SKRIFLESING: Eks 2: 1 – 4 en Luk 2: 12
Die uittogverhaal uit Egipte begin met ’n kind en die uittogverhaal uit die sonde begin ook met ’n Kind.
In Egipte was die Israeliete in slawerny. Hulle was slawe van die Egiptenare. In die uittogverhaal uit sonde, is ons weer slawe van die sonde. Die twee uittogverhale het ’n interessante parallel.

Die geboorte van Jesus Christus is ’n parallel van die geboorte van Moses. Ook vir Hom sou daar nie plek wees nie en Hy is in ’n stal in ’n diere-krip in Betlehem geplaas na sy geboorte. In Moses se tyd was die Farao en die Egiptenare die bedreiging wat alle seuntjies wou doodmaak. In Jesus Christus se tyd het Herodus en die Romeinse Ryk regeer. Herodus die Grote het ook opdrag gegee dat alle seuntjies van twee jaar en onder in Betlehem se distrik doodgemaak moes word. Daarom het Josef en Maria volgens die engel se instruksies na Egipte gevlug en daar geskuil tot Herodus die Grote dood is.

Hosea 11: 1 het al voorspel “Toe Israel ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Moses het die volk Israel uit Egipte verlos en die Verlosser van sonde, Jesus Christus, het ook uit Egipte gekom. So het beide verlossings uit Egipte gekom.
Dus is daar ’n duidelike parallel tussen die geboortes van Moses en Jesus Christus. Albei was verlossers. Die een is geplaas in ’n papirusmandjie en die ander een in ’n krip wat vir diere gebruik is.
Albei uittogverhale, die uittog uit Egipte en die uittog uit sonde, het ’n groot en duur prys gevra.
Die eerste Joodse volksmoord was die dood van alle Joodse seuntjies met geboorte in Eksodus 1 en 2. Ons lees dat na die dood van Josef daar ’n nuwe Farao oor Egipte begin heers het.

Hy het niks van Josef geweet nie en het bedreigd gevoel deur die hoë bevolkingsaanwas van die Jode. Hy het dit as ’n bedreiging vir Egipte gesien, daarom het hy die Jode harde handearbeid laat doen, deur stene te maak en die Egiptiese voorraadstede Pitom en Rameses te bou. Hy het twee Joodse vroedvroue, Sifra en Pua, opdrag gegee om met die geboorte van alle Joodse babatjies, die seuntjies dood te maak en die dogtertjies te laat lewe. Die Hebreeuse vroedvroue was egter ongehoorsaam aan die Farao en het die verskoning gebruik dat die Hebreeuse vroue baie sterk was en voor hulle nog by die vroue kom, het hulle al klaar geboorte geskenk. Die getalle van die Jode het net al meer geword en die Farao het besluit op ’n alternatiewe voorbehoedingsplan, deur te beveel dat die Egiptenare elke pasgebore Joodse seuntjie in die Nyl gooi om te verdrink.

Dan lees ons in Eksodes 2 van ’n man uit die stam Levi wat met ’n Levitiese meisie getrou het. Sy het ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom vir drie maande versteek. Toe sy hom nie langer kon versteek nie, het sy ’n biesiemandjie gekry en dit met pik waterdig gemaak. Sy het hom in die mandjie tussen die riete van die Nyl weggesteek, terwyl sy suster ’n oog gehou het. Dan lees ons hoedat een van die dogters van Farao afgegaan het om te swem in die Nyl. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavinne gestuur om te gaan kyk. Toe die Egiptiese prinses sien dit is ’n Joodse seuntjie, het sy hom jammer gekry en besluit om hom aan te neem as haar eie seun. Die seuntjie se suster gaan toe na die dogter van die Farao en vra haar of sy ’n Hebreeuse moeder kon roep om die kind te laat drink totdat hy gespeen is.
Die dogter van Farao stem in en was selfs bereid om daarvoor te betaal. Toe die seuntjie oud genoeg was, het sy moeder hom na die dogter van Farao geneem wat hom aangeneem het as haar eie seun. Sy het hom “Moses” genoem, “want ek het hom uit die water gehaal.” So het Moses grootgeword in die Egiptiese paleis en alles geleer oor leierskap. Baie jare later sou Moses sy volk uit Egipte lei na die beloofde land. Hy sou die redder en verlosser van die Joodse volk word, wat hulle van slawerny verlos om vir hulle ’n nuwe toekoms te gee in die beloofde land Kanaän.
Toe Moses die volk uit Egipte gelei het, is dit voorafgegaan deur tien plae; en die Egiptenare wat hulle agtervolg het, het die volk vasgekeer teen die Rooi See. Die Here moes die Rooi See vir hulle oopmaak. Vir 40 jaar moes hulle swerwe in die woestyn voordat hulle die beloofde land kon ingaan. Hulle moes dikwels van water uit ’n rots lewe en was van ’n daaglikse porsie manna en kwartels afhanklik. ’n Hele geslag mense moes uitsterf voordat hulle in die beloofde land kon intrek. Dit was ’n saak van daaglikse geloofsvertroue.
Maar dit was nie die enigste Joodse volksmoord nie. Ons lees in die Bybel ook van ander Joodse volksmoorde. Telkens was dit omdat iemand bedreigd gevoel het.

Dan lees ons van ’n ander kindermoord wat sterk ooreenkomste toon met Moses se verhaal. Ons lees dat met die geboorte van Jesus Christus die sterrrekykers van die Ooste gekom het om aan Jesus Christus hulde te bring, want hulle het geweet dat Hy ’n Koning sou word. Die eerste plek om ’n koning te soek, was natuurlik die paleis van Herodus. Koning Herodus was so ontsteld toe hy hoor dat ’n ander koning gebore is, dat hy moes keer dat sy eie posisie in die gedrang kom. Hy het die sterrekykers gemaak-vriendelik gevra om, as hulle die koning gevind het, verby sy paleis terug te kom, sodat hy ook geskenke vir die koning kon bring. Natuurlik wou hy die Jesus-Kind doodmaak. Die sterrekykers het die Jesus-Kind gevind en vir Hom geskenke gegee.

God het die sterrekykers in ’n droom gewaarsku om nie na Herodus terug te gaan nie en hulle het ’n ander pad terug geneem na hulle land. Daar het toe ’n engel van die Here aan Josef verskyn en hom gewaarsku om Maria en die Kindjie te neem en na Egipte te vlug, omdat Herodus van plan was om die Kindjie te vind en dood te maak. Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate na Betlehem en die omgewing om alle seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. Dit het tot ’n kindermoord op baie seuntjies gelei. Daarom word daar gepraat van ’n gekerm op Rama en dat Ragel treur oor haar kinders en dat sy nie vertroos wil word nie. Na die dood van Herodus het daar ’n engel in ’n droom aan Josef verskyn en vir hom opdrag gegee om terug te keer na Israel. Josef, Maria en die Jesus-Kind het toe in die dorpie Nasaret gaan bly, waar Jesus groot geword het.
Baie jare later sou die Jesus-Kind wat gered is, Sy lewe gee om die hele wêreld te verlos van die slawerny van sonde. Hy sou die Messias word wat verlossing gee uit sondenood en uit die ewige dood.
Dit het Maria en Josef die gemak van die huis gekos tydens ’n lang tydperk van ballingskap in Egipte om die klein Jesus-Kind te beskerm. Dit het moeders in en om Bethlehem die bloedbad van hul babas gekos deur die wrede bevel van Herodes die Grote. Dit het die herders ’n reis gekos met die oproep na die krip en om die goeie nuus te vertel. Dit het die wyse manne ’n lang reis en duur geskenke gekos.
Sonder Moses in die papirusmandjie in die Nyl, sou daar geen verlossing gewees het uit Egipte nie.

Sonder Jesus Christus in die krip in die stal, sou daar geen verlossing uit sonde gewees het nie. Daarom skryf Dietrich Bonhoeffer in sy boek “God Is In the Manger” die volgende woorde: “Holy theology arises from knees bent before the mystery of the divine child in the stable. Without the holy night, there is no theology.”
Sonder die papirusmandjie sou daar geen uittog uit Egipte gewees het nie. Sonder die krip in die stal sou daar geen verlossing uit sonde gekom het nie. Daarom is Kersfees spesiaal. Met Goeie Vrydag buig ons voor die kruis, maar met Kersfees buig ons voor die krip.

Daarom is Jesus Christus se menswording ’n liefdesdaad van die Vader. Die Vader het Sy Seun vir die wêreld gegee. Dietrich Bonhoeffer skryf: “It is only because he became like us that we can become like him.” Wat ’n heerlike uitdaging is dit nie vir ons nie. Ons kan deur heiligmaking strewe om Christ-like te word.

Die krip is die begin van die Nuwe Testament, die begin waar God Sy beloftes waar maak, die begin van die verlossing. Daarom kan ons kersliedere sing, want die krip is vir ons ’n simbool van verlossing, soos die papirusmandjie in die Ou Testament die simbool van verlossing uit slawerny was.
Daarom is daar merkbare ooreenkomste tussen die verhaal van Moses en Jesus. Albei se lewe is as jong babas bedreig. Albei is gered van ’n slagting onder jong seuntjies. Beide is gebore onder twee diktators wat bedreigd gevoel het oor hulle posisies, naamlik Farao en Herodus.
Beide was verlossers. Moses het die volk Israel gered vanuit Egipte, die plek van slawerny. Jesus Christus het weer as Verlosser die wêreld gered van die slawerny van die sondenood en die ewige dood.
Daarom is die Kersverhaal nie heeltemal so romanties nie. Kersfees is ook duur. Ons vergeet van die kindermoord en die baie moeders wat hulle seuntjies onder twee jaar oud verloor het. Daar was ’n gekerm en ’n gehuil met die geboorte van Christus. Ons almal verlang na ’n perfekte Kersfees. Maar daar sal nooit ’n perfekte Kersfees wees nie. Christus is juis gebore vir die onperfektheid van die wêreld. Christus Jesus se geboorte was onder trane en droefheid, sodat daar hoop kan wees vir ons droefheid en trane, en onperfekte lewens.
Kersfees is nie bedoel om perfek te wees nie. Ons lewe en lewensomstandighede getuig dikwels van krake, siekte, eensaamheid, droefheid en persoonlike probleme. In baie huise word vanjaar dalk ook iemand geliefd gemis en is daar ’n leë stoel aan ons Kerstafel. Maar Kersfees bring Lig in ons donker wêreld en gemoed.

Die eerste Kersfees was onperfek, sodat daar hoop kan wees vir ons wrede en stukkende wêreld. Die geboorte van Christus Jesus was die begin van Christus se “Auschwitz”. Daarom, wanneer ons ook somtyds deur ons eie “Auschwitz” moet stap, weet ons dat ons nie alleen is nie. Christus was alreeds daar.
Die enigste stukkie perfektheid in die Kersverhaal is die liefde van God vir sondaarmense in hulle gebrokenheid. Ware liefde is altyd perfek. Daarom moet ons in hierdie Kersfeestyd en dwarsdeur 2025 altyd streef na die een perfektheid, naamlik die LIEFDE. Daarom sê Paulus ook dat die grootste van alles die LIEFDE is. Al wat perfek was met die eerste Kersfees, was God se onvoorwaardelike liefde. Wil jy hierin deel?
Plaas onder jou kersboom dié Kersfees ’n krip! Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
