SKRIFLESING: Mat 5: 7 en Mat 25: 35 – 40
Die beste nuus wat ’n mens van God kan hoor, skryf Dirkie Smit, is dat God nie ’n masjien of ’n beginsel is nie, maar ’n Persoon met ’n hart.

Daarom is God ’n God van barmhartigheid. Dit is waaroor die vyfde saligspreking gaan, naamlik om barmhartig te wees. Die teoloog Antonie van Ruler beskryf barmhartigheid as drie uitkringende sirkels. Barmhartigheid sê hy is mildheid, ontferming en vergewing.
Die eerste is mildheid. Dit beteken om ruimte vir ander mense te maak. Om vir ander mense ook vreugde en blydskap te gun. Daarom moet ons in barmhartigheid ruimte maak vir almal in die land. Daar moet ruimte wees en ruimte gemaak word vir swart, wit, bruin en Indiërmense. Daar is nie plek vir haatspraak teenoor ander nasies nie.
Ontferming, weer, beteken om betrokke te raak by mense wat my nodig het en te help waar ek kan. Selfs minderheidsgroepe is geroepe om ’n verskil te maak in Suid-Afrika. Dit is ons Godgegewe roeping. Ons lewe in ’n tyd waar egte barmhartig baie skaars is.
Vergewing is waar mense vir hulle eie ellende verantwoordelik is en ek nogtans help, omdat ek hulle vergewe het. Ons vind talle insidente van vergifnis in die Bybel. Dink aan Josef wat sy broers vergewe het, wat hom as ’n slaaf verkoop het aan slawehandelaars. Later toe hy die tweede magtigste man in Egipte is, red hy sy broers en sy pa van ’n gewisse hongersnood. Moses het vir Miriam vergewe wat teen hom in opstand gekom het. Toe sy melaats word, bid Moses vir haar gesondmaking. Dawid het twee keer Saul se lewe gespaar, al het Saul ’n geleentheid gesoek om Dawid dood te maak. Barmhartigheid is om mekaar in die land te vergewe.
Ten tye van Jesus se prediking van die Saligsprekinge, was die Romeinse owerheid die heersende wêreldmag. Dit was ’n wêreldmag waar dapperheid, dissipline, mag en wreedheid die botoon gevoer het. Een Romeinse filosoof het barmhartigheid as ’n siekte van die siel beskryf of as ’n teken van swakheid. Wanneer ’n kind gebore is, het die Romeinse vader die reg van “patria potestas” gehad. Hy kon sy duim optel en die kind leef of sy duim afhou en die kind word dadelik verdrink. ’n Romein kon, as dit sy wil is, sy slawe laat doodmaak, sonder dat daar enige regsimplikasies was. ’n Romeinse man kon selfs sy vrou laat doodmaak. Dit was ’n wrede, harde en ongenaakbare stelsel.
Selfs die Jode in die tyd van Jesus het die wet slaafs nagekom sonder om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom soos in Mat 23:23 beskryf word. Daarom het Jesus gesê dat die Joodse Fariseërs soos witgepleisterde grafte is. Buitekant wit, maar binne vol doodsbeendere. Of soos ’n beker, aan die buitekant skoon, maar aan die binnekant vuil. Dit was te midde van die twee hartelose sisteme, waar die Jode en die Romeine vir Jesus gekruisig het.

In die vyfde saligspreking gaan dit oor mense. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die Vryheid van die Christenmens dit so helder gesê: “’n Gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.” Daarom is die Christendom anders as ander godsdienste. Dit gaan nie oor reëls nie, maar om mense en verhoudinge.

Maar wie is my naaste? Alle mense! In ’n sekere sin kan jou eie vriende nie regtig die egtheid en diepte van jou naasteliefde en barmhartigheid toets nie. Want selfs die goddeloses het hulle eie vriende lief. Eers as jy dié liefhet wat verder van jou staan, slaag jy die toets van ware barmhartigheid. Jou naastes – in nood – is diegene wat in die moment die naaste aan jou is, wat honger en dors is, wat siek is, wat sonder klere is of in die gevangenis is. Jou naaste is dié mense wat jou nodig het, sonder dat jy hulle nodig het.

In Mat 25: 35 – 40 staan daar geskrywe: “Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as ’n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’”

Martin Luther het vertel van ’n klooster in Oostenryk wat baie ryk was terwyl dit jaarliks aan die armes uitgedeel het, maar toe dit ophou gee aan die armes, het die klooster begin verval. Daar gaan niks verlore as ons barmhartig optree nie.
As ons barmhartig is, doen ons dit vir die Here Jesus. Ons doen dit nie om gesien te word deur ander mense nie. Jy spog nooit met jou dade van barmhartigheid nie.

Jy is barmhartig as jy tyd maak vir bejaardes. As jy siekes opbeur, is jy barmhartig. As jy luister na ’n gekwelde mens, wat neerslagtig en bekommerd is, dan is jy barmhartig. As jy moed inpraat, is jy barmhartig. As jy die persoon wat alleen is besoek, dan is jy barmhartig. Die wêreld is vol eensame mense. Daarom gaan barmhartigheid oor veel meer as om materieel te gee. Barmhartigheid skep werk vir die werklose. Die doel van die lewe is om diens te lewer.
In die Ou Testament was dit gebruik dat as boere hulle koring oes, hulle net een maal die koring mag optel om in hulle graanskure te sit. Die weduwees en wese kon dan ’n tweede of derde keer oor die land gaan om die oorblywende koring op te tel vir hulle huise.
Barmhartigheid is ook om mekaar se name te beskerm en nie skinderpraatjies van ander te maak nie. Mense kan bra onbarmhartig met ander mense se name omgaan. Ook met jou tong moet jy barmhartigheid betoon.
Barmhartigheid moet natuurlik ook aan die vyand betoon word. Dit is die heel moeilikste. Daar staan in Mat 5: 43 – 45: “ Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees.” Daarom kan ons praat van grenslose barmhartigheid, wat nie aan bande gelê word deur politieke of sosiale afkeure of voorkeure nie.

Jy sê dalk dat jy nie groot dade van barmhartigheid kan betoon nie. Maar ook die geringste daad van goedheid is barmhartigheid. Die arm weduwee het slegs twee klein geldstukkies gegee en die Here het gesê sy het haar alles gegee. Moenie wegskram van die geringste dade van barmhartigheid nie.
Vader Kestell het in die Anglo-Boereoorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ’n veldslag ’n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, melaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeres, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.
Keiser Trajanus het ’n stuk van sy eie kleed afgeskeur om sy soldaat se wonde toe te draai. Christus het baie meer gedoen. Hy het Sy vlees geskeur vir ons.
Ons moet ook teenoor die natuur barmhartigheid beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook baie barmhartig optree op ekologiese gebied en probeer om die natuur te herstel, sodat dit weer gesond kan word.

Op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort, sodat ons al die gawes van die Gees ontvang, waarvan ons in Gal 5 lees. Die Heilige Gees dring ons om barmhartig te wees. Ons word nie gedwing nie, maar gedring tot ware barmhartigheid. Dit moet uit ons Geesvervulde hart kom.
Ons lees in die vyfde saligspreking dat dié wat barmhartigheid betoon, as beloning barmhartigheid sal ontvang. Dit is ’n gevaarlike en moeilike saligspreking, want hoe geneig is ons nie om nie barmhartig op te tree nie. As ons barmhartigheid moet ontvang, soos wat ons barmhartigheid betoon aan ander, is ons erg in die moeilikheid.
Ek sluit af met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou pluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther appels afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer, sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …” AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS
MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3822). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition
