Die doop as ‘n seël


SKRIFLESING: Hand 16: 14 – 15 en Gal 3: 26 – 29

Seëls was klein gegraveerde voorwerpe, meestal in die vorm van ’n ring, om afdrukke in klei of was te maak.

Seëlafdrukke wys dat die dokument eg is, of dat die dokument nog nie oopgemaak is nie. Op die seël was gewoonlik die eienaar se naam, kop, amp of familiewapen gegraveer.

’n Seël kon aan ’n persoon gegee word om aan hom die mag te gee om die eienaar van die seël te verteenwoordig. So lees ons in Gen 41:42 dat koning Farao aan Josef, wat ’n slaaf was in Egipte, sy seëlring gee as teken dat hy nou die tweede hoogste is in die Egiptiese Ryk en dat hy met die Farao se seëlring namens die Farao kon regeer.

Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, staan daar in Dan 6:18: “Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. ”

Toe Jesus Christus se liggaam in ’n graf gesit is, het die Romeine ook Sy graf verseël, sodat die Jode nie kon sê dat Jesus se liggaam gesteel is nie.

Daarom het ’n seëlring deur die geskiedenis van duisende jare altyd die rol vervul om iets te bevestig as outentiek, eg en oorspronklik. Wanneer ’n dokument ’n koninklike seël opgehad het, was dit altyd die finale opdrag van die koning en kon niks daaraan verander word nie.

Daarom het die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ook die doop beskryf as ’n seël, dat die Drie Enige God die dopeling aanneem om Sy kind te wees. Jou verlossing word as’t ware verseël. Jesus Christus het werklik vir jou ook gesterf. Daar word verseël dat jy deel het aan al God se beloftes.

Prof Willie Jonker skryf dat dit in die kinderdoop gaan oor God se voorkomende genade wat die dopeling red. Jesus Christus het gesterf vir my erfsonde en ook alle sonde wat ek nog in my lewe sal doen. Dit is nie die dopeling se geloof en bekering wat die oorsaak of grond van die verlossing is nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief Sy verlossingsplan met die doop aan die dopeling kom beseël het.  Die beloftes wat in die doop uitgebeeld en verseël word, moet in geloof en gehoorsaamheid aanvaar word. 

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Coenraad se lewe bevestig. Die ouers Coenie en Nandie kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Gal 3: 26 – 29 sê dat ons as’t ware deur die doop Jesus Christus soos ’n kleed aangetrek het. Ons het as’t ware Sy verlossing aangetrek. Ons kan ons identifiseer met Christus se verlossing en met Sy duur gekoopte kerk.

Coenraad Pieterse du Preez word vandag, 9 Junie 2024 ’n volle lidmaat van die Here se kerk op Fort Beaufort. Sy doop verseël sy lidmaatskap. Sy doop verseël sy verlossing in Jesus Christus. Coenraad is nou alreeds ’n kind van God. Eendag op ongeveer sestienjarige ouderdom sal hy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap aanvaar. Uit genade en slegs deur genade is hy gered. Dit is God wat die inisiatief neem in die genadeverbond. Dit wil die heilige doop kom verseël.

Deur die doop word ons ook verseël as kinders van Abraham. Coenraad kry deel van die gemeente van Fort Beaufort. Ons as gemeente ontvang die dopeling as medebroer in die Here. Ons as gemeente het net soos hulle ouers en grootouers die verantwoordelikheid om vir die jongeling die regte pad te wys.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg met die doop van ’n kindjie. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy weer so iets beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Van die ouers vra God, dat Coenie en Nandie die jong kindjie van kleins af vir die Here sal grootmaak. Dit is ’n heilige belofte wat hulle voor die Here aflê.

Coenraad gaan groot word. Hy gaan leer om te dans. Dan gaan hy met sy meisie en later met sy vrou dans. Om te kan dans, moet jy leer.

Verbondsopvoeding is om te leer om in ritme saam met die Drie Enige God te dans. In ritme met die Drie Enige God beteken om volgens die wil van God te dans. In die doop wat plaasvind “in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, dans die Drie Enige God met die doopplegtigheid. Die Griekse woord om die dans van God Drie-Enig uit te druk is “perichoresis”. Die jongelinge moet net leer om soos hulle ouer word ook saam met die Drie Enige God te dans.

Daarom word ’n lewe saam met Christus so goed opgesom in die lied: “The Lord of the dance.” Mag die ook waar wees in die lewe van Coenraad. Die Drie Enige God gee die melodie en die ritme aan. Coenraad moet net inval by God se dans.

 Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding liefde en strengheid moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree.

’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tug, baie belangrik volgens die Bybel, veral in die Spreukeboek. 

Psalm 1 praat van ’n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met kategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe grootword. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome grootgemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus, byvoorbeeld, het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Coenraad word as ’n jong kindjie ingelyf in die geloofsgemeenskap. Daarom moet pa Coenie en ma Nandie en die grootouers almal saam die verantwoordelikheid op hulle neem om die seuntjie in die weë van die Here groot te maak.

Die Drie Enige God gee die melodie en ritme aan. Leer vir Coenraad om die melodie van God te hoor en die ritme van God aan te voel. Dan sal sy lewe ’n vreugde-dans met God wees.

Dan sal hierdie  babaseun wat vandag deur die doop verseël word as deel van al God se beloftes, eendag ’n Godsman van integriteit en waarheid wees.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar