God se reis begin met klein treetjies

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33

Die bose begin altyd groot en die goeie begin altyd klein. Die Satan wil altyd met die groot goed begin. So het hy vir Eva in die begin verlei deur vir haar te vra of sy “soos God wil wees”. Hy het haar die sug gegee om groot te wees. So het die duiwel ook die Here Jesus versoek met versoekinge wat verband hou met groot en aanskoulike dinge, soos brood uit klippe, om deur engele gedra te word en ’n belofte om oor al die koninkryke van die aarde te regeer.

Mense raak gaande oor aanskoulike goed: supersterre, beroemde mense, geld, besittings, materialisme, ensovoorts. Hoe groter, hoe beter. Mense wil ook nie vandag meer onder begin nie. Hulle wil sommer daar begin waar hulle ouers geëindig het in die lewe. “We want it all and we want it now.” Die filmbedryf skep ook karakters wat alles die beste kan doen, sodat die kykers kan dagdroom om ook so te wees soos wat die karakters is.

So het die koninkryke van hierdie wêreld gekom en gegaan. Elke era se koninkryk spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke van ouds tot die modern koninkryke van vandag, maak hulle almal skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense met hulle eie klein koninkrykies.

Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk.

’n Mosterdsaadjie is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys. So werk God deur die eeue. God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei baie stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom.

Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk nie, maar ’n mosterdsaadboom-koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet.

Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

So het die Here se kerk ook jaarringe wat vertel van die geskiedenis van die kerk. Die Here hou self Sy kerk in stand, al blaak die hel van woede.

Henri Nouwen het met sy lewe aangetoon dat om ’n Koninkrykslewe te beoefen ek ’n ware dissipel moet word, daar waar daar swakheid, gebrokenheid, siekte, pyn, eensaamheid, angstigheid en verlorenheid is. Deur diens, liefde en omgee sal mense die hart van God sien.

Spirituele formasie plaas Jesus midde-in die nood van die wêreld. Spirituele formasie of inoefening beteken om Jesus Christus te “embody” ( te beliggaam) in die wêreld. Dan werk ek soos suurdeeg, wat smaak en tekstuur gee aan die lewe met al sy pyn en seer.

Geestelike formasie vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om  betrokke te raak by die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak.

Die kerk moet die wêreld in-“domino”. Die kerk moenie torings bou soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak. Die duiwel is altyd besig om aanskoulik opwaarts te bou (soos met die Toring van Babel). Die Here wil uitwaarts na die wêreld toe bou.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself in stand te hou nie. ’n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommerd as wat sy oor haarself bekommerd is. Die kerk moet ook leer om soos ’n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ’n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ensovoorts aangespreek word.

Daarom moet die kerk mense dissipels maak, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie en inoefening word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ’n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C.S. Lewis calls “little Christs.” (Leclerc)

John Wesley het spirituele formasie of inoefening verstaan as liefde wat in elke oomblik uitgestort word. Daarom vind spirituele formasie in die “kairos”-oomblikke plaas wanneer God uniek deur ons werk in ’n spesifieke konteks.

In spirituele formasie staan dissipelskap as ’n kernbegrip. Nominale Christene kan navolgers of leerlinge wees van Jesus Christus, maar dit maak nog nie van jou ’n dissipel nie. “Being a disciple or discipleship is another word for Christian spirituality and focuses on the transformation of the human person into the likeness of Jesus Christ.” (Leclerc)

Spirituele formasie of inoefening is ’n stuk bevryding van ’n stuk ongesonde ingebuigdheid van die self en eie ego. Dit is ’n stuk genesing soos wat Henri Nouwen in sy eie lewe ervaar het. Nouwen getuig as volg: “Spiritual formation prepares us for a life in which we move away from our fears, compulsions, resentments, and sorrows, to serve with joy and courage in the world, even when this leads us to places we would rather not go.”

Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van dié wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.”

Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil maak in die lewe. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en moet ek die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om daadwerklik iets te doen in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in jou lewe.

Daar is die verhaal van Nicolaus Zinzendorf (26 Mei 1700 – 9 Mei 1760), wat ’n paar eeue gelede begin het met sy “mosterdsaadklub” terwyl hy op skool was. Zinzendorf het later een van die prominente sendelinge van die Morawiese Sendinggenootskap van sy tyd geword. Met sy sterk piëtistiese inslag het hy mense aangemoedig om minder rasioneel oor godsdiens te wees en eerder “godsdiens van die hart” te beoefen. Hy het klein begin en ’n groot verskil in sy tyd gemaak.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te bring in ons omgewing en konteks! Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na  een persoon uitgereik het, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen word nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.

Iemand het eenmaal op die seestrand gestap waarlangs honderde stervisse uitgespoel het. Hy was besig om soos hy loop die visse een na die ander terug te gooi in die see. Iemand vra vir hom of hy mal is, want hy kan mos onmoontlik almal teruggooi. Die man sê toe, terwyl hy nog ’n stervis teruggooi: “Vir dié een het dit ’n verskil gebring.”

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus toets jou geloofskarakter

SKRIFLESING: Mat 15: 21 – 28

Integriteit is ’n belangrike konsep in Ingenieurswese. Enige konstruksie, of dit nou ’n pad, ’n brug, ’n gebou, ’n staalkonstruksie of ’n houtkonstruksie is, dit  moet oor sy eie inherente integriteit beskik.

’n Brug moet sterk genoeg wees sodat dit nie inmekaar val nie. Boumateriaal moet oor ’n sekere integriteit beskik, sodat dit duursaam is en voldoen aan die vereistes wat daaraan gestel word. Die gelykenis van die twee huise wat onderskeidelik op sand en rots gebou is, is ’n goeie voorbeeld van die integriteit van die fondament waarop die huise gebou is. Die huis op sand het geen integriteit gehad nie en het weggespoel. Die huis op die rots het ’n rotsvaste integriteit gehad en het staande gebly in die storms.

In ons skrifgedeelte (Mat 15: 21 – 28) lees ons hoedat Jesus die geloofsintegriteit van die Kanaänitiese vrou toets. Die vrou het ’n dogter gehad wat in die mag van die bose was.

Hierdie vrou het agter Jesus aangeloop en gesmeek dat Jesus haar dogter moet genees van die bose. Sy het aanhoudend geroep al agter Jesus aan. Die Here het haar geïgnoreer. Dit lyk heeltemal teenstrydig met die karakter van die Here Jesus. Ons leer Jesus ken as Iemand met deernis en liefde en omgee. Nou lees ons hoedat Jesus haar ignoreer. Die dissipels wil hê Jesus moet haar wegstuur, want sy loop agter hulle aan en skreeu. Dan antwoord Jesus weer teen die grein van Sy karakter in, as Hy sê dat Hy net gekom het vir die Jode. Die vrou het egter nou die aandag van die Here en sy val voor hom neer en smeek: “Here, help my!”

Dan antwoord die Here haar weer ’n keer afwysend: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die woord “hondjies” verwys na die skeldnaam waarmee die Jode na die Kanaäniete verwys het, naamlik “honde”, omdat die Jode die Kanaäniete as onrein beskou het.

Dan antwoord die vrou op ’n verrassende wyse dat sy met die krummels van God se genade tevrede sal wees. Die hondjies eet immers die kos wat van die base se tafels afval.

Sy verneder haarself om die minste te wees en is tevrede om met “min” oor die weg te kom, as die Here net haar dogter kan gesond maak.

Waarom hanteer Jesus hierdie vrou so hardvogtig, sonder enige simpatie? Dit is mos nie die aard en karakter van die Here Jesus Christus nie. Ons wil as’t ware uitroep waarom die Here haar so hard behandel.

Die antwoord is eenvoudig. Hy wil haar geloof toets. Jesus wil die karakter van haar geloof toets. Soos wat produkte aan sekere gehalte-toetse onderwerp word om die SABS (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) merk te kry, word sy ook getoets. Die Here maak dit vir haar moeilik omdat Hy die egtheid van haar geloof wil toets.

Hierdie Kanaänitiese vrou slaag die toets loshande. Dan antwoord die Here haar en sê: “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Die Here het haar beproef en sy het die geloofskaraktertoets geslaag.

Haar geloofsintegriteit het bo alles uitgestaan.

Ons moet verstaan dat die Here ’n mens beproef, maar dat die Satan jou versoek. In Jakobus 1 word die onderskeid gemaak tussen beproewinge en versoekings.

Somtyds kan beproewinge baie erg wees. Soms kan ’n mens voel om handdoek in te gooi, as gevolg van baie teleurstellings.

Dan moet ons volharding aanleer om die regte dinge te doen, selfs al word jy moedeloos. Jim Rohn skryf: “Rest, reset, restart, refocus.” Dit is waardevolle raad as ons somtyds in aanvegtinge ons fokus en rigting verloor. Jakobus sê as jou “geloof die toets deurstaan het”, help die beproewing jou om te volhard en tot volle geestelike rypheid te kom. Beproewing kom van die Here en dien tot jou heil. Dit is soos ystererts wat gelouter word, sodat vlekvrye staal gemaak kan word. Beproewing het te doen met swaarkry, wat uiteindelik tot jou loutering dien om geestelik volwasse te wees. Beproewing bou jou op.

Versoekinge, daarteenoor, kom van die duiwel en is daar om jou af te breek. Gewoonlik gaan versoekinge gepaard met aangename verlokkinge. Daarom sê Jakobus: “ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” (Jak 1: 13 – 14)

Jakobus noem beproewinge en versoekinge albei ’n “toets” Die een toets kom van die Here en die ander toets van die duiwel.

Dikwels wanneer ons erge droogte ervaar, beproef die Here ons geloof. Hy kyk van watter geloofsintegriteit ons gemaak is. Die Here toets of ons geloof sal staande bly ten spyte van aanvegtinge. Daarom moet ons in tye van aanvegtinge ons oë hoopvol op die Here fokus. Ons moet gelowig en aanhoudend soos die Kanaänitiese vrou by die Here aandring op die verhoring van ons gebed. Somtyds talm die Here omdat Hy ons geloofsintegriteit toets.

Dikwels word ons geloofsintegriteit ook uitgedaag deur die versoekinge van die duiwel. Die duiwel verlei ons om die wêreld lief te kry en slegs op die sienlike dinge staat te maak. Sodoende verloor ons gou moed en hoop.

Godsmanne en Godsvroue is mense met ’n deurleefde geloof. Hulle lewe word gekenmerk met geloofsintegriteit. Geloofsintegriteit het alles te doen met deursettingsvermoë. Hierdie Kanaänitiese vrou het met volharde deursettingsvermoë die Here heelpad gevolg. In die spesiale magte van die Weermag en Polisie, word rekrute ook onderwerp aan strawwe vasbyt-oefeninge, waar hulle staal en deursettingsvermoë getoets word. Slaag hulle die toets, word hulle opgeneem in die elite-eenhede van die Weermag en Polisie.

Die “Navy Seals” in Amerika het ’n goue klok. Wanneer jy opgee op die kursus moet jy net die goue klok lui. Dan is die strawwe beproewing verby en is jy af van die kursus. Die uitdaging is om nie die goue klok te lui nie. DON’T RING THE BELL.

So moet ons as gelowiges ook nie opgee wanneer ons deur beproewinge gaan nie. Ons moet volhardend volhou met geloofsintegriteit, sodat ons die geloofswedloop kan voltooi. Die lewe is nie maklik nie. Die lewe is vol toetse en uitdagings. Daarom moet ons die toetse en uitdagings sien as geleenthede om te groei in die Here. Die Here sal ons ook nie bokant ons vermoë beproef nie, want Hy weet ons is van stof en vol menslike gebrokenheid. Hy sal ons optel, voordat ons kragte ingee. Wat is die karakter en die integriteit van jou geloofslewe?

DON’T RING THE BELL.                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Om jou vyand tot skaamte te bring

SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23 en  Mat 5: 38 – 41

President Donald Trump se aanmoediging op Twitter op 6 Januarie 2021 dat sy

aanhangers die “Capital Hill” bestorm, getuig van ’n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika op daardie stadium wou verloor nie. Dit was ’n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.

Huidiglik is daar ’n magspel in die wêreld. Rusland wil Oekraine beset, vir meer grondgebied en hawens. Daar woed nou al ’n jarelange oorlog en Putin wil nie afsien van sy ideologie om Oekraine deel van Rusland te maak nie.

In die Midde-Ooste is daar ’n hewige oorlog tussen Israel en terroristiese organisasies soos Hamas en Hezbollah. Dit het begin toe Hamas op 7 Oktober 2023  meer as 1200 burgerlikes van Israel onskuldig gedood het in missielaanvalle. As vergelding het duisende onskuldige burgerlikes die afgelope maande in Palestina onnodig gesterf en Gaza is reeds tot die grond vernietig.

Die oorlog is nou besig om van Gaza na Iran en Libanon te verskuif. Die Midde-Ooste is tans ’n kookpot van emosies, wat kan ontaard in ’n hewige streekoorlog of selfs nog erger.   Hierdie oorloë beïnvloed die wêreldekonomie en bring onsekerheid in die stabiliteit van wêreldvrede. Ons voel die ekonomiese ineenstorting wat die oorloë veroorsaak aan ons eie sak.

So is daar ook gereeld konflik in huwelike, families, werksplekke, tussen vriende, in die kerk en in die samelewing. Ons noem dit sommer kortweg kantoorpolitiek, kerkpolitiek, werkspolitiek, politiek in boerdery of partypolitiek. “Hond eet hond” – so lui die spreekwoord mos.

In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het al meer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Dawid  het op die voorgrond getree – hy wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ’n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.

In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe teruggekom van ’n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag is op Dawid se spoor om sy lewe te beëindig. ’n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.

Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ’n skaapkraal gekom met ’n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes. (Die Hebreeuse idioom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)

Maar Saul was onbewus daarvan dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil. Dawid het toe nader gesluip en ’n stuk van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gaan, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader,  kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.”

Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses   kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ’n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.

Dawid vergelyk homself met ’n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ’n vlooi op ’n dooie hond. Saul agtervolg ’n vlooi op ’n dooie hond.

In ons wêreld word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ’n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ’n liefdesdaad ’n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.

Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom?  Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het.  En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”

Die weldaad van Dawid verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ’n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar koninklike wysheid.

Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ’n Ware staatsman soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel as sy eie selfsugtige ego.

Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder om ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ’n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.

In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ’n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.

’n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ’n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ’n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. In die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.

Daarom, as die Here Jesus sê dat ’n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:

a) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.

Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ’n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ’n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ’n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ’n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ’n vernederende klap was. Dit is ’n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:

* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,

* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.

Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.

Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word te gebruik, deur met die binnekant van jou hand te klap.  Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ’n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.

b) Gee ook jou boklere

Hierdie uitspraak het die Here gegee om daarop te wys hoe ’n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ’n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere.

Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.

Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ’n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ’n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ’n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal!  Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die ou end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel uiteindelik skaam oor sy uitbuitery.

c) Dra dit ook ’n tweede kilometer

Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ’n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ’n tweede kilometer ook te dra. ’n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ’n kleinboer vir ’n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.

U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ’n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.          

In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

Glimlag vir jou vyand.

Stuur blomme vir jou vyand.

Praat goed van jou vyande voor ander mense.

Doen goed aan jou vyand.

Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.

Bevorder die belange van jou vyand.

Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj

“I have but one candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer

Geliefdes, moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.

Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geseënd om te seën (Belydenisaflegging van Erich Johann Herbst)

’n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou roset gewen op die streeksbyeenkoms vir die beste mielieboer in die streek.

Elke jaar was sy mielies se gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld platgereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry, te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ’n dag vra ’n joernalis van ’n plaaslike koerant vir hom hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het? Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ’n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ’n goeie oes verkry. Dit is in my belang dat ek ook my bure moet seën, sodat ek geseën kan word.

Hoe nodig het ons nie so ’n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ’n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ’n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ’n land ryp word vir ’n rewolusie of erge opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” geskryf dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ’n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, die indiwidu en die besigheid, het ’n verantwoordelikheid om sy/haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander voorspoed moet gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood van my ego, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Erich, jy lê vandag ook belydenis van die geloof van die kerk af. Dit is nie jou geloof nie, dit is die geloof van die kerk. Maar God het aan jou hierdie geloof geskenk wat jy vanoggend ook gaan bely. ’n Belydenis in woorde moet ook oorgaan in ’n belydenis van lewe. Jy moet deur jou hele leeftyd onthou dat God jou seën, sodat jy tot seën kan wees vir ander. Jy moet tot seën wees vir jou ouers, jou familie, jou huwelik eendag en ook vir jou kinders eendag, en die kollegas met wie jy gaan saamwerk. Jy moet ook tot seën wees vir die gemeentes waarvan jy eendag lidmaat gaan wees. Nou moet jy vir Fort Beaufort-gemeente tot seën wees. Jy belowe dit immers vanoggend voor die hele gemeente. Jy moet tot seën wees vir alle mense wat oor jou pad kom. Daarom sê die Here moet ons ons naaste liefhê. Jou naaste is altyd die persoon wat op die tydstip fisies of geestelik die naaste aan jou is en jou nodig het. 

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel opgelig tot ’n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die transformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ’n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

Wanneer jy tot seën vir ander mense is, lewe jy uitwaarts en is gelukkig. Maar as jy slegs “inwaarts” lewe word jy ongelukkig en jou lewensvreugde verdwyn. Dan begin jy jou te bekommer oor jouself en nie oor die regte dinge in die lewe nie. 

Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou. Die vrou was dodelik siek en het elke week na die dokter toe gegaan.

Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantverkopertjies besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n geestesgesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk, het sy begin moed kry.

Daarom sê Mattheus 6: 25 – 34: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek ’n slaaf word wat net leef en werk vir myself en bekommerd is oor mý behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste,  my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word,  is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee; wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer; wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam; wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie koninkryk, te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come,” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, en my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.

Ek sluit af: Verlang u na vrede in u hart? Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees. Al waaroor ’n mens bekommerd moet wees, is of ek ’n seën is vir God en my naaste.

Leef ’n lewe van betekenis. Dit is die hoogste sin van die lewe.

Erich, wees tot seën van alle mense wat oor jou pad kom. Wees goed vir mense. Wees betrokke by mense. Wees betrokke in die kerk van die Here Jesus Christus.

Here, laat u Koninkryk kom! Kom, Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)