Wanneer God NEE sê


SKRIFLESING: 2 Kor 12: 7 – 10

Ons hou nie van die woord “NEE” nie. Grootmense kom daaroor in opstand. Tieners sal die deure agter hulle toegooi, kinders sal te kere gaan en op die vloer neerval en hul voete skop. Babas skree die dak af.

Dit is nie lekker om “NEE” te hoor by ’n werksaansoek nie. Dit is nie lekker om “NEE” te hoor in ’n liefdesverhouding nie. Dit is nie lekker as die bankbestuurder vir jou “NEE” sê nie. Dit is nie lekker om vir reën te bid en God sê “NEE”, eers later, nie. Dit is nie lekker om vir iets te bid en God sê “NEE” nie.

Ons gaan vandag kyk na vier Bybelfigure vir wie God “NEE” gesê het, maar wie se lewens later ’n verrassende wending geneem het.

Ons kyk heel eerste na Moses. Moses se geboorte was ’n wonderverhaal. Hy het ’n prins van Egipte geword. Toe pleeg hy moord en moes vlug. Later roep die Here hom terug Egipte toe om sy volk Israel uit Egipte te lei deur die woestyn na die beloofde land. Die tog deur die woestyn het 40 jaar geneem. Moses se gebed was “Om in die land wat God beloof het te mag ingaan.” Maar God se antwoord was “NEE”. Jy sal dit net kan sien, Moses.

Dan neem die verhaal ’n verrassende wending, wanneer Moses saam met Elia en Jesus op die berg verheerlik word in die beloofde land. God se “NEE” het toe anders uitgedraai.

Die tweede Bybelfiguur was Dawid. Wat ’n man was hy nie! Hy was ’n digter en komponis. Hy het Goliat verslaan met ’n slingervel en een klippie. Hy was ’n uitstekende militêre strateeg. Hy het koning van Israel geword en Jerusalem weer opgebou. Ongelukkig het hy owerspel met Batseba gepleeg en in die proses ook moord op Uriah. Maar God het hom vergewe na sy opregte gebed in Psalm 51. Dawid se grootste wens was “Om ’n tempel vir die Here te bou, sodat die ark van die verbond daarin kan staan.” Maar God se antwoord was “NEE”, jou seun sal dit doen. Salomo het toe die tempel gebou.

Die verrassende wending was dat uit Dawid se nageslag Christus gebore is. In Christus is ons almal tempels van die Heilige Gees.   

Dan kom ons by Jesus Christus, die Seun van God. Sy geboorte was Goddelik. Hy het in ’n klein dorpie Nasaret grootgeword. Hy het die Joodse Skrifte op sy vingerpunte geken. Hy het baie wonderwerke gedoen. Maar toe wil hulle Hom kruisig. Jesus se gebed in Getsemané was: “Laat die Lydensbeker by my verby gaan.” Maar die Vader se antwoord was ’n duidelike “NEE”.

Maar die verrassende wending was dat Jesus Christus deur Sy kruisdood die sonde van die wêreld weggeneem het.

Dan kom ons by Paulus. Paulus was ’n redenaar en spreker. Eers het hy die Christelike kerk vervolg, tot bekering gekom en toe ’n ywerige apostel geword van die Evangelie. Van ’n vervolger het hy ’n martelaar geword. Hy is met klippe bestook, het skipbreuk gely, is deur giftige slange gepik en in tronke gestop.   Paulus se grootste wens was dat die Here die doring in sy vlees wegvat. Dit kon ’n oogprobleem, epilepsie, of ’n psigiese probleem gewees het. Ons weet nie regtig wat dit was nie. Dan was die antwoord van die Here ook ’n duidelike “NEE”.

Die verrassende wending was om die bekwame Paulus nederig te hou. “They are so heavenly-minded, that they are of no earthly use” is dikwels van toepassing op geestelike leiers.

Daarom verklaar Paulus: “As ek swak is, is ek eintlik sterk.” Sy krag lê nie in homself nie, maar in God!

Aanvaar God se “NEE”. Sy “NEE” het altyd ’n verrassende  wending. God is die bron van krag en genade. Daarom sê die Here vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg.”

Daarom moet ons altyd die “NEE’s” in ons lewe omsit in iets positiefs.

Beethoven het doof geword, maar van sy beste musiek gekomponeer in sy doofheid. Helen Steiner Rice was doofstom, maar sy het miljoene mense opgebeur met haar skryfwerk. Vir elke deur wat vir jou toegaan, gaan daar ’n ander deur vir jou oop.

Wanneer God “NEE” sê, het Hy vir jou iets beters in die vooruitsig.

Verander die negatief ( – ) in jou lewe in ’n positief ( +).

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar