Jesus toets jou geloofskarakter


SKRIFLESING: Mat 15: 21 – 28

Integriteit is ’n belangrike konsep in Ingenieurswese. Enige konstruksie, of dit nou ’n pad, ’n brug, ’n gebou, ’n staalkonstruksie of ’n houtkonstruksie is, dit  moet oor sy eie inherente integriteit beskik.

’n Brug moet sterk genoeg wees sodat dit nie inmekaar val nie. Boumateriaal moet oor ’n sekere integriteit beskik, sodat dit duursaam is en voldoen aan die vereistes wat daaraan gestel word. Die gelykenis van die twee huise wat onderskeidelik op sand en rots gebou is, is ’n goeie voorbeeld van die integriteit van die fondament waarop die huise gebou is. Die huis op sand het geen integriteit gehad nie en het weggespoel. Die huis op die rots het ’n rotsvaste integriteit gehad en het staande gebly in die storms.

In ons skrifgedeelte (Mat 15: 21 – 28) lees ons hoedat Jesus die geloofsintegriteit van die Kanaänitiese vrou toets. Die vrou het ’n dogter gehad wat in die mag van die bose was.

Hierdie vrou het agter Jesus aangeloop en gesmeek dat Jesus haar dogter moet genees van die bose. Sy het aanhoudend geroep al agter Jesus aan. Die Here het haar geïgnoreer. Dit lyk heeltemal teenstrydig met die karakter van die Here Jesus. Ons leer Jesus ken as Iemand met deernis en liefde en omgee. Nou lees ons hoedat Jesus haar ignoreer. Die dissipels wil hê Jesus moet haar wegstuur, want sy loop agter hulle aan en skreeu. Dan antwoord Jesus weer teen die grein van Sy karakter in, as Hy sê dat Hy net gekom het vir die Jode. Die vrou het egter nou die aandag van die Here en sy val voor hom neer en smeek: “Here, help my!”

Dan antwoord die Here haar weer ’n keer afwysend: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die woord “hondjies” verwys na die skeldnaam waarmee die Jode na die Kanaäniete verwys het, naamlik “honde”, omdat die Jode die Kanaäniete as onrein beskou het.

Dan antwoord die vrou op ’n verrassende wyse dat sy met die krummels van God se genade tevrede sal wees. Die hondjies eet immers die kos wat van die base se tafels afval.

Sy verneder haarself om die minste te wees en is tevrede om met “min” oor die weg te kom, as die Here net haar dogter kan gesond maak.

Waarom hanteer Jesus hierdie vrou so hardvogtig, sonder enige simpatie? Dit is mos nie die aard en karakter van die Here Jesus Christus nie. Ons wil as’t ware uitroep waarom die Here haar so hard behandel.

Die antwoord is eenvoudig. Hy wil haar geloof toets. Jesus wil die karakter van haar geloof toets. Soos wat produkte aan sekere gehalte-toetse onderwerp word om die SABS (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) merk te kry, word sy ook getoets. Die Here maak dit vir haar moeilik omdat Hy die egtheid van haar geloof wil toets.

Hierdie Kanaänitiese vrou slaag die toets loshande. Dan antwoord die Here haar en sê: “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Die Here het haar beproef en sy het die geloofskaraktertoets geslaag.

Haar geloofsintegriteit het bo alles uitgestaan.

Ons moet verstaan dat die Here ’n mens beproef, maar dat die Satan jou versoek. In Jakobus 1 word die onderskeid gemaak tussen beproewinge en versoekings.

Somtyds kan beproewinge baie erg wees. Soms kan ’n mens voel om handdoek in te gooi, as gevolg van baie teleurstellings.

Dan moet ons volharding aanleer om die regte dinge te doen, selfs al word jy moedeloos. Jim Rohn skryf: “Rest, reset, restart, refocus.” Dit is waardevolle raad as ons somtyds in aanvegtinge ons fokus en rigting verloor. Jakobus sê as jou “geloof die toets deurstaan het”, help die beproewing jou om te volhard en tot volle geestelike rypheid te kom. Beproewing kom van die Here en dien tot jou heil. Dit is soos ystererts wat gelouter word, sodat vlekvrye staal gemaak kan word. Beproewing het te doen met swaarkry, wat uiteindelik tot jou loutering dien om geestelik volwasse te wees. Beproewing bou jou op.

Versoekinge, daarteenoor, kom van die duiwel en is daar om jou af te breek. Gewoonlik gaan versoekinge gepaard met aangename verlokkinge. Daarom sê Jakobus: “ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” (Jak 1: 13 – 14)

Jakobus noem beproewinge en versoekinge albei ’n “toets” Die een toets kom van die Here en die ander toets van die duiwel.

Dikwels wanneer ons erge droogte ervaar, beproef die Here ons geloof. Hy kyk van watter geloofsintegriteit ons gemaak is. Die Here toets of ons geloof sal staande bly ten spyte van aanvegtinge. Daarom moet ons in tye van aanvegtinge ons oë hoopvol op die Here fokus. Ons moet gelowig en aanhoudend soos die Kanaänitiese vrou by die Here aandring op die verhoring van ons gebed. Somtyds talm die Here omdat Hy ons geloofsintegriteit toets.

Dikwels word ons geloofsintegriteit ook uitgedaag deur die versoekinge van die duiwel. Die duiwel verlei ons om die wêreld lief te kry en slegs op die sienlike dinge staat te maak. Sodoende verloor ons gou moed en hoop.

Godsmanne en Godsvroue is mense met ’n deurleefde geloof. Hulle lewe word gekenmerk met geloofsintegriteit. Geloofsintegriteit het alles te doen met deursettingsvermoë. Hierdie Kanaänitiese vrou het met volharde deursettingsvermoë die Here heelpad gevolg. In die spesiale magte van die Weermag en Polisie, word rekrute ook onderwerp aan strawwe vasbyt-oefeninge, waar hulle staal en deursettingsvermoë getoets word. Slaag hulle die toets, word hulle opgeneem in die elite-eenhede van die Weermag en Polisie.

Die “Navy Seals” in Amerika het ’n goue klok. Wanneer jy opgee op die kursus moet jy net die goue klok lui. Dan is die strawwe beproewing verby en is jy af van die kursus. Die uitdaging is om nie die goue klok te lui nie. DON’T RING THE BELL.

So moet ons as gelowiges ook nie opgee wanneer ons deur beproewinge gaan nie. Ons moet volhardend volhou met geloofsintegriteit, sodat ons die geloofswedloop kan voltooi. Die lewe is nie maklik nie. Die lewe is vol toetse en uitdagings. Daarom moet ons die toetse en uitdagings sien as geleenthede om te groei in die Here. Die Here sal ons ook nie bokant ons vermoë beproef nie, want Hy weet ons is van stof en vol menslike gebrokenheid. Hy sal ons optel, voordat ons kragte ingee. Wat is die karakter en die integriteit van jou geloofslewe?

DON’T RING THE BELL.                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Lewer kommentaar