Geraamtes in die kas


SKRIFLESING: Mat 1: 1 – 17

In die ou groot familie-Bybels was dit gebruik dat ons voorvaders hulle familie-stamboom neerskryf. Van oupa- en ouma-grootjie tot die jongste kind. Families was erg gesteld op hulle stamboom.

Net die goeie word vertel. Niemand praat oor die geraamtes in die familieboom se kas nie. Dit word verswyg. Dit is amper soos by begrafnisse. Net die goeie van die persoon word uitgelig, maar hy of sy se geraamtes word verswyg. Met die verhaal van Christus Jesus se stamboom is dit egter heeltemal anders.

In die boerdery word ’n stoetery ook bepaal deur die stamboom van daardie diere. Daar word noukeurig rekord gehou van die stoetbul of stoetram. Natuurlik behaal die diere met die beste stamboom ook die beste pryse op die vendusies. Dit is ook die verskil tussen ’n brak en ’n opregte hond. ’n Brak het geen stamboom nie, maar ’n opregte hond het ’n stamboom en word geregistreer as opreg.

Snobisme kom algemeen voor in die mensdom. Daar word gou gesê jy is nie van my familie of sosiale klas nie. Die mensdom sosialiseer moeilik met mense wat ’n beskeie en nederige agtergrond het. In baie families is daar hewige familie-rusies as ’n verliefde jongmens wil trou met ’n persoon wat volgens die ouers nie in hulle sosiale klas pas nie.

Ons sou verwag dat die geslagsregister of die familie-stamboom van Jesus Christus onberispelik sou wees. Christus is tog die Seun van die Vader. Daarom moet Sy geslagsregister uitstaande wees. Die teendeel is egter waar. Mattheus verskaf vir ons die volle geslagsregister van Jesus Christus. Hy noem slegs vyf vroue, waarvan vier uit ’n bedenklike agtergrond kom en een uit ’n baie nederige agtergrond.

Die vroue is Tamar, Ragab, Rut, Batseba en Maria. Kom ons kyk na elkeen van hulle se storie.

  • Tamar, wat by haar skoonpa slaap

Ons lees dat Juda vir sy eersgebore seun Er ’n vrou geneem het met die naam van Tamar. Er was egter ’n slegte man en God het hom laat sterf en Tamar as weduwee gelaat. Dit was toe Er se broer Onan se verantwoordelikheid om by Tamar kinders te verwek vir Er. Hy het egter elke keer as hy met haar gemeenskap gehad het, sy saad op die grond laat val, sodat Tamar nie swanger geword het nie. Die Here het daarom ook Onan laat sterf en Tamar weer as weduwee gelaat. Die volgende broer wat toe ’n nageslag moes verwek, was Sela. Juda het egter gesê dat Sela te jonk is en dat hy bang is Sela sterf ook soos sy broers. Dan lees ons hoe Juda na Timna gegaan het om skape te skeer. Op sy pad terug het hy Tamar teëgekom wat haarself as prostituut voorgedoen en haar gesig bedek het. Juda het toe afgedraai om met die prostituut gemeenskap te hê.

Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. Hy het aangebied om haar te betaal met ’n boklam, maar Tamar wou ’n pand hê om te verseker dat Juda haar betaal. Juda het toe vir haar sy seëlring en staf gegee. Hy het met haar gemeenskap gehad en huis toe gegaan. Hy het sy vriend gestuur om die prostituut te betaal met die boklam wat hy belowe het. Sy vriend kon die prostituut egter nêrens opspoor nie. Juda sê toe vir sy vriend dat hulle nie daaroor moes praat nie, anders word hy ’n bespotting. Die prostituut moes maar die seëlring en staf hou. Drie maande later word dit bekend dat Tamar swanger is. Die mense vertel toe vir Juda dat sy skoondogter swanger is deur haar hoerery. Juda beveel dat Tamar uitgebring en verbrand moet word. Toe hulle Tamar uitbring, het sy gesê dat die een aan wie die seëlring en staf behoort, die pa is. Juda was erg verleë aangesien hy die pa was. Hy erken daarna dat hy verkeerd was deur sy seun Sela nie vir Tamar as man te gee nie. (Dit was volgens die Joodse familie-reg die gebruik dat wanneer een broer sterf, sy ander broer met die weduwee moet trou en vir sy broer by haar kinders verwek.) Juda het Tamar se lewe gespaar en sy het geboorte gegee aan ’n tweeling, Peres en Serag. Peres het een van die voorvaders in die stamboek van Jesus Christus geword.

  • Ragab die prostituut

Ragab was ’n prostituut van Jerigo.

Josua het twee verspieders uitgestuur om Jerigo te verken. Hulle was as’t ware spioene. Toe die koning van Jerigo uitvind dat daar spioene in die stad is, het hy sy soldate gestuur om hulle te soek en dood te maak. Hulle het toe gevlug na Ragab die prostituut. Ragab het haar ontferm oor die twee verspieders en hulle eers weggesteek en hulle later met ’n tou laat afsak tot buite die stad, waar hulle kon ontvlug. Sy het hulle egter laat belowe om wanneer hulle die stad Jerigo aanval, haar en haar familie te spaar. Sy sou ’n rooi tou by die venster laat uithang.  Met die aanval en vernietiging van die stad Jerigo, het die Joodse soldate die belofte nagekom en Ragab en haar familie gespaar. Later het Ragab, die prostituut, met Salmon getrou en so die moeder van Boas geword, ook een van die vroue in die geslagsregister van Jesus.

  • Rut die Moabiet

Die verhaal begin waar Naomi saam met haar man en twee seuns uit Israel trek na Moab, aangesien daar ’n droogte was in Israel en hulle broodsgebrek gelei het. Die Jode en die Moabiete was egter vyande en die Jode het op die Moabiete neergesien. Hoekom het die Jode op die Moabiete neergesien? Die ontstaansgeskiedenis van die Moabiete getuig van immoraliteit, swak sedes en bloedskande. Die nasie is gebore na die vernietiging van Sodom en Gomorra, en na ’n bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy oudste dogter, soos beskryf in Genesis 19. Die Moabiete het ook afgode soos Kemos (1 Kon 11:7, 33) en Baäl-Peor (Num 25:1 – 3) aanbid op die hoogtes. Daarom het die Jode op die Moabiete neergekyk en hulle as ’n laer klas beskou.

 Naomi se twee seuns het met twee Moabitiese vroue by name Rut en Orpa getrou. Ongelukkig sterf Naomi se man en albei haar seuns. Toe dit weer gereën het in Israel, besluit Naomi om terug te gaan na Israel. Haar Moabitiese skoondogter Rut het egter soos ’n neet aan haar vasgekleef en gesê dat sy saam met Naomi ook Israel toe gaan, vir ’n nuwe toekoms.

In Israel het hulle swaargekry en moes Rut are in die land optel om hulle aan die lewe te hou. Naomi het egter geweet dat Boas familie is van haar oorlede man en dat hy regtens vir Rut as vrou moet neem. Hy moet as losser optree en met haar trou. Naomi het Rut beveel om vir haar mooi te maak en haar lekker te laat ruik en in die aand by die voete van Boas te gaan lê. In Hebreeus beteken “om te gaan lê by die voete” om verleidelik te gaan lê by ’n man. Sy het hom as’t ware verlei. Die volgende oggend was Boas smoorverlief op Rut en het besluit om met haar te trou. Uit die huwelik is Obed gebore, ook een van die voorsate in Jesus se stamboom. So het ’n volksvreemde Moabiet, wat beskou is as iemand van ’n laer klas en uit ’n onrein volk, deel gekry aan die stamboom van Christus.

  • Batseba die owerspelige

Batseba se naam word nie pertinent genoem in die geslagsregister van Jesus Christus nie. Sy word beskryf as die “vrou van Uriah”. Uriah was ’n soldaat in Koning Dawid se weermag. Dawid het vir Batseba raakgesien op die dakvertrek vanuit sy paleis terwyl sy besig was om te bad. Miskien was dit die bedoeling van Batseba om die koning te verlei.

So het dit gekom dat Dawid en Batseba owerspel pleeg terwyl Uriah op militêre diens was. Dawid maak toe ook ’n plan om van Uriah ontslae te raak deur hom in die voorste linies te laat veg, sodat hy maklik kon sneuwel. Daar is dus ook moord gepleeg, saam met die owerspel. Tog het die Here vir Dawid vergeef, na Dawid se diep berou in Psalm 51. Uit die verhouding tussen Dawid en Batseba is gebore koning Salomo en so word dit ook deel van die stamboekgeskiedenis van Jesus Christus.

  • Maria, die eenvoudige meisie sonder agtergrond

Maria was die moeder van Christus Jesus.

Sy was ’n eenvoudige meisie wat in Nasaret, een van die onaansienlike dorpies in Israel, gewoon het. Sy was van geen hoë klas of aansien nie. So het die Here ’n eenvoudige mens gebruik om Sy werk te doen, iemand wat geen koninklike agtergrond gehad het nie. Uit die Kerstradisie sien ons tonele van Maria op ’n donkie en Josef, wat die donkie lei. Dit word uit die Skrif aangeneem dat Maria op ’n donkie gereis het, aangesien die afstand tussen Nasaret en Bethlehem ongeveer 105 kilometer te voet was. Vir ’n hoogswanger vrou sou die afstand te ver wees om te loop. Verder was Josef ’n gewone skrynwerker en daarom nie ryk nie. Hy het dalk sy eie donkie gehad of selfs dalk een geleen. Interessant is toe Jesus Jerusalem binnegaan om gekruisig te word, het Hy ook op die rug van ’n geleende donkie gery, op pad na Sy kruis.

  • Waarom het Mattheus die vyf vroue uitgesonder?

Jesus Christus se stamboek is nie rooskleurig nie.

Daar is baie geraamtes in die kas. Vier van die vyf vroue in ons gelese gedeelte het onbestendige lewens gelei of was van bedenklike afkoms. Desnieteenstaande het God dit goedgevind om hulle deel van Jesus Christus se stamboek te maak, sodat daar hoop vir jou en my kan wees.

Maak nie saak hoe groot jou sonde of watter geraamte daar in jou kas is nie, Christus Jesus het gekom vir sondaars. Hy het vir Tamar, Ragab, Rut en Batseba – ten spyte van hulle sonde en bedenklike afkoms – so volledig aanvaar dat hulle deel van Christus Jesus se stamboom geword het. Straatbrakke het ook deel aan Jesus Christus se genade. Terwyl Christus op aarde was, het Hy gemeng met die sondaars en prostitute en tollenaars. Hy het selfs tuisgegaan in die huis van die tollenaar Saggeus, wat een van die grootste sondaars in Jerusalem was.

Die Evangelie is teen enige vorm van snobisme. Ons stoot mense maklik weg met ons snobisme, maar Christus trek mense nader in Sy liefde en genade.

Al is ons vermink deur die sonde, is Jesus Christus vermink aan die kruis om ons verminking op Hom te neem. Ons is die lammers met gebrek, sodat die volmaakte Lam van God in ons plek geoffer is. Kersfees gaan oor God se onvoorwaardelike liefde vir sondaars. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar