Die papirusmandjie van Moses en die krip van Jesus Christus

SKRIFLESING: Eks 2: 1 – 4 en Luk 2: 12

Die uittogverhaal uit Egipte begin met ’n kind en die uittogverhaal uit die sonde begin ook met ’n Kind.

In Egipte was die Israeliete in slawerny. Hulle was slawe van die Egiptenare. In die uittogverhaal uit sonde, is ons weer slawe van die sonde. Die twee uittogverhale het ’n interessante parallel. 

Die geboorte van Jesus Christus is ’n parallel van die geboorte van Moses. Ook vir Hom sou daar nie plek wees nie en Hy is in ’n stal in ’n diere-krip in Betlehem geplaas na sy geboorte.  In Moses se tyd was die Farao en die Egiptenare die bedreiging wat alle seuntjies wou doodmaak. In Jesus Christus se tyd het Herodus en die Romeinse Ryk regeer. Herodus die Grote het ook opdrag gegee dat alle seuntjies van twee jaar en onder in Betlehem se distrik doodgemaak moes word. Daarom het Josef en Maria volgens die engel se instruksies na Egipte gevlug en daar geskuil tot Herodus die Grote dood is. 

Hosea 11: 1 het al voorspel “Toe Israel ’n kind was, het Ek hom al liefgehad,  en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Moses het die volk Israel uit Egipte verlos en die Verlosser van sonde, Jesus Christus, het ook uit Egipte gekom. So het beide verlossings uit Egipte gekom.

Dus is daar ’n duidelike parallel tussen die geboortes van Moses en Jesus Christus. Albei was verlossers. Die een is geplaas in ’n papirusmandjie en die ander een in ’n krip wat vir diere gebruik is.

Albei uittogverhale, die uittog uit Egipte en die uittog uit sonde, het ’n groot en duur prys gevra.

Die eerste Joodse volksmoord was die dood van alle Joodse seuntjies met geboorte in Eksodus 1 en 2. Ons lees dat na die dood van Josef daar ’n nuwe Farao oor Egipte begin heers het.

Hy het niks van Josef geweet nie en het bedreigd gevoel deur die hoë bevolkingsaanwas van die Jode. Hy het dit as ’n bedreiging vir Egipte gesien, daarom het hy die Jode harde handearbeid laat doen, deur stene te maak en die Egiptiese voorraadstede Pitom en Rameses te bou. Hy het twee Joodse vroedvroue, Sifra en Pua, opdrag gegee om met die geboorte van alle Joodse babatjies, die seuntjies dood te maak en die dogtertjies te laat lewe. Die Hebreeuse vroedvroue was egter ongehoorsaam aan die Farao en het die verskoning gebruik dat die Hebreeuse vroue baie sterk was en voor hulle nog by die vroue kom, het hulle al klaar geboorte geskenk. Die getalle van die Jode het net al meer geword en die Farao het besluit op ’n alternatiewe voorbehoedingsplan, deur te beveel dat die Egiptenare elke pasgebore Joodse seuntjie in die Nyl gooi om te verdrink.

Dan lees ons in Eksodes 2 van ’n man uit die stam Levi wat met ’n Levitiese meisie getrou het. Sy het ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom vir drie maande versteek. Toe sy hom nie langer kon versteek nie, het sy ’n biesiemandjie gekry en dit met pik waterdig gemaak. Sy het hom in die mandjie tussen die riete van die Nyl weggesteek, terwyl sy suster ’n oog gehou het. Dan lees ons hoedat een van die dogters van Farao afgegaan het om te swem in die Nyl. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavinne gestuur om te gaan kyk. Toe die Egiptiese prinses sien dit is ’n Joodse seuntjie, het sy hom jammer gekry en besluit om hom aan te neem as haar eie seun. Die seuntjie se suster gaan toe na die dogter van die Farao en vra haar of sy ’n Hebreeuse moeder kon roep om die kind te laat drink totdat hy gespeen is.

Die dogter van Farao stem in en was selfs bereid om daarvoor te betaal. Toe die seuntjie oud genoeg was, het sy moeder hom na die dogter van Farao geneem wat hom aangeneem het as haar eie seun. Sy het hom “Moses” genoem, “want ek het hom uit die water gehaal.” So het Moses grootgeword in die Egiptiese paleis en alles geleer oor leierskap. Baie jare later sou Moses sy volk uit Egipte lei na die beloofde land. Hy sou die redder en verlosser van die Joodse volk word, wat hulle van slawerny verlos om vir hulle ’n nuwe toekoms te gee in die beloofde land Kanaän.

Toe Moses die volk uit Egipte gelei het, is dit voorafgegaan deur tien plae; en die Egiptenare wat hulle agtervolg het, het die volk vasgekeer teen die Rooi See.  Die Here moes die Rooi See vir hulle oopmaak. Vir 40 jaar moes hulle swerwe in die woestyn voordat hulle die beloofde land kon ingaan. Hulle moes dikwels van water uit ’n rots lewe en was van ’n daaglikse porsie manna en kwartels afhanklik. ’n Hele geslag mense moes uitsterf voordat hulle in die beloofde land kon intrek. Dit was ’n saak van daaglikse geloofsvertroue. 

Maar dit was nie die enigste Joodse volksmoord nie. Ons lees in die Bybel ook van  ander Joodse volksmoorde. Telkens was dit omdat iemand bedreigd gevoel het.

Dan lees ons van ’n ander kindermoord wat sterk ooreenkomste toon met Moses se verhaal. Ons lees dat met die geboorte van Jesus Christus die sterrrekykers van die Ooste gekom het om aan Jesus Christus hulde te bring, want hulle het geweet dat Hy ’n Koning sou word. Die eerste plek om ’n koning te soek, was natuurlik die paleis van Herodus. Koning Herodus was so ontsteld toe hy hoor dat ’n ander koning gebore is, dat hy moes keer dat sy eie posisie in die gedrang kom. Hy het die sterrekykers gemaak-vriendelik gevra om, as hulle die koning gevind het, verby sy paleis terug te kom, sodat hy ook geskenke vir die koning kon bring. Natuurlik wou hy die Jesus-Kind doodmaak. Die sterrekykers het die Jesus-Kind gevind en vir Hom geskenke gegee.

God het die sterrekykers in ’n droom gewaarsku om nie na Herodus terug te gaan nie en hulle het ’n ander pad terug geneem na hulle land. Daar het toe ’n engel van die Here aan Josef verskyn en hom gewaarsku om Maria en die Kindjie te neem en na Egipte te vlug, omdat Herodus van plan was om die Kindjie te vind en dood te maak. Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate na Betlehem en die omgewing om alle seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. Dit het tot ’n kindermoord op baie seuntjies gelei. Daarom word daar gepraat van ’n gekerm op Rama en dat Ragel treur oor haar kinders en dat sy nie vertroos wil word nie. Na die dood van Herodus het daar ’n engel in ’n droom aan Josef verskyn en vir hom opdrag gegee om terug te keer na Israel. Josef, Maria en die Jesus-Kind het toe in die dorpie Nasaret gaan bly, waar Jesus groot geword het.

Baie jare later sou die Jesus-Kind wat gered is, Sy lewe gee om die hele wêreld te verlos van die slawerny van sonde. Hy sou die Messias word wat verlossing gee uit sondenood en uit die ewige dood.

Dit het Maria en Josef die gemak van die huis gekos tydens ’n lang tydperk van ballingskap in Egipte om die klein Jesus-Kind te beskerm. Dit het moeders in en om Bethlehem die bloedbad van hul babas gekos deur die wrede bevel van Herodes die Grote. Dit het die herders ’n reis gekos met die oproep na die krip en om die goeie nuus te vertel. Dit het die wyse manne ’n lang reis en duur geskenke gekos.

Sonder Moses in die papirusmandjie in die Nyl, sou daar geen verlossing gewees het uit Egipte nie.

Sonder Jesus Christus in die krip in die stal, sou daar geen verlossing uit sonde gewees het nie. Daarom skryf Dietrich Bonhoeffer in sy boek “God Is In the Manger” die volgende woorde:  “Holy theology arises from knees bent before the mystery of the divine child in the stable. Without the holy night, there is no theology.”

Sonder die papirusmandjie sou daar geen uittog uit Egipte gewees het nie. Sonder die krip in die stal sou daar geen verlossing uit sonde gekom het nie. Daarom is Kersfees spesiaal. Met Goeie Vrydag buig ons voor die kruis, maar met Kersfees buig ons voor die krip.

Daarom is Jesus Christus se menswording ’n liefdesdaad van die Vader. Die Vader het Sy Seun vir die wêreld gegee. Dietrich Bonhoeffer skryf: “It is only because he became like us that we can become like him.” Wat ’n heerlike uitdaging is dit nie vir ons nie. Ons kan deur heiligmaking strewe om Christ-like te word.

Die krip is die begin van die Nuwe Testament, die begin waar God Sy beloftes waar maak, die begin van die verlossing. Daarom kan ons kersliedere sing, want die krip is vir ons ’n simbool van verlossing, soos die papirusmandjie in die Ou Testament die simbool van verlossing uit slawerny was.

Daarom is daar merkbare ooreenkomste tussen die verhaal van Moses en Jesus. Albei se lewe is as jong babas bedreig. Albei is gered van ’n slagting onder jong seuntjies. Beide is gebore onder twee diktators wat bedreigd gevoel het oor hulle posisies, naamlik Farao en Herodus.

Beide was verlossers. Moses het die volk Israel gered vanuit Egipte, die plek van slawerny. Jesus Christus het weer as Verlosser die wêreld gered van die slawerny van die sondenood en die ewige dood.

Daarom is die Kersverhaal nie heeltemal so romanties nie. Kersfees is ook duur. Ons vergeet van die kindermoord en die baie moeders wat hulle seuntjies onder twee jaar oud verloor het. Daar was ’n gekerm en ’n gehuil met die geboorte van Christus. Ons almal verlang na ’n perfekte Kersfees. Maar daar sal nooit ’n perfekte Kersfees wees nie. Christus is juis gebore vir die onperfektheid van die wêreld. Christus Jesus se geboorte was onder trane en droefheid, sodat daar hoop kan wees vir ons droefheid en trane, en onperfekte lewens.

Kersfees is nie bedoel om perfek te wees nie. Ons lewe en lewensomstandighede getuig dikwels van krake, siekte, eensaamheid, droefheid en persoonlike probleme. In baie huise word vanjaar dalk ook iemand geliefd gemis en is daar ’n leë stoel aan ons Kerstafel.  Maar Kersfees bring Lig in ons donker wêreld en gemoed.

Die eerste Kersfees was onperfek, sodat daar hoop kan wees vir ons wrede en stukkende wêreld. Die geboorte van Christus Jesus was die begin van Christus se “Auschwitz”. Daarom, wanneer ons ook somtyds deur ons eie “Auschwitz” moet stap, weet ons dat ons nie alleen is nie. Christus was alreeds daar.

Die enigste stukkie perfektheid in die Kersverhaal is die liefde van God vir sondaarmense in hulle gebrokenheid. Ware liefde is altyd perfek. Daarom moet ons in hierdie Kersfeestyd en dwarsdeur 2025 altyd streef na die een perfektheid, naamlik die LIEFDE. Daarom sê Paulus ook dat die grootste van alles die LIEFDE is. Al wat perfek was met die eerste Kersfees, was God se onvoorwaardelike liefde. Wil jy hierin deel?             

 Plaas onder jou kersboom dié Kersfees ’n krip! Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geraamtes in die kas

SKRIFLESING: Mat 1: 1 – 17

In die ou groot familie-Bybels was dit gebruik dat ons voorvaders hulle familie-stamboom neerskryf. Van oupa- en ouma-grootjie tot die jongste kind. Families was erg gesteld op hulle stamboom.

Net die goeie word vertel. Niemand praat oor die geraamtes in die familieboom se kas nie. Dit word verswyg. Dit is amper soos by begrafnisse. Net die goeie van die persoon word uitgelig, maar hy of sy se geraamtes word verswyg. Met die verhaal van Christus Jesus se stamboom is dit egter heeltemal anders.

In die boerdery word ’n stoetery ook bepaal deur die stamboom van daardie diere. Daar word noukeurig rekord gehou van die stoetbul of stoetram. Natuurlik behaal die diere met die beste stamboom ook die beste pryse op die vendusies. Dit is ook die verskil tussen ’n brak en ’n opregte hond. ’n Brak het geen stamboom nie, maar ’n opregte hond het ’n stamboom en word geregistreer as opreg.

Snobisme kom algemeen voor in die mensdom. Daar word gou gesê jy is nie van my familie of sosiale klas nie. Die mensdom sosialiseer moeilik met mense wat ’n beskeie en nederige agtergrond het. In baie families is daar hewige familie-rusies as ’n verliefde jongmens wil trou met ’n persoon wat volgens die ouers nie in hulle sosiale klas pas nie.

Ons sou verwag dat die geslagsregister of die familie-stamboom van Jesus Christus onberispelik sou wees. Christus is tog die Seun van die Vader. Daarom moet Sy geslagsregister uitstaande wees. Die teendeel is egter waar. Mattheus verskaf vir ons die volle geslagsregister van Jesus Christus. Hy noem slegs vyf vroue, waarvan vier uit ’n bedenklike agtergrond kom en een uit ’n baie nederige agtergrond.

Die vroue is Tamar, Ragab, Rut, Batseba en Maria. Kom ons kyk na elkeen van hulle se storie.

  • Tamar, wat by haar skoonpa slaap

Ons lees dat Juda vir sy eersgebore seun Er ’n vrou geneem het met die naam van Tamar. Er was egter ’n slegte man en God het hom laat sterf en Tamar as weduwee gelaat. Dit was toe Er se broer Onan se verantwoordelikheid om by Tamar kinders te verwek vir Er. Hy het egter elke keer as hy met haar gemeenskap gehad het, sy saad op die grond laat val, sodat Tamar nie swanger geword het nie. Die Here het daarom ook Onan laat sterf en Tamar weer as weduwee gelaat. Die volgende broer wat toe ’n nageslag moes verwek, was Sela. Juda het egter gesê dat Sela te jonk is en dat hy bang is Sela sterf ook soos sy broers. Dan lees ons hoe Juda na Timna gegaan het om skape te skeer. Op sy pad terug het hy Tamar teëgekom wat haarself as prostituut voorgedoen en haar gesig bedek het. Juda het toe afgedraai om met die prostituut gemeenskap te hê.

Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. Hy het aangebied om haar te betaal met ’n boklam, maar Tamar wou ’n pand hê om te verseker dat Juda haar betaal. Juda het toe vir haar sy seëlring en staf gegee. Hy het met haar gemeenskap gehad en huis toe gegaan. Hy het sy vriend gestuur om die prostituut te betaal met die boklam wat hy belowe het. Sy vriend kon die prostituut egter nêrens opspoor nie. Juda sê toe vir sy vriend dat hulle nie daaroor moes praat nie, anders word hy ’n bespotting. Die prostituut moes maar die seëlring en staf hou. Drie maande later word dit bekend dat Tamar swanger is. Die mense vertel toe vir Juda dat sy skoondogter swanger is deur haar hoerery. Juda beveel dat Tamar uitgebring en verbrand moet word. Toe hulle Tamar uitbring, het sy gesê dat die een aan wie die seëlring en staf behoort, die pa is. Juda was erg verleë aangesien hy die pa was. Hy erken daarna dat hy verkeerd was deur sy seun Sela nie vir Tamar as man te gee nie. (Dit was volgens die Joodse familie-reg die gebruik dat wanneer een broer sterf, sy ander broer met die weduwee moet trou en vir sy broer by haar kinders verwek.) Juda het Tamar se lewe gespaar en sy het geboorte gegee aan ’n tweeling, Peres en Serag. Peres het een van die voorvaders in die stamboek van Jesus Christus geword.

  • Ragab die prostituut

Ragab was ’n prostituut van Jerigo.

Josua het twee verspieders uitgestuur om Jerigo te verken. Hulle was as’t ware spioene. Toe die koning van Jerigo uitvind dat daar spioene in die stad is, het hy sy soldate gestuur om hulle te soek en dood te maak. Hulle het toe gevlug na Ragab die prostituut. Ragab het haar ontferm oor die twee verspieders en hulle eers weggesteek en hulle later met ’n tou laat afsak tot buite die stad, waar hulle kon ontvlug. Sy het hulle egter laat belowe om wanneer hulle die stad Jerigo aanval, haar en haar familie te spaar. Sy sou ’n rooi tou by die venster laat uithang.  Met die aanval en vernietiging van die stad Jerigo, het die Joodse soldate die belofte nagekom en Ragab en haar familie gespaar. Later het Ragab, die prostituut, met Salmon getrou en so die moeder van Boas geword, ook een van die vroue in die geslagsregister van Jesus.

  • Rut die Moabiet

Die verhaal begin waar Naomi saam met haar man en twee seuns uit Israel trek na Moab, aangesien daar ’n droogte was in Israel en hulle broodsgebrek gelei het. Die Jode en die Moabiete was egter vyande en die Jode het op die Moabiete neergesien. Hoekom het die Jode op die Moabiete neergesien? Die ontstaansgeskiedenis van die Moabiete getuig van immoraliteit, swak sedes en bloedskande. Die nasie is gebore na die vernietiging van Sodom en Gomorra, en na ’n bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy oudste dogter, soos beskryf in Genesis 19. Die Moabiete het ook afgode soos Kemos (1 Kon 11:7, 33) en Baäl-Peor (Num 25:1 – 3) aanbid op die hoogtes. Daarom het die Jode op die Moabiete neergekyk en hulle as ’n laer klas beskou.

 Naomi se twee seuns het met twee Moabitiese vroue by name Rut en Orpa getrou. Ongelukkig sterf Naomi se man en albei haar seuns. Toe dit weer gereën het in Israel, besluit Naomi om terug te gaan na Israel. Haar Moabitiese skoondogter Rut het egter soos ’n neet aan haar vasgekleef en gesê dat sy saam met Naomi ook Israel toe gaan, vir ’n nuwe toekoms.

In Israel het hulle swaargekry en moes Rut are in die land optel om hulle aan die lewe te hou. Naomi het egter geweet dat Boas familie is van haar oorlede man en dat hy regtens vir Rut as vrou moet neem. Hy moet as losser optree en met haar trou. Naomi het Rut beveel om vir haar mooi te maak en haar lekker te laat ruik en in die aand by die voete van Boas te gaan lê. In Hebreeus beteken “om te gaan lê by die voete” om verleidelik te gaan lê by ’n man. Sy het hom as’t ware verlei. Die volgende oggend was Boas smoorverlief op Rut en het besluit om met haar te trou. Uit die huwelik is Obed gebore, ook een van die voorsate in Jesus se stamboom. So het ’n volksvreemde Moabiet, wat beskou is as iemand van ’n laer klas en uit ’n onrein volk, deel gekry aan die stamboom van Christus.

  • Batseba die owerspelige

Batseba se naam word nie pertinent genoem in die geslagsregister van Jesus Christus nie. Sy word beskryf as die “vrou van Uriah”. Uriah was ’n soldaat in Koning Dawid se weermag. Dawid het vir Batseba raakgesien op die dakvertrek vanuit sy paleis terwyl sy besig was om te bad. Miskien was dit die bedoeling van Batseba om die koning te verlei.

So het dit gekom dat Dawid en Batseba owerspel pleeg terwyl Uriah op militêre diens was. Dawid maak toe ook ’n plan om van Uriah ontslae te raak deur hom in die voorste linies te laat veg, sodat hy maklik kon sneuwel. Daar is dus ook moord gepleeg, saam met die owerspel. Tog het die Here vir Dawid vergeef, na Dawid se diep berou in Psalm 51. Uit die verhouding tussen Dawid en Batseba is gebore koning Salomo en so word dit ook deel van die stamboekgeskiedenis van Jesus Christus.

  • Maria, die eenvoudige meisie sonder agtergrond

Maria was die moeder van Christus Jesus.

Sy was ’n eenvoudige meisie wat in Nasaret, een van die onaansienlike dorpies in Israel, gewoon het. Sy was van geen hoë klas of aansien nie. So het die Here ’n eenvoudige mens gebruik om Sy werk te doen, iemand wat geen koninklike agtergrond gehad het nie. Uit die Kerstradisie sien ons tonele van Maria op ’n donkie en Josef, wat die donkie lei. Dit word uit die Skrif aangeneem dat Maria op ’n donkie gereis het, aangesien die afstand tussen Nasaret en Bethlehem ongeveer 105 kilometer te voet was. Vir ’n hoogswanger vrou sou die afstand te ver wees om te loop. Verder was Josef ’n gewone skrynwerker en daarom nie ryk nie. Hy het dalk sy eie donkie gehad of selfs dalk een geleen. Interessant is toe Jesus Jerusalem binnegaan om gekruisig te word, het Hy ook op die rug van ’n geleende donkie gery, op pad na Sy kruis.

  • Waarom het Mattheus die vyf vroue uitgesonder?

Jesus Christus se stamboek is nie rooskleurig nie.

Daar is baie geraamtes in die kas. Vier van die vyf vroue in ons gelese gedeelte het onbestendige lewens gelei of was van bedenklike afkoms. Desnieteenstaande het God dit goedgevind om hulle deel van Jesus Christus se stamboek te maak, sodat daar hoop vir jou en my kan wees.

Maak nie saak hoe groot jou sonde of watter geraamte daar in jou kas is nie, Christus Jesus het gekom vir sondaars. Hy het vir Tamar, Ragab, Rut en Batseba – ten spyte van hulle sonde en bedenklike afkoms – so volledig aanvaar dat hulle deel van Christus Jesus se stamboom geword het. Straatbrakke het ook deel aan Jesus Christus se genade. Terwyl Christus op aarde was, het Hy gemeng met die sondaars en prostitute en tollenaars. Hy het selfs tuisgegaan in die huis van die tollenaar Saggeus, wat een van die grootste sondaars in Jerusalem was.

Die Evangelie is teen enige vorm van snobisme. Ons stoot mense maklik weg met ons snobisme, maar Christus trek mense nader in Sy liefde en genade.

Al is ons vermink deur die sonde, is Jesus Christus vermink aan die kruis om ons verminking op Hom te neem. Ons is die lammers met gebrek, sodat die volmaakte Lam van God in ons plek geoffer is. Kersfees gaan oor God se onvoorwaardelike liefde vir sondaars. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Verwondering oor die Lig en die menswording

SKRIFLESING: Johannes 1:1 – 18

In die foto is die drie Botha-seuntjies van Theunis en Eleanor Botha, wat hul verwonder oor ’n kersvlam.  (Dit is baie jare gelede geneem. Nou is hulle al jongmanne.)

Met seuntjies-oë en kinderlike  opregtheid is hulle in ’n ander wêreld, ’n wêreld van betowering. Kersfees is ook ’n tyd van verwondering en magic. ’n Tyd om jou te verwonder aan die Lig van die wêreld.

Die eerste opdrag wat God gegee het, is: “Laat daar lig wees …” En daar was lig. So begin die Ou Testament. Die  Johannes Evangelie in die Nuwe Testament begin ook met die woorde: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Insiggewend dat altwee die Testamente begin met die verwysing na lig. Die lig van die Ou Testament het skeiding gebring tussen dag en nag. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen hoop en wanhoop, tussen skuld en bevryding. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen regverdigheid en goddeloosheid. Die Lig is vir alle mense om aan te neem. Hoe nader jy aan die lig-lewe kom, hoe beter kan jy vir God en jou naaste sien. Hoe verder jy van die Lig lewe, hoe meer onsigbaar word God vir jou en later kan jy ook nie eers meer die gesig van jou naaste raaksien nie. Ons praat van ’n Godsverduistering wat plaasvind, soortgelyk aan ’n sonsverduistering.

Hoe verder ’n mens van die lig van die kers sit, hoe minder kan jy vir God en ander mense raaksien. Hoe nader jy aan Jesus Christus – die Lig van die wêreld – leef, hoe meer sien jy God se werke in jou lewe raak. Jy sien dan ook skielik die gesig van jou naaste baie duidelik. Daarom is die oproep in 1 Johannes om naby aan die Lig te leef. Ja, om die Lig aan te neem ! Om as’t ware die Lig te omhels.

In die begin van die Ou Testament lees ons van God wat die mens gemaak het na die beeld van God. Met ander woorde, die MENS LYK SOOS GOD. In Johannes 1 word gesê dat God  vlees geword het – Hy het soos die mens geword, behalwe in die sonde. Met ander woorde, die proses is nou omgekeer: dat GOD NOU LYK SOOS DIE MENS, behalwe in die sonde. Is dit nie Goddelike magic nie !

God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic !

’n Baie mooi verhaal om dit te illustreer, is die volgende: Daar was eenmaal ’n ateïs wie se vrou ’n gelowige was. Hulle het in ’n klein dorpie gebly in die Switserse Alpe.

Dit was ou-Kersaand en dit het hewig gesneeu. Sy vrou het kerk toe gegaan, want dit was die gebruik om Kersliedere te sing die aand voor Kersfees. Hyself het egter verkies om by die huis te bly en sy aand voor die televisie deur te bring. Skielik hoor hy ’n slag teen die ruit, en ’n tweede en derde keer. Toe kom hy agter dit is ’n trekvoëltjie wat verdwaal het en êrens ’n warm plekkie soek om te oornag. Hy gaan toe dadelik uit om die ou houtskuur se deur oop te maak. Met ’n gewaai van arms en die namaak van voëlgeluide probeer hy om die voëltjie in te lok in die skuur in.

Nie eers voëlkos kon die voëltjie oorreed om die warm skuur in te gaan nie. Na ’n hele tien minute se gesukkel, kom die wens by hom op om net vir een minuut soos die voëltjie te word, sodat hy die voëltjie die warm skuur kan binnelei. Op daardie oomblik lui die kerkklok. Net daar val die ateïs op die sneeu neer en bid vir die eerste keer in sy lewe. Want toe hy die kerkklok hoor lui, besef hy vir die eerste keer waarom Christus na die wêreld gekom het en hoekom Hy kom mens word het. Hy het kom “mens word” met Kersfees om ons in die warm skuur van God se genade en liefde in te lei. Hy het kom word soos ons, behalwe in die sonde. Dit is die betowering van Kersfees.

God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic

Juis daarom moet ons hierdie Kersfees die Lig laat skyn en dit nie onder ’n maatemmer verberg nie. Tereg sê Johannes 1: 4 dat Jesus die Lig is en dat selfs nie eers die duisternis dit kon uitdoof nie. As’t ware skryf Johannes ’n bibliografie aangaande Jesus Christus en begin sy Evangelie met die stelling “en die duisternis kon dit nie uitdoof nie”, wat hy dan later in sy Evangelie bewys. Met Jesus se kruisiging het dit donker geword. Vir ’n tydperk het dit gelyk of die duisternis die duiwel gaan wen.

Oor ’n tydperk van drie dae was Jesus in die dood, asof in die hel, van God en mens verlaat. Maar op Paassondag met die breek van die eerste lig het Hy opgestaan uit die dood en lééf Hy as die eerste Môrelig. Hy kom nooi ons as’t ware om in die LIG te leef. In vers 12 praat Johannes van almal wat Hom aangeneem het, aan wie Hy die reg gegee het om kinders van God te wees. As’t ware om kinders van die Lig te wees. Uit een kers kan jy miljoene kerse aansteek. Uit die opstanding van die een Lig, is die lig in miljoene gelowiges wêreldwyd aangesteek.

Jesus se lig is so helder dat daar geen donkerte intens genoeg is om Sy lig uit te doof nie. Maak nie saak hoe donker jy ’n vertrek maak nie, daar sal nooit genoeg donkerte wees om die lig dood te maak nie. Die lig wen altyd die donkerte. Juis daarom moet ons lig en hoop bring in die wêreld waarin ons leef. Jou kleinste daad van liefde en lig kan nooit ongedaan gemaak word nie.

Dit sneeubal voort in ander mense se lewens. So het Jesus se kruisdood en opstanding gesneeubal in miljoene mense se lewens. Daar is mos nie verniet aan Abraham beloof dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre aan die hemelruim of soos die sand van die see nie. In Christus Jesus het ons almal kinders van vader Abraham geword. So het die Lig na die hele wêreld gekom. Die wonder is dat ons die lig kan aangee na ander, deur self net die Lig te lewe.

Vers 16 sê aangrypend: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. As’t ware kry ons rente op rente genade by die Here. Ons kry soveel genade, dit is soos ’n glas wat reeds vol water is en nog water kry. Dit loop oor !

Dit kos niks om die water te deel nie, want daar is reeds te veel water vir my. Juis daarom moet ons die oorvloedige genade van die Here aangee.

Somtyds is ons ongehoorsaam en dan “briek” ons hierdie oorvloedige genade van die Here.

Dit is soos om ’n windpomp te “briek”. In die Noord-Kaap waar ek die voorreg gehad het om predikant te wees vir bykans veertien jaar, was ’n windpomp alledaagse woordgebruik. Om ’n windpomp te “briek” is om te keer dat dit nog water gee. Dikwels doof ons die “lig van die Evangelie” uit of ons “briek die oorvloedige genade van God” in ons eie lewe en ook in ander mense se lewens met wie ons in aanraking kom. So kan ons dikwels die Gees se werking teenstaan. Johannes 3 praat mos van die Gees se werking wat soos “wind” is. Jy kan die wind nie sien nie, maar jy sien die werking van die wind. So kan jy God se Gees nie sien nie, maar jy kan die Gees se werking sien in jou en ander se lewens.

Om die Evangelie nie aan te neem nie (vers 11 en 12) is om “die windpomp te briek.” Dan ontbreek dit jou aan die koel soet ondergrondse water wat uit jou siel kan borrel. Maar boeta, die wind kan ook ’n windpomp se brieke afruk. Dan is daar geen keer aan die water nie. So het Saulus God ook “gebriek”, totdat God se Gees sy brieke afgeruk het op die pad van Damaskus. Toe was daar geen einde van lewende water in die lewe van Paulus nie. Wanneer God se Gees jou “brieke” afruk, dan verander jy sommer van naam ook – so ingrypend werk die Gees.

Wanneer die wind eers ’n vuur gevat het, kan niemand so ’n vuur keer nie. So het dit ook in die geskiedenis van al die groot geestelike herlewings gebeur. Dit steek die wêreld aan die brand. Daarom praat Johannes Calvyn nie verniet van die Christelike hart as die “brandende hart” nie. Op Pinkstersondag het die Gees sommer in ’n oomblik 3000 harte aan die brand gesteek met die ewige liefde.

Jesus is die Lig van die wêreld. Sy lig het die wêreld aan die brand gesteek. Sy Lig het onder ons kom woon en “Kyk, ons kan sien !” Dit is die magic van Kersfees … dat ons kan “sien”.

Mag u dié Kersfees met kinderlike onskuld u verwonder aan die betowering van Kersfees. Mag die magic u hele lewe verander.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

90 jaar in 55 jaar geleef (Sy dade volg hom) – Jacobus le Roux

SKRIFLESING: Openbaring 1: 17 – 18 en Openbaring 14: 13

Toe ek Maandagmiddag by JW op Koedoeskloof was, het hy vir my iets aangrypends gesê: “My pa het 90 jaar in 55 jaar geleef.” ’n Mens se lewe word nie gemeet in terme van jou ouderdom nie, maar in die kwaliteit van jou lewensjare. Ons sou almal graag nog vir Jacobus vir 30 jaar by ons wou gehad het, maar die Here het anders gewil.

Maar hy het voluit en met passie geleef in die 55 jaar wat die Here vir hom gegee het. Hy was ’n goeie man vir Heleen en ’n wonderlike vader vir sy drie seuns. Ek is so dankbaar dat hy ’n goeie vaderfiguur vir sy seuns kon wees totdat hulle as volwasse jongmanne kon ontwikkel. Die vaderfiguur speel altyd ’n baie groot rol in ’n seun se lewe. Hy was ’n wonderlike rolmodel in sy seuns se lewe. Jacobus le Roux was ook ’n uitstekende boer, wat met  oorgawe en suksesvol geboer het. Boerdery was vir hom nie ’n werk nie, maar ’n passie en lewensroeping.  Boerdery het deur sy are gevloei.

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ’n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ’n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit was. Die sleutel van die doodskiste is vir die opsigter van die begraafplaas gegee om te bewaar. Die wewenaar en die predikant het, nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir hom: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ’n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades”.

Die woord “Hades” word voorgestel as ’n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ’n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die doderyk oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Versprei deur die boek van Johannes kry ons sewe saligsprekinge. Een van hulle is Openbaring 14:13: Ek het toe ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Heel eerste praat hierdie vers van gelukkig is dié wat in die Here sterwe. Vir sy vrou Heleen; sy seuns Pierre, JW, Izak; sy ouers Oom Pierre en Tannie Jackie en sy susters Eleanor en Aletta en die res van die uitgebreide familie is dit seer, pynlik en ’n diepe wond. Maar vir Jacobus is dit “gelukkig”, want hy het in die Here gesterf. Jacobus was in die Here en hy het in die Here gesterf en daarom kan ons hom nou “gelukkig” noem.  Almal wat in die Here gesterf het, is inderdaad gelukkig.

Tweedens praat die vers ook van “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg.” Die woord “geswoeg” is die Griekse woord “kopos” wat ons eerder sou kon vertaal “met moeite” en dit verwys na ons hele lewe wat vir ’n groot deel uit moeite, pyn en bekommernisse bestaan. Jacobus het nou geen moeite, angs, pyn en bekommernisse nie. Die Bybel maak baie gebruik van die woord “rus”. Daarom is die Sabbat die “rusdag” vir die mens. Jacobus het in sy Sabbatsrus ingegaan.

Hebreërs 4: 9 – 11 sê die volgende oor die rus: Daar bly dus steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Jacobus le Roux se arbeid op die aarde is voltooi. Hy kan nou rus van sy aardse arbeid en sorge, maar hy neem nou sy hemelse verantwoordelikhede op.

Hierdie “rus” word ook verduidelik in Psalm 23: 5b, waar daar staan: U verfris my kop met olie; my beker loop oor. In hierdie wêreld loop ons beker nooit oor nie. Ons het altyd behoefte aan sekuriteit, voldoende finansies, goeie gesondheid en nog vele ander dinge. As dit goed gaan, is jou beker driekwart vol. As dit met jou tussen die boom en die bas gaan, is jou beker halfpad vol en as dit met jou sleg gaan, is jou beker ’n kwart vol. Elke dag vul die Here ons beker aan met nuwe lewenskrag, maar ons beker loop nooit in dié lewe oor nie. Maar in die hemel loop ons beker oor. Dan het ons aan niks meer ’n tekort nie. Daarom loop Jacobus se beker nou oor in die hemel. Hy het aan niks ’n tekort meer nie.

Behalwe die “geswoeg” praat die teks ook van “dade”. Diegene wat in die Here sterwe, sal nie net rus van hulle geswoeg nie, maar hulle dade volg hulle.

Let op dat jou goeie dade nie voor jou uitloop om die hemel vir jou oop te maak nie. Net Jesus Christus kan die dood oopsluit met sy kosbare bloed. Jesus is die sleuteldraer wat sonder verdienste die deur vir jou oopsluit. Nee, die teks sê jou goeie dade volg jou. Is dit nie ’n troos nie! Alles wat ons gedoen het wat goed was, volg ons. Die dood kan mos nie uitvee wat goed in jou lewe was nie. Die goeie bly altyd staan. Die goeie wat Jacobus gedoen het en sy getuienis vir die Here, bly staan. Sy goeie dade as eggenoot, vader, gesinsman, boer,  gemeenskapsleier en as kerkleier bly staan. Dit volg hom die hemel in.

Die Joodse rabbi’s het geglo dat jou goeie werke jou vooruit gaan. Dat jou goeie werke soos ’n stootskraper vir jou ’n pad oopmaak na die hemel. Maar in die Nuwe Testament het die Here die orde omgegooi. Jesus gaan self vooruit om vir ons die pad na die hemel oop te maak. Ons goeie dade volg ons in die dood.  Daarom: die goeie dade van ons gaan ons nie vooruit nie, maar  volg ons die hemel in.

Die Here vee met ons dood nie die goeie dade uit nie. Iemand skryf so aangrypend: “Nee, wanneer die gelowige omkyk in die ewigheid, volg alles wat hy gedoen het op sy hakke. God vergeet nie. Ons sonde ja, die het Hy totaal vergeet (Hebreërs 10:17), maar nie ons werke in Sy Naam nie. ‘Ek kén jou werke en jou ‘kopos’, ’ sê Jesus in Openbaring 2:2.”

 Want ons goeie dade verheerlik die Here Jesus, daarom word dit nie uitgevee nie. Ds. Johannes de Koning skryf tereg: “Ons goeie werke volg ons. Ons dade tel tot in alle ewigheid!” Ons slegte dade is uitgevee deur die bloed van die Here Jesus Christus.

Mag hierdie gedenkdiens van Jacobus le Roux weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) beklemtoon. Jacobus le Roux se lewe word gekenmerk deur karaktervastheid, lojaliteit en betroubaarheid. Sy woorde het altyd “gewig” gedra. Hy was ’n waardige man. Hy is een van die groot bome wat geval het op Fort Beaufort. Sy werk op Fort Beaufort sal altyd onthou word. Hy is een van dié dorp se legendes.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Kyk hoe opgeswel is my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.” So het die dood ook Jesus Christus as deurboorde gesteek en het die dood sy angel verloor, sodat die dood nie die finale sê oor ons het nie. So het die dood nie meer ’n houvas op my nie.

Vir Heleen gaan dit die volgende weke en maande baie swaar wees. Sy gaan die verlies baie erg beleef. Ek het die mooiste herinneringe van Jacobus en Heleen. Ek onthou Sondagoggende het hulle in die middelblok van die kerk gesit tydens die erediens. Hulle het altyd styf teen mekaar gesit en Heleen het haar kop gerus op Jacobus se skouer. Dit was ’n besondere mooi ervaring vir my van die liefde tussen ’n man en sy vrou. Jacobus het ’n moeilike pad gestap, maar Heleen het hom deur dik en dun bygestaan en was dáár vir hom. Sy het haar troubelofte tot die einde opreg nagekom. Ek dink ook aan Oom Pierre en Tannie Jackie, wat al twee kinders aan die dood afgestaan het. ’n Kind kan nog ’n ouer se dood verwerk, maar dit is baie moeilik vir ’n ouer om ’n kind se dood te verwerk, want dit is vlees van jou vlees.

Pierre, JW en Izak, julle moet nou in die voetspore van julle vader loop. Julle het groot spore om vol te staan, maar die Here sal julle help. Julle het die voorreg om die Le Roux-familienaam te laat voortleef. In julle vader het julle ’n wonderlike mentor en rolmodel gehad. Dit is ’n voorreg om in sy voetspore te volg en sy werk voort te sit.

Jacobus was versot op springmielies. Mag julle as julle in die toekoms springmielies eet, altyd vir Jacobus onthou.

Maar Jacobus le Roux het gelukkig gesterf, want hy het in die Here gesterf. Dit is wat ons teks sê. Ons is nie troosteloos nie, want Jacobus rus van sy geswoeg. Sy dade volg hom in die hemel. Daarom kan niks goeds wat hy gedoen het, deur die dood ongedaan gemaak word nie. Sy goeie dade lewe voort tot in alle ewigheid, tot verheerliking van God.

Wat ’n heerlike troos!                                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Mag korrupteer

SKRIFLESING: Mat 2: 8 en 13 – 23

“Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut.” So het ’n bekende filosoof geskryf.

Herodus die Grote, tydens die geboorte van Jesus Christus is ’n voorbeeld hiervan. Hy was ’n gehate en genadelose despoot. Hy het soos ’n Hitler, Stalin of een of ander gewetenlose Afrika leier opgetree.

Hy het vir meer as 40 jaar regeer. Soos alle diktators het hy aan mag vasgeklou.  Hy het sy swaer, sy skoonma en later ook sy vrou doodgemaak, omdat hy in hulle ’n bedreiging gesien het.  Herodus was ’n moordenaar. Menslike lewe het vir hom niks beteken nie. In 7 vC het hy toe hy gehoor het, sy twee seuns span saam om hom van die troon te verwyder, opdrag gegee dat hulle al twee doodgemaak moet word en dan ook spesifiek verwurg moet word.

Die Joodse geskiedskrywer Josefus het hom beskryf as ’n barbaar. Hy was dan ook die bouer van die Tempel van Herodus, waarmee Herodus die Jode wou paai. Die tempel is in 70 nC verwoes deur die Romeinse regeerder Titus. Toe die wyse manne by Herodus navraag gedoen het oor die geboorte van die “Koning van die Jode” het hy hulle gestuur om uit te vind waar die “Koning” gebore is, met die voorwendsel dat hy ook ’n geskenk vir die Kind wil bring. Toe hy agterkom dat die wyse manne nie terugkom met die informasie wat hy verlang het nie, het hy al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak. Hy wil die alleen koning en regeerder wees.

Ons kan onsself maklik van Herodus distansieer, asof daar nie in ons ook boosheid is nie. Maar eintlik is ons ’n haarbreedte van Herodus.

’n Klompie jaar gelede het ’n Amerikaner ’n artikel geskryf oor ’n getuie in die verhoor van Adolf Eichman. Eichman was tydens die Tweede wêreldoorlog een van die meesterbreine agter die sogenaamde “Holocaust” van meer as 6 miljoen Jode.

Kort na die Tweede Wêreldoorlog is Eichman wat ontvlug het in sy afwesigheid verhoor. Tydens hierdie aanvanklike verhoor het Yehiel Dinur, wat die massadood vrygespring het, getuig teen Eichman. Jare later in 1961 het spesialismagte van Israel vir Eichman in Argentinië gevang. Hy is weer verhoor en Dinur moes weer getuig. Toe hy vir Eichman in die hofsaal sien het hy flou geword. Was hy bang? Was dit haat of slegte herinneringe? Tydens ’n TV onderhoud wat later gevolg het en die joernaliste vir hom die vraag gevra het, het hy verduidelik dat hy tydens die oorlog in absolute vrees geleef het vir die magtige man. Maar in 1961 in die hofsaal, toe Eichman gestroop is van sy mag het hy hom gesien vir die man wat hy was. “Gestroop van sy beeld van mag, was Eichman maar net ’n gewone mens” het Dinur gesê. “En toe het ek meteens besef: Ek is ….. presies soos hy ….” Dit het hom laat flou word. Die rubriekskrywer se opskrif spreek boekdele: Eichman is in elkeen van ons.

Herodus is in elkeen van ons. Ons almal is geneig tot die sonde. Ons almal is geneig tot die bose. Ons almal is geneig om jaloers en lelik met mekaar te wees. Ons is geneig om mekaar in die rug te steek en onsself te bevoordeel ten koste van ander.  Ons doen dit nou wel nie in die mate as wat Herodus en Eichman dit doen nie, want ons beskik nie oor hulle mag nie.

Mag maak mense lelik. Mag laat jou op ander mense trap. Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut. Sien ons dit nie elke dag in die koerante van politici wat hulle hande oorspeel met korrupsie nie.

Die magspel in huwelike en gesinne, waar mans wil mag hê oor vrouens – wat ons patriargie noem. Of waar vrouens die mag wil hê oor mans – wat ons matriargie noem. Of waar ouers met mag hulle kinders wil beheer.

Die magspel in die werksplek, in die kerk, in die sportklub of in die organisasie. Ons noem dit klein politiek. Mag maak mense lelik.

Maar dan kom Jesus in die wêreld, in die magtelose gestalte van ’n Kind. Daar is ’n Hillsong liedjie met ’n bruggedeelte:

“You could have saved us in a second, instead You sent a Child”.

Jesus Christus se hele lewe en sterwe staan in die teken van magteloosheid. Hy het Homself ook met die magteloses in die samelewing kom assosieer. Hy het sy dissipels vermaan aan die eerste Nagmaalstafel, oor hulle so baklei om ereposisies aan die tafel. Daarom het Hyself die magtelose slaaf geword in Joh 13 en Sy dissipels se voete gewas. Jesus Christus was ’n “servant-leader”.

Robert Greenleaf het in 1970 in sy artikel “The Servant as a Leader,” die term “servant leadership” as volg beskryf: “The servant-leader is servant first… It begins with the natural feeling that one wants to serve, to serve first.” Servant leadership flips the typical leadership script by putting people ahead of power.”

Dit is wat Kersfees vir ons wil leer. Om mag prys te gee. Verantwoordelikheid is nie dieselfde as “mag” nie.

Niemand het “mag” oor iemand nie. Jy het slegs verantwoordelikheid teenoor ander mense. ’n Polisieman het nie mag oor jou nie, hy het net ’n verantwoordelikheid teenoor jou. ’n Politikus het nie “mag” oor mense nie, hulle het net ’n verantwoordelikheid teenoor mense. ’n Man het nie “mag” oor sy vrou nie. Hy het net verantwoordelikheid teenoor sy vrou. ’n Vrou het nie “mag” oor haar man nie. Sy het net ’n verantwoordelikheid teenoor haar man. Ouers het nie “mag” oor hulle kinders nie, hulle het net ’n verantwoordelikheid.

Dit is wat ons politieke leiers nie verstaan nie. Dit is waarmee ons almal sukkel.

Gee mag weg. Neem verantwoordelikheid op.

Herodus die Grote, met sy magsbewustheid het die magtige tempel van Herodus gebou, maar die tempel is in 70 nC deur Titus afgebrand en verwoes, dat nog net die klaagmuur oorgebly het. Jesus Christus het sy mag weg gegee en ons as gelowiges leef voort as tempels van Christus en die Heilige Gees.

Mag ons die ware gees van Kersfees verstaan en ons mag weggee en ons verantwoordelikheid opneem om “servant-leaders” te wees ook in 2025 en elke dag van ons lewe.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Reuk en Reukweerders

SKRIFLESING: Luk 2:8 – 20

Wanneer ’n baba gebore word, sien die naby familie en vriende heel eerste die nuweling. Dit gaan met groot vreugde gepaard. Die familie het groter geword.

Die eerste genooides in Luk 2 na Jesus se geboorte was skaapherders. In godsdienstige kringe is hulle dikwels as onrein gesien. Die destydse herders is nie eens as getuies in ’n Joodse hof toegelaat nie. Die openbare beskouing van skaapherders was dat hulle diewe en bedrieërs was, omdat hulle dikwels sonder toestemming met hulle skape oor ander mense se eiendom getrek het. Dikwels het hulle ook hul skape op ander mense se veld laat wei. Soos ons hier in die Oos Kaap kwaad is vir die herders wat hulle vee, die dorp injaag om mense se blomme, plante en bome te verslind. Baie van die skaapherders in die Bybel was voortvlugtend vir die gereg (dink aan Moses wat voortvlugtend was, omdat hy ’n Egiptenaar in Egipte doodgeslaan het) en het maande en weke in die veld en woestyn gebly en saans as dit donker is om die vuur gesit het. Hulle het van vuurrook en skape geruik. Hulle was onwelriekend en ongewild. Skaapherders was van die laagste klasse in die Joodse samelewing.

Die herder in die Bybel was ook nie silwerskoon met spierwit klere soos in die Kinderbybels nie. Die herder se klere was vuil en geskeur van om in die veld te lewe. Die herder was bruingebrand met krapmerke oor sy arms, bene en gesig. Die herder het saam met die skape, dag en nag gelewe. Hy het die skape met sy stok en staf beskerm. Sou die herder iets oorkom, was die skape weerloos.

’n Mens kan jou net indink hoe die skaapherders nie geskrik het toe hulle die engelekoor gehoor nie. Toe hoor hulle die goeie nuus dat Christus die Here daardie dag vir hulle gebore is in Bethlehem. Die teken wat hulle gekry het was ’n baba wat in doeke toegedraai in ’n krip lê. Verbeel jou die reuk en die speeksel van diere in ’n dierekrip, omdat daar geen ordentlike huisvesting vir Hom was nie. Ons sou vandag die  Kinderwelsyn gebel het. Kom verwyder die kind, die toestande is swak. Die prentjie lyk nie reg nie.

Vir ons maak die prentjie nie sin nie, sê Stephan Joubert. Maar vir die herders het hierdie prentjie sin gemaak. Dit was húlle Verlosser. Hy het hulle reuk aangeneem, skryf Stephan Joubert.  Hy het opgedaag in ’n wêreld wat vir hulle bekend was. Dit was aan die anderkant totaal onbekend vir die rykes en vooraanstaandes en vir die vroom godsdienstiges.

Jesus se vreemde aankoms, verklap wat was sy doel, waarom Hy gekom het na hierdie wêreld. Hy het gekom na mense aan wie die onwelriekende reuk van sonde gehang het. Dit is die Evangelie. Maar toe het die kerkgeskiedenis Hom toegeverf in romantiese Kerskaartjies, waarin Hy geverf is as ’n adellike babatjie, omring deur heiliges en edelmanne.   

Jesus Christus is gebore, en is gekruisig vir die sonde reuk van hierdie wêreld. Hy het die vrot reuk van die sonde op Hom geneem en die Vroteier van die wêreld geword. Hy het so vrot geruik van ons sonde, dat hulle Hom uit Jerualem  uitgebring het en Hom buite Jerusalem, op Golgota laat sterf het, daar waar al die misdadigers gehang het aan kruise, omdat hulle geruik het van hul misdade.

Somtyds ontken ons, ons eie sonde reuke. Soos wat mense reukweerders aansmeer om liggaamsreuke te verberg, kan ons dikwels ons goeie lewe gebruik as reukweerder om ons sondige reuke te verberg. Dink aan die Fariseër wat in die tempel sy goeie lewe aangeprys het as reukweerder om sy sonde reuke te verdoesel. Maar die stinkende reuk van die tollenaar se sonde agter hom het hy geruik. Die tollenaar, het egter sy sonde erken en geweet dat hy stink van sy eie sonde en het gebid, dat die Here hom moet vergeef.

Jesus Christus was nie maar net ’n reukweerder vir ons sondes nie. Hy het ons gewas, silwerskoon in Sy bloed, witter as wol, sonder enige reukie van sonde wat oorbly.

Jesus Christus is die groot Soeker. Ons is soos Adam en Eva, mense wat wegkruip vir God.  Daarom skryf Stephan Joubert so treffend: Ons is nie “seekers” soos wat sommige soeker-sensitiewe kerke glo nie; ons is “hiders”. God se Kind is die Groot Soeker. Hy bly op ons spoor, totdat Hy ons inhaal.

Daarom het Jesus gekom vir die stukkendes, die verlorenes, randfigure, afgeskryftes, eensames, sondaars en vir almal wat die reuk van sonde in hulle eie lewe ruik. Die tragedie is dat die mens nie altyd sy eie stank en reuke kan ruik nie. Jy kan nie jou eie asem ruik nie. Daarom sukkel ons so om ons eie sonde te ruik. Ons ruik maklik ander mense se sonde. Daarom moet die Heilige Gees ons ’n bewustheid gee van ons eie sondige reuke.

Die skaapherders het besoek gebring by die Kind, wat later die “Goeie Herder” sou word. Hy sou word die Goeie Herder, waarvan koning Dawid, honderde jare tevore van gedig het in Psalm 23. Hy het die goeie Herder geword wat Sy skape by die naam ken. Hierdie Herder sou ook later Sy lewe vir Sy skape aflê.

In die Ou Testament, veral in die boek Esegiël word verwys na die politieke en godsdienstige leiers van die volk Israel, wat swak herders is. Hulle is korrup en sien net om na hulle eie belange. Hulle het die siek en swak en weerlose skape verdruk en vir hulself net die beste gevat. Dit laat ons dink aan die huidige Suid Afrika, waar die meeste politici korrup is. Staatskaping, korrupsie en die steel van geld het ’n algemene gesig geword. Hulle is swak herders. Hulle laat die skape, die mense van Suid Afrika swaarkry. Daar is geen dienslewering nie, want die herders kyk nie na die skape nie. 

Dan word voorspel van die goeie Herder wat kom, om die wat mank en siek en kruppel en uitgestoot is op te tel en na veiligheid te dra.

Ook die voorspoedsteologie is ’n voorbeeld van godsdienstige leiers wat geld najaag, sonder om vir die weerloses te sorg en om te gee. Hulle is swak herders van hulle gemeente.

Jesus Christus het opgestaan vir alle weerloses in dié wêreld. In die Ou Testament was net die Jode die uitverkore en spesiale volk. Hulle is as weerloos gesien. Dan sê Jesus dat Hy vir alle mense gesterf het: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” Daarmee bedoel die Here, dat Hy nou die herder is van alle volke se weerloses.

Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood, sodat ons nie weerloos is nie. Daarom het ons nog steeds, elke dag die Here as ons goeie Herder, wat ons wil lei na groen weivelde en na waters waar daar vrede is.     

Daarom gaan Kersfees oor weerloosheid en broosheid. Kersfees gaan oor om te gee. Kersfees gaan oor om uit te reik na ander mense wat weerloos is en ruik van sonde of armoede.

Mag u en ek ook in die Kersfeestyd, met die reuk van sonde wat aan ons kleef opnuut verwonderd staan voor die krip in Bethlehem.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)