Gelukkig is dié wat treur


SKRIFLESING: Mat 5: 4  en Psalm 51

’n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme, se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ’n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ’n klaagelement in hulle. Dink aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ’n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om met blydskap te leef. Martin Luther noem treur ’n baie skaars  kruie. Inderdaad sê Jesus in Mat 5: 4: Gelukkig is dié wat treur.

Maar belangrik is dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie. (Dit is ’n duiwelse treur – dit gaan oor die “eie ek”.) Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ’n kind wat ’n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie. Dit is soos om te huil op ’n rots, daar sal niks van kom nie, maar om te huil op sagte grond (oor die regte goed), dan sal daar ’n oes opgelewer word.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ’n toestand van treur wees, voor jou hart verander kan word. Die soutwater van trane maak die wurms van sonde dood. Trane oor sondenood is soos ’n fontein van water in die middel van ’n tuin – dit bring lewe en skoonheid. In Jak 4: 9 staan daar: “Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid.” In Esegiël 7: 16 staan daar: “Dié van hulle wat ontkom, sal in die berge wees soos duiwe van die valleie –  hulle almal kla,   elkeen oor sy sondeskuld.” Bernard Clairvaux skryf van trane as  “the wine of angels.” “The sweetest wine is that which comes out of the winepress of the eyes,” het John Chrysostom gesê. Chrysostom noem treur die spons wat die sonde afwas.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergang. Wat verkoop nou beter as ’n heerlike skinderstorie. In die ou dae, toe die slingertelefone daar was, het sekere mense dit hulle werk gemaak om op die plaaslyne af te luister na wat die nuutste skinderstorie is. Tydskrifte is ook geneig om die nuutste skinderstories in diepte te ondersoek en die skinderhonger publiek te bevredig met die nuutste sappige stories. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid.

Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ’n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ’n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ’n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huweliks- en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas.

’n Mens moet kan treur oor die ramp wat verlede week in George gebeur het, toe ’n gebou in duie gestort het en tientalle mense dood gelaat het. ’n Mens moet kan treur oor mense wat sterf in ongelukke, aan siektes, aan natuurrampe, aan selfdood, mense wat vasgevang is in dwelms en drank en oor al die tragedies en hartseer van hierdie wêreld.  ’n Mens moet treur oor almal wat werkloos is of wat ’n beperkte finansiële inkomste het, wat net genoeg is om van die hand na die mond te leef. 

Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ’n gemeenskap waar daar matige voorspoed is. Mense word hard. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ’n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ’n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ’n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ’n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ’n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of  “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus eens en altyd vir die sonde gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms  alles nuut sal word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Lewer kommentaar