SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10
Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.
Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.
Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.
Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Cecil het nog sewe genadejare bygekry.
Maar die afgelope paar maande het ons gesien hoe Cecil se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Sy liggaam en verstand het verswak en die tent het begin skeur. Cecil se tentwoning ineengestort en het hy ’n permanente woning gekry by sy hemelse Vader.
’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.
Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.
Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.
Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word aan die einde van die dag eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.
In Psalm 23: 5 staan daar ook: “My beker loop oor.” In hierdie wêreld is ons beker altyd drie-kwart vol as dit goed gaan, of halfpad-vol as dit gemiddeld gaan en ’n kwart-vol of minder as dit sleg gaan. Elke dag vul die Here ons lewensbeker, met nuwe lewenskrag en versorging. Maar in die hiernamaals loop ons beker oor. Ons het van niks meer tekort nie. Cecil het nou van niks meer te kort nie. Alles wat hy nodig het, is nou in oormaat. Hy kort nie meer gesondheid, finansies, versorging of sekuriteit nie. Alles wat hy verlang en aan behoefte het, het hy nou in oorvloed.
Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit. “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!” Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”
So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Cecil Rieck het nie die ewige dood gesterf nie. Hy is veilig by die Here.
Die skielike en vinnige aftakeling van sy liggaamlike en verstandelike gesondheid was vir almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat hy verdere lyding en agteruitgang gespaar is, deur sy dood. Ons is verheug dat hy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.
Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.
Cecil Rieck se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.
Ons vier sy lewe. Ons vier sy nagedagtenis. Mag hy altyd in ons gedagtes voortleef.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
