Ingeënt op die wortelstok en die lote (kinders) groei, veral rondom die gesinstafel


SKRIFLESING: Rom 11: 16 – 24 en Spreuke 9:1 – 2

Vanoggend word Owen Barend van der Mescht ingeënt in Christus die wortelstok.

Hy kry deel aan Christus en al Sy weldade. Dit is nie die dopeling wat die keuse maak, sodat die mens daarom hoogmoedig moet raak nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief vir Owen kies om deel van Sy verlossing te word. Dit is nie die dopeling of die loot wat die wortelstok dra nie. Dit is die wortelstok wat die loot dra.

Maar hierdie ingeënte dopeling moet leef uit die goedheid van God. Soos wat daar groot moeite gedoen word met die inentingsproses, moet die doopouers groot erns maak met hulle doopbelofte. Dit is ’n belofte voor God. Ek moet my kind lei om in geloof te antwoord op al die verbintenisse en beloftes van die doopverbond.  

Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding liefde en strengheid  moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree. ’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem.

As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tug baie belangrik, veral volgens die Spreukeboek in die Bybel. 

Psalm 1 praat van ’n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met kategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome grootgemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus byvoorbeeld,  het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindertjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap.

Dit kos net een geslag om ’n heiden groot te maak. Maak jou kind sonder die Here groot en jy kweek ’n heiden.

Somtyds sal die storms van jou lewe jou lewensboompie omwaai. Maar as jou wortelstok Christus is, sal daar altyd weer ’n nuwe loot uitloop. Jy sal elke oggend weer nuwe krag van die Here ontvang. Soos ’n wortelstok geanker is in die grond, so moet jy geanker wees in Christus Jesus, dan sal jy die storms van die lewe kan trotseer.  

Die inenting van jou gesin in Christus die wortelstok, bepaal jou gesin se toekoms.                               

Wat is die belangrikste vertrek van ’n huis? Wat is die belangrikste meubelstuk in die huis? Verseker is die kombuis of eetkamer die belangrikste vertrek in die huis. Die belangrikste meubelstuk in die huis is die kombuistafel of die eetkamertafel. Ek verkies natuurlik die kombuistafel. My eerste kosbaarste kinderherinneringe was toe ons elke aand saamgeëet het rondom ’n geel kombuistafel. By my oupa en ouma se huis op Strydenburg het ons altyd om Ouma se kombuistafel gekuier met die heerlike warm Aga-stoof naby. Dit is ingebrand in my geheue.

Saamkuier rondom ’n kombuistafel bring huwelikspare, gesinne en families bymekaar. Dit skep samesyn en warmte. Verhoudings groei rondom die kombuistafel.

In die vroeë Bybelse tyd het mense gewoonlik net twee etes gehad. Daar was ’n noenontbyt omtrent so tussen 10h00 en 11h00. Mense het geëet om krag te kry vir die dag se werk. Aan die einde van die dag het die werkers huis toe gegaan en elke aand feesmaal gehou. Dan het hulle gekuier, geëet, stories vertel, gedans en wyn gedrink. Dit was die hoogtepunt van elke dag. Ps 23: 5(a) sê: “U dek vir my ’n tafel”. 

In Ps 128: 3 staan daar geskryf:  “Jou vrou is soos ’n vrugbare  wingerdstok in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

In Spreuke 9:1 – 2 lees ons: “Wysheid het haar huis gebou,   sy het haar sewe pilare uitgekap.  Sy het haar slaggoed geslag,   haar wyn gemeng,   en ook haar tafel voorberei.”

In die Pasga-tradisie het gesinne elke Vrydagaand die Pasga-maaltyd saamgeëet. Dan het die pa van die huis elke keer vertel hoekom hulle die Pasga vier. Hulle vier die uittog uit Egipte, die plek van slawerny. In die Nuwe Testament is die Pasga vervang met die Nagmaal, wat ook ’n ete aan ’n tafel is. Die Nagmaalstafel bind die gemeente tot ’n eenheid, om te gedenk dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het.

Die vroeë kerk het ook gereeld elke Sondag die gemeenskaplike maaltyd saamgeëet om hulle innerlike verbondenheid aan mekaar te vier. Hierdie gebruik het die gemeenskap goedgesind gemaak teenoor die Christelike kerk en gevolglik het hulle getalle gestyg.

U sien, as die tafeltradisie sterf, dan sterf die kwaliteit van verhoudinge.

Die Boesmans se “kombuistafel” was om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories vertel,  eet, kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider-Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwester. Hulle het oonde,  televisies en selfone gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone of internet en tegnologie  nie. Mense het nog gekuier rondom die kombuistafel. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie geëet. Met die begin van selfoontegnologie is mense meer besig om teksboodskappe te stuur om die etenstafel as om te gesels. So word die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar in stil modus geplaas word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef, en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in The Washington Post as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders daaraan te wyte is dat daar nie ’n kombuistafel-kultuur was nie.

Kinders word in die besonder rondom die etenstafel grootgemaak. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Ingeënt op die wortelstok en die lote (kinders)  groei, veral rondom die gesinstafel.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar