SKRIFLESING: Johannes 1:1 – 18
In die foto is die drie Botha-seuntjies van Theunis en Eleanor Botha, wat hul verwonder oor ’n kersvlam. (Dit is baie jare gelede geneem. Nou is hulle al jongmanne.)

Met seuntjies-oë en kinderlike opregtheid is hulle in ’n ander wêreld, ’n wêreld van betowering. Kersfees is ook ’n tyd van verwondering en magic. ’n Tyd om jou te verwonder aan die Lig van die wêreld.
Die eerste opdrag wat God gegee het, is: “Laat daar lig wees …” En daar was lig. So begin die Ou Testament. Die Johannes Evangelie in die Nuwe Testament begin ook met die woorde: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Insiggewend dat altwee die Testamente begin met die verwysing na lig. Die lig van die Ou Testament het skeiding gebring tussen dag en nag. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen hoop en wanhoop, tussen skuld en bevryding. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen regverdigheid en goddeloosheid. Die Lig is vir alle mense om aan te neem. Hoe nader jy aan die lig-lewe kom, hoe beter kan jy vir God en jou naaste sien. Hoe verder jy van die Lig lewe, hoe meer onsigbaar word God vir jou en later kan jy ook nie eers meer die gesig van jou naaste raaksien nie. Ons praat van ’n Godsverduistering wat plaasvind, soortgelyk aan ’n sonsverduistering.
Hoe verder ’n mens van die lig van die kers sit, hoe minder kan jy vir God en ander mense raaksien. Hoe nader jy aan Jesus Christus – die Lig van die wêreld – leef, hoe meer sien jy God se werke in jou lewe raak. Jy sien dan ook skielik die gesig van jou naaste baie duidelik. Daarom is die oproep in 1 Johannes om naby aan die Lig te leef. Ja, om die Lig aan te neem ! Om as’t ware die Lig te omhels.

In die begin van die Ou Testament lees ons van God wat die mens gemaak het na die beeld van God. Met ander woorde, die MENS LYK SOOS GOD. In Johannes 1 word gesê dat God vlees geword het – Hy het soos die mens geword, behalwe in die sonde. Met ander woorde, die proses is nou omgekeer: dat GOD NOU LYK SOOS DIE MENS, behalwe in die sonde. Is dit nie Goddelike magic nie !

God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic !
’n Baie mooi verhaal om dit te illustreer, is die volgende: Daar was eenmaal ’n ateïs wie se vrou ’n gelowige was. Hulle het in ’n klein dorpie gebly in die Switserse Alpe.

Dit was ou-Kersaand en dit het hewig gesneeu. Sy vrou het kerk toe gegaan, want dit was die gebruik om Kersliedere te sing die aand voor Kersfees. Hyself het egter verkies om by die huis te bly en sy aand voor die televisie deur te bring. Skielik hoor hy ’n slag teen die ruit, en ’n tweede en derde keer. Toe kom hy agter dit is ’n trekvoëltjie wat verdwaal het en êrens ’n warm plekkie soek om te oornag. Hy gaan toe dadelik uit om die ou houtskuur se deur oop te maak. Met ’n gewaai van arms en die namaak van voëlgeluide probeer hy om die voëltjie in te lok in die skuur in.

Nie eers voëlkos kon die voëltjie oorreed om die warm skuur in te gaan nie. Na ’n hele tien minute se gesukkel, kom die wens by hom op om net vir een minuut soos die voëltjie te word, sodat hy die voëltjie die warm skuur kan binnelei. Op daardie oomblik lui die kerkklok. Net daar val die ateïs op die sneeu neer en bid vir die eerste keer in sy lewe. Want toe hy die kerkklok hoor lui, besef hy vir die eerste keer waarom Christus na die wêreld gekom het en hoekom Hy kom mens word het. Hy het kom “mens word” met Kersfees om ons in die warm skuur van God se genade en liefde in te lei. Hy het kom word soos ons, behalwe in die sonde. Dit is die betowering van Kersfees.
God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic !
Juis daarom moet ons hierdie Kersfees die Lig laat skyn en dit nie onder ’n maatemmer verberg nie. Tereg sê Johannes 1: 4 dat Jesus die Lig is en dat selfs nie eers die duisternis dit kon uitdoof nie. As’t ware skryf Johannes ’n bibliografie aangaande Jesus Christus en begin sy Evangelie met die stelling “en die duisternis kon dit nie uitdoof nie”, wat hy dan later in sy Evangelie bewys. Met Jesus se kruisiging het dit donker geword. Vir ’n tydperk het dit gelyk of die duisternis die duiwel gaan wen.
Oor ’n tydperk van drie dae was Jesus in die dood, asof in die hel, van God en mens verlaat. Maar op Paassondag met die breek van die eerste lig het Hy opgestaan uit die dood en lééf Hy as die eerste Môrelig. Hy kom nooi ons as’t ware om in die LIG te leef. In vers 12 praat Johannes van almal wat Hom aangeneem het, aan wie Hy die reg gegee het om kinders van God te wees. As’t ware om kinders van die Lig te wees. Uit een kers kan jy miljoene kerse aansteek. Uit die opstanding van die een Lig, is die lig in miljoene gelowiges wêreldwyd aangesteek.

Jesus se lig is so helder dat daar geen donkerte intens genoeg is om Sy lig uit te doof nie. Maak nie saak hoe donker jy ’n vertrek maak nie, daar sal nooit genoeg donkerte wees om die lig dood te maak nie. Die lig wen altyd die donkerte. Juis daarom moet ons lig en hoop bring in die wêreld waarin ons leef. Jou kleinste daad van liefde en lig kan nooit ongedaan gemaak word nie.
Dit sneeubal voort in ander mense se lewens. So het Jesus se kruisdood en opstanding gesneeubal in miljoene mense se lewens. Daar is mos nie verniet aan Abraham beloof dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre aan die hemelruim of soos die sand van die see nie. In Christus Jesus het ons almal kinders van vader Abraham geword. So het die Lig na die hele wêreld gekom. Die wonder is dat ons die lig kan aangee na ander, deur self net die Lig te lewe.
Vers 16 sê aangrypend: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. As’t ware kry ons rente op rente genade by die Here. Ons kry soveel genade, dit is soos ’n glas wat reeds vol water is en nog water kry. Dit loop oor !
Dit kos niks om die water te deel nie, want daar is reeds te veel water vir my. Juis daarom moet ons die oorvloedige genade van die Here aangee.
Somtyds is ons ongehoorsaam en dan “briek” ons hierdie oorvloedige genade van die Here.

Dit is soos om ’n windpomp te “briek”. In die Noord-Kaap waar ek die voorreg gehad het om predikant te wees vir bykans veertien jaar, was ’n windpomp alledaagse woordgebruik. Om ’n windpomp te “briek” is om te keer dat dit nog water gee. Dikwels doof ons die “lig van die Evangelie” uit of ons “briek die oorvloedige genade van God” in ons eie lewe en ook in ander mense se lewens met wie ons in aanraking kom. So kan ons dikwels die Gees se werking teenstaan. Johannes 3 praat mos van die Gees se werking wat soos “wind” is. Jy kan die wind nie sien nie, maar jy sien die werking van die wind. So kan jy God se Gees nie sien nie, maar jy kan die Gees se werking sien in jou en ander se lewens.
Om die Evangelie nie aan te neem nie (vers 11 en 12) is om “die windpomp te briek.” Dan ontbreek dit jou aan die koel soet ondergrondse water wat uit jou siel kan borrel. Maar boeta, die wind kan ook ’n windpomp se brieke afruk. Dan is daar geen keer aan die water nie. So het Saulus God ook “gebriek”, totdat God se Gees sy brieke afgeruk het op die pad van Damaskus. Toe was daar geen einde van lewende water in die lewe van Paulus nie. Wanneer God se Gees jou “brieke” afruk, dan verander jy sommer van naam ook – so ingrypend werk die Gees.
Wanneer die wind eers ’n vuur gevat het, kan niemand so ’n vuur keer nie. So het dit ook in die geskiedenis van al die groot geestelike herlewings gebeur. Dit steek die wêreld aan die brand. Daarom praat Johannes Calvyn nie verniet van die Christelike hart as die “brandende hart” nie. Op Pinkstersondag het die Gees sommer in ’n oomblik 3000 harte aan die brand gesteek met die ewige liefde.

Jesus is die Lig van die wêreld. Sy lig het die wêreld aan die brand gesteek. Sy Lig het onder ons kom woon en “Kyk, ons kan sien !” Dit is die magic van Kersfees … dat ons kan “sien”.
Mag u dié Kersfees met kinderlike onskuld u verwonder aan die betowering van Kersfees. Mag die magic u hele lewe verander. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
