Leë blikke maak die meeste lawaai


 In Rigters 9: 8 – 15 kom ’n interessante fabel van Jotam voor, wat vertel van die bome wat ’n koning wou kies. Die bome wou vir hulle ’n koning salf.

Heel eerste word die olyfboom gevra om oor die bome koning te wees. Die olyfboom sê egter: “Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Tweedens word daar aan die vyeboom gevra om oor die bome koning te wees.  Die vyeboom sê: “Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Dan ten laaste, sonder enige sukses, staan daar in vers 14: “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!” Dit was die laaste uitweg. Onthou wat ek aan die begin van die preek gesê het, naamlik die  wat  niks het om te bied nie, graag wil baasspeel.

Toe sê die steekdoringbos dat hy koning sal wees. Dan staan daar in vers 15: “As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.”

Die steekdoringbosse het geen waarde nie, anders as om vuur te stig en vernietiging aan te blaas.

Die steekdoringbosse in ons gelese gedeelte verwys na Abimeleg, wat baie bloed vergiet het. In vers 49 lees ons inderdaad hoe Abimeleg en sy gevolg takke afgekap het en dit op die kelder oor die mense geplaas het en dit aan die brand gesteek het. So is die burgers van Migdal-Sigem, ongeveer ’n duisend mans en vroue, gedood.

Die probleem in Suid-Afrika die afgelope 30 jaar is dat swak leiers die politiek oorheers het. Hulle is soos steekdoringbosse wat Suid-Afrika aan die brand gesteek het en die land brand nog steeds letterlik en figuurlik. Suid-Afrika is heeltemal bankrot bestuur. Al die staatsentiteite soos die Lugdiens, Eskom, Transnet, Prasa, SABC en nog vele ander is leeg besteel en tot ondergang bestuur. Staatsdepartemente soos die Weermag bestaan amper nie eers meer nie. Dertig jaar gelede was die SANW onder die tien sterkste weermagte in die wêreld en die sterkste op die Afrika-kontinent. Nou bly net ’n skaduwee daarvan oor. Mediese dienste in die staatsdiens, polisiëring, onderwys en munisipale dienslewering het in die stof gebyt. Dorpe het verval tot algehele chaos.

Grondpaaie en teerpaaie het op die meeste plekke onbegaanbaar geword. Swak leiers wat niks kan bied, soos steekdoringbosse, kan niks in stand hou nie. Hulle is in posisies geplaas om oor ander bome heen en weer te swaai, maar hulle besit nie die gawes om dit te doen nie.

Van steekdoringbosse sal daar ’n vuur uitgaan, wat alles sal verswelg. Gereelde taxi-geweld  in Suid-Afrika was die oorsaak van honderde voertuie, staatsvoertuie, busse en swaarvoertuie wat al uitgebrand en beskadig is. Studente-onluste, vakbondstakings en openbare oproerigheid kom weekliks in Suid-Afrika voor. Misdaad het buite beheer geraak en korrupsie vreet soos kanker aan alles waaraan die staat of munisipaliteite raak.   

Die vorige regime, tydens die apartheidsera, het ook met magsmisbruike gepaard gegaan. Dit was net so korrup. Slegs witmense is bevoordeel en die ander rassegroepe is minderwaardig geag en is soos slawe behandel en is ingeprop in lokasies sodat ons nie hulle ellende en swaarkry hoef te aanskou nie.

Elke land het ’n geskiedenis van magsmisbruike wat soos steekdoringbosse ’n vuur laat uitgaan en ander mense vernietig.

Eli, die profeet, het ook twee steekdoringbosse as seuns gehad. Hulle was korrup en het tempelprostitusie bedryf. Eli word gelukkig opgevolg deur Samuel wat ’n Godsman was. Onder sy leiding was daar goeie tye. Ongelukkig was Samuel se twee seuns, Joël en Abia, ook steekdoringbosse.  Hulle was korrup, het omkoopgeld aangeneem en het die regspraak verdraai.

Daarom kan ’n mens verstaan dat die volk eerder deur ’n koning regeer wil word, as deur Samuel se twee korrupte seuns. In plaas daarvan dat die volk egter wag dat God eerder self die nuwe rigter vir hulle aanwys, wil hulle vir God voorskryf om vir hulle ’n koning te gee soos die omliggende volke. God gee toe aan Israel se versoek vir ’n koning. Die koningskap van Israel is in die daaropvolgende eeue gekenmerk deur goeie konings én slegte konings. Saul se koningskap het goed begin en het al slegter geword, totdat hy in sy eie swaard val. Dawid en Salomo was weer twee goeie konings. Die Here het Dawid beskryf as ’n “man na aan my hart” omdat hy so opreg was, ten spyte van sy persoonlike foute en sondes. In Dawid het die volk Israel die hoogtepunt in hulle geskiedenis gehad. Koning Salomo het weer gevra vir “wysheid” voor sy koningskap begin het. Dawid en Salomo het gawes gehad wat hulle bekwaam gemaak het. Hulle was nie steekdorings nie. Hulle gawes het van hulle goeie staatsmanne gemaak.

 Ons vergeet maklik dat elke stelsel sommige mense bevoordeel en ander benadeel. Alle politieke stelsels dra die kiem van die sonde. Dit kan wees ’n  monargie, feodale stelsel, sosialisme, kommunisme en kapitalisme – almal dra die kiem van onderdrukking en selfverryking. Iemand skryf: “Elke hervorming is ook vervorming. Dit is maklik om eiebelang as ‘die algemene belang’ voor te hou.” Dit is die mensdom se probleem.       

Gedeeltes soos Psalm 72 skets hoe die ideale koningskap moet lyk.

Daar staan onder andere die land floreer, die reg word gehandhaaf, die armes word beskerm en vrede heers. ’n Goeie koning of leier  moet as “herder”, “skild” of “hervormer” kan optree, wat kan instaan ook vir die swakkes en weerloses in die samelewing. Konings en mense in leierskapposisies is altyd beskermers van die swakkes. In Esegiël 34 vaar die profeet Esegiël uit teen die staatsleiers en godsdienstige leiers van Israel wat soos sterk vet skape met hulle horings die swakkes wegdryf by die waterbakke en die voer. Dan voorspel Esegiël dat daar ’n Herder sal kom wat die swak, sieklike en weerlose skape sal optel en lei na veiligheid.

Talle leiers het ’n belowende begin, maar later tree verval in. Almal misbruik later hulle gesag. Soos een filosoof gesê het: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Al koning wat onveranderd eg bly, is die Koning met die doringkroon aan ’n kruis.

Die probleem is dat ons makeer aan God se barmhartigheid, genade en liefde. Hoor die duidelike opsomming van die wet van die Here in Mat 23: 23:  “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Die Bybel veroordeel by uitstek maghebbers. Konings moet servant-leaders kan wees. Servant-leaders is in die eerste plek diensknegte en dan leiers. Hulle regeer nie met mag, soos vuur wat uitgaan by die steekdoring nie. Nee, hulle regeer as dienaars van ander mense. Ook by my huis is ek nie die “baas” wat met mag regeer oor my vrou en kinders nie, maar ’n “servant-leader.”

En tog is ons vir koningskap gemaak. Die Here het in Genesis 1: 26 gesê:    “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding,  sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

Daarom wil die Here dat ons as “servant-leaders” die volgende onthou: “We rise by lifting others.” Dit is wat die Suid-Afrikaanse leiers in post-apartheid nog nie besef nie. Hulle hef nie die land op deur goeie leierskap nie. Nee, hulle verryk hulself met korrupsie. Hulle bevorder net hulle eie belange en nie dié van hulle mede-Suid-Afrikaners nie. Hulle baklei onder mekaar deur faksie-geweld, om net meer mag te bekom.

Ek moet ander mense optel en beter laat lyk as ekself. Ek moet ander mense optel en in ’n beter posisie as ek plaas. Eers dan is ek ’n leier. Eers dan verstaan ek wat koningskap beteken. Ek moet ander met my gawes dien.

Mag die Here ons land seën met swartmense, bruinmense, witmense en Indiërs wat ons land op politieke, maatskaplike, ekonomiese en alle ander vlakke van leierskap optel. Dit beteken dat leiers sal moet kniel voor hulle kan optel.

Dit deug nie as steekdoringbosse (sonder gawes) met mag alles wil afbrand en vernietig nie.

Die Here Jesus het gekniel en die kindertjies opgelig. Hy het gekniel onder die kruis en ons opgelig vanuit ons sonde en ellende.                     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar