Olie en water meng nie


Skriflesing:  Daniël 1: 1 – 21

Wanneer ’n mens ’n paar druppels wit verf in ’n drom met rooi verf gooi, sal die enkele druppels geen verskil maak aan die rooi kleur van die verf nie. Die meerderheid sal die minderheid verswelg. So word dit ook in ons skrifgedeelte verwag. So was dit in die derde jaar van koning Jojakim van Juda dat Nebukadneser Jerusalem beleër het. Nie net het Nebukadneser tempelgereedskap van Jerusalem na Sinar geneem nie. Hy het dit geplaas in sy eie god se tempel se voorraadkamer.

Maar ons lees hy het ook Israelitiese jongmanne as slawe saam met hom na Babel toe geneem. Die koning het toe vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte, beveel om vir hom die beste, gesondste en mees vooraanstaande Israelitiese jongmanne na die paleis te bring, sodat hulle opgelei kan word om in diens van die koning te staan.

  • Hulle moes drie jaar onderrig word in die Babilonieërs se gewoontes en gebruike.
  • Hulle moes die Galdeërs se skrif en taal ook aanleer.
  • Hulle moes elke dag die kos en die wyn van die koning eet.

Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die hoofpaleisbeampte het hulle ander name gegee: Daniël het geword Beltsasar, Gananja het geword Sadrag, Misael het geword Mesag en Asarja het geword Abednego.

Daniël (Beltsasar) is vernoem na  Bel, die hoofgod van die Babilonieërs. Die ander drie jongmanne is vernoem na die Babiloniese gode van son, aarde en vuur. Al vier het dus heidense name gekry, dié van heidense gode. Die doel van Nebukadnesar was dat die vier jongmanne uiteindelik volbloed Babilonieërs sal word wat ook die Babiloniese gode sal aanbid. Dit is net te wagte dat die vier jongmanne, omdat hulle die minderheid is, later sal word soos die meerderheid. Hulle is bestem om volbloed Babiloneërs te word.

In Suid-Afrika is Godvresende Christene ook in die verre minderheid. Dit sien jy in die kerkbesoek van Christene van alle kerke in  ons land. Ek praat nie van naam-Christene, wie se name net in die boeke van die kerk opgeteken staan nie. Ek bedoel Godvresende Christene vir wie kerkbywoning en die nakom van God se wet nog belangrik is. Dikwels gebeur dit dat eens warm Christene later lou word en later koud en later yskoud.

Verwêreldliking geskied nie oornag nie. Die minderheid word nie oornag soos die meerderheid nie. Dit is ’n geleidelike proses.

As ’n padda onmiddellik in warm water gegooi word, sal die padda dadelik uitspring.

Maar as die water geleidelik opgewarm  word, sal die padda dit nie eens agterkom nie en homself doodbrand. Die wêreld spoel die kerk binne, in plaas daarvan dat die kerk die wêreld inspoel. Morele waardes van die wêreld  het heeltemal verkrummel. Christelike standaarde het getuimel. Humanisme het die kerk geïnfiltreer en gesaboteer.

Maar met Daniël en sy drie vriende was dit anders. Olie en water meng nie. So het Daniël en sy drie vriende nie geswig onder die druk om aan die meerderheid toe te gee nie. Daniël en sy drie vriende het hulle nie verontreinig deur die wyn en kos te eet wat aan afgode gewy was nie. Hulle sou net groente eet en water  drink. Na ’n proefneming van tien dae het hulle voorkoms beter gelyk as die res van die jongmanne. Na die tyd wat die koning bepaal het, is die jongmanne na die koning gebring. Die koning het niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle was beter as die towenaars en waarsêers. Hulle het toe in diens van die koning getree.

Maar onthou, hulle was in die wêreld van Nebukadnesar, maar nie van die wêreld van Nebukadnesar nie.  Hulle het nog die ware God van Israel aanbid. Sedrag, Mesag en Abednego het byvoorbeeld in Dan 3: 1 – 30 nie gebuig voor die 30-meter hoë afgodsbeeld in Duradal, wat ’n provinsie van Babel was nie.

Hulle is in ’n brandende vuuroond gegooi. Hulle het ongedeerd uit  die vuuroond gestap, met die reddende hand van die Here. Die Here het ’n engel gestuur om saam met hulle in die vuuroond te wees.

Onthou daarom, ons is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Daarom leef ons anders. Daarom staan ons uit. Dit beteken daarom dat ons ook dikwels bespotting en lyding sal moet verduur, ter wille van die Evangelie. Daarom lees ons het Daniël en al drie sy vriende ook erge lyding verduur, ter wille van hulle gehoorsaamheid en toewyding aan die Here.

Ons lees ook dat Daniël in koning Darius se tyd drie keer per dag tot God gebid het met sy aangesig na Jerusalem (Dan 6: 1 – 29). Die goewerneur-generaals en ministers het jaloers geword op Daniël en het iets gesoek om hom voor die koning aan te kla. Hulle kon dit net vind in sy godsdiens.

Verder was sy lewe en werk onberispelik. Toe hulle hom uitvang in sy godsdiens het hulle hom by die koning gaan aankla en dié het hom baie teensinnig in die leeukuil gegooi. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit en Daniël het die volgende môre nie eers ’n skrapie aan hom gehad nie.

Olie en water meng nie. Kerk en wêreld meng nie. Christendom en afgodery/ vreemde godsdienste meng nie.’n Afgewaterde Christen is geen Christen nie. ’n Afgewaterde geloof is geen geloof nie.

Wat dikwels gebeur in die swart kultuur is dat die meerderheid swart gelowiges vashou beide aan Christus en aan hulle voorouerverering. Dit noem ons in die teologie “sinkretisme”.   Dit is heeltemal verkeerd. Die Evangelie en voorouerverering kan nie saamloop nie. Jy moet ’n besliste keuse maak. Daarom moet ons vir ons swart medegelowiges bid, dat hulle net aan die Evangelie sal vashou. Olie en water meng nie.  

Daarom mag ons nie meng met hierdie wêreld nie. Ons as Christene is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Net so was Daniël en sy drie vriende in die heidense wêreld van koning Nebukadnesar, maar hulle het nie gemeng met die gewoontes en godsdienste van die Babiloniese ryk nie.

Olie en water meng nie!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Lewer kommentaar