Onthou om te onthou


SKRIFLESING: Jer 2: 1 – 19

Ons almal onthou nog die ou Afrikaanse lied “Onthou om te onthou” wat gesing is  deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Laurika Rauch. Sy het so ’n emosionele aanslag aan die liedjie verleen.

Ons almal vergeet. Ons vergeet baie dinge. Dit is natuurlik onvergeeflik as ons ons geliefdes se geboortedatums of troudatums vergeet.

Maar ons vergeet ook dikwels van God. Deur die eeue is dit die kwaal van die mensheid. Mense vergeet van God as dit te goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, kan mense dikwels verbitterd word en ook van God vergeet.

Die volk Israel het in Egipte en in die woestyn vir 40 jaar baie naby aan God gebly. Toe hulle vasgevang was tussen die Rooi See en die magte van Farao, het die Here vir hulle die Rooi See oopgemaak. In die woestyn het Hy vir hulle elke dag kwartels en manna gegee. Net genoeg vir een dag op ’n slag, sodat hulle afhanklik van God kon bly. Elke nag het ’n vuurkolom voor hulle uitgegaan om vir hulle lig en beskerming te bied. In die dag was daar die wolkkolom wat vir hulle koelte en lafenis gegee het teen die felheid van die woestynson. Hulle is elke dag onthou om te onthou dat God vir hulle sorg.

Toe trek hulle die beloofde land binne. Dit gaan goed. Hulle het gearriveer. Skielik was hulle in ’n gemaksone. As jy in ’n gemaksone is, vergeet jy gou van die Here en van jou afhanklikheid van Hom.

Party mense sal sê om somtyds van God te vergeet, is nie so erg nie. Almal vergeet mos.

Elizabeth Achtemeier skryf egter: “Geen mens kan in ’n aanbiddingsvakuum lewe nie. As jy van God vergeet, soek jy vir jou plaasvervangers vir God. Dit is soos ’n getroude persoon wat owerspel pleeg, jy soek anderkant die draad vir jou ’n nuwe minnaar”.

Jeremia skryf in Jeremia 2: 13 dat die volk fonteine van lewende water verruil vir opgaarputte wat gebars is. Hierdie opgaarputte was gewoonlik ondergrondse putte wat uit die ondergrondse klip gekap is.

Die putte is gewoonlik gebruik vir graan of vir water. Omdat klip maklik bars, het die water in so ’n opgaarput maklik deur die barste weggesyfer. ’n Opgaarput moes gekap word. Dit het menslike aksie en werk gevra. Fonteine weer, het van nature opgeborrel. Jy hoef niks te doen nie. Die Here gee dit vir jou.

Net so ondenkbaar is dit dat die volk Israel die Here se versorging (fonteine van lewende water) verruil vir opgaarputte wat hulle self moet uitkap. Die lewende fonteinwater is gewaarborg, terwyl die mensgemaakte versorging (opgaarputte) se water lek.

Dikwels lei welvaart tot geheueverlies. Dit gaan oor “Cars, cells and cash.” Of soos Foster sê : “Sex, money and power.” Dit is ons opgaarputte. Ons wil opgaar, maar dit lek eenvoudig weg, soos die water deur die opgaarputte se barste lek.

Kyk na die hewige erge brande wat tans in Kalifornië in Los Angeles se luukse woonbuurtes woed. Dit is ’n wrede herinnering dat ons opgaarputte kan lek. Tienduisende huise het afgebrand. Dit neem apokaliptiese afmetings aan. ’n Mens dink by jouself, gaan die wêreld so lyk met die eindoordeel? Dit is vreesaanjaend. Dit lyk soos ’n oorlogsone. ’n Mens kan alles in ’n oomblik verloor. Moenie op jou opgaarputte wat jy uitgekap het, jou vertroue stel nie. Stel liewers jou vertroue in die fonteine van lewende water wat God jou gee.

Christene het egter ’n geweldige diep tradisie van “om te onthou om te onthou.”

Dit is ’n tradisie van onthou en oorvertel, sodat ons God nie vergeet nie. In die Ou Testament het die Jode gebedsrieme gehad waarmee hulle die Torah vasgebind het aan hulle voorkoppe. Die besnydenis as verbondsteken het hulle help onthou dat hulle in ’n verbond met die lewende God staan. Hulle is elke dag daaraan herinner as hulle na hulle liggaam kyk.

Dan het die Jode natuurlik ook die weeklikse Pasga gehad, om hulle te help onthou dat die Here hulle uit Egipte uit die plek van slawerny gelei het.

In die Nuwe Testament lees ons van die Here Jesus se hemelvaart. Iemand wat weggaan word dikwels na ’n tyd vergeet, of die herinneringe vervaag. Maar dit is nou meer as 2000 jaar later en die Here Jesus Christus word nog elke Sondag en weeksdag aanbid oor die wêreld. Elke Sondag word ons in die erediens onthou om te onthou dat ons ’n lewende God aanbid en dat ons ons vertroue net op Hom moet stel.

Die Here Jesus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het Sy Heilige Gees vir ons gestuur om elke dag met ons te wees. Hy het vir ons die kerk gegee, as die gemeenskap van gelowiges, sodat ons mekaar kan help herinner aan die Here Jesus se werk. Hy het vir ons die Woord gegee, sodat ons kan ONTHOU van die heerlike werk van God Drie-Enig. Daarom is ons vanoggend vreugdevol, want ons het die Afrikaanse Bybel,  sodat die Bybel ons kan help om God se groot dade te onthou.

Martin Luther het gesê: “The Bible is a remarkable fountain, the more one draws and drinks of it, the more it stimulates thirst.” Elke Sondag in die erediens word ons gehelp om te onthou van God se grootse werk. Die sakramente van Doop en Nagmaal is ook tekens wat ons laat onthou en herleef. Dit alles is aan ons gegee sodat ons nooit sal vergeet nie.

Daarom help die Woord ons om oor te vertel. Ons moet oorvertel, oorvertel en oorvertel van geslag tot geslag, sodat ons sal onthou om te onthou. Dit is immers waaroor die doopbelofte gaan. Ons beloof om die goeie nuus van die Evangelie aan ons kinders oor te dra. Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my uit ’n groot, dik Kinderbybel gelees. Daar was my eerste ontmoeting met die Here.

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring.

Daarom moet ’n mens jou ervaringe van God deel met ander mense, sodat hulle kan onthou om te onthou dat God goed is.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons. Die reënboog het my laat onthou om te onthou van die troue God.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heel nag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar gelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die studeerkamer rondgekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak. God het my deur daardie Apokriewe Bybelboek onthou om te onthou dat Hy die antwoorde op al my lewensvrae het.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien. Jy leer om te onthou dat God uitkoms gee.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het op sy houttafel die woorde uitgegraveer dat hy gedoop is.

Soos reeds genoem, praat die  Wesleyaanse vierhoek  van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring. Al vier leer jou onthou om te onthou van God se wonderlike sorg in jou lewe.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moenie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof. Deur ons getuienis kan ons ander mense laat onthou om te onthou daar is ’n God wat soewerein regeer.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here. Laat dit jou aanspoor in 2025 om te onthou om te onthou dat God saam met jou is.                                   

As jy van God vergeet, dan sal jou gebarste opgaarputte lek. Jy sal droogte in jou lewe ervaar. God sal van jou wyk. Maar as jy onthou dat God die fontein van lewende water is, sal jou gees self ook ’n fontein van lewende water wees.

Vertel elke dag vir ander mense van jou ervaringe met God, sodat jy hulle kan help om te onthou om te onthou.

Die Woord help om te onthou om te onthou van God se ryke seëninge.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar