Skriflesing: Mark 10: 46 – 52
’n Mens kan siende blind wees. Dit beteken dat jy wel letterlik kan sien, maar geestelik heeltemal blind is vir jou foute.

John Newton is in 1725 in Londen gebore. Hy is gedwing om in die Britse vloot te dien. Hy het gedros, is gevang en het ’n loesing voor 350 matrose gekry. Na sy ontslag het Newton begin werk as slawehandelaar in Wes-Afrika. Op ’n stadium het hy die kaptein uitgetart en spottende liedere oor hom gemaak. Dit het gemaak dat hy toe self op ’n stadium slaaf geword het van die slawekaptein. Hy is egter later vrygelaat.

In Maart 1748 het die 23-jarige Newton aan boord van die slaweskip Greyhound gewerk toe ’n groot storm losgebreek het. Die slaweskip was op die punt om te vergaan. Newton het vir die eerste keer in sy lewe tot God geroep en met Hom onderhandel.
Foto krediet: Mike Haywood
Die storm het bedaar en hy het wonderbaarlik oorleef. Dit was die begin van sy belangstelling in die Christelike Evangelie. Daarom was 10 Maart 1748 sy eerste bekeringsdatum. Hy het begin raaksien dat die Bybelverhale wat sy moeder vir hom gelees het waar is. Hy het opgehou dobbel en drink en begin om ’n geestelike lewe te lei. Tog het hy nie sy beroep as slawehandelaar opgegee nie. Hy het nog steeds met slawe handel gedryf. Later het hy selfs die kaptein van ’n slaweskip geword. ’n Mens kan as’t ware sê dat hy siende blind was. Hy het nie raakgesien dat slawerny verkeerd is nie.

Later het Newton sy slawehandel gestop as gevolg van siekte en gaan leer vir ’n predikant vir die Anglikaanse Kerk. Op die ouderdom van 39 jaar is hy tot die bediening toegelaat. Newton het self later verklaar dat met sy eerste bekering in die storm, hy hom nog nie heeltemal oorgegee het aan die Here nie, want hy was siende blind vir die sonde van slawerny. Newton het later ’n bondgenoot geword van William Wilberforce om slawerny verbied te kry in Brittanje. In 1807 het Newton die Britse parlement se verbod op slawerny beleef. Al hierdie dinge het ’n diep indruk gemaak op John Newton.
Hy was dan ook die outeur van “Amazing Grace”, wat hy in 1779 geskryf het. Dadelik herken ’n mens die lewensverhaal van John Newton in die eerste vers van die lied.
“Amazing grace! How sweet the sound
That saved a wretch like me.
I once was lost, but now am found,
Was blind but now I see.”

In ons gelese gedeelte vind ons die blinde Bartimeus, seun van Timeus, wat op die pad van Jerigo sit. Die naam Bartimeus se Aramese betekenis is “Seun van onreinheid.” Hy was ’n bedelaar en al wat hy besit het was sy bokleed. Toe hy hoor Jesus kom langs die pad verby skree hy “Jesus, Seun van Dawid, ontferm u tog oor my.” Twee maal skree hy die woorde uit. Die Griekse woord vir skree is dieselfde woord wat gebruik word vir ’n kraai se skril geroep. Dan lees ons dat baie mense met hom geraas het en gesê het dat hy moes stilbly. As’t ware was die mense wat hom wou stilmaak, ook siende blind. Hulle kon nie sien dat Jesus by magte was om vir Bartimeus gesond te maak nie. Toe sê Jesus dat hulle hom moes nader roep. Hy los sy bokleed, al wat hy nog besit, en spring op om by Jesus te kom. Jesus vra hom toe wat Hy vir hom moes doen. Hy roep uit: “Raboenie, dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom dat hy maar kan gaan. Sy geloof het hom gered. Dan lees ons dat hy dadelik kon sien en al agter Jesus aangegaan het.
Jesus het Bartimeus se liggaamlike blindheid genees en ook die geestelike blindheid van die omstanders wat die man wou stilmaak. Bartimeus en die omstanders is van hulle blindheid genees.

So dikwels kan ons ’n Christen wees, soos John Newton, maar nog vir jare geestelik blind wees vir die goed wat in ons lewe verkeerd is. Dikwels is ons die seun of dogter van onreinheid, met ons eie geestelike blindheid om die sonde in ons eie lewe raak te sien.
Eers is 1807 is die geestelike blindheid genees in Brittanje toe slawerny afgeskaf is. Eers die afgelope vier dekades is die geestelike blindheid genees toe vroue begin het om hulle regmatige plek in die samelewing in te neem.

In die tyd van Nazi-Duitsland het die Duitsers die Jode nie as mense raakgesien nie. In die Tweede Wêreldoorlog is honderdduisende Jode vermoor en gaskamers toe gestuur. Eers na die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke die Barmen-verklaring opgestel, wat die tydsgees van Naziïsme ten sterkste veroordeel het. Eers in 1994 is die geestelike blindheid genees in Suid-Afrika toe die tydsgees en wette van apartheid afgeskaf is. So is daar in die geskiedenis honderde voorbeelde van mense en nasies se geestelike blindheid en sondige tydsgees wat onreg veroorsaak het aan die mensdom.
Paulus is op die pad van Damaskus ook met blindheid geslaan, sodat hy ’n paar dae later helder kon sien dat die Here hom geroep het. Hy wat blind was vir Christus en die Christene, kon nou skielik die verhoogde Christus herken en ’n ywerige apostel word van die Here Jesus Christus.

In die Middeleeue het die Rooms Katolieke kerk die pad byster geraak deur goeie werke en boetedoening deur aflaatboetes te verkondig as manier om verlos te word. Hulle het die Skrif weggesteek vir die gewone mense en die kerk het as’t ware korrup geword. Dan lees ons van Martin Luther se eerste sien in die donderstorm, dan die tweede sien in sy ontnugtering in Rome en dan sy derde sien toe hy begin het om die Romeine-brief en die Brief aan Galasiërs te lees en die vrye genade van die Here ontdek het. Deur Luther en die kerkhervormers het God die blindheid van die kerklui in die Roomse kerk openbaar gemaak sodat die mense kon sien dat dit net Christus Jesus is wat jou kan red.
Maar so kan ’n mens ook ’n Christen wees en geestelik blind wees vir jou eie foute. Dikwels het ’n mens ’n broer of suster nodig om jou bewus te maak van die sonde in jou lewe waarvoor jy blind is.
Jy kan dalk blind wees vir jou eie humeur, of blind wees vir jou eie bitterheid en wrokke. Jy kan dalk blind wees vir die swak dissipline in jou lewe, as dit kom by geestelike sake. Jy kan dalk blind wees vir jou eie veroordelende persoonlikheid of dat jy mense afsydig behandel. Jy kan dalk blind wees vir jou eie geskinder of vir jou vloektaal. Jy is dalk blind vir jou eie hoogmoedige geaardheid of vir jou selfsug.

Somtyds het ’n mens ’n bril nodig om jou bysiendheid weg te neem. Die Woord van die Here en ’n selfondersoekende gebedslewe kan die bril word wat jou duideliker laat sien. Ons moet ook dikwels vir die Here vra: “Raboenie, dat ek kan sien!”
Daarom is dit veral die werk van die Heilige Gees om ons blinde oë oop te maak om te kan sien wat in ons lewe verkeerd is.
Mense het gewoonlik ’n paar bekerings in hulle lewe. Daar moet ‘n daaglikse bekering in ons lewe wees. Net soos Newton ook in sy lewe ’n paar bekerings gehad het. Hy het eers baie later homself losgemaak van slawerny en is sodoende van sy blindheid genees. So kry ’n mens dikwels ook later in jou lewe skaam vir die tipe mens wat jy vroeër was voordat jou oë oopgegaan het.
’n Oogarts beveel gewoonlik aan dat ’n mens elke twee jaar moet gaan vir ’n oogtoets. Net so moet ons ook onsself aan die Here en Sy Woord onderwerp, sodat Sy Gees ons bril kan verander, sodat ons nie bysiende is vir ons eie foute en tekortkominge nie. “Raboenie, dat ek kan sien!”
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

One thought on “Om siende blind te wees”