Om te “vergewe en te vergeet”

SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35, Rom 6: 23 en Ef 4: 31 – 32

’n Mens leef nie van brood alleen nie, maar ook van die vergifnis van jou medemens. Elke dag sien ons op straathoeke hoe bedelaars om brood bedel, maar elke dag kom daar ook mense na ons toe om te bedel om vergifnis.

Daarom het die Here Jesus ons geleer in die “Onse Vader”-gebed om te bid vir ons daaglikse brood, maar ook om te bid vir vergifnis. Daarom sê ons met elke ete vir die Here dankie vir ons daaglikse brood, maar kom vra ons ook elke Sondag vir die Here om vergifnis in die kerk vir ons sondes. Die Here gee brood én vergifnis. Maar Hy verwag van sy kinders om ook brood en vergifnis uit te deel. Om vir ’n ander mens brood te gee is nog maklik, maar om vir ’n ander mens vergifnis te bied is nie so maklik nie.

In baie gelowiges se hart sit hierdie harde wet: ’n Oog om ’n oog en ’n hand om ’n hand.” (Talio-beginsel) Elkeen moet boet vir sy skulde. Die Here wil egter vir ons ’n sagte wet leer, naamlik om jou skuldenaars te vergewe, ja om van jou vyand jou vriend te maak.

Natuurlik is om te vergewe nie so maklik nie. Dit sit nie in elkeen se broek – of rok – om ’n ander een van harte te vergeef nie.

Daarom sorteer die “deug” om iemand te kan vergeef onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om jou skuld te kan bely, is nie so maklik nie. Niemand wil graag sê “Ek is die skuldige” nie. Ons verplaas liewer die skuld op ’n ander een. So speel ons vroteier. Ons plaas die sakdoek agter iemand anders se rug. Adam en Eva het net so vroteier gespeel. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang en so gaan die bose kringloop aan.

Gelukkig het God hierdie bose kringloop kom deurbreek toe Hy aan die kruis kom sterwe het. Hy het die vroteier geword wat in die middel kom staan het. Die skande en die stank van die hele wêreld se sondes het op Hom neergekom. Hy het die vroteier van die wêreld geword, vir wie almal hulle koppe weggedraai het. Die Bybel sê Hy was die sondebok op wie die skuld neergekom het.

Dit was gebruik in die Joodse tradisie om ’n bok simbolies te belaai (te besprinkel) met die skuld van die Israeliete in die kamp en dan die bok alleen die woestyn in te stuur en as’t ware die sonde van die volk weg te dra. Later is die bok selfs van ’n hoë krans in die woestyn afgestoot om ’n einde te maak aan die sondes van die volk.

Die Here Jesus was dus die vroteier, die sondebok, die Lam sonder gebrek wat geslag is om die bose kringloop van skuld te verbreek om versoening en vergifnis moontlik te maak.

Aan die kruis het die Here Jesus ’n nuwe kringloop laat begin, naamlik die kringloop van vergifnis. Aan die kruis het Hy geprewel: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Helmut Thielicke, die bekende Duitse teoloog en skrywer, sê dat die Here Jesus as’t ware vir ons daar aan die kruis ’n aflosstokkie van vergifnis aangee, met die opdrag om daarmee te hardloop en dit aan te gee na ons skuldenaars.

Daarom leer Hy ons om te bid: “ Vergewe ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Ons moet met die aflosstokkie van vergifnis hardloop en dit aangee vir ons huweliksmaats, ons kollegas, ons politieke opponente en vyande. As ek nie bereid is om dit te doen nie, word ek gediskwalifiseer, net soos ’n atleet wat die stokkie laat val of weier om die stokkie aan te gee aan die volgende atleet.

Ons maak egter baie keer soos daardie amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie  eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof, net vir onsself hou. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens se deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie. Dan beland ons net soos daardie amptenaar in ’n tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede, en vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere.

Wie nie vergewe nie, laat toe dat die bitterheid soos suuruitjies sy hart oorneem. In my pastorie se tuin in Strydenburg (my vorige gemeente) het suuruitjies ook my tuin en grasperk oorgeneem. Dit was ’n ewige frustrasie. Hoe meer jy hulle uitgehaal het, hoe meer het hulle geword.  Net so word ’n mens ’n verbitterde mens, wat dink die wêreld skuld hom alles. Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.

Om iemand nie te vergewe nie, beteken om daardie persoon soos ’n lyk aan jou vas te bind met kettings. Uiteindelik sterf jy ook aan lyksiektes. Vergewe hom, maak hom los van jou, sodat ook jy vry kan gaan.

Wie egter geleer het om te vergewe, word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en weer goeie tye saam beleef met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisies beter en gesonder.

Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ’n sekere sin skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang het, kan van nuuts af met mekaar ’n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.

Wanneer Luther sê ek moet “’n Christus” vir ’n ander een word, bedoel hy ek moet soos Christus kan vergewe. Wie nie kan of wil vergewe nie doen ’n groot onreg aan sy medemens. Hy laat sy medemens alleen buite in die koue van verwerping staan. Hy laat toe dat die skuldgevoelens sy medemens verteer. Hy weier om sy medemens te vergewe, en hy maak die ander een se gees dood. Die Here wil nie kasty nie, nee Hy wil vergewe sodat mense vry kan word. Die gelowige moet ook sy medemens vergewe, sodat hulle vry kan wees.

Dikwels sê mense dat hulle liewer nie wil vergewe nie, want dit sal nie die pyn en seerkry wat hulle beleef wegneem nie. Die wonder is egter as ek werklik iemand van harte vergewe, is dit so goed ek los die tou van ’n klok. Die klok sal nog ’n paar keer beier, maar geleidelik sal die klok sagter word en uiteindelik stil word. Net so, as ek van harte vergewe, sal die pyn wat ek ervaar het geleidelik stiller word. Maar eers moet ek vergewe, eers moet ek die tou los … Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.

Hoe nodig het ons dit nie ook in ons land met sy rassespanning nie. Deur vergifnis kan ons in vrede, liefde en respek met mekaar saamwoon.

Om vir iemand kos te gee, is om brood vir sy liggaam te gee. Om vir iemand vergifnis te gee, is om brood vir sy gees te gee.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Wanneer die lewe jou klap, kom die uitkoms op vreemde maniere

SKRIFLESING: Rut 1 – 4

Die boek Rut begin met “In die jare toe die rigters nog regeer het”. Dit was nog voor die koningstydperk. Dan word daar vertel van ’n hongersnood wat in die land geheers het. Nêrens word God beskuldig vir die hongersnood nie. Die mense van Israel was gewoond aan goeie jare met gemiddelde reënval, en ook droogtes. Die droogte in die boek Rut word beskryf as ’n tydperk van “hongersnood”. Daar was werklik nie genoeg kos vir almal om te eet nie.

Dan lees ons van ’n man Elimeleg, wat beteken “God is Koning”. Sy vrou se naam is Naomi en dit beteken “lieflik aangenaam”. Hulle het ook twee seuns gehad, wat nie baie gesond was nie, naamlik Maglon wie se naam “siek” beteken en Kiljon, wat die betekenis van “gedaan” dra. Hulle het as gesin weggetrek uit Bethlehem, wat beteken “plek van brood”, na Moab. Dit is insiggewend dat die plek van brood nie meer brood gehad het om te eet nie! Hulle trek na Moab. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete. Daarom was dit vir Elimeleg ’n vernedering om by die Moabiete te bly, ter wille van brood.

Tydens die uittog uit Egipte, toe die volk op pad na Kanaän was, het hulle deur die landgebied van die Moabiete gereis, maar die Moabiete het geweier om vir hulle brood te gee (Neh 13: 1 – 2). Maar nou, veel later, het Elimeleg en sy gesin genade gevind by die Moabiete.

In Moab het Naomi se man Elimeleg gesterf. Sonder ’n man in die antieke tyd was ’n vrou weerloos en uitgelewer aan armoede. Gelukkig het sy twee seuns gehad. Hulle het getrou met twee Moabitiese meisies Orpa en Rut. Die betekenis van hulle name was as volg. Orpa beteken “die een wat haar rug draai” en Rut beteken “ vriendin, die een wat by jou staan.” Natuurlik was die twee huwelike skindernuus, want vir die Israeliete was rasegtheid baie belangrik.

Dan sterf Maglon en Kiljon. Hulle name sê mos hulle gaan nie lank lewe nie. Nou is al die manlike lede van die familie dood. Die drie weduwees bly oor, sonder ’n heenkome en vastigheid. Vir die soveelste keer gaan dit in die Bybel nie oor sterkes nie, maar ook swakkes. Nie oor belangrikes nie, maar onbelangrikes. Nie oor mans nie, maar oor vroue.

Vir tien jaar het Naomi in Moab gebly.

In vers 6 lees ons hoedat dit weer beter gaan in Betlehem en dat die Here  goeie oeste gegee het. Naomi wil nou teruggaan na Betlehem, want die “huis van brood” het weer brood. Sy en haar twee skoondogters het reggemaak om te vertrek. In hoofstuk 1: 8 sê Naomi vir haar skoondogters dat hulle liewer moet teruggaan na hulle ouerhuise, want daar is vir hulle geen toekoms saam met haar nie. Naomi sê: “Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.” Die 1983-vertaling vertaal dit “dat die Here teen my gedraai het.” Albei het gehuil en gepleit om saam met haar te gaan. Toe redeneer Naomi weer ernstig met hulle en Orpa het van haar afskeid geneem. Vir haar skoondogters was daar nog ’n toekoms, hulle kon weer trou en kinders kry, maar vir Naomi was daar geen toekoms nie. Rut het egter daarop aangedring om saam met Naomi te gaan. Rut sê: “Moet my nie probeer dwing  om u te verlaat of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word.”

Rut het toe saam met Naomi na Betlehem gegaan. Daar was groot opgewondenheid toe hulle haar herken in Betlehem. Naomi het egter gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara (dit beteken “bitter”), want die Almagtige het dit vir my  baie bitter gemaak.  Met ’n vol lewe is ek hier weg, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die Here my teenstander  geword het  en die Almagtige my kwaad  aangedoen het?” Dit gebeur dikwels in die Bybel dat Bybelpersone in ’n worstelstryd met God verkeer en hulle woede teenoor God uitspreek.

Maar eintlik is sy kortsigtig. Sy sien nie raak dat die Here vir haar in die persoon van Rut geseën het nie. Haar uitkoms en toekoms is Rut. Sy sien nie die goedheid van die Here raak nie. Die Here het reeds vir haar voorsien en versorg deur Rut.

Naomi sien God net raak as die “magtige” en nie as die “almagtige” nie. Toe dinge skeef loop in haar lewe, blameer sy God, want God se mag het grense. Sou sy hom as die Almagtige raaksien, sou sy vir Rut raaksien as die uitkoms in haar lewe. Somtyds blameer ons God oor goed wat in ons lewe gebeur, omdat ons hom net as “magtig” ervaar. Wie God egter as “almagtig” ervaar, weet dat God agter die skerms aan die werk is vir ’n groter en beter plan.

Nie in die goeie oeste nie, maar in Rut wat by haar was, was God teenwoordig in Naomi se lewe. Kobus Myburgh en Annene Mullins skryf aangrypend: “Toe dinge pikdonker lyk, word ’n Moabiet die lig in Mara se lewe. Toe die lewe Naomi klap, staan Rut haar by. Dit is God aan die werk.”

In hoofstuk 2: 1 stel die skrywer ons bekend aan die volgende belangrike rolspeler in die verhaal, naamlik Boas. Boas was ’n vermoënde familielid aan Naomi se  man Elimeleg se kant. Die Hebreeus sê: “Naomi het gedink aan Boas”. Hy sou hulle enigste uitweg wees. Rut het dit gehoor en haar eie planne gemaak.

Dan lees ons hoedat Rut gaan are optel en dan spesifiek ook op Boas se lande. In die antieke tyd was die gebruik dat wanneer koring geoes word, die wese en weduwees agter die snyers mag aanloop en die are optel wat hulle gemis het.  Sy het spesifiek na Boas se lande gegaan. Rut se doel was om Boas se aandag en guns te wen. Toe Boas van sy huis op die dorp by sy landerye aankom, vra hy vir die snyers wie die meisie is. Hulle antwoord hom toe deur te sê dit is ’n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab gekom het. In vers 2:8 begin Boas met Rut praat. Hy spreek haar aan met ’n intieme aanspreekvorm, naamlik “dogter”. Hulle is nie op dieselfde vlak nie. Boas is welvarend en hoof van ’n belangrike familie. Rut is minder as niks. Sy is ’n vreemdeling-weduwee uit Moab. Maar Boas het sy goedgesindheid aan haar bewys. Hy sê vir haar: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ’n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers,  kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”

Rut, die vreemdeling-weduwee uit Moab, staan nie meer alleen buite in die koue nie. Boas het hom oor haar ontferm. Boas het selfs toegelaat dat sy meer as die normale hoeveelheid are optel. Hy het vir sy snyers uitdruklik opdrag gegee om ekstra are te laat val, sodat Rut dit kan optel. In vers 17 staan daar dat Rut tot die aand are opgetel het. Toe sy dit uitgeslaan het, was dit ongeveer dertien kilogram. Die Hebreeus sê sy het ’n “eva” uitgeslaan. Sy het in oorvloed opgetel. Dit was genoeg om ’n peloton soldate kos te gee. Hierdie voorraad sou lank hou. In ’n wêreld waarin mense probeer om net vir vandag genoeg te hê, gaan sy met ’n oorvloed huis toe. Daar is weer brood in die “huis van brood”.

Naomi het haar uitgevra oor waar sy die oorvloed gekry het. Sy verduidelik dat dit Boas was wat so goed vir haar was. Nou dink Naomi aan haar opsies. Boas is verlangs haar losser omdat haar man Elimeleg nie broers gehad het nie.

In die antieke tyd, wanneer ’n man sterf, moet die broer of familielid van die oorledene sorg neem vir die weduwee.

Intussen moedig Naomi vir Rut aan om op Boas se lande koring op te tel, want dalk sal sy op ander lande lastig geval word of nie aanvaar word nie.  Rut doen iets. Sy maak hulle spens vol koring.

Maar Naomi het ’n plan. Haar plan gaan oor haar eie toekoms. Eintlik is sy selfsugtig. Desnieteenstaande vat God Naomi se hand en help haar om haar doel te bereik.

Naomi stuur vir Rut na die dorsvloer toe op ’n spesifieke aand. Die dorsvloer het op ’n heuwel gelê. Wanneer die aandwind opkom het die werkers die koring en kaf van mekaar geskei. Naomi weet dit is Boas se beurt. Boas is nie alleen daar nie. Sy werkers eet en drink saam met hom. Dit is ’n groot geleentheid. Van die oes moes hulle lank leef. Die oesfees was die Joodse Pinksterfees wat na Christus die fees geword het waarop die uitstorting van die Heilige Gees gevier word.

Naomi het aan Rut gesê om haarself mooi aan te trek en sy moes lekker ruik en dan moes sy wanneer Boas en sy werkers klaar geëet en gedrink het, by sy voete gaan lê. By die voete gaan lê is in Hebreeus: “ maak sy bene oop en gaan lê by hom”. Dit is dus beslis ’n seksuele verwysing van hoe sy by hom moes gaan lê.

Na Boas waarskynlik te veel gedrink het, het hy aan die punt  aan die agterkant van die mied wat ’n bietjie privaat was, aan die slaap geraak. Dis toe dat Rut in ’n seksuele posisie by hom gaan lê het. In die nag word hy wakker en is verbaas om ’n vrou by hom te sien lê. In vers 3: 9 staan daar: “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” Dadelik het hy op haar verlief geraak. Alles was vir hom te veel. Haar verleidelike mooi liggaam, haar lekker reuk, die wyn en sommer alles het hom smoorverlief op haar gemaak. Die enigste probleem was dat hy nie die naaste losser is nie. Maar hy het haar belowe om daarmee ’n plan te maak. Hy het haar uitgenooi om by hom te lê tot die son opkom.

Die volgende oggend het Boas al vir sy toekomstige skoonma Naomi begin sorg. Hy het vir haar 26 kilogram gars gegee, want hy kon nie met leë hande by sy aanstaande skoonma aankom nie.     

Intussen het Boas na die stadspoort gegaan en die losser ontmoet in die teenwoordigheid van die tien leiers van die stad.  Hy het vir die losser gevra of hy die stuk grond van Elimeleg kan koop. Die losser het “ja” gesê. Toe vra Boas of hy met die Moabitiese weduwee sal trou, sodat die grond in die oorledene se familie bly. Skielik is die losser bang dat sy eie eiendom in gevaar kom. Toe sê die losser Boas kan maar die losser wees.

Met die uitruil van ’n skoen is die transaksie toe beklink.  Boas het dadelik met Rut in die huwelik getree. Uit die huwelik is Obed gebore wat een van die voorvaders van Dawid was en uit wie se geslagslyn Jesus Christus uiteindelik gebore sou word.  

Die vroue het vir Naomi in vers 4: 14 – 15 gesê:   “Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder ’n losser gelaat nie.   Mag dié losser beroemd wees in Israel. Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag.  Jou skoondogter, wat jou liefhet, het hom in die wêreld gebring, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.”

Wanneer die lewe jou klap, kom die uitkoms op vreemde maniere. Naomi hoef haarself nie meer Mara (bitter) te noem nie. Haar lewenslus is herstel. Sy is versorg. Die Here het op vreemde maniere vir haar uitkoms gegee.                                                                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Mullins A & Myburg, K 2018. Rut, God deur mense by mense. Wellington: Bybel – Media

Om siende blind te wees

Skriflesing: Mark 10: 46 – 52

’n Mens kan siende blind wees. Dit beteken dat jy wel letterlik kan sien, maar geestelik heeltemal blind is vir jou foute.

John Newton is in 1725 in Londen gebore. Hy is gedwing om in die Britse vloot te dien. Hy het gedros, is gevang en het ’n loesing voor 350 matrose gekry. Na sy ontslag het Newton begin werk as slawehandelaar in Wes-Afrika. Op ’n stadium het hy die kaptein uitgetart en spottende liedere oor hom gemaak. Dit het gemaak dat hy toe self op ’n stadium slaaf geword het van die slawekaptein. Hy is egter later vrygelaat.

In Maart 1748 het die 23-jarige Newton aan boord van die slaweskip Greyhound gewerk toe ’n groot storm losgebreek het. Die slaweskip was op die punt om te vergaan. Newton het vir die eerste keer in sy lewe tot God geroep en met Hom onderhandel.

Foto krediet: Mike Haywood

Die storm het bedaar en hy het wonderbaarlik oorleef. Dit was die begin van sy belangstelling in die Christelike Evangelie. Daarom was 10 Maart 1748 sy eerste bekeringsdatum. Hy het begin raaksien dat die Bybelverhale wat sy moeder vir hom gelees het waar is. Hy het opgehou dobbel en drink en begin om ’n geestelike lewe te lei. Tog het hy nie sy beroep as slawehandelaar opgegee nie. Hy het nog steeds met slawe handel gedryf. Later het hy selfs die kaptein van ’n slaweskip geword. ’n Mens kan as’t ware sê dat hy siende blind was. Hy het nie raakgesien dat slawerny verkeerd is nie.

Later het Newton sy slawehandel gestop as gevolg van siekte en gaan leer vir ’n predikant vir die Anglikaanse Kerk. Op die ouderdom van 39 jaar is hy tot die bediening toegelaat. Newton het self later verklaar dat met sy eerste bekering in die storm, hy hom nog nie heeltemal oorgegee het aan die Here nie, want hy was siende blind vir die sonde van slawerny. Newton het later ’n bondgenoot geword van William Wilberforce om slawerny verbied te kry in Brittanje. In 1807 het Newton die Britse parlement se verbod op slawerny beleef. Al hierdie dinge het ’n diep indruk gemaak op John Newton.

Hy was dan ook die outeur van “Amazing Grace”, wat hy in 1779 geskryf het. Dadelik herken ’n mens die lewensverhaal van John Newton in die eerste vers van die lied.

“Amazing grace! How sweet the sound

That saved a wretch like me.

I once was lost, but now am found,

Was blind but now I see.”

In ons gelese gedeelte vind ons die blinde Bartimeus, seun van Timeus, wat op die pad van Jerigo sit. Die naam Bartimeus se Aramese betekenis is “Seun van onreinheid.” Hy was ’n bedelaar en al wat hy besit het was sy bokleed. Toe hy hoor Jesus kom langs die pad verby skree hy “Jesus, Seun van Dawid, ontferm u tog oor my.” Twee maal skree hy die woorde uit. Die Griekse woord vir skree is dieselfde woord wat gebruik word vir ’n kraai se skril geroep. Dan lees ons dat baie mense met hom geraas het en gesê het dat hy moes stilbly. As’t ware was die mense wat hom wou stilmaak, ook siende blind. Hulle kon nie sien dat Jesus by magte was om vir Bartimeus gesond te maak nie. Toe sê Jesus dat hulle hom moes nader roep. Hy los sy bokleed, al wat hy nog besit, en spring op om by Jesus te kom. Jesus vra hom toe wat Hy vir hom moes doen. Hy roep uit: “Raboenie, dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom dat hy maar kan gaan. Sy geloof het hom gered. Dan lees ons dat hy dadelik kon sien en al agter Jesus aangegaan het.

Jesus het Bartimeus se liggaamlike blindheid genees en ook die geestelike blindheid van die omstanders wat die man wou stilmaak. Bartimeus en die omstanders is van hulle blindheid genees.

So dikwels kan ons ’n Christen wees, soos John Newton, maar nog vir jare geestelik blind wees vir die goed wat in ons lewe verkeerd is. Dikwels is ons die seun of dogter van onreinheid, met ons eie geestelike blindheid om die sonde in ons eie lewe raak te sien.

Eers is 1807 is die geestelike blindheid genees in Brittanje toe slawerny afgeskaf is. Eers die afgelope vier dekades is die geestelike blindheid genees toe vroue begin het om hulle regmatige plek in die samelewing in te neem.

In die tyd van Nazi-Duitsland het die Duitsers die Jode nie as mense raakgesien nie. In die Tweede Wêreldoorlog is honderdduisende Jode vermoor en gaskamers toe gestuur. Eers na die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke die Barmen-verklaring opgestel, wat die tydsgees van Naziïsme ten sterkste veroordeel het. Eers in 1994 is die geestelike blindheid genees in Suid-Afrika toe die tydsgees en wette van apartheid afgeskaf is. So is daar in die geskiedenis honderde voorbeelde van mense en nasies se geestelike blindheid en sondige tydsgees wat onreg veroorsaak het aan die mensdom.

Paulus is op die pad van Damaskus ook met blindheid geslaan, sodat hy ’n paar dae later helder kon sien dat die Here hom geroep het. Hy wat blind was vir Christus en die Christene, kon nou skielik die verhoogde Christus herken en ’n ywerige apostel word van die Here Jesus Christus.

In die Middeleeue het die Rooms Katolieke kerk die pad byster geraak deur goeie werke en boetedoening deur aflaatboetes te verkondig as manier om verlos te word. Hulle het die Skrif weggesteek vir die gewone mense en die kerk het as’t ware korrup geword. Dan lees ons van Martin Luther se eerste sien in die donderstorm, dan die tweede sien in sy ontnugtering in Rome en dan sy derde sien toe hy begin het om die Romeine-brief en die Brief aan Galasiërs te lees en die vrye genade van die Here ontdek het. Deur Luther en die kerkhervormers het God die blindheid van die kerklui in die Roomse kerk openbaar gemaak sodat die mense kon sien dat dit net Christus Jesus is wat jou kan red.

Maar so kan ’n mens ook ’n Christen wees en geestelik blind wees vir jou eie foute. Dikwels het ’n mens ’n broer of suster nodig om jou bewus te maak van die sonde in jou lewe waarvoor jy blind is.

Jy kan dalk blind wees vir jou eie humeur, of blind wees vir jou eie bitterheid en wrokke. Jy kan dalk blind wees vir die swak dissipline in jou lewe, as dit kom by geestelike sake. Jy kan dalk blind wees vir jou eie veroordelende persoonlikheid of dat jy mense afsydig behandel. Jy kan dalk blind wees vir jou eie geskinder of vir jou vloektaal. Jy is dalk blind vir jou eie hoogmoedige geaardheid of vir jou selfsug.

Somtyds het ’n mens ’n bril nodig om jou bysiendheid weg te neem. Die Woord van die Here en ’n selfondersoekende gebedslewe kan die bril word wat jou duideliker laat sien. Ons moet ook dikwels vir die Here vra: “Raboenie, dat ek kan sien!”

Daarom is dit veral die werk van die Heilige Gees om ons blinde oë oop te maak om te kan sien wat in ons lewe verkeerd is.

Mense het gewoonlik ’n paar bekerings in hulle lewe. Daar moet ‘n daaglikse bekering in ons lewe wees. Net soos Newton ook in sy lewe ’n paar bekerings gehad het. Hy het eers baie later homself losgemaak van slawerny en is sodoende van sy blindheid genees. So kry ’n mens dikwels ook later in jou lewe skaam vir die tipe mens wat jy vroeër was voordat jou oë oopgegaan het.

’n Oogarts beveel gewoonlik aan dat ’n mens elke twee jaar moet gaan vir ’n oogtoets. Net so moet ons ook onsself aan die Here en Sy Woord onderwerp, sodat Sy Gees ons bril kan verander, sodat ons nie bysiende is vir ons eie foute en tekortkominge nie. “Raboenie, dat ek kan sien!”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)