die boek Hebreërs is juis om die gelowiges aan te moedig om te volhard in hulle geloofslewe, tot die einde van hulle lewe. Daar wag die Sionstad vir ons.

Die Hebreërskrywer stel die Sionservaring oor die Sinaï-ervaring. Die genade-ervaring is groter as die wet-ervaring. Meer as dertien keer word die Griekse woord kreiton gebruik, wat beteken dit is “beter”. Dit is beter om die nuwe as die oue aan te hang. Dit is beter om in Christus te wees as in die sonde. Dit gaan nou beter met julle : op pad na die beloofde land / op pad na die beloofde stad. Julle omstandighede is beter. Julle toekoms is beter. Julle stad is beter. Julle fondament is beter. Julle toegang is beter.
Die Hebreërskrywer sê met Sinaï het die aarde geskud, maar met die Sionsberg sal die hemel en aarde skud. Daarom moet ons nie die genade verwerp nie.

Christopher Columbus (31 Oktober 1451 – 20 Mei 1506) was die ontdekkingsreisiger wat die Amerikas aan ons bekendgestel het.
Met sy drie skepe, die Pinta, die Nina en die Santa Maria het hy die Bahamas ontdek en later ook die Amerikaanse vasteland, waar hy die Indiane ontmoet het. Hierdie ontdekkingsreise van Columbus het baie geloof, moed en volharding gevra in ’n Katolieke tradisie waar daar nog geglo is die wêreld is plat. Ten spyte van moeilike omstandighede, siektes en sterftes op die skepe, asook bemanningslede wat wou muit, het Columbus het net elke oggend gesê: “Weswaarts sal ons trek. Gister het ons weswaarts getrek, vandag trek ons ook weswaarts, weswaarts is die rigting …” Sy volharding het hom gebring by die Amerikas. Hy het die nuwe wêreld ontdek en na ons gebring. (Let op: ’n Ander weergawe veronderstel dat die Vikings die Amerikaanse vasteland ontdek het.)

In ’n modernistiese wêreld waar die klem net lê op die sienlike wêreld, word die geloofsmoed van Columbus ook van ons gevra om “God se nuwe wêreld” te ontmoet. Elke dag moet ons ook gelowig verklaar dat ons hemelwaarts trek, ja hemelwaarts. Daarom praat Hebreërs van die beloofde vaderland waarheen ons trek. Hierdie op pad- wees na die onsienlike maak ons die objek van bespotting soos Noag tydens die bou van die ark, asook die vroeë Christene in ’n Grieks-oorheersende wêreld waar die sienlike gode uitgestal was op elke markplein.
Die Hebreërskrywer wil ons geloofsoog verskerp, om met die oë van ’n arend dit te sien wat ander mense nie kan sien nie.

Geloofsvolharding is iets waarvoor ons elke dag moet bid. Elke dag moet ons die werke van God soek in die dinge rondom ons. Somtyds sal ons God vind in grootse gebeure of ervarings. Ander tye sal ons Hom vind in klein gebeure of ervarings. Die onsienlike God is altyd sienlik in die alledaagse gebeure rondom ons. Daarom moet ons bid vir geloofsoë wat helder kan sien.
Somtyds sien ons God eers agterna:

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy foto’s ontwikkel, sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy foto’s. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe. In die krisis sien ons Hom nie raak nie, maar na die krisis sien ons hoe wonderbaarlik Hy in ons lewe gewerk het.
Moenie dink dat jy altyd reg sien nie! Geloof is om te leer “om te sien.” Om met geloof te sien, vra oefening. Mag die Here vir ons elke dag nuwe oë gee, om nuut te sien en te volhard. Voorwaarts Christenstryders! AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
