SKRIFLESING: Hand 20: 35 en Mattheus 6: 25 – 34
’n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou roset gewen op die streeksbyeenkoms vir die beste mielieboer in die streek.

Elke jaar was sy mielies se gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld platgereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry, te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ’n dag vra ’n joernalis van ’n plaaslike koerant vir hom hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het? Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ’n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ’n goeie oes verkry. Dit is in my belang dat ek ook my bure moet seën, sodat ek geseën kan word.
Hoe nodig het ons nie so ’n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ’n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ’n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ’n land ryp word vir ’n rewolusie of erge opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” geskryf dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ’n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, die indiwidu en die besigheid, het ’n verantwoordelikheid om sy/haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander voorspoed moet gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood van my ego, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.
Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Erich, jy lê vandag ook belydenis van die geloof van die kerk af. Dit is nie jou geloof nie, dit is die geloof van die kerk. Maar God het aan jou hierdie geloof geskenk wat jy vanoggend ook gaan bely. ’n Belydenis in woorde moet ook oorgaan in ’n belydenis van lewe. Jy moet deur jou hele leeftyd onthou dat God jou seën, sodat jy tot seën kan wees vir ander. Jy moet tot seën wees vir jou ouers, jou familie, jou huwelik eendag en ook vir jou kinders eendag, en die kollegas met wie jy gaan saamwerk. Jy moet ook tot seën wees vir die gemeentes waarvan jy eendag lidmaat gaan wees. Nou moet jy vir Fort Beaufort-gemeente tot seën wees. Jy belowe dit immers vanoggend voor die hele gemeente. Jy moet tot seën wees vir alle mense wat oor jou pad kom. Daarom sê die Here moet ons ons naaste liefhê. Jou naaste is altyd die persoon wat op die tydstip fisies of geestelik die naaste aan jou is en jou nodig het.

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel opgelig tot ’n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek. Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.
Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die transformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.
Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ’n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.
Wanneer jy tot seën vir ander mense is, lewe jy uitwaarts en is gelukkig. Maar as jy slegs “inwaarts” lewe word jy ongelukkig en jou lewensvreugde verdwyn. Dan begin jy jou te bekommer oor jouself en nie oor die regte dinge in die lewe nie.
Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou. Die vrou was dodelik siek en het elke week na die dokter toe gegaan.

Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantverkopertjies besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n geestesgesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk, het sy begin moed kry.
Daarom sê Mattheus 6: 25 – 34: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.
Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek ’n slaaf word wat net leef en werk vir myself en bekommerd is oor mý behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word, is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee; wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer; wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam; wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie koninkryk, te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come,” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, en my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.
Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.
Ek sluit af: Verlang u na vrede in u hart? Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees. Al waaroor ’n mens bekommerd moet wees, is of ek ’n seën is vir God en my naaste.

Leef ’n lewe van betekenis. Dit is die hoogste sin van die lewe.
Erich, wees tot seën van alle mense wat oor jou pad kom. Wees goed vir mense. Wees betrokke by mense. Wees betrokke in die kerk van die Here Jesus Christus.
Here, laat u Koninkryk kom! Kom, Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
