SKRIFLESING: Openbaring 1: 17 – 18 en Openbaring 14: 13
Toe ek Maandagmiddag by JW op Koedoeskloof was, het hy vir my iets aangrypends gesê: “My pa het 90 jaar in 55 jaar geleef.” ’n Mens se lewe word nie gemeet in terme van jou ouderdom nie, maar in die kwaliteit van jou lewensjare. Ons sou almal graag nog vir Jacobus vir 30 jaar by ons wou gehad het, maar die Here het anders gewil.

Maar hy het voluit en met passie geleef in die 55 jaar wat die Here vir hom gegee het. Hy was ’n goeie man vir Heleen en ’n wonderlike vader vir sy drie seuns. Ek is so dankbaar dat hy ’n goeie vaderfiguur vir sy seuns kon wees totdat hulle as volwasse jongmanne kon ontwikkel. Die vaderfiguur speel altyd ’n baie groot rol in ’n seun se lewe. Hy was ’n wonderlike rolmodel in sy seuns se lewe. Jacobus le Roux was ook ’n uitstekende boer, wat met oorgawe en suksesvol geboer het. Boerdery was vir hom nie ’n werk nie, maar ’n passie en lewensroeping. Boerdery het deur sy are gevloei.
Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ’n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ’n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit was. Die sleutel van die doodskiste is vir die opsigter van die begraafplaas gegee om te bewaar. Die wewenaar en die predikant het, nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter gegee het, terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir hom: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”
Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ’n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades”.
Die woord “Hades” word voorgestel as ’n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ’n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.
Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die doderyk oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.
Versprei deur die boek van Johannes kry ons sewe saligsprekinge. Een van hulle is Openbaring 14:13: Ek het toe ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”
Heel eerste praat hierdie vers van gelukkig is dié wat in die Here sterwe. Vir sy vrou Heleen; sy seuns Pierre, JW, Izak; sy ouers Oom Pierre en Tannie Jackie en sy susters Eleanor en Aletta en die res van die uitgebreide familie is dit seer, pynlik en ’n diepe wond. Maar vir Jacobus is dit “gelukkig”, want hy het in die Here gesterf. Jacobus was in die Here en hy het in die Here gesterf en daarom kan ons hom nou “gelukkig” noem. Almal wat in die Here gesterf het, is inderdaad gelukkig.
Tweedens praat die vers ook van “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg.” Die woord “geswoeg” is die Griekse woord “kopos” wat ons eerder sou kon vertaal “met moeite” en dit verwys na ons hele lewe wat vir ’n groot deel uit moeite, pyn en bekommernisse bestaan. Jacobus het nou geen moeite, angs, pyn en bekommernisse nie. Die Bybel maak baie gebruik van die woord “rus”. Daarom is die Sabbat die “rusdag” vir die mens. Jacobus het in sy Sabbatsrus ingegaan.
Hebreërs 4: 9 – 11 sê die volgende oor die rus: Daar bly dus steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Jacobus le Roux se arbeid op die aarde is voltooi. Hy kan nou rus van sy aardse arbeid en sorge, maar hy neem nou sy hemelse verantwoordelikhede op.
Hierdie “rus” word ook verduidelik in Psalm 23: 5b, waar daar staan: U verfris my kop met olie; my beker loop oor. In hierdie wêreld loop ons beker nooit oor nie. Ons het altyd behoefte aan sekuriteit, voldoende finansies, goeie gesondheid en nog vele ander dinge. As dit goed gaan, is jou beker driekwart vol. As dit met jou tussen die boom en die bas gaan, is jou beker halfpad vol en as dit met jou sleg gaan, is jou beker ’n kwart vol. Elke dag vul die Here ons beker aan met nuwe lewenskrag, maar ons beker loop nooit in dié lewe oor nie. Maar in die hemel loop ons beker oor. Dan het ons aan niks meer ’n tekort nie. Daarom loop Jacobus se beker nou oor in die hemel. Hy het aan niks ’n tekort meer nie.
Behalwe die “geswoeg” praat die teks ook van “dade”. Diegene wat in die Here sterwe, sal nie net rus van hulle geswoeg nie, maar hulle dade volg hulle.
Let op dat jou goeie dade nie voor jou uitloop om die hemel vir jou oop te maak nie. Net Jesus Christus kan die dood oopsluit met sy kosbare bloed. Jesus is die sleuteldraer wat sonder verdienste die deur vir jou oopsluit. Nee, die teks sê jou goeie dade volg jou. Is dit nie ’n troos nie! Alles wat ons gedoen het wat goed was, volg ons. Die dood kan mos nie uitvee wat goed in jou lewe was nie. Die goeie bly altyd staan. Die goeie wat Jacobus gedoen het en sy getuienis vir die Here, bly staan. Sy goeie dade as eggenoot, vader, gesinsman, boer, gemeenskapsleier en as kerkleier bly staan. Dit volg hom die hemel in.
Die Joodse rabbi’s het geglo dat jou goeie werke jou vooruit gaan. Dat jou goeie werke soos ’n stootskraper vir jou ’n pad oopmaak na die hemel. Maar in die Nuwe Testament het die Here die orde omgegooi. Jesus gaan self vooruit om vir ons die pad na die hemel oop te maak. Ons goeie dade volg ons in die dood. Daarom: die goeie dade van ons gaan ons nie vooruit nie, maar volg ons die hemel in.
Die Here vee met ons dood nie die goeie dade uit nie. Iemand skryf so aangrypend: “Nee, wanneer die gelowige omkyk in die ewigheid, volg alles wat hy gedoen het op sy hakke. God vergeet nie. Ons sonde ja, die het Hy totaal vergeet (Hebreërs 10:17), maar nie ons werke in Sy Naam nie. ‘Ek kén jou werke en jou ‘kopos’, ’ sê Jesus in Openbaring 2:2.”
Want ons goeie dade verheerlik die Here Jesus, daarom word dit nie uitgevee nie. Ds. Johannes de Koning skryf tereg: “Ons goeie werke volg ons. Ons dade tel tot in alle ewigheid!” Ons slegte dade is uitgevee deur die bloed van die Here Jesus Christus.
Mag hierdie gedenkdiens van Jacobus le Roux weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) beklemtoon. Jacobus le Roux se lewe word gekenmerk deur karaktervastheid, lojaliteit en betroubaarheid. Sy woorde het altyd “gewig” gedra. Hy was ’n waardige man. Hy is een van die groot bome wat geval het op Fort Beaufort. Sy werk op Fort Beaufort sal altyd onthou word. Hy is een van dié dorp se legendes.
Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit. “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!” Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Kyk hoe opgeswel is my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.” So het die dood ook Jesus Christus as deurboorde gesteek en het die dood sy angel verloor, sodat die dood nie die finale sê oor ons het nie. So het die dood nie meer ’n houvas op my nie.

Vir Heleen gaan dit die volgende weke en maande baie swaar wees. Sy gaan die verlies baie erg beleef. Ek het die mooiste herinneringe van Jacobus en Heleen. Ek onthou Sondagoggende het hulle in die middelblok van die kerk gesit tydens die erediens. Hulle het altyd styf teen mekaar gesit en Heleen het haar kop gerus op Jacobus se skouer. Dit was ’n besondere mooi ervaring vir my van die liefde tussen ’n man en sy vrou. Jacobus het ’n moeilike pad gestap, maar Heleen het hom deur dik en dun bygestaan en was dáár vir hom. Sy het haar troubelofte tot die einde opreg nagekom. Ek dink ook aan Oom Pierre en Tannie Jackie, wat al twee kinders aan die dood afgestaan het. ’n Kind kan nog ’n ouer se dood verwerk, maar dit is baie moeilik vir ’n ouer om ’n kind se dood te verwerk, want dit is vlees van jou vlees.
Pierre, JW en Izak, julle moet nou in die voetspore van julle vader loop. Julle het groot spore om vol te staan, maar die Here sal julle help. Julle het die voorreg om die Le Roux-familienaam te laat voortleef. In julle vader het julle ’n wonderlike mentor en rolmodel gehad. Dit is ’n voorreg om in sy voetspore te volg en sy werk voort te sit.
Jacobus was versot op springmielies. Mag julle as julle in die toekoms springmielies eet, altyd vir Jacobus onthou.
Maar Jacobus le Roux het gelukkig gesterf, want hy het in die Here gesterf. Dit is wat ons teks sê. Ons is nie troosteloos nie, want Jacobus rus van sy geswoeg. Sy dade volg hom in die hemel. Daarom kan niks goeds wat hy gedoen het, deur die dood ongedaan gemaak word nie. Sy goeie dade lewe voort tot in alle ewigheid, tot verheerliking van God.
Wat ’n heerlike troos! AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
