SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23 en Mat 5: 38 – 41
President Donald Trump se aanmoediging op Twitter op 6 Januarie 2021 dat sy

aanhangers die “Capital Hill” bestorm, getuig van ’n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika op daardie stadium wou verloor nie. Dit was ’n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.
Huidiglik is daar ’n magspel in die wêreld. Rusland wil Oekraine beset, vir meer grondgebied en hawens. Daar woed nou al ’n jarelange oorlog en Putin wil nie afsien van sy ideologie om Oekraine deel van Rusland te maak nie.

In die Midde-Ooste is daar ’n hewige oorlog tussen Israel en terroristiese organisasies soos Hamas en Hezbollah. Dit het begin toe Hamas op 7 Oktober 2023 meer as 1200 burgerlikes van Israel onskuldig gedood het in missielaanvalle. As vergelding het duisende onskuldige burgerlikes die afgelope maande in Palestina onnodig gesterf en Gaza is reeds tot die grond vernietig.

Die oorlog is nou besig om van Gaza na Iran en Libanon te verskuif. Die Midde-Ooste is tans ’n kookpot van emosies, wat kan ontaard in ’n hewige streekoorlog of selfs nog erger. Hierdie oorloë beïnvloed die wêreldekonomie en bring onsekerheid in die stabiliteit van wêreldvrede. Ons voel die ekonomiese ineenstorting wat die oorloë veroorsaak aan ons eie sak.
So is daar ook gereeld konflik in huwelike, families, werksplekke, tussen vriende, in die kerk en in die samelewing. Ons noem dit sommer kortweg kantoorpolitiek, kerkpolitiek, werkspolitiek, politiek in boerdery of partypolitiek. “Hond eet hond” – so lui die spreekwoord mos.

In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het al meer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Dawid het op die voorgrond getree – hy wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ’n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.
In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe teruggekom van ’n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag is op Dawid se spoor om sy lewe te beëindig. ’n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.
Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ’n skaapkraal gekom met ’n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes. (Die Hebreeuse idioom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)

Maar Saul was onbewus daarvan dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil. Dawid het toe nader gesluip en ’n stuk van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gaan, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader, kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.”

Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ’n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.
Dawid vergelyk homself met ’n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ’n vlooi op ’n dooie hond. Saul agtervolg ’n vlooi op ’n dooie hond.

In ons wêreld word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ’n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ’n liefdesdaad ’n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.
Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom? Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”
Die weldaad van Dawid verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ’n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar koninklike wysheid.
Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ’n Ware staatsman soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel as sy eie selfsugtige ego.
Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder om ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ’n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.
In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ’n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.
’n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ’n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ’n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. In die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.
Daarom, as die Here Jesus sê dat ’n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:
a) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.
Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ’n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ’n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ’n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ’n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ’n vernederende klap was. Dit is ’n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:
* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,
* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.
Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.
Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word te gebruik, deur met die binnekant van jou hand te klap. Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ’n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.
b) Gee ook jou boklere
Hierdie uitspraak het die Here gegee om daarop te wys hoe ’n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ’n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere.

Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.
Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ’n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ’n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ’n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal! Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die ou end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel uiteindelik skaam oor sy uitbuitery.
c) Dra dit ook ’n tweede kilometer
Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ’n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ’n tweede kilometer ook te dra. ’n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ’n kleinboer vir ’n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.
U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ’n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.
In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Glimlag vir jou vyand.
Stuur blomme vir jou vyand.
Praat goed van jou vyande voor ander mense.
Doen goed aan jou vyand.
Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.
Bevorder die belange van jou vyand.

Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj
“I have but one candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer
Geliefdes, moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.
Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
