SKRIFLESING: Mat 27: 3 – 10
In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Judas Iskariot se verraad gelei het daartoe dat hy “gejag” is deur sy gewete.

Hy het nie besef dat sy verraad van Jesus tot Jesus se dood sou lei nie. Hoe dikwels verraai ons nie ook Christus of ander mense se vertroue nie. Ons is niks beter as Judas Iskariot nie. Toe Jesus egter gekruisig word, het sy gewete ingeskop. Sy gewete het hom so “gejag”, dat hy die 30 silwermuntstukke teruggegooi het in die tempel en homself gaan ophang het.
Daarom was Judas Iskariot nie ’n slegte man nie. Hy het nog ’n gewete gehad. Wanneer jy nie meer ’n gewete het nie, dan is jy ’n slegte mens. Dit is net jammer dat Judas Iskariot nie besef en ontdek het dat Jesus Christus ook vir hom aan die kruis gesterf het en sy sonde vergewe het nie. As hy dit ontdek het, sou hy homself waarskynlik nie opgehang het nie.

So is daar baie mense wat “gejag” word deur hulle gewete. Elke mens vang dikwels onsinnighede aan in sy of haar lewe. Dit kan jare lank by jou spook of op jou “jag” maak. Die meeste persoonlike probleme wat mense ervaar, ontstaan omdat hulle deur hul gewete gekwel word. Baie mense drink hulle gewete weg en word alkoholiste. Ander gebruik dwelms om te vergeet van hulle gewete. Ander openbaar persoonlikheidsafwykings om net weg te kom van die skuld van hulle gewete. Judus Iskariot het nie gaan drink of dwelms gebruik nie, nee hy het homself opgehang om van sy gewete af weg te kom.

Maar jou gewete kom van die Heilige Gees. Jou gewete is die vlammetjie wat jou verlossing aansteek. Jou gewete gee geboorte aan jou verlossing. Jou gewete laat jou roep na Christus se verlossing. Jou gewete is die deur waar jy die verlossende Christus ontmoet. Die verkiesende genade van die Here maak jou gewete skerp, sodat jy nader aan die verlossing van Jesus Christus leef.
’n Dooie gewete vra nie na Christus nie. ’n Dooie gewete soek nie Christus se verlossingswerk op nie. ’n Dooie gewete het Christus nie nodig nie.

Daarom moet ons dankbaar wees as ons gewete ons somtyds pynig. Dit beteken dat die Gees van God in my werk. Ons moet ons gewete in die oopte bring voor God en die een wat ons benadeel het. Anders sal daar altyd spanning wees in my gemoed. Praat dit uit met God in die gebed. Noem dit by die naam. Indien moontlik, gaan maak reg met jou broer of suster. Aanvaar die verlossingswerk van Christus. Dan eers kom jy werklik vry.

Baie mense het ’n stomp gewete. Die vlammetjie van die gewete het hulle nog nie aangeraak nie. Daarom kan hulle hulle ook nie bekeer nie. Daarom kan hulle ook nie die verlossingswerk van Christus aanneem nie, want hulle voel oor niks skuldig nie.

Bid dat jou gewete ’n vlymskerp lemmetjie mag wees. Jou gewete maak van jou ’n beter mens, ’n mooier mens en ’n verstandige mens. Hoe skerper jou gewete, hoe meer sal jy Christus in jou lewe ervaar. Hoe nader ek aan God en Sy wil beweeg, hoe duideliker en sterker sal my gewete ontwikkel. Ons noem dit heiligmaking.
Ons moet deur die Gees ’n Minora-skerp gewete ontwikkel om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hoe nader twee mense aan ’n kers sit, hoe duideliker gaan hulle mekaar sien. Hoe verder hulle van die kers sit, hoe minder duidelik gaan hulle mekaar sien. Hoe nader jy aan jou gewete leef, hoe meer sensitief gaan jy wees om ander mense raak te sien en aan hulle goed te doen. Jou gewete sal jou pla as jy nie aan hulle goed doen nie, want jou gewete laat jou ander mense sien.
Koning Dawid in Psalm 51 openbaar ’n baie sensitiewe gewete na sy owerspel met Batseba en sy moord op haar man Uriah. Hy het letterlik sy klere geskeur, as op sy kop gegooi en die pragtige Psalm 51 gedig oor sy intieme berou oor wat hy aangevang het. Hy vra die Here om ook weer vir hom sy reinheid en opregtheid terug te gee. Hy verlang meer daarna as na goud en die koningskap. Hierdie opregte en vlymskerp gewete, asook berou, het hom die man gemaak naby aan die hart van God.
Sonder ’n goeie gewete lei ’n mens se geloof skade. Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 1: 19: “ … met geloof en ’n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het.”

Om in die geloof te groei, moet jou gewete ontwikkel word. ’n Vlymskerp gewete dien tot voordeel van jou geloof en Christelike lewe voor God. Jou gewete hou jou op die regte pad en navigeer jou terug na waar jy die pad verlaat het. Moenie alles aanvaar wat jou kultuur of omgewing vir jou leer nie. Wees krities teenoor die aanvaarbare gedrag van jou omgewing. Wees indiwidualisties, en onderskei met die Gees van God self wat reg en verkeerd is.

Maar jy hoef nie met die pyn van jou gewete saam te leef nie. Gee dit vir Christus! Hy was jou silwerskoon. Jy kan jou gewete tot rus bring in Christus Jesus se verlossingswerk. Dan kan jy elke aand rustig slaap. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
