SKRIFLESING: Luk 2:8 – 20
Wanneer ’n baba gebore word, sien die naby familie en vriende heel eerste die nuweling. Dit gaan met groot vreugde gepaard. Die familie het groter geword.

Die eerste genooides in Luk 2 na Jesus se geboorte was skaapherders. In godsdienstige kringe is hulle dikwels as onrein gesien. Die destydse herders is nie eens as getuies in ’n Joodse hof toegelaat nie. Die openbare beskouing van skaapherders was dat hulle diewe en bedrieërs was, omdat hulle dikwels sonder toestemming met hulle skape oor ander mense se eiendom getrek het. Dikwels het hulle ook hul skape op ander mense se veld laat wei. Soos ons hier in die Oos Kaap kwaad is vir die herders wat hulle vee, die dorp injaag om mense se blomme, plante en bome te verslind. Baie van die skaapherders in die Bybel was voortvlugtend vir die gereg (dink aan Moses wat voortvlugtend was, omdat hy ’n Egiptenaar in Egipte doodgeslaan het) en het maande en weke in die veld en woestyn gebly en saans as dit donker is om die vuur gesit het. Hulle het van vuurrook en skape geruik. Hulle was onwelriekend en ongewild. Skaapherders was van die laagste klasse in die Joodse samelewing.
Die herder in die Bybel was ook nie silwerskoon met spierwit klere soos in die Kinderbybels nie. Die herder se klere was vuil en geskeur van om in die veld te lewe. Die herder was bruingebrand met krapmerke oor sy arms, bene en gesig. Die herder het saam met die skape, dag en nag gelewe. Hy het die skape met sy stok en staf beskerm. Sou die herder iets oorkom, was die skape weerloos.

’n Mens kan jou net indink hoe die skaapherders nie geskrik het toe hulle die engelekoor gehoor nie. Toe hoor hulle die goeie nuus dat Christus die Here daardie dag vir hulle gebore is in Bethlehem. Die teken wat hulle gekry het was ’n baba wat in doeke toegedraai in ’n krip lê. Verbeel jou die reuk en die speeksel van diere in ’n dierekrip, omdat daar geen ordentlike huisvesting vir Hom was nie. Ons sou vandag die Kinderwelsyn gebel het. Kom verwyder die kind, die toestande is swak. Die prentjie lyk nie reg nie.
Vir ons maak die prentjie nie sin nie, sê Stephan Joubert. Maar vir die herders het hierdie prentjie sin gemaak. Dit was húlle Verlosser. Hy het hulle reuk aangeneem, skryf Stephan Joubert. Hy het opgedaag in ’n wêreld wat vir hulle bekend was. Dit was aan die anderkant totaal onbekend vir die rykes en vooraanstaandes en vir die vroom godsdienstiges.
Jesus se vreemde aankoms, verklap wat was sy doel, waarom Hy gekom het na hierdie wêreld. Hy het gekom na mense aan wie die onwelriekende reuk van sonde gehang het. Dit is die Evangelie. Maar toe het die kerkgeskiedenis Hom toegeverf in romantiese Kerskaartjies, waarin Hy geverf is as ’n adellike babatjie, omring deur heiliges en edelmanne.
Jesus Christus is gebore, en is gekruisig vir die sonde reuk van hierdie wêreld. Hy het die vrot reuk van die sonde op Hom geneem en die Vroteier van die wêreld geword. Hy het so vrot geruik van ons sonde, dat hulle Hom uit Jerualem uitgebring het en Hom buite Jerusalem, op Golgota laat sterf het, daar waar al die misdadigers gehang het aan kruise, omdat hulle geruik het van hul misdade.

Somtyds ontken ons, ons eie sonde reuke. Soos wat mense reukweerders aansmeer om liggaamsreuke te verberg, kan ons dikwels ons goeie lewe gebruik as reukweerder om ons sondige reuke te verberg. Dink aan die Fariseër wat in die tempel sy goeie lewe aangeprys het as reukweerder om sy sonde reuke te verdoesel. Maar die stinkende reuk van die tollenaar se sonde agter hom het hy geruik. Die tollenaar, het egter sy sonde erken en geweet dat hy stink van sy eie sonde en het gebid, dat die Here hom moet vergeef.

Jesus Christus was nie maar net ’n reukweerder vir ons sondes nie. Hy het ons gewas, silwerskoon in Sy bloed, witter as wol, sonder enige reukie van sonde wat oorbly.
Jesus Christus is die groot Soeker. Ons is soos Adam en Eva, mense wat wegkruip vir God. Daarom skryf Stephan Joubert so treffend: Ons is nie “seekers” soos wat sommige soeker-sensitiewe kerke glo nie; ons is “hiders”. God se Kind is die Groot Soeker. Hy bly op ons spoor, totdat Hy ons inhaal.

Daarom het Jesus gekom vir die stukkendes, die verlorenes, randfigure, afgeskryftes, eensames, sondaars en vir almal wat die reuk van sonde in hulle eie lewe ruik. Die tragedie is dat die mens nie altyd sy eie stank en reuke kan ruik nie. Jy kan nie jou eie asem ruik nie. Daarom sukkel ons so om ons eie sonde te ruik. Ons ruik maklik ander mense se sonde. Daarom moet die Heilige Gees ons ’n bewustheid gee van ons eie sondige reuke.

Die skaapherders het besoek gebring by die Kind, wat later die “Goeie Herder” sou word. Hy sou word die Goeie Herder, waarvan koning Dawid, honderde jare tevore van gedig het in Psalm 23. Hy het die goeie Herder geword wat Sy skape by die naam ken. Hierdie Herder sou ook later Sy lewe vir Sy skape aflê.
In die Ou Testament, veral in die boek Esegiël word verwys na die politieke en godsdienstige leiers van die volk Israel, wat swak herders is. Hulle is korrup en sien net om na hulle eie belange. Hulle het die siek en swak en weerlose skape verdruk en vir hulself net die beste gevat. Dit laat ons dink aan die huidige Suid Afrika, waar die meeste politici korrup is. Staatskaping, korrupsie en die steel van geld het ’n algemene gesig geword. Hulle is swak herders. Hulle laat die skape, die mense van Suid Afrika swaarkry. Daar is geen dienslewering nie, want die herders kyk nie na die skape nie.
Dan word voorspel van die goeie Herder wat kom, om die wat mank en siek en kruppel en uitgestoot is op te tel en na veiligheid te dra.
Ook die voorspoedsteologie is ’n voorbeeld van godsdienstige leiers wat geld najaag, sonder om vir die weerloses te sorg en om te gee. Hulle is swak herders van hulle gemeente.
Jesus Christus het opgestaan vir alle weerloses in dié wêreld. In die Ou Testament was net die Jode die uitverkore en spesiale volk. Hulle is as weerloos gesien. Dan sê Jesus dat Hy vir alle mense gesterf het: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” Daarmee bedoel die Here, dat Hy nou die herder is van alle volke se weerloses.
Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood, sodat ons nie weerloos is nie. Daarom het ons nog steeds, elke dag die Here as ons goeie Herder, wat ons wil lei na groen weivelde en na waters waar daar vrede is.
Daarom gaan Kersfees oor weerloosheid en broosheid. Kersfees gaan oor om te gee. Kersfees gaan oor om uit te reik na ander mense wat weerloos is en ruik van sonde of armoede.
Mag u en ek ook in die Kersfeestyd, met die reuk van sonde wat aan ons kleef opnuut verwonderd staan voor die krip in Bethlehem.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
