Voorwaarts Christenstryders


SKRIFLESING: Mat 25: 1 – 13

Dikwels kan ’n mens in kunsgalerye skilderye vind van ossewaens wat oor die kontinent van Amerika die wilde Weste in getrek het. As hulle elke dag tyd afgestaan het om te bereken hoe ver hulle gereis het en hoe ver hulle nog moes reis, sou hulle nooit hulle bestemming bereik het nie.

Dag na dag het die osse geduldig aangestap en in die aand het die waens stilgehou, hulle het vir die vee kos gegee en die vure aangesteek. So is vir weke en baie maande  aangehou, oor vlaktes en bergpasse, tot hulle uiteindelik die weskus aan die Stille Oseaan bereik het. Dit het eindelose deursettingsvermoë geverg. Neem die destydse lang seereise van Portugal na Indië of die ontdekking van Antarktika. 

Dink aan ons Voortrekkers wat met ossewa en beeste trektogte onderneem het die binneland in en hoe hulle oor die Drakensberge en riviere getrek het om Suid-Afrika te tem. Dit het bomenslike uithouvermoë gekos.

Die leraars van die ou dae het gepraat van “eerbaarheid deur volharding”. Alles wat die moeite werd is in die lewe kom met gewag, deursettingsvermoë en volharding mee.

In Mat 25: 1 – 13 lees ons van tien maagde wat wag op die bruidegom. Die tien maagde is simbool van die volmaakte en wagtende kerk van die Here Jesus Christus. Die bruidegom is natuurlik die Here Jesus Christus wat gaan kom om met Sy kerk verenig te wees.  Van die tien maagde lees ons dat vyf verstandig was en vyf was onverstandig.

The Message van Eugene Peterson vertaal dit in Mat 25:2 met:  “Five were silly and five were smart.” Die vyf verstandiges het ekstra olie saamgeneem, maar die onverstandiges het slegs die olie in hulle lampe gehad. Die vyf verstandiges was dus voorbereid om dalk lank te wag op die bruidegom. Die onverstandiges het nie met die lang wagtydperk rekening gehou nie.

Om te wag is moeite, maar dit is die moeite werd. Daarom sal Jesus se koms wees op die mees onvoorspelbare tyd, wanneer mense dit die minste verwag. Ons lees al tien maagde het al aan die slaap geval. Dan in die middel van die nag, kom die uitroep: ”Hier kom die bruidegom. Gaan hom tegemoet.” Die vyf onverstandige meisies se olie het opgebrand deur die nag. Hulle moes ’n winkel gaan soek om olie te koop. Waar kry jy in die middel van die nag ’n winkel oop? Die vyf verstandiges het net hulle lampe aangevul met die ekstra olie wat hulle saamgedra het.

Die olie is ’n simbool van gereedheid. Dit beteken om Jesus se onderrig ernstig op te neem. Dit beteken om te volhard in die doen van die goeie. Daarom kan die wyse meisies nie vir die onverstandiges van hulle olie gee nie. Jy kan nie besluit om aan iemand anders gehoorsaamheid te gee nie. Gehoorsaamheid is ’n persoonlike keuse en is nie oordraagbaar nie.

Daarom beteken die ekstra olie om vir “Jesus ernstig op te neem”. Wie Jesus nie ernstig opneem nie, se olie sal opraak.

Ekstra olie beteken om volhardend aan te hou om die goeie te doen. Dit beteken om volhardend vir Jesus ernstig op te neem en te leef volgens sy voorskrifte. Dit is mense wat ekstra energie met hulle saamneem, wat kan volhard tot die einde. Hulle energie vir Jesus raak nie op nie. Hulle volhard tot die einde. Hulle bou vir hulself geestelike spaarenergie op, vir die dae wat hulle dit nodig kan hê. Juis daarom moet ons geestelike reserwe-energie opbou om volhardend die Here te kan dien.

Somtyds raak ’n mens ontmoedig, omdat jy nie jou doel in jou roeping bereik nie. Dan moet jy gaan kyk na ’n beeldhouer. ’n Beeldhouer sal die blok graniet omtrent 100 keer met sy hamer en beitel bykom voordat die eerste krakie verskyn. Dan moet ek onthou dit was nie daardie een spesifieke hou wat die deurbraak gegee het nie, maar ook elke hou wat dit voorafgegaan het.

Volharding en deursettingsvermoë is een van die mooiste eienskappe wat ’n mens in iemand se lewe kan teëkom. Dit geld nie net vir die geestelike en spirituele lewe nie. Dit is ook van toepassing op jou beroep, jou studies, jou sport, jou huwelik en verhoudings en om elke keer na ’n teleurstelling weer op te staan en aan te gaan. Daarom moet ons ons nie deur teenslae laat onderkry nie. Staan op en gaan volhardend aan met jou reis. Tree vir tree kom jy by jou bestemming uit.

Die teenpool is natuurlik om te volhard in die sonde. Dit is maklik, want dit vra nie inspanning nie. Om die duiwel te volg, vra geen inspanning nie. Om Jesus Christus egter te volg, vra die uiterste inspanning. Daarom is die pad van die kruis die moeisame pad. Dit is die smal, kronkelende pad opdraand na die kruis. Volharding vra dapperheid.

Die VG Kerk het ‘n pragtige lied “Voorwaarts Christenstryders” in hulle Sions gesangeboek. Op die maat van marsmusiek sing hulle die pragtige lied. Die lied roep jou op om te volhard in die Christelike lewe.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

One thought on “Voorwaarts Christenstryders

Lewer kommentaar