Jesus skep vir Hom ‘n familie aan die kruis

SKRIFLESING: Joh 19: 26 – 27

In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien hoe familielede wat jare laas met mekaar gepraat het, by die sterfbed weer die ou familiebande optel en met mekaar versoen raak. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet … so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke- of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap of gemeente. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b:   … maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag leer ons ook hoedat Jesus ’n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ’n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling-dissipel, het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord tussen 09h00 en 12h00.

Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Maria en Johannes in ’n nuwe moeder-en-seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie.

Jare gelede was dit gebruik dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hulself elkeen met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het. Dit  was die teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers”. Aan die kruis was dit nie nodig dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Daar staan verder in Johannes 19:27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ’n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ’n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie. Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem, en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees (1 Kor 12). Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ’n los steen, wat nutteloos buite die gebou rondlê.

Daarom het ons die verantwoordelikheid om by kerkbyeenkomste na die persoon toe te gaan wat ons die swakste ken en wat dalk ’n vreemdeling is en hom of haar te verwelkom en beter te leer ken. Dit is Christelike gasvryheid, wat mense verwelkom in die gemeenskap van gelowiges.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos of ’n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.

Netso kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle mede-kerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter as ek nie my mede-kerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al nie.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Vanoggend vier ons die heilige Nagmaal. Die brood bestaan uit baie graankorrels wat gemaal is om een brood van te maak. Die wyn bestaan uit baie druiwekorrels wat saam gepers is om een glasie wyn te maak. So is God se kinders ook gemaal en gepers in Jesus se sterwe en opstanding om EEN HEILIGE ALGEMENE KERK te wees. Ons hoort bymekaar, want Jesus het ons gemaal en gepers om een geloofsgemeenskap te wees.

As u mooi kyk na die viering van die Nagmaal, gaan daar brood en wyn oorbly. Dit is bedoel vir die vreemdeling wat nog moet inskakel in die geloofsgemeenskap. Daarom moet die Here se kerk gasvry wees, om vreemdelinge te ontvang en welkom te laat voel.

Die kruis van Christus is soos ’n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan. Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede-gelowige toe trek.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Engele is soms sonder vlerke

SKRIFLESING: Hebreërs 13:2

Die Ou Testamentikus Claus Westermann het ’n boekie oor engele geskryf met die titel Gottes Engel brauchen keine Flügel God se engele het nie vlerke nodig nie. Dié boek het baie herdrukke beleef. Hy toon aan dat in verskillende tydvlakke van die Bybel, die Godsvolk verskillend oor engele praat. 

Daarom kan ’n mens ook nie iets soos ’n leerstuk oor engele formuleer nie. Die Bybel stel nie in engele belang nie, maar in God.  Engele is slegs boodskappers van God. Engele is God se helpers en somtyds God se draers van boodskappe in mensetaal. Westermann sê daarvoor het hulle nie altyd vlerke nodig nie.

In die pragtige Psalm 91 lees ons dat God Sy engele opdrag sal gee om ons te beskerm. Dit lees in vers 11 as volg: Want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. In Daniël 3: 28 lees ons van die engel wat saam met Daniël se vriende in die vuuroond was. Daar staan: Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê:  “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het … In Dan 6: 23 lees ons hoedat die engel die bek van die leeus gesluit het en vir Daniël beskerm het. Daar staan: My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is.

Die Bybel is vol getuienis van die werking van engele in mense se lewens. Ons moet egter onthou dat engele slegs die instrumente van God is. Daarom mag ons hulle nie aanroep of aanbid nie. Ons roep die Here aan en Hy sal sy engele stuur om ons te bewaar en te beskerm.

Dit is merkwaardig hoe dikwels mense engele nie herken het nie, maar dat engele in gewone gestaltes (vlees-en-bloed engele) aan mense verskyn het.

In Gen 18 het Abraham by Mamre gesit en drie manne sien naderkom. Hy het hulle slegs as besoekers herken en hulle met tipiese Ou Testamentiese gasvryheid bederf. Toe die drie manne vir hom en Sarah die boodskap bring dat hulle in hulle gevorderde ouderdom oor ’n jaar ’n seun in die wêreld sou bring, het Sarah selfs daaroor gelag. Hulle het die drie manne nie herken as engele nie. Want die drie manne het nie vlerke gehad nie. Hulle was tipies geklee soos Midde-Oosterse  mans.

Dirkie Smit skryf dat mense dikwels eers later besef dat dit engele was wat hulle bygestaan, vertroos of bemoedig het.

In die Nuwe Testament word daar meestal van engele gepraat by die hoogtepunte van Jesus Christus se lewe. Maar die engele wys altyd heen na Christus, in wie God nader as ooit aan ons gekom het in ’n vleeslike gestalte, aldus Dirkie Smit.

In Hebreërs 13:2 staan daar: Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.

Abraham en Sarah het ook nie geweet hulle ontvang engele nie. Hierdie engele het vir hulle ’n goeie boodskap van ’n seun gebring. Net so moet ons alle mense ontvang met gasvryheid. Ons kan dalk net ’n engel ontvang en ons weet dit nie.

In Mat 25: 35 – 46 staan daar: 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.” 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: “Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?  39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?” 40En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”41Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.” 44Dan sal hulle ook antwoord: “Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?” 45En Hy sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.

Wat belangrik is, is dat ons dikwels deur engele besoek word in gewone menslike gestaltes. Dit kan iemand wees wat ons bemoedig of in nood help. Dit is al die vreemde gestaltes waarin God aan ons verskyn. Dikwels sal die engel wat ons help, menslik wees. Ons almal het ervarings van hoe mense ons onverwags gehelp het. Of hoedat mense in ons donkerste uur vir ons lig gebring het. Was dit nie miskien ’n engel nie?

Ek onthou baie jare gelede was ons jongste seun Johannes baie siek. Hy het buitengewone hoë koors gehad. Hy is opgeneem in een van Kimberley se privaathospitale. Hy is ontslaan, maar die koors het nog nie gebreek nie. Hy is toe later in een van Bloemfontein se privaathospitale opgeneem. Verskeie spesialiste het hom besoek, maar sy koors wou nie breek nie. Ons was moedeloos en verward. Die spesialiste wou hom toe later na die Pasteur Hospitaal stuur wat in virusinfeksies spesialiseer. Ons was gedaan, moedeloos en hartseer. Dit het gevoel of dit die einde van die wêreld is.

Een middag, rondom middagete, was ek alleen by Johannes se bed. Anneke het gaan eet. Skielik stap daar ’n Christen-advokaat die kamer binne, wat ek van geen kant ken nie. Hy vra toe of hy vir Johannes ’n gebed kan doen. Ek vra vir hom asseblief. Hy het ’n mooi gebed gedoen. Toe hy net uit is, kom Anneke die hospitaalkamer binne. Ek vertel toe vir haar van die advokaat wat vir ons kind gebid het. Feitlik onmiddellik daarna vra sy of die oorsaak van Johannes se siekte nie miskien sy mangels is nie. Toe die spesialis weer ’n besoek doen, vra ek hom om spesifiek na die mangels te kyk. Hy doen so en sê dadelik dat die mangels vrot is van infeksie. Hy bel toe dadelik ’n ander spesialis wat in mangels  spesialiseer. Binne tien minute daag hy op. Hy verander die antibiotika wat per drup toegedien word. Die volgende oggend speel Johannes vir die eerste keer in tien dae. Hy was vir tien dae dodelik siek en verskeie spesialiste het hom ondersoek. Niemand kon die oorsaak kry nie. Vir my was die advokaat wat ingestap het en ’n gebed gedoen het, die engel wat God gebruik het om Johannes te genees. Want onmiddellik na sy gebed kry Anneke die wysheid om te vra of die oorsaak nie by die mangels lê nie. Voorwaar was die advokaat ’n engel vir ons.  

Daar was ook die keer toe ons as die Ring van Hopetown ’n predikante-retreat gehad het. Ons het onder andere na die Van der Kloof-dam gaan kyk en ons was ook binne die damwal. Johannes was klein. Op ’n stadium raak ons almal in vervoering oor die skoonheid van die dam. Dit is net toe dat Johannes wegbeweeg van ons af. Daar was ’n reuse-gat in die damwal. Sou Johannes daar afval, is dit meer as ’n honderd meter afgrond na sement. Anneke kyk net betyds om en gryp hom aan sy klere voor hy daar afval. Dit was vir my die mees skrikwekkende oomblik in my lewe. Ek glo dit was God wat sy beskermengel beskik het, dat Johannes betyds gevang is deur Anneke. Daarom glo ek vas aan wonderwerke.

Ons mag nie engele aanbid nie. Engele kan nie uit hul eie uit optree nie. Hulle kry hulle boodskappe en opdragte van God. Hulle is maaksels van God. Daarom aanbid ons alleen die Drie Enige God. Hy stuur en beskik oor die engele. Somtyds stuur God ook mense as engele.

Wat belangrik is, is dat God ons ook kan gebruik as engele. As ons vir iemand wat honger is, kos gee of vir iemand wat dors is, water gee of iemand besoek wat siek is of in die gevangenis is, tree ons op as engele van God.

Dikwels kan ons derduiwels wees met mekaar. Ons beduiwel mekaar. Ons doen duiwelse dinge en bedink duiwelse goed. Ons het dikwels ’n duiwelse agenda. Dan roep die Evangelie ons op om op te tree soos engele vir mekaar. Ja, om goed te doen aan ander.

Jy kan miskien die engel sonder vlerke wees. Onthou ons word deur God gestuur.  Daar is hemelse engele en aardse engele. Wees jy die aardse engel in ander mense se lewens, mense wat jou nodig het.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Sonde beroof die goeie

SKRIFLESING: Psalm 51

“Sonde” is ’n woord wat uit die mode geraak het. In die oorspronklike Joods-Christelike tradisie is dikwels oor sonde gepraat. In baie mense se woordeskat bestaan sonde ongelukkig nie meer nie. Sielkundiges en sosioloë gee sonde ’n ander naam. Selfs in die kerk praat ons nie dikwels oor sonde nie, vanweë die invloed van humanisme op die kerk. Humanisme glo in die inherente goedheid van die mens.

As ons wel oor sonde praat, praat ons eerder oor ’n ander een se sonde. Of ons vermy sonde of ons verplaas dit na ’n ander mens.  Mense maak soos Adam en Eva. Ons kruip weg vir ons eie sonde. Andersins verplaas ons dit na ander mense. Toe die Here vir Adam genader het oor sy sonde, het hy sy sonde verplaas na Eva en sommer ook vir God blameer wat hom die vrou gegee het. Eva het weer die slang blameer.

Begryplik is dat die woord “sonde” in die wêreld min gebruik word. Maar in die kerk moet dit juis gebruik word. God het vir Adam en Eva in die paradys gaan soek. Hy het ’n ontmoeting gereël, omdat God die sonde wil uitpraat. Die kerk is die een plek waar sonde-taal beoefen moet word, al praat die mense daarbuite nie meer so nie.

Ek moet ook nie besig wees om ander se sonde heeldag uit te wys nie. Ek moet besig wees om my eie sonde te ondersoek en daarmee erns te maak. Wie is glashuise woon moet nie met klippe gooi nie.

Daarom soek God ons elke Sondagmôre in die erediens om oor sonde te praat. Ongelukkig verval die sonde-belydenis dikwels as liturgiese element in die erediens. In die verlede was die sondebelydenis in die erediens en kerklike tug en opsig ’n wesenlike deel van ons Calvinistiese tradisie.

Wanneer daar nie oor sonde gepraat word nie, verval die samelewing in oppervlakkigheid. Ons eie lewe verval in oppervlakkigheid as ons nie oor sonde praat en onsself ondersoek nie.

Daarom sê die Nagmaalsformulier ook uitdruklik dat ons onsself moet ondersoek voor ons by die tafel gaan aansit. Ongeveer twintig jaar gelede was dit nog die  gebruik om die Saterdag voor Nagmaal of die vorige Sondag ’n voorbereidingsdiens te hou met die oog op die Nagmaal. Ongelukkig het ook dit verval.

Daarom is veral ook die Lydenstyd van die kerk tussen As-Woensdag en Paasfees ’n tyd van vas en boetedoening. Sondebelydenis moet ’n tyd wees wanneer ons nie meer wegkruip of ons sonde verplaas of dit ander name gee nie. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek my sonde name gee. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek beskryf wie en wat ek regtig is.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid se opregte skuldbelydenis na sy owerspel met Batseba, die vrou van Uria. Boonop het hy vir Uria doodgemaak, deur opdrag te gee dat hy in die voorste linies moes veg. Toe die profeet Natan na hom toe gekom het, het Dawid onmiddellik sy sonde bely en in sak en as gesit, sonder om te eet. Vanuit sy diepe berou het hy die opregte Psalm 51 geskryf.

Sonde is nie iets nie, het nie ’n eie ontstaan nie, is nie aanwysbaar en identifiseerbaar nie.     

Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ’n berowing van die goeie. Sonde teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ’n skaduwee. Sonde misbruik die goeie en beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Dit is dus is soos ’n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ’n engel van die lig.

As ek een vinger na ’n ander wys, wys al my ander vingers na myself. Wie in glashuise lewe, moenie klippe gooi nie. Sonde is inderdaad parasities. Sonde kom onder die dekmantel van die goeie.

Paulus skryf: Ek wil die goeie doen, maar as ek myself weer kom kry, het ek die kwaad gedoen. Sonde mislei ons. Richard Niebuhr skryf as ons sondig, weet ons meestal nie wat ons doen nie.

Ons kan dikwels bedwelm word deur die tydsgees. Ons het Apartheid gepleeg en toe nie eers besef ons sondig nie. Die Nazi-regering in Duitsland het miljoene Jode uitgemoor, en toe nie gedink dit is sonde nie. So kan ’n tydsgees ’n hele volk bedwelm, sonder om die sonde raak te sien. Die ANC-regering pleeg korrupsie in die ergste graad, maar hulle besef nie eers dit is sonde nie. Vir hulle is dit aanvaarbaar dat die leiers van die ANC sake met die staat doen.

Ons weet somtyds nie wat ons aan ons lewensmaats doen nie. Ons weet dikwels nie eers wat ons aan ons kinders doen nie. Ons weet dikwels nie wat ons aan ander doen nie. Ons weet nie, omdat die sonde te na aan die lig lewe, omdat dit in die gedaante van die goeie verskyn.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met versoekinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Soos wat om honger te raak en te eet, alledaags is – net so is versoekinge deel van die daaglikse lewe.

Daarom het Jesus aan die kruis geroep: “ Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bedoel Jesus dit is ons wat nie weet wat ons doen nie.

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Sy 95 stellinge het begin met boetedoening. Sy eerste stelling “Toe ons Heer en Meester, Jesus Christus, gesê het ‘Doen boete’ (toon berou, bekeer julle) was dit sy wil dat die hele lewe van die gelowige een van berou moet wees.” 

Daarom pas dit by ons Calvinistiese tradisie om ons armoede voor God en ons gebroke lewe voor God te besef.  In die Rooms-Katolieke tradisie is bieg een van die sakramente. Vir ons beteken berou egter die doding van vleeslike gedrag.

Daarom kom die 95 stellinge neer op (1) die grootheid van my sonde en (2) Christus Jesus se algenoegsame redding.

Die Middeleeuse kerk het in die hervorming ’n verskuiwing gehad in vroomheid. Ek moet nie net vroom in die kerk wees nie, maar ek moet ook in die wêreld vroom wees.

Daarom moet ek elke dag vroom ondersoekend my lewe ondersoek voor God se Woord. Ek moet biddend nadink oor my lewe en my sonde een vir een voor God bely.

Dan sal ek elke dag verwonderd, dankbaar voor God staan vir sy algenoegsame verlossing in Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Onverdienstelike gevalle aan ‘n weelderige feestafel

SKRIFLESING: Mat 22: 1 – 14

’n Verloofde paartjie het in ’n eksklusiewe hotel in Boston reëlings getref vir hulle bruilofsonthaal.

Altwee het baie duur smaak gehad en net die beste uitgekies: die voortreflikste spyskaart, die indrukwekkendste silwerware, die mooiste blommerangskikkings. Die rekening het op dertigduisend dollar te staan gekom. Hulle het die volle bedrag betaal.

Op die dag van die bruilof was die bruidegom nog in San Francisco. Juis oor daardie naweek was Amerika in een van die ergste sneeustorms van dekades vasgevang. Die San Francisco Internasionale lughawe was vir alle lugverkeer gesluit. Daar was nie ’n manier hoe die bruidegom binne ’n halwe dag oor die Amerikaanse kontinent kon kom om betyds te wees nie.

Aangesien die gastelys uit vooraanstaande mense saamgestel is, vir wie tyd kosbaar is, is hulle betyds per telefoon laat weet dat die huwelik vir eers onbepaald uitgestel is. Maar hoe gemaak met die bespreekte hotel, die voortreflike vyfgang-ete, die silwerware, die blomme – alles is immers al klaar betaal.

Dis toe dat die bruid die roekelose idee gekry het om voort te gaan met die onthaal, nie as ’n huweliksbanket nie, maar sommer net as ’n reuse feespartytjie. Sy het die dakloses van Boston uitgenooi vir ’n aand wat hulle nooit sou vergeet nie. Daar is inderhaas uitnodigings na al die skuilings vir dakloses in Boston gestuur.

So het daar op ’n koue wintersaand ’n onthaal plaasgevind soos die personeel nog nooit beleef het nie. Mense het van heinde en verre opgedaag: vertoiingde bejaardes met krukke en kieries, mense wie se aardse besittings in ’n supermarktrollie kon inpas, boemelaars wat gewoond was om onder kartonne te slaap, verslaafdes wie se harde lewensverhaal op hulle gesigte uitgekerf was. Hulle het aangesit by die tafels met die kraakwit linne en die gepoleerde silwerware, is bedien deur kelners in aandpakke, en het gesmul aan die vyfgangmaaltyd wat deur die beste kokke voorberei is. Soos wat die aand gevorder het, het hulle sjampanje gedrink, troukoek geëet en geluister na die strelend musiek wat deur die orkes verskaf is.

Laat daardie aand daag die bruidegom toe op. Die bruidegom, aangedaan deur die vreugde en dankbaarheid van die dakloses, besluit toe sommer om net daar te trou. Hy laat die predikant dadelik kom en hulle twee word in die huwelik bevestig.

So ’n skreiende kontras tussen onverdienstelike gevalle aan die een kant en weelderige feesvierings aan die ander kant het jy in jou lewe nog nooit gesien nie. Behalwe … in die Evangelie. Kyk mooi: tussen die tafels deur stap die Gasheer. Sy glimlag sê alles.

In die gelykenis lees ons van die Koning wat vir sy seun ’n bruilof gereël het. Hy het sy slawe uitgestuur om die bruilofsuitnodiging aan al die genooides te rig.

Dan lees ons hoedat die genooides hulle nie gesteur het aan die uitnodiging nie. Ja, hulle het verskonings gehad. Ja, hulle het selfs sommige van die slawe (die boodskappers) doodgemaak. Jesus self het hierdie gelykenis aan die Jode vertel om iets by hulle tuis te bring. Die koning is eintlik God self, die seun is Jesus Christus, die slawe is die apostels van die Here en die genooides is die Jode. Die bruilof self is die naderende Wederkoms.

Ja, God is op hierdie oomblik besig om ’n groot bruilof te reël vir die wederkoms van sy seun, Jesus Christus. Die uitnodiging na hierdie bruilof het Hy allereers aan die Jode gerig. Die Jode het heel eerste die uitnodiging ontvang. Maar die Jode was vol verskonings. Hulle het uitgestel om dadelik te antwoord. Hulle moes eers gaan omsien na hulle grond en osse en huwelike.

Maar party Jode het nog verder gegaan. Hulle het die uitnodiging verwerp. Hulle het eerder die apostels en die vroeë Christene vervolg. Ons lees dan ook heel dikwels in die kerkgeskiedenis daarvan (vergelyk byvoorbeeld Stefanus se steniging.) In vers 7 lees ons hoedat die koning, God, kwaad geword het en gedreig het om die Jode se stad aan die brand te steek. Die Jode se stad Jerusalem is dan ook in die jaar 70 n.C. verwoes.

Dan lees ons in vers 8 hoedat hy sy slawe uitgestuur het na al die straathoeke om mense bymekaar te maak vir die bruilof. Ja, sy slawe moes na al die nasies, kulture en tale gaan om die mense te nooi na die bruilof van die Here. Vir die bruilof van die Here maak dit nie saak of jy rein of onrein is nie. Dit maak nie saak of jy siek, arm of uitgestoot is nie. God se genade is ongelooflik groot. Daar is selfs plek vir die laatkommers, die agterosse en die swartskape.

Ja, die uitnodiging het van die sinagoge na die straathoeke verskuif. Ja, die bruilofsuitnodiging is baie wyd.

Ja, die uitnodiging gaan na goeies en slegtes. Goeie en slegte mense het die Here nodig om hulle te red. My goeie en ordentlike lewe kan my nie red nie – net Jesus Christus kan my red. Alle mense, alle geslagte, alle tale, alle kulture, alle soorte, goeies en slegtes, ontvang hierdie uitnodiging.

Die gelykenisse word in vers 11 – 14 afgesluit met ’n waarskuwing dat elkeen met ’n bruilofskleed na die bruilof moet kom. Die gebruik in die ou tyd was dat wanneer iemand ’n bruilof bywoon, almal ’n bruilofskleed moes aantrek. Die bruilofskleed se doel was dat almal eenders lyk en daar geen klasseverskil is nie. In die hemelse bruilof het iemand ingesluip sonder ’n bruilofskleed aan. Hy het waarskynlik gedink dat sy klere darem fatsoenlik genoeg is vir die geleentheid. So probeer baie mense die hemel insluip, met hul eie menslike pogings. Hulle dink hulle goeie lewe, hulle kerklidmaatskap of hulle goeie hart vir hulle medemens sal  hulle red. Nee, ons het nodig om beklee te word met ’n bruilofskleed, met Jesus Christus. Net Jesus Christus kan ons red. Hy is die enigste sleutel wat die hemel kan oopsluit. Hy is die enigste kleed wat ons toegang kan gee tot die hemel.

Slegs mense wat beklee is met Jesus Christus kan deel hê aan hierdie bruilof. “Beklee julle met die verlossing, beklee julle met Jesus Christus.”

U sien dus in die hemelse bruilofsaal lyk almal dieselfde.  Almal lyk eenders. Almal is gelyk. Niemand lyk beter of slegter as die ander nie. Nee, net genade maak gelyk en eenders. Hoekom? Omdat almal beklee is met Jesus Christus.

Daarom het die Jode die gebruik om in ’n kring te dans. Niemand in die kring is eerste of laaste nie. Maar almal is ook eerste en laaste. Daarvandaan kom die skrifgedeelte wat sê: Wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees.

God se genade maak ons inderdaad gelyk. Wat ’n vreugde, nou is daar vir my ook plek!   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)